Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Finansiers en Handelaars (1) – Hennie Stander

Handelaars was ten nouste gemoeid met mates, gewigte en geld. Voordat ons kyk na hoe handelaars gewerk en geleef het, moet ons eers die mates, gewigte en geldeenhede van die Bybel van nader bekyk.

Lengtemates

Lengtemates was geskoei op die afmetings van die menslike liggaam, naamlik van die vinger, die palm, die span (die afstand van die punt van die duim tot by die punt van ‘n pinkie van ‘n oopgestrekte hand), die el (afstand van die elmboog tot by die punt van die middelvinger), en die vaam of vadem (die afstand van die punt van die middelvinger tot by die punt van die ander mid­delvinger wanneer die arms heeltemal oopgestrek is). Die volgende lengtemaattabel kan dus opgestel word:

4 vingers             = 1 palm

3 palms               = 1 span

2 spanne              =     1 el

4 elle                   = 1 vaam

Hierdie stelsel was nie sonder sy probleme nie. Die afmetings van liggaamsdele verskil van een persoon tot die ander, en daar is aanduidings dat daar verskillende lengtes van ‘n el was, wat gewissel het vanaf ongeveer 45 cm tot ongeveer 52 cm. Daar was ook ‘n lang of “koninklike” el van 7 palms of 28 vingers (alle “koninklike” mates was langer as die standaard mates); verder was daar beide ou (2 Kronieke 3:3) en nuwe ellemates (Esegiël 40:5). Oor die algemeen egter was die stelsel baie duidelik en die lengtemates kon redelik akkuraat bereken word.

Langer afstande is op ‘n meer vae basis bereken. Dit is byvoorbeeld gedoen in terme van die aantal dae wat dit geneem het om van die een punt tot by die ander te reis (bv Genesis 30:36). Baie later het die Grieke ‘n lengtemaat gebruik wat bekend gestaan het as ‘n stadion (of stadia in die meervoud), wat net oor die 180 m lank was en wat in die apokriewe boek Makkabeërs genoem word. Anders as by ons, is daar in die Bybelse tyd nie van lengtemate gebruik gemaak om ‘n oppervlakte se grootte te bereken nie. ‘n Akker was die grootte van die land wat ‘n os in een dag kon ploeg (Jesaja 5:10). Die maksimum afstand wat op ‘n Sabbatdag geloop kon word (‘n Sabbatsreis: Handelinge 1:12) was 2 000 tree, m.a.w. ‘n mens kon op ‘n Sabbatdag ‘n afstand van 1 000 tree (‘n Romeinse myl) heen en weer loop (ongeveer 880 m).

Skrywer:  Prof Hennie Stander




Salwing met olie- Francois Malan

Jan vra:

In Eks 30:22-38 gee die Here vir Moses ‘n resep vir heilige salfolie waarmee by Aäron en sy seuns moes salf om die priestersamp te bedien asook die tabernakel en alles wat daarin was. Later is Israel se aangewese konings ook met olie gesalf en in Ps 133 besing Dawid die lieflikheid daarvan as broers saamwoon, want dit is soos kosbare olie op die baard van Aaron wat afloop tot op die soom van sy klere.
Die vrou salf Jesus met kosbare nardussalf.
Dan sê Jes 10: 27: En in die dag sal sy (koning van Assirië) las afgly van jou skouer en sy juk van jou nek, en die juk sal tot niet raak vanweë die vettigheid(olie).
Jakobus sê dan as iemand siek is laat hy die ouderlinge roep om oor hom te bid nadat hulle hom in die Naam van die Here met olie gesalf het. Hy sal gesond wees en as daar sonde is sal die ook vir hom vergewe wees.
Mens hoor dikwels die uitdrukking: Die salwing sal die die juk verbreek. Dan word die mense gesalf met olie op die voorkop volgens wat Jakobus sê. My vraag is: Wat is die rasionaal/belangrikheid/toepassing van die olie in die konteks waarin dit in die Bybel aangehaal/beskryf word, asseblief?

 

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Die invryf met olie of salf behoort tot die versorging van die liggaam: Deutr 28:40; Rut 3:3 (1983-vertaling: maak jou mooi, letterlik: salf jouself); 2 Sam 12:20; 14:2 (1983-vertaling: moenie skoonheidsmiddels gebruik nie; letterlik: moenie jouself met olie salf nie); 2 Kron 28:15 (1983-vertaling: salf aan hulle wonde gesmeer; letterlik net: hulle gesalf); Esegiël 16:9; Dan 10:3; Amos 6:6; Miga 6:15; Mat 6:17 (1983-vertaling: versorg jou hare; letterlik en 2014 vertaling: salf jou kop met olyfolie).

Die uitgiet van olie op iemand se kop was ‘n teken van gasvryheid: – Luk 7:46; Joh 11:2; so ook die salf van die voete Luk 6:47; Joh 12:3.

Die vroue het na die graf gegaan om die lyk van Jesus te salf Mk 16:1 (1983-vertaling om hom te balsem – staan nie in die oorspronklike. Die Jode het nie gebalsem nie, maar die kruie en olie was bedoel om die reuk te neutraliseer; vgl. 2014-vertaling: sodat hulle Hom kon gaan salf); Mk 14:8.

Daar was ‘n godsdienstige betekenis aan die salwing van konings – Rigt 9:8,15; 1:Sam 9:16; 10:1; 16:13; 2 Sam 2:4; 5:3; 19:10; 1 Kon 1:34,39; 2 Kon 9:1; 11:12; 23:30. Dit geskied met heilige olie 1 Kon 1:39; Ps 89:21. Daarom word die koning die gesalfde van die Here genoem

1 Sam 24:11; 26:16; Ps 20:7; 28:8; 84:10; 89:39; ens. Die salwing met olie was simbool van Goddelike aanstelling en die toerusting met die Gees van God 1 Sam 10:1; 16:13. Ook die hoëpriester is gesalf Eks 29:7; Lev 8:12; 21:10-. So ook gewone priesters Lev 4:3,5,16. Ons lees een maal dat ‘n profeet tot sy amp gesalf word 1 Kon 19:16. Die profete word ook gesalfdes genoem Ps 105:15.

Voorwerpe word gesalf as teken dat hulle toegewy word vir diens aan God. Jakob het die klip waarop hy geslaap het by Bet-El met olie aan God gewy, Gen 28:18-22; vgl. 31:13 die Here se aanvaarding daarvan. Moses het die tabernakel en al die voorwerpe daarin met heilige olie gesalf Eks 30:26; 40:9v; Lev 8:10v; Num 7:1,10,84,88.

Die salwing van die sieke in Jakobus 5:14 is simbool van die toewyding van die sieke aan die genesende sorg van die Here deur sy Naam aan te roep. Sy Naam staan vir sy wil en sy vermoë – Hy kan genees, en die genesing hang van sy wil af.

Christus (die Griekse woord vir ‘Gesalfde’) so word Jesus genoem omdat Hy met die Heilige Gees gesalf is Jes 61:1; Luk 4:18; Hand 4:27; 10:38; Hebr 1:9. Hy is gesalf tot ons hoogste Profeet wat God aan ons kom openbaar, ons Leraar wat God se wil aan ons bekendmaak, ons Hoëpriester wat Homself vir ons geoffer het en daagliks vir ons intree by God; ons ewige Koning wat oor ons lewens regeer, vir wie ons uit liefde en dankbaarheid gehoorsaam.

 Skrywer:  Prof Francois Malan




Vertrou God vir die regte tyd – Kobus Kok

God se tyd is die regte tyd. Ons moet die proses vertrou al is dit somtyds swaar en onseker.

Toe ek en my broer Barry kinders was het ons sywurms gehad. Dit was nog in die goeie ou dae waar die kinders nog moerbeie en moerbeiblare by die bure kon “leen”. Dit was ook die tyd wat ons nog plekhouers vir die Bybel gemaak het deur jou sywurm op ʼn coke-bottel se prop te laat spin rondom ʼn hartjie of ʼn vierkant of een of ander vormpie wat jy dan vir jou ouma as ʼn geskenk gegee het. Ons twee boeties het behoorlik kompetisie gehou en die een het sy wurms beet gevoer om rooi en pienk vormpies te weef en die ander selfs groen of geel blare gevoer. Dit was gróót besigheid. So gebeur dit toe die een dag dat ek en Barry ongeduldig word vir die motte wat nie uit die kokonne wil kom nie. Ons het toe geoordeel dat ons hulle moes “help”. Ons besluit om my ma se kombuisskêr nader te trek en sny toe netjies die kokonne oop om die wurmpies te help uitkom. In ons naïewe verbasing het ons op ʼn stadium die sterwende en kwynende wurmpies na ons ma toe gevat om te hoor wat aan die gang is. “Kyk mamma, ons het die wurmpie uitgehaal om hom te help, maar iets is fout met almal wat ons oopgemaak het.” Haar woorde daardie dag het die wysheid van haar jare getransendeer: “Seuns, die Here het ʼn tyd vir alles, en wat julle nou gedoen het was om die tyd vir die wurmpies ryp te druk. Nou is die wurmpies nie sterk genoeg vir die nuwe fase nie. Eintlik het julle nie die wurmpies “gehelp” nie, maar juis die wurmpies skade aangedoen. Hulle sal nooit kan eiertjies lê of ooit kan spin nie. Die wurmpie moes self deur die kokon veg en sy vlertjies en lyfie sterk maak sodat hy sterk kon word vir die nuwe fase”. My moeder se woorde bly my vandag nog by. Ek en my broer het so sleg gevoel, maar tog so diep verstaan. Sommige dinge in die lewe kan mens gewoon nie ryp drúk nie. Het jy al ooit probeer om ʼn avokadopeer ryp te druk? Sommige dinge vra tyd. Sommige dinge kan alleen “reg” wees vir die nuwe of volgende fase, indien dit deur die stryd van die vorige gegaan het. Soms het ons “woestyn” nodig voordat ons die beloofde land kan beleef. Soms gaan ons deur moeilike tye waarin ons die diepte moet ontwikkel wat nodig is vir die spesiale plek waarheen die Here ons wil neem. Soms moet ons die proses vertrou en wag vir God se tyd en God se seisoen. Die vraag is dus, in watter seisoen is ons nou en watter karakter-ontwikkeling wil God ons nou laat beleef? Ons is almal in ʼn seisoen. Word stil en luister wat God in hierdie seisoen vir jou wil leer. Laat jou hart rustig word in Hom. Augustinus het eenmaal gesê: “Die mens se hart is onrustig, totdat dit rus vind in God”. Dawid, in ʼn tyd wat Saul hom gejaag het en hy met die dood gedreig was, het hy midde-in die konteks, midde die vervolging en swaarkry, ʼn beeld van God ontvang: God het vir hom in Psalm 57 gewys dat hy hom beskerm deur sy vlerke oor hom te span. Nadat hy daardie beeld sy eie gemaak het, bid hy tot die Here in Psalm 57:8 “My hart is standvastig, O God, my hart is standvastig” [letterlike vertaling]. In die oorspronklike Hebreeus sê hy: “Nagon [standvastig/rustig] Libi [my hart], Elohim [O, God], Nagon Libi”. Mag God jou in hierdie tyd, in voorbereiding vir Paasfees waar ons in die seisoen van Lent geestelik vas in voorbereiding vir Paasfees, net weer herinner aan Sy beloftes en Sy trou. Hy is op weg met jou en jou lewe. Vertrou Hom, ook in jou swaarkry of in jou kokon-tyd. Jy word nou voorberei vir die nuwe seisoen, en jy moet sterk word sodat jou vlerke waarlik kan sprei as die kairos tyd van die nuwe seisoen aanbreek. Wag getrou op die Here – Hy is getrou.

Skrywer:  Prof Kobus Kok

 




DIKWELS IS DIE KERK KOUER AS DIE AGORA…. – Kobus Kok

Kommentaar op Gal 6:10

Na bykans 24 uur in transito tussen Afrika en Europa en drie kilometer se sleep van my koffer deur die winter reën, kom ek uiteindelik by die sentrum van n bekende universiteitstad in die Laaglande aan. Soos die meeste Europese stede spog die stadsaal en die Kerk in die sentrum. Die eerste stilhouplek vir n Teologiese pelgrim, is meestal die Kerk. Ek gaan die imposante katedraal binne, en merk dadelik die gewyde atmosfeer van die nagmaal op. Die Priester gaan sakraal met die sakramentbediening om. Dit is n spesiale moment. Ek dank God vir die reis en die geleentheid en bid saam met die handjievol oumense wat die diens bywoon.

Die man wat die afkondiginge doen, praat met n imposante stem terwyl hy die komende maand se groot gebeure afkondig. Na die diens strompel en soek ek rond met my reuse tas, rooi oë en dag-oue-baard na die WC (Badkamer). Die man wat die afkondiginge gedoen het begin so stadig maar seker die tekens gee dat hy wil sluit. Ek vra of ek asb net vinnig die WC mag ingaan. Hy kyk my so op en af. Ongeduldig sê hy :”No, we do not cater for such needs”. Hy verwys my terug na die stasie. Die probleem is nou net dat die stasie vrek ver terug in die reën is – n paar kilometer! Verder het ek nie n sent Europese geld aan my nie en dit kos omtrent R7 net om by die WC (Badkamer) by die stasie in te gaan. Vir een of ander rede wou die bankteller nie my kaart lees nie. Ek het dus n reuse probleem! Ek is n vreemdeling in n vreemde land en ek is letterlik pennieloos! Die kerkman se koudheid en ongasvryheid laat my weerloos in die ys-weer. Ek het so gehoop die “Kerk” sou minstens die hand uitreik.

Buite gekom reën die ysdruppels my nat. Ek hef my oë op na die hemel en wonder waar my hulp vandaan gaan kom. Aan my regterkant gewaar ek n Engel met ‘n camel-light of iets dergeliks in sy mond. Die kelner van die bar teen die Kerk vat ‘n smoke-break. Die bar/restaurant aangrensend aan die Kerk heet “Agora”. In Jesus en Paulus se tyd was die Agora die mark- die “onheilige” ruimte in kontras met die “heilige” tempel. Ek vra die man of hy weet waar die naaste WC is. Die man is gasvry en vriendelik:

“You are welcome to use our WC”, sê hy en nooi my in voordat hy nog sy sigaret heeltemal klaar gerook het. In Leo die Kroegman se oë en menswees by die Agora het ek meer warmte en gasvryheid beleef as in die oë van die Kerkman. Vandag was die Agora my safe space, en nie die Kerk nie. Vanaand besef ek hoe belangrik dit is dat ons as Christene gasvry en warm moet wees. Dikwels is die Kerk kouer as die Agora!

Ag Here, vergewe my waar ek koud was en waar ék die “Kerk” kouer as die “Agora” gemaak het.

Skrywer: Prof Kobus Kok