Onsterflikheid – Hermie van Zyl

Werner vra:

Ek lei af dat alles wat God skape (minstens engele en mense) onsterflike wesens is, anders kon God bloot die gevalle engele doodgemaak het en net so sou Hy ook mense wat Hom nie kies nie, kon verdelg sonder die nodigheid vir ‘n hel. Is dit waar? Die gedagte dat mense en engele vir ewig en altyd moet bly betaal vir sondes en verkeerde keuses is moeilik om te verwerk in die lig van God wat liefde is. Boonop is daar dan ‘n hel wat vir ewig bewaak moet word. Waarom nie totaal en al net wegdoen met alles wat kwaad is nie?

 

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Laat ons begin by die gedagte van onsterflikheid. Die Bybel praat nêrens van die mens (of engele) wat onsterflik is nie. Net God is onsterflik (1 Tim 6:16). Van die mens word presies die teenoorgestelde gesê, naamlik dat hy stof en sterflik is (Gen 3:19; Pred 3:20). (Let wel: al die teksverwysings is volgens die 1933/53 Afrikaanse Vertaling.) Die gedagte wat soms die ronde doen dat die mens uit drie dele bestaan – liggaam, siel en gees – waar die liggaam dan sterflik is en tot niet gaan maar die siel darem onsterflik is en vir ewig voortbestaan, is nie ‘n Bybelse gedagte nie.

Daar is baie begrippe wat vir die mens in die Bybel gebruik word, soos siel, liggaam, vlees, gees, hart, ensovoorts, maar dit beteken nie dat hulle die verskillende “onderdele” is waaruit die mens bestaan nie. Dis eerder so dat elkeen van hierdie terme die totale mens beskryf, maar dan ‘n bepaalde aspek van menslike lewe op die oog het. So kan “liggaam” en “vlees” in bepaalde kontekste die konkrete bestaan, broosheid, weerloosheid, sondigheid of sterflikheid van die mens uitdruk (vgl Matt 26:41; Rom 6:12; 7:18; 8:8). “Siel,” “hart” en “gees” kan weer die innerlike lewe of diepste oortuigings van die mens, of die mens in sy verhouding tot God weergee (vgl Ps 42:2-3; Luk 1:46-47).

Wat in die Bybel voorkom in terme van mensbeeld, is dus die gedagte dat die mens ‘n eenheid is van siel, gees en liggaam. Hierdie gedagtegang stem ooreen met wat vandag in die mediese wetenskap algemeen aanvaar word dat die mens ‘n psigo-somatiese eenheid is (= eenheid van siel/gees en liggaam). Dit het natuurlik ook die implikasie dat as die mens sterf, daar nie iets “oorbly” wat darem “onsterflik” is nie. Die mens leef as eenheid van siel, gees en liggaam, en sterf as eenheid van siel, gees en liggaam.

Die punt is: die mens, of “iets” van die mens, beskik nie oor inherente onsterflikheid nie. Net God beskik oor hierdie eienskap. Maar wat wel waar is, is dat die Bybel duidelik sê dat die mens ná sy dood die ewige lewe beërwe of ewig in die hel deurbring. Hierdie lewe ná die dood is nie iets vanselfsprekend of noodwendig weens die inherente kwaliteit van die mens as onsterflike wese nie, maar is so omdat dit deur God aan die mens geskenk of toegedeel word. Ons het egter geen idee hoe hierdie lewe van die mens na die dood lyk nie. Al wat ons weet, is dat die mens (let wel, nie “iets” van die mens nie) ná sy dood óf in gemeenskap met God voortleef óf vir ewig in die hel bestaan. So sê Paulus: “Ek het verlange om heen te gaan en met Christus te wees” (Fil 1:23). Wie/wat is die “ek” van wie Paulus praat? Ons weet nie. Al wat ons weet, is dat daar een of ander kontinuïteit is tussen die totale mens vóór die dood en die totale mens ná die dood. Maar hoe dit presies daar uitsien, weet ons nie aan die duskant van die graf nie.

Hoe dit ook al sy, dit is veral die gedagte aan die mens wat vir ewig in die hel deurbring wat ons as mense wat glo in ‘n liefdevolle en regverdige God teen die bors stuit. Hoe bring ons ‘n ewige hel en straf, wat gepaardgaan met onbeskryflike pyn en ellende (vgl Mark 9:43-44; Luk 16:24-28; Open 20:10), in verband met die God van die Bybel wat sê dat Hy geen behae het in die dood van die goddelose nie, maar daarin dat hy hom bekeer en lewe (Eseg 33:11), of dat God in Christus Homself met die wêreld versoen het en hulle hulle misdade nie toereken nie (2 Kor 5:19)? Kortom, dit is moeilik om die evangelie van liefde, genade en vergiffenis in verband te bring met ‘n God wat bereid is om mense vir ewig in ‘n plek van pyniging gevange te hou. Getuig dit nie van opperste wreedheid om mense vir ewig in die lewe te hou met die uitsluitlike doel om hulle te pynig en te straf nie?

Dit is nie maklik om ‘n goeie antwoord op hierdie vrae te gee nie. Want enersyds kan ons nie ontken dat die Bybel baie duidelik is oor die hel en die ewige straf nie. Maar andersyds moet ons erken dat ons hier met oënskynlik innerlike teenstrydighede in die wese en karakter van God te doen het waarmee ons vanuit ons huidige begrip van die evangelie worstel en waarmee ons nie heeltemal vrede het nie. Daarom is dit geen wonder nie dat baie teoloë vandag heeltemal afsien van die gedagte van die hel. Hulle maak die hel af as elemente in die Bybel wat eerder iets weergee van die antieke lewensgevoel en siening van die lewe as dat dit iets sê van hoe God werklik is.

Ons moet onthou dat die Bybel ook ‘n menslike kant het. Daarmee word bedoel dat die openbaring in die Bybel oor wie God en die mens is, ook deur die kanaal van menslike oorlewering geskied het. Die konteks waarin die Bybel ontstaan het, het sy afdruk gelaat op die kennis oor God en sy wil wat ons in die Bybel het. Daarom is daar ook progressie in die Bybel oor bepaalde sake. Neem byvoorbeeld die gedagte van die opstanding. Mens soek tevergeefs in die Ou Testament na iets soos ‘n algemene opstanding uit die dood. Dis ‘n konsep wat eers werklik in die tussen-testamentêre tydvak ontwikkel het, en dan veral in die Nuwe Testament nuwe betekenis kry na die opstanding van Jesus uit die dood. Laasgenoemde gee dan ook nuwe betekenis aan die idee van “lewe na die dood”. So is daar baie ander sake (soos God as Drie-enige God, of die heilige oorlog-gedagte in die Ou Testament wat God die aanhitser tot wreedhede maak, om nie meer te noem nie) wat mens sou kon noem om te sê dat die Godsopenbaring in die Bybel oor tyd heen bepaalde ontwikkelinge en selfs veranderinge ondergaan het.

Dieselfde kan ons ook sê oor ons verstaan van die Bybel die afgelope 1700-2000 jaar sedert die afsluiting van die kanon. Ons denke oor God vanuit ons studie van die Bybel bly nie staties nie. Daar is uiteraard kontinuïteit met die sentrale boodskap van die Bybel, maar daar is ook insigte en gedagtekomplekse oor God wat vandag anders lyk as dié van ons voorgeslagte. Een hiervan is juis die gedagte van hoe liefde en regverdigheid mekaar balanseer in die wese van God. Die antieke mens het makliker vrede daarmee gehad dat uiterste liefde (soos geopenbaar in die handelinge van God in Jesus Christus) en uiterste “wreedheid” wanneer oor die straf van die goddeloses gedink word, mekaar nie noodwendig uitsluit nie. Maar ons moderne lewensgevoel het nie heeltemal vrede hiermee nie. Ons het tot by ‘n punt in ons denke oor God gegroei wat dit moeilik maak om met hierdie – vir ons –teenstrydighede in ons Godsbeeld saam te leef.

Tog bly ons met die probleem van die kwaad en die bose in ons midde worstel. Want dat daar dinge gebeur wat ten hemele skrei en roep om vergelding, kan niemand oor stry nie. Gaan God dit maar net oorsien, of gaan Hy dit op een of ander manier “wreek”? Want dat God geen vrede het met sonde en boosheid nie, staan soos ‘n paal bo water. Dit het nie ‘n plek in sy koninkryk nie. Die Bybel leer immers – en dit kan ons as evangelie aanvaar – dat God met sy skepping op pad is na ‘n eindbestemming waar net liefde en geregtigheid sal heers (2 Pet 3:13).

Die vraag is net wat van al die mense wat oor die millennia van die mens se bestaan die wil van God verkrag en onnoembare leed aan ander veroorsaak het. Wat word van hulle? Ons is hieroor verleë, gewoon omdat ons nie werklik weet wat ná die dood gebeur nie. Ons kan eintlik maar net (verantwoordelik) hieroor spekuleer. Dalk wórd die bose eenvoudig vernietig. Dalk word daar ‘n nuwe proses van straf, groei, smeek om en gee van vergiffenis aan die gang gesit waarvan ons nou nog geen begrip het nie. Al wat ons eintlik maar net weet – en dis wat die gedagte van “ewige hel” in die Bybel wil oordra – is dat volhardende en verhardende sonde en boosheid ernstige implikasies vir die doener daarvan inhou. God het nie vrede daarmee nie. Maar hoe Hy presies daarmee “vir ewig” gaan handel, sodat dit ook op een lyn gebring kan word met die hart van God as een van liefde en regverdigheid, kan ons nie nou deurgrond nie. Al wat ons kan doen, is om hier en nou aan mense – en onsself – die liefde en vergiffenis van God in Jesus Christus maar ook sy regverdige oordeel oor mense – ook oor ons – te verkondig en die erns van ons keuses hier op aarde te onderstreep.

Hieraan kan ons vashou: God sal uiteindelik regverdig oordeel en handel, op ‘n manier wat in ooreenstemming is met sy wese as liefde

Skrywer:  Prof Hermi van Zyl

 




Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Die Oppas van Skape en Bokke(4) – Hennie Stander

Die skaapkraal

Die eienaars van ‘n paar kuddes vee het dikwels een skaapkraal naby die huis van een van die eienaars gebou. Dit was sonder enige dak en die mure van die kraal is gemaak deur klippe, wat in die omgewing opgetel is, opmekaar te stapel. Soms is dorings op die bopunt van die mure gesit. Die kraal het net een ingang gehad en meer as een kudde kon in so ‘n skaapkraal geherberg word. Nogtans het die skape nie deurmekaar geraak nie aangesien elke herder sy eie skape geken het. Die kraal het beskerming gebied teen wilde diere, maar ook teen diefstal. Die herder het by die skape geslaap om hulle op te pas. Omdat die kraal sonder ‘n dak was, het diewe en rowers nie van die ingang gebruik gemaak nie, maar sommer oor die mure geklim (Johannes 10:1-3). Hulle het die skape gesteel en geslag (Johannes 10:10).

skaapkraal

‘n Skaapkraal van klip naby Berg Nebo, Jordanie.

Tydens die warmer seisoene het die herders hulle vee snags nie huis toe geneem nie. Die herder het bloot sy skape op ‘n veilige plek bymekaar gemaak en in die oop veld by hulle wag gehou (Lukas 2:8). Tog het hulle ook in die veld krale gebou. Veral ‘n grot het goeie skuiling gebied en dikwels is daar ‘n halfmaanvormige muur voor die bek van die grot gebou om ‘n ingeslote ruimte voor die grot te vorm. Dit was blykbaar na so ‘n grot waarheen Koning Saul gegaan het om te ontlas (1 Samuel 24:3). Indien daar geen grot in die nabyheid was nie, is die klipomheining bloot in die oopte gemaak. Die herder moes heeltyd by die kleinvee bly ten einde hulle te beskerm. Dit was ‘n veeleisende werk en Jakob self vertel dat die hitte horn bedags verrinneweer het en snags die koue en dat by dikwels nie kon slaap nie (Genesis 31:40). Juis daarom het hulle ook tente gehad wat hulle kon opslaan (Hooglied 1:8).

 

Die goeie herder

Om in die. eensaamheid jou tyd met die skape en die bokke deur te bring, het noodwendig tot gevolg gehad dat daar ‘n noue band tussen die herder en sy skape ontstaan het. Die herders het hul skape so goed geken dat hulle onmiddellik geweet het wanneer die skape iets makeer het of hulp nodig gehad het. Jesus het gesê dat Hy as Goeie Herder ook sy eie skape goed ken (Johannes 10:14a). Sy skape ken egter ook vir Horn (Johannes 10:14b) met die gevolg dat wanneer Hy hulle roep, hulle op sy roepstem reageer (Johannes 10:4-5).

Omdat die herders die kuddes so goed geken het, was hulle in staat om die skape in die verskillende kuddes in te deel indien hulle verantwoordelik was vir die kuddes van meer as een eienaar. Dit het hulle in staat gestel om die skape aan hul regte eienaars terug te besorg. Jakob het drie verskillende troppe kleinvee by die put sien lê wat gekom het om daar water te drink. Daar was ‘n groot klip op die bek van die put en as al die veewagters eers bymekaar was, het hulle die klip van die opening weggerol sodat die diere kon drink (Genesis 29:1-3). In Johannes 10:16 sê Jesus dat “Hy ook ander skape het wat nie aan hierdie kraal behoort nie”. Met hierdie woorde verwys Jesus waarskynlik na die yolk Israel. Hy sê dus dat Hy volgelinge het wat nie tot die Joodse nasie behoort nie. Na Jesus se bediening op die aarde het die Kerk egter ‘n heenkome gebied vir alle volkere.

Dit was die herders se taak om die skape te laat wei (Esegie134:2; Johannes 21:15 ev). Die skape is bymekaar gehou deur hulle te roep of deur hulle in die regte rigting te stuur met behulp van ‘n klippie uit die slinger. Soms is ook herdershonde gebruik (vgl Job 30:1). Die herders het nooit die kuddes aangejaag nie, maar hulle het eerder voor die kudde uit geloop en dan het die kudde hul gevolg (Psalm 23:2-3). Die honde het agter die kudde geloop om toe te sien dat die skape byhou en nie afdwaal nie, en ook dat hulle nie deur diere aangeval word nie. In Jesaja 52:12 word die besondere posisie van die Here teenoor die yolk Israel uitgespel. God lei hulle nie slegs aan die voorkant nie, maar terselfdertyd vorm Hy hulle agterhoede.

Jakob het sy kennis van die teling van vee op die proef gestel. Hy het wel geweet dat sterk ooie sterk lammers voortgebring het, en dat swak ooie swak lammers voortgebring het (Genesis 30:41-42). Hy het egter nie besef watter rol oorerwing speel in die bepaling van die kleur van die wol van die skape nie (m.a.w. dit wat bepaal het of die skape wit, gevlek, bont of gestreep sou wees nie). Jakob het geglo dat die omgewing ten tye van konsepsie verantwoordelik was vir die kleur van die vee (Genesis 30:37 ev). Hiermee het hy uitdrukking gegee aan die wydverspreide geloof van daardie tyd dat ‘n visuele indruk van die moeder groot invloed kon uitoefen op die uiterlike voorkoms van die vrug van haar skoot. Gelukkig vir Jakob het God sy onkunde oor die hoof gesien en het Hy verseker dat reg en geregtigheid geskied. So het Jakob dus tog die beste skape gekry ondanks die feit dat hy aan die kortste end getrek het wat betref die ooreenkoms tussen horn en Laban (Genesis 31:5-9).

bad

Oorblyfsels van die Bad van Betesda. In die Bybelse tyd is skape hierin gebad.

 

Die feit dat ‘n herder sy kudde beskerm en lei, het daartoe aanleiding gegee dat God as die Herder van Israel bestempel is (Psalm 23:1; Psalm 80:2; Jesaja 40:11; Jeremia 31:10; Esegiël 34:12). Dit is dus geensins verbasend dat ook Jesus as die Goeie Herder bestempel is nie (Johannes 10:1-16).

 

Skrywer:  Prof Hennie Stander

 




Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Die Oppas van Skape en Bokke(3) – Hennie Stander

Die slingervel

Die slingervel was ‘n eenvoudige maar effektiewe wapen wat ook deur herders gebruik is. Dit het bestaan uit ‘n klein leersakkie waarin ‘n klippie van sowat veertig millimeter in deursnee kon inpas. Hierdie sakkie is weer aan twee stukkies tou of leer van ongeveer 60 sentimeter lank vasgemaak. Die klippie is in die sakkie geplaas en dan is dit baie vinnig in die rondte gedraai en die middelpuntvlieënde krag het gesorg dat die klippie op sy plek gebly het. Wanneer ‘n mens egter op hierdie stadium een van die toutjies laat los het, het die klippie die sakkie teen n geweldige spoed en met baie groot krag verlaat. Hierdie slingervel is met groot vaardigheid en akkuraatheid gebruik deur herders wat baie tyd gehad het om daarmee te oefen. Dawid het byvoorbeeld vir die Filistyn Goliat daarmee gedood (1 Samuel 17:40,50). Ussia het selfs sy leër uitgereik met onder andere klippies vir die soldate se slingervelle (2 Kronieke 26:14). Maar die slingervel is ook gebruik om die skape mee te beheer. ‘n Goed geplaaste klippie wat direk voor ‘n skaap val wat besig was om weg te dwaal, het die skaap weer laat terugkeer na die kudde toe.

 

‘n Skaapkraal van klip naby Berg Nebo, Jordanie

Die stok en die staf

Verder het ‘n herder ook ‘n stok en ‘n staf gehad (Psalm 23:4). Beide is vir ondersteuning en beskerming gebruik en dit is nie altyd duidelik presies wat die verskil tussen die herder se stok en staf was nie. Voorts is beide van die takke van borne gemaak. Die vorm van die stok het blykbaar alles afgehang van die persoon wat dit wou gebruik se individuele behoeftes. So kon dit byvoorbeeld die vorm van ‘n knuppel aangeneem het met die een punt daarvan baie groter en dikker as die ander punt. Soms is allerhande klippies (en later ook spykers) in die “slaankant” daarvan ingekap.

Die herderstaf is ongeveer twee meter lank met ‘n groterige haak aan die een punt daarvan. Dit is gewoonlik gebruik om die herder te help om oor die weg te kom in ‘n gebied wat baie heuwelagtig of ongelyk was. Verder is dit ook in die hantering van die skape gebruik. Wanneer die skape deur ‘n nou ingang beweeg het, soos byvoorbeeld wanneer hulle snags na die skaapkraal gegaan het, is hulle getel (vgl Jeremia 33:13) terwyl hulle onderdeur die herderstaf geloop het. Esegiël gebruik hierdie beeld om te se dat God die opstandiges sal verhinder om na hul huise terug te keer na die ballingskap. Slegs hulle wat getrou gebly het aan God sal “Ek onder my herderstaf laat deurgaan” (Esegiël 20:37-38). Volgens Levitikus 27:31-33 lyk dit of hierdie metode (“om die vee onderdeur ‘n herderstaf te laat loop”) gebruik is om te bepaal watter diere as tiendes vir God gegee moes word. Terwyl die beeste en kleinvee onderdeur die herderstaf deurgeloop het, is elke tiende dier gemerk en hulle was dan aan God geheilig. Hierna was dit nie meer toegelaat om die diere te ondersoek ten einde vas te stel of hulle goed of sleg was nie, en ook mag die diere nie meer op hierdie stadium, nadat hulle vir God uitgesit is, omgeruil word nie.

Die herderstas

Herders het ‘n leersakkie gedra wat heelwat groter was as die een in die slingervel. Dit het bekend gestaan as ‘n herderstas of ‘n slingersak. Ook reisigers en bedelaars het sulke tassies gedra. Dit is waarskynlik gebruik om veral geld en kos in te bêre. Dawid het sy herderstassie met klippies gevul (1 Samuel 17:40); een daarvan het vir Goliat gedood. Dit is waarskynlik ook die sakkie waarna Jesus verwys het toe Hy sy dissipels verbied het om enige reissak met hulle saam te neem toe Hy die twaalf dissipels uitgestuur het (Matteus 10:10).

herderenfluit

‘n Herderseun speel op sy fluite te Palmyra, die Bybelse Tadmor, in Sirie.

Verder het herders rietfluite gehad as deel van hulle uitrusting. Dit was ‘n blaasinstrument waarmee hulle musiek gemaak het. Die rietfluite het uit een of twee stukkies riete bestaan wat uitgehol was. Die geluid is gemaak deur oor ‘n skerp kantjie te blaas en die verskillende note is gemaak deur verskillende gaatjies in die twee pypies te blokkeer. Dikwels is beide riete gelyktydig bespeel. Daar, kon vrolike musiek daarmee gemaak word, by­voorbeeld tydens feestelike geleenthede (1 Konings 1:40), maar hulle kon ook droewige musiek daarop maak (Jeremia 48:36). Dit was maklik om hierdie rietfluite te maak maar die riete het ook maklik gebreek. Wanneer so ‘n rietfluit beskadig is, het dit geen verdere waarde gehad nie. Die stukkende een is doodeenvoudig weggegooi en ‘n nuwe een is gemaak. Dit is egter van Jesus gesê dat “Hy nie ‘n geknakte riet sal breek nie” (Matteus 12:20; Jesaja 42:3).

 Skrywer:  Prof Hennie Stander

 




Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Die Oppas van Skape en Bokke(2) – Hennie Stander

Die taak van die herder

In die Ou Testamentiese tyd het omtrent elke familie ten minste ‘n paar skape en bokke gehad, en dus het die meeste gesinne ook herders gehad. So lees ons dat Ragel, die latere vrou van Jakob, haar pa se kleinvee opgepas het (Genesis 29:6-10). Dit was ook die taak van Moses (Eksodus 3:1). Arm families het gewoonlik die jongste kind gebruik om die skape op te pas. Dawid, die jongste van agt broers, was juis in hierdie posisie toe Samuel na die huis van Isai gegaan het om te soek vir die toekom­stige Koning van Israel (1 Samuel 16:11). Ook die profeet Amos is van sy kudde weggeroep vir ander diens (Amos 7:14). Maar veeboere het ook huur­linge gehad om die skape op te pas.

In die lente, na die winterreëns, was daar heelwat weiveld buite die dorp. Nadat die koring geoes is, is die skape toegelaat om te wei op dit wat agtergebly het. As dit klaar was, het die herders met hul kleinvee na beter weivelde getrek en na plekke waar daar waterbronne was (1 Kronieke 4:39-41; Psalm 23:2). Wanneer die bogrondse waterbronne nie meer in die behoeftes kon voorsien nie, het die vee water gedrink wat uit die putte gekom het (Genesis 29:10).

In die Bybelse tyd moes kleinvee voortdurend beskerm word omdat wilde diere, wat uit die ruigtes van die klowe by die Jordaanrivier gekom het, ‘n ernstige bedreiging vir die vee ingehou het. Leeus en bere was volop in die veld (Rigters 14:8; 2 Konings 2:25). Dawid se optrede is sprekend van die gevare wat die herders moes trotseer om hul kuddes to beskerm (1 Samuel 17:34-36). In Amos 3:12 lees ons van ‘n herder wat selfs net twee pootjies en ‘n stukkie oor uit die bek van ‘n leeu weggryp (wat by waarskynlik aan die eienaar as bewys sou kon voorlê dat die bok of skaap nie gesteel is nie, maar deur wilde diere verskeur is). Die Here het dit hier as ‘n beeld gebruik van die oordeel wat oor die Israeliete in Samaria sou kom.

 skapebokke

Skape en bokke is dikwels as een kudde opgepas

Verder was hiënas en jakkalse volop. Jesus het dus ‘n baie reële beeld gebruik toe Hy gesê het dat die goeie Herder sy lewe aflê vir sy skape (Johannes 10:11) alhoewel dit darem nou ook nie ‘n alledaagse gesig was in Palestina dat so jets sou gebeur nie. Aan die ander kant het herders eintlik geen ander keuse gehad as om die kudde met alle mag en krag te beskerm nie, aangesien dit dikwels van hulle verwag is om aan die eienaar te vergoed vir die vee wat deur wilde diere verskeur is, of wat gesteel is (Genesis 31:39; vgl egter Eksodus 22:10-13).

Wanneer ‘n skaap moeg of sick was, het die herder dit op sy skouers getel (vgl Lukas 15:5) en wanneer die skapie afgedwaal het, het by hom gaan soek (Lukas 15:3-6; Psalm 119:176; vgl ook Jesaja 53:6). Tog het dit maar te dikwels gebeur dat herders wat gehuur is, hulle taak nie met dieselfde toewyding verrig het nie bloot omdat dit nie hul eie skape was wat hulle opgepas het nie (Johannes 10:12-13).

 

Skrywer:  Prof Hennie Stander