Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Vakmanne en Bedrywe(8)- Hennie Stander

Wewery

Die weefkuns het regdeur die Ou Testament ontwikkeling ondergaan. Aanvanklik is ‘n horisontale weeftoestel gebruik wat op die grond vasgemaak is. Later is ‘n vertikale weeftoestel ontwikkel, alhoewel daar tye en plekke was waar beide soorte tegelykertyd gebruik is. Die horisontale weefraam is met penne op die grond vasgeslaan. Die lang skeringdrade, wat oor die lengte van die weefraam geloop het, was net so lank as wat die verlangde stuk materiaal moes wees. Die (spin)drade, wat om die spinsel gedraai was, is onder deur al om die ander skeringdraad gesteek. Om hierdie proses to vergemaklik, is ‘n plat stukkie hout gebruik wat reeds onder deur al om die ander skeringdrade gesteek was. Wanneer hierdie plat stukkie hout op sy kant gedraai is, het dit die skeringdrade van mekaar geskei en genoeg plek gemaak vir die inslagdraad om met ‘n stokkie na die ander kant toe deurge­steek te word. Wanneer die inslagdraad weer terug­getrek word, moes dit bo-oor en onderdeur die opeenvolgende skeringdrade getrek word.

Spinwol

‘n Bedoeienvrou spin wol wat later geweef moet word.

Later is dit besef dat indien dieselfde skering­drade wat deur die plat stukkie hout afgedruk is, weer opgetrek kon word deur dit met lussies aan ‘n tweede plankie vas te maak, dit daartoe sou bydra dat die “terugreis” van die stokkie met die inslag­draad baie vinniger sou kon geskied. So is die stokkie met die wewerspoel vervang. Hierdie we­werspoel was reeds in gebruik in die tyd van Job (Job 7:6). Delila het Simson se sewe haarlokke in haar materiaal op die weefstoel vasgeweef (Rigters 16:13). Die pen waarvan in hierdie vers gepraat word, is gebruik om die inslagdrade na die kant van die raam toe te slaan sodat die drade dig en kompak kon word.

 

Die probleem met die horisontale weefstoel was dat die wydte van die materiaal beperk was tot die armlengte van die wewer omdat die wewer by die weefstoel gehurk of gesit het. Die uitvinding van die regop weeftoestel het dit vir ‘n wewer moontlik gemaak om veel wyer materiaal te maak omdat die wewer heen en weer aan die voorkant van die materiaal kon verbyloop. In sulke gevalle is ‘n baie groot en swaar houtraamwerk gebou (vgl 1 Samuel 17:7) byna soos n vierkantige ingang. Die skering­drade het aan die dwarsbalk gehang en ‘n hele klomp klippe of kleiballe met gaatjies deur (d. w. s. weefgewigte) is aan die vertikale skeringdrade gehang (sien die foto). Die materiaal is dan van bo na onder gemaak, en die pen is gebruik om al die inslagdrade teen die bokant van die wewersraam vas te stamp.

weeftoestel

‘n Vrou is besig om op ‘n regop weeftoestel te weef. Kyk hoe hang die weefgewiggies aan die skering

In ‘n latere ontwikkeling van die weefstoel is die gewiggies onderaan die skeringdrade met ‘n rolstok vervang waarop die reeds voltooide materiaal kon oprol. Die wewery is toe van onder na bo gedoen. Hierdie weefstoele kon egter nie gebruik word om stowwe met ingewikkelde gekleurde patrone te maak nie. Moontlik is die “bont” en “veelkleurige” stowwe waarvan die Bybel praat (vgl Rigters 5:30; Esegiel 26:16) gemaak deur stukke materiaal van verskillende kleure aanmekaar vas te werk. Die materiaal se grootte kon egter op die weefstoel verander word deur bloot die aantal skeringdrade te verminder of te vermeerder.

Skrywer:  Prof Hennie Stander

 




Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Vakmanne en Bedrywe(7)- Hennie Stander

Leer- en kledingstofwerkers

Die eerste klere wat die mens gemaak het, was van velle gemaak met die diere se hare nog steeds daarop (Genesis 3:21). Later is dit van leer gemaak. Elia (2 Konings 1:8) en Johannes die Doper (Mat­teus 3:4) het leergordels om hul heupe gedra, soos wat al die skaapherders van daardie tyd gedoen het. Skaapherders het hul voedsel in leersakke (herderstassies) gedra. Tente is oorspronklik van dier­velle gemaak, maar dit is later deur materiaal van bokhaar vervang. Verder is leer gebruik vir militêre uitrusting soos helms, skilde en slingers. Maar die leerwerkers het ook allerhande houers van vel gemaak. Wynsakke, byvoor­beeld, is van leer gemaak (Matteus 9:17). Verder was die gebruik van leer belangrik vir die maak van perkamentvelle waarop onder andere ook die manuskripte van die Bybel geskryf is (2 Timoteus 4:13).

 

Diervelle is tot leer gemaak deur die proses van leerlooiery. Die leerlooiers het die hare van die velle verwyder deur dit of te krap, te week en kalk aan te smeer. Die velle is in water geweek wat galneute en sumakblare bevat het. Dit is dan met hondemis besmeer en daarna is die vel geslaan of gestamp. ‘n Leerlooier was nie ‘n baie populêre man nie, vanweë die stank van die middele wat by moes aanwend om die leer te looi. In die Nuwe Testament lees ons van Petrus wat in Joppe by ‘n leerlooier met die naam van Simon tuisgegaan het (Handelinge 10:6).

 

Linne- en wolkledingstof is vroeg reeds ontwikkel. Onder die Jode is veral wolkledingstof baie algemeen. Nadat die wol van die skape gewas is, is dit gekam om dit so vir die spinproses voor te berei. Die spinwerk is gedoen met ‘n houtstok of spinsil met ‘n keep of hakie aan die een punt daarvan. Aan die ander end van die spinsil is ‘n gewig met ‘n gat in die middel aangesit. Hierdie gewiggie is die spinkatrol genoem en dit is van klei, klip of been gemaak.

skaapvelle

Onbewerkte wol en skaapvelle buitekant ‘n handelaar se winkel in Hebron

Wanneer die spinner die spinkatrol ‘n vinnige draai gee met haar hand, het dit momentum aan die spinsil gegee. Die spinner het woldrade getrek uit die gewaste wol wat sy onder haar linkerarm vasgehou het, en dan het sy die drade aan die keep of hakie vasgemaak. Sy het die spinstok vinnig in die rondte laat draai en dit dan tot amper op die grond laat val. Terwyl die spinsil, met die gewiggie aan, ondertoe val en terwyl dit ook terselfdertyd al in die rondte draai, het dit ‘n woldraad uitgetrek wat in hierdie proses rondom die spinsil gedraai het. Die hele proses is keer op keer herhaal.

Kleuring

Alhoewel natuurlike kleure in die weefproses gebruik is, was dit ook moontlik om die draad te kleur. Die drade of gare is met loog en seep (Jeremia 2:22) gewas voordat dit gekleur is. Bloedrooi kleursel (Eksodus 25:4) is van luiseiers gemaak wat tot fyn poeier gemaal is. Indigo (blou) is verkry van granaatskil. Die pers kleurstof (Handelinge 16:14) is verkry van die purperslak. Die skulpe is fyn gemaak, in sout gekook, en in die son gelos sodat die vog daarvan pers kon word (vgl ook Numeri 15:38; Ester 8:15). Maar ook blou kleurstof kon van die purperslak gemaak word deur bloot ‘n ander bymiddel by te gooi gedurende die kookproses. In Egipte is geel kleurstof uit die saffloerplant vervaardig maar die Romeine het dit van die saffraanblom gemaak. Die kleurstowwe is gemaak deur ‘n oplossing van water, potas en kalksteen te maak. Na twee dae is die kleursel bygegooi en die kleuring is in erdepotte of klipbakke gemaak. Nadat die draad of vel gekleur is, is dit in skoon water gewas en opgehang om droog te word.

Skrywer:  Prof Hennie Stander

 




Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Vakmanne en Bedrywe(6)- Hennie Stander

Metaalwerkers

Ook die metaalsmid het ‘n baie ou beroep beoefen. Die naam “Kain” hou verband met ‘n Hebreeuse woord wat “smid” beteken. Verder word daar gesê dat een van Kain se afstammelinge, met die naam van Tubal-Kain, ‘n smid was wat allerhande koper- en ysterwerktuie gemaak het (Genesis 4:17,22). Kain was die vader van die Midianitiese stam, die Keniete, wat nou betrokke was in vele aspekte van Israel se geskiedenis (sien byvoorbeeld Genesis 15:19; 1 Samuel 15:6). Dit lyk of hulle saam met die Egiptenare die koper van die Sinai ontgin het. Voorwerpe wat deur Kenitiese metaalwerkers gemaak is, het bale argeologiese inligting vir ons gegee rakende die antieke metaalwerke.

Goud was een van die eerste metale wat gemyn en aangewend is. Die rede hiervoor is dat dit in ‘n relatiewe suiwer toestand gevind word. Verder kan dit ook by lae temperature smelt en dit is dan in gietvorms gegooi. Dit is (net soos silver) gelouter deur dit in ‘n smeltkroes van klei te verhit en die boonste deel van die vloeistof is daarna afgeskep om so van al die onsuiwer­hede ontslae te raak (Sagaria 13:9). Dit is tot dun plate geslaan en is in drade opgesny; daarna is dit ingeborduur in wolstowwe en in goed geweefde linne (Eksodus 39:3). Israelitiese kuns en handwerk was op sy beste in die klein artikels soos juwele wat hulle gemaak het. Ook die goudsmede het dus ‘n belangrike funksie gehad om te vervul (vgl Nehemia 3:8).

Koper is uit die erts ontgin deur dit warm te maak. Dit kon ook uitgeklop en gevorm word deur dit te slaan wanneer dit koud was. Koper is gemyn in skagte wat tot vyftig meter diep was. Die beskrywing van mynwese soos dit in Job 28:2-11 opgeteken is, toon ongetwyfeld dat die outeur nie onbekend was met hierdie bedryf nie. Die erts is in klein stukkies gebreek in die meule en in ‘n eenvoudige oond gesmelt. Die oond het basies uit ‘n holte in die grond bestaan waar die vloei-koper uiteindelik versamel sou word. Dit is met drie lae mure van klip en klei omring. Die een muur het ook plek gehad vir die blaasbalk en vir die wind. Talle oorblyfsels van sulke meulens, oonde en slakhope is langs die Golf van Akaba gevind.

juweliersware

Silwer Juweliersware wat by die Bybelse Silo gevind is

Teen die jaar 2000 v.C. reeds het metaalwerkers uitgevind dat indien daar tot ongeveer 4% tin by die koper bygevoeg word, hulle ‘n harder metaal verkry het met ‘n laer smeltpunt wat ook in persvorms gegooi kon word. Dit is hoe brons gemaak is. In Hebreeus word dieselfde woord vir beide brons en koper gebruik. Omdat brons mooi en ook goedkoper as goud was, is dit soms in die plek van goud gebruik (vgl 1 Konings 14:26-27). Die koperindustrie het later in die suide doodgeloop vanweë ‘n gebrek aan brandhout. Hierdie bedryf het ook nie weer in die land herleef tot voor die Romeinse tye nie.

Aanvanklik is yster as ‘n onsuiwerheid uit koper uitgehaal. Dit was eers nadat sekere tegnologiese vooruitgang gemaak is dat yster uit erts gewin kon word. Dit het meer hitte benodig vir beide die winning en vir die vorming daarvan (vgl Jesaja 44:12; Jeremia 6:28-29). Die Hetiete was die eerste om yster so ontwikkel en hulle het die yster en die vaardighede wat daarmee gepaard gegaan het na die Kanaäniete en die Filistyne uitgevoer. Aangesien yster baie sterk is, en aangesien die Kanaäniete ysterstrydwaens gehad het, kon Juda nie die inwo­ners van die Vlakte uitdryf nie. Op ‘n later stadium het die Filistyne, wat ‘n groot getalsterkte gehad het, die Jode gedomineer omdat slegs die Filistyne die nodige vaardigheid met yster gehad het (1 Samuel 13:19-22). In 1500 v.C. was yster so nuut dat dit gebruik is vir die maak van juweliers­ware, maar teen 1000 v.C. is dit vir die vervaardi­ging van wapens gebruik. Dawid het egter massas yster en brons gereed gehad vir die bou van die tempel (1 Kronieke 22:3).

kruikolielampiemetaal

‘n Israellitiese kruik en olielampie, albei van metaal

Skrywer:  Prof Hennie Stander

 




Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Vakmanne en Bedrywe(4)- Hennie Stander

Die bak van die klei

Nadat die voorwerpe droog geword het en, indien dit so verkies is, versier is, is hulle gebak in een van verskeie soorte oonde. Etlike soorte oonde is reeds in argeologiese opgrawings gevind. Een soort klei-oond was byvoorbeeld koepelvormig en dit is geplaas op die boom van ‘n vlak put wat omtrent 122 cm diep was en 305 cm in deursnee. Die potte is onder die koepel geplaas op die bodem van die put en is daarna met bossies en takke bedek wat dan aan die brand gesteek is. Daar was ook ander soorte oonde waar diepotte op rakke geplaas is en die vuur aan die onderkant daarvan gemaak is. Die outeur van die geskrif Jesus Sirag beskryf ook hierdie deel van die pottebakkerswerk: Hy konsentreer daarop om die glasuurwerk te voltooi, en bly wakker om die oond skoon te maak.” (38:30). Pottebakkerswerk wat op hierdie wyse gemaak is, was geneig om baie bros te wees. Indien ‘n mens ‘n kruik te hard neersit wanneer jy byvoorbeeld by die put water skep, kon dit breek (vgl Prediker 12:6). Die “stukkend breek” van ‘n erdepot is dikwels figuurlik gebruik om die finaliteit van ‘n komende oordeel te illustreer (Psalm 2:9; Jeremia 19:10-11; Openbaring 2:27).

 

Stukke potskerwe was nie sonder meer nutteloos nie. Hulle is gebruik as skrapers en selfs ook as skryfmateriaal. Potskerwe waarop allerhande bood­skappe geskryf is, het as ostraka bekend gestaan. Die groter potskerwe kon selfs gebruik word as houers waarin items gebêre of gedra kon word. Jesaja het gesê dat die oordeel so swaar sou wees dat geen groot potskerwe gevind sal word waarmee kole uit ‘n vuurmaakplek gekrap kan word of water uit ‘n opgaarbak geskep kan word nie (Jesaja 30:14).

 

Soos .wat die pottebakkerskuns ontwikkel het, is verskillende metodes in werking gestel om groot hoeveelhede gelyktydig te vervaardig. Vakleerlinge het byvoorbeeld rowwe potte gemaak wat daarna deur vakmanne fyn afgewerk is. Ook is ‘n groot hoop klei op die wiel geplaas en items is dan van die bopunt van die hoop of gemaak. Sommiges het gespesialiseer in die voorbereiding .van die klei, of die brei daarvan, of in die ontwerp van die potte, of in die droogmaak en in die bak daarvan.

 

Skrywer:  Prof Hennie Stander