Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Die Oppas van Skape en Bokke(1) – Hennie Stander

Toe Abraham uit -Ur vertrek het, en ‘n nomadiese lewenswyse aangeneem het, het by met al sy kleinvee getrek. In Genesis 13:2 lees ons dat Abraham ryk was aan kleinvee. Die Bedoeïen het met sy kudde van een weiveld na ‘n ander, en van een waterbron na ‘n ander, getrek. Sy lewenstyl het heeltemal verskil van die van ‘n boer wat reeds gevestig was, en daar het dikwels wrywing en spanning tussen veeboere en landbouers ontstaan. Ons lees reeds in Genesis 4:2 ev van sodanige spanning. Die antieke Hebreërs was primêr herders van skape en bokke en dit het ‘n baie belangrike kenmerk van hul lewenswyse vir omtrent die hele Ou Testamentiese era gebly. Abel was die eerste skaapherder waarvan ons hoor (Genesis 4:2), maar na horn word talle ander Bybelse persone, soos Abraham, Isak, Jakob, Jakob se seuns, ens as veeboere voorgehou (Genesis 13:7; 26:20; 30:36; 37:22).

Nadat die meeste mense die nomadiese lewenswyse laat vaar het en in dorpe en stede gaan woon het, was daar nog steeds ‘n behoefte aan herders. Die nomadiese fase wat die beginjare van die volk Israel tipeer het, is nooit heeltemal vergeet nie. Hulle het byvoorbeeld elke jaar, wanneer hulle die eerste opbrengs van hul oes na die priester moes neem, ‘n geloofsverklaring afgelê wat begin het met die woorde: “My vader was ‘n Arameër wat van plek tot plek getrek het . . .” (Deuteronomium 26:1-5).

Skape is benodig vir die verskaffing van wol, vleis en horings (laasgenoem­de is as houers gebruik). Van die velle van die diere is klere gemaak. Die skrywer -van die Hebreërbrief vertel ons ook van Ou Testamentiese geloofs­figure wat in skaapveile en in bokvelle rondgeswerf het (Hebreërs 11:37). Die vleis van die diere, wat gewoonlik gekook is, en soms ook gebraai is, is nie net binne gesinsverband geëet nie, maar ook binne ‘n religieuse konteks. Volgens voorskrif moes die pasgalam oor die vuur gebraai word, met kop, pootjies, binnegoed en al (Eksodus 12:9), maar “binnegoed” het waarskynlik nie die derms ingesluit nie. Voorts het skape ook voorsien in die verskaffing van melk en hulle horings is as houers vir onder andere olie gebruik (vgl 1 Samuel 16:1; 1 Konings 1:39). Verder is ramshorings gebruik as trompette of as blaasinstrumente (Josua 6:4; Rigters 7:18-20). Soms het gesinne ‘n ooilam hans groot gemaak. Dit het dan saam met die kinders groot geword en selfs uit dieselfde beker as die huismense gedrink. Dit is juis hierdie praktyk wat agter die profeet Natan se verhaal lê (2 Samuel 12:1-7).

sorteer_bokhaar

‘n Bedoeienvrou sorteer bokhaar buitekant haar tent

Skape en bokke

Enkele Hebreeuse woorde kan met beide skaap en met bok vertaal word, omtrent net soos ons Afrikaanse woord kleinvee, en ‘n mens kan nie altyd in elke konteks bepaal of daar na skape, bokke of na albei verwys word nie. Die melk van bokke is in die huishouding gebruik (Spreuke 27:27). ‘n Goeie bokooi het baie melk gegee (ongeveer 3,5 liter per dag). Ten minste een bok is dus by die gesin aangehou alhoewel die ander met die herder saamgegaan het. Die vleis van die bok was nou wel nie so gesog as kalfsvleis nie (vgl Lukas 15:29-30), maar dit is voedsaam en is dikwels tydens ‘n maaltyd voorgesit (Rigters 6:19) en verder is dit as ‘n offerande gebruik (Levitikus 1:10).

Bokhaar is gespin en geweef en dan is saklinne daarvan gemaak (Eksodus 35:23-26). Saklinne is weer gebruik vir tentbedekking asook vir growwe kledingstukke. Selfs die tabernakel is in ‘n tent van bokhaarmateriaal gesit (Eksodus 26:7). Verder is daar goeie leer van bokvelle gemaak. Wanneer ‘n bok doodgemaak is, is die vel dikwels skoongemaak en die hare is afgekrap. Dit is daarna met vet deurweek en vasgewerk sodat ‘n houer daarvan gemaak kon word. Hierdie houers van bokvel is gebruik vir die berging van water, wyn of melk.

In Spreuke 27:23-27 is daar ‘n beskrywing van die sekuriteit wat die kleinvee aan die eienaar gebied het. Dit was dus inderdaad die “rykdom” van die antieke mens. Dit was ook nie altyd soseer die kwaliteit van die kleinvee wat getel het nie, maar veel eerder die kwantiteit daarvan. ‘n Verlore skaap het derhalwe ‘n verlies van wol, melk en vleis impliseer, asook minder lammers vir die volgende jaar. Juis daarom het ‘n herder alles in sy vermoë gedoen om so ‘n verlore skaap weer terug te vind (Lukas 15:3-7).

herderbokke

‘n Bedoeien met sy skape in die woestyn van Judea

 

Skrywer:  Prof Hennie Stander

 




Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Insameling van Voedsel – Interessante Bybelgedeeltes – Hennie Stander

Sint Pietersvis

Matteus 17:24-27. Die vis wat Petrus hier gevang het was volgens legende die tilapiavis. Omdat Petrus dit gevang het, word hierdie vis vandag nog die Sint Pietersvis genoem. Die tilapiavisse dra hul eiers en later hul kleintjies in hul mond. Selfs wanneer die kleintjies op hul eie kos gaan soek, keer hulle altyd terug na die moeder se mond vir beskerming. In hierdie verhaal het die vis ‘n silwermuntstuk in sy bek gehad.

 

Dooie See

Esegiel 47:10. Soos ons gesien het, is daar geen visse in die Dooie See nie. God is egter almagtig en kan deur Sy genade lewe in enigiets inbring. As God Sy seën oor die Dooie See gebied “sal daar vissers langs die Dooie See staan van En-Gedi at tot by En-Eglajim. Dit sal ‘n plek wees waar hulle nette droogmaak. Daar sal net soveel soorte vis wees as in die Groot See, en net so baie.” Die “Groot See” verwys hier na die “Middellandse See”.

Skrywer:  Prof Hennie Stander

 




Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Insameling van Voedsel(3) – Hennie Stander

Heuning

Alhoewel ons weet dat die Egiptenare swerms bye in byekorwe aangehou het, is ons nie presies seker van wanneer of die Israeliete dit begin doen het nie. In 2 Kronieke 31:5 word van heuning gepraat in die lys van dit wat die Israeliete as “eerste opbrengste” ingebring het. Aangesien al die ander items wat genoem word, produkte is wat hulself verbou het, mag dit wees dat die heuning in hierdie geval afkomstig was van hul eie “heuningboerdery”. Ons lees dat die Beloofde Land “oorgeloop” het van heuning (Eksodus 3:8; 13:5). Heuning is in die bos gevind (1 Samuel 14:25-27), in rotsskeure (Deuteronomium 32:13; Psalms 81:17) en selfs in die karkasse van diere (Rigters 14:8-9). Johannes die Doper het selfs in die woestyn heuning gevind (Matteus 3:4).

Heuning was die natuurlike versoeter omdat die Israeliete nie suiker gehad het nie. Daar is dus gesê dat God se bepalings soeter is as heuning (Psalms 19:11); aangename woorde is soos heuning (Spreuke 16:24), en so ook is kennis en wysheid (Spreuke 24:13-14). Heuning is egter nie net as ‘n versoetmiddel gebruik nie, maar ook as voedsel. Sommige antieke Bybel­manuskripte vertel vir ons dat Jesus ‘n stuk vis en ‘n stuk heuningkoek geëet het nadat Hy aan Sy dissipels verskyn het kort na sy opstanding uit die dode (Lukas 24:41-43-vgl hier die Ou en die Nuwe Afrikaanse vertaling met mekaar.)

Skrywer: Prof Hennie Stander

 




Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Insameling van Voedsel(2) – Hennie Stander

Ons lees vroeg reeds in die Bybel dat dit vir die Israeliete baie lekker was om vis te eet (Numeri 11:5). Nogtans, in die Ou Testamentiese era, was die Jode in ‘n hoë mate deur land omring met die gevolg dat die yang van vis nooit so ‘n prominente rol in hul daaglikse lewe ingeneem het soos in die Nuwe Testamentiese era nie. Verder was die See van Galilea, wat in talle van die Nuwe Testamentiese verhale rakende vis­vangs figureer, in die noordelike deel van Israel geleë., en op hierdie stadium was dit nog baie onbelangrik.. Die Israeliete het soms wel ook skepe gehad. So lees ons dat Koning Josafat skepe gebou het waarmee by goud wou gaan haal in Ofir, maar dat hierdie skepe in Esjon-Geber skipbreuk .gely het (1 Konings 22:49). Die Filis­tyne het van Siprus gekom en moes dus oor die see gekom het en die Fenisiërs was ‘n seevarende nasie, maar nogtans lees ‘n mens nie veel van visvangs nie.

In die tyd van die Nuwe Testament, egter, was die vang van vis n ontwikkelde bedryf, en hierin het die See van Galilea ‘n belangrike plek ingeneem. In Jesus se tyd was daar rondom hierdie see ‘n hele klomp stede en talle mense daarin was vissers van beroep.

visvangvandag

Visvang is vandag nog ‘n belangrike aktiwiteit in Israel

Wanneer ‘n mens vandag kyk na die landelike gebied van Galilea, is dit nogal moeilik om te glo dat die See met groot stede omring was met strookontwikkeling daartussen en dat Jesus dit soms moeilik gevind het om ‘n afgeleë plekkie te vind waar by kon rus weg van die mense af. Petrus; Andreas, Jakobus en Johannes was nie noodwendig arm nie. Inteendeel, hulle het gedeel aan ‘n florerende visindustrie. Die Dooie See het egter nooit tot ‘n visvanggebied ontwikkel nie. Dit is omtrent vierhonderd meter onder seespieël en die hoeveelheid water wat verdamp is byna presies dieselfde as die hoeveelheid wat weer invloei. Dit bring dus mee dat die water al hoe meer versadig raak met chemiese soute. Slegs in ‘n baie beperkte gebied waar die vars. water in die Dooie See inloop sal n mens nog vis kan vind.

Daar was hele aantal maniere waarop die vis gevang is, en wel soos volg:

 

Lyn en hoek

Uit afbeeldings wat in Assirië en Egipte gevind is, blyk dit dat ‘n lyn en hoek gebruik is om vis mee te vang. Blykbaar was visstokke nog onbekend. Jesaja vertel hoe die waters van die Nylrivier sal opdroog as deel van God se oordeel (Jesaja 19:5-8) en dan vervolg by “en die vissers sal kla, en almal wat hoeke in die Nyl uitgooi, sal rou bedrywe.” Maar ons het ook ‘n Nuwe Testamen­tiese voorbeeld hiervan naamlik toe Jesus vir Petrus beveel het om ‘n vis te gaan vang en om die stater, wat by in die vis se bek sou kry, te neem om die tempelbelasting te betaal (Matteus 17:24-27). Jesus het toe gesê: “. . . gaan na die see toe, gooi ‘n hoek uit en neem die eerste vis wat opkom …”

 

Die harpoen

God het vir Job gevra hoe ‘n mens te werk moet gaan indien jy die (Nyl)krokodil wou vang, en Hy sê onder andere: “Kan jy sy vel vol skerp ysters steek, en met ‘n vissersharpoen sy kop?” (Job 40:26). Die mans het snags met die bote uitgegaan terwyl hulle ‘n lantern oor die boeg van die boot gehou het. Wanneer die visse hul verskyning gemaak het, aangetrek deur die lig, is hulle met spiese of harpoene van die boot of deurboor.

Die werpnet

Die werpnet was ‘n ronde net van omtrent vyf meter in deursnee met gewiggies wat aan die buiterand daarvan vasgemaak is. ‘n Lang tou is aan die middelpunt van die werpnet vasgemaak. Die visserman het met hierdie net in die vlak waters geloop en dit met ‘n wye boog oopgegooi. Die gewiggies aan die net het dit laat sink en dan het die net as’t ware om die visse gevou. Die visse was dus vasgevang aan die binnekant van die net. Vervolgens is die net na die oewer toe gesleep. Petrus en Andreas was besig om met so ‘n werpnet vis te vang toe Jesus hulle geroep het om Sy dissipels te word (Matteus 4:18-20). Dit is baie duidelik uit genoemde verhaal dat hierdie twee broers besig was om in die vlak water vis te vang, want ons sien dat Jesus sommer van die oewer af met hulle gepraat het. Soms is werpnette van die bote af gebruik en dan is dit deur die vlak waters na die oewer toe gesleep.

werpnet

‘n Visserman gooi ‘n werpnet in vlak waters om ‘n skool visse te vang

Die treknet

(Esegiël 26:5; Habakuk 1:15; Lukas 5:4). Die treknet was omtrent vier meter breed en tot tweehonderd meter lank. Dit is net soos ‘n heining in die water laat hang met dobbers wat dit laat dryf het. Gewiggies wat onderaan die net vasgemaak was, het dit vertikaal gehou. Die net se een punt is aan een boot vasgemaak terwyl ‘n tweede boot met die ander punt weggevaar het totdat die net styf gespan het. Die twee bote, met die net tussen hulle, het vir ‘n sekere afstand deur die meer gevaar en daarna het hulle die net strand toe gesleep. ‘n Ander metode was om net een boot te gebruik wat in ‘n baie groot sirkel met die net gevaar het. Die twee punte van die net is vervolgens bymekaar gevat en weer eens is die net strand toe gesleep. Met so ‘n werpnet is absoluut alles gevang wat onder die net was tot op die bodem van die see. ‘n Mens was dus verplig om die goeie visse van die onbruikbares to skei nadat die treknet tot op die strand gesleep is.

Die bote wat vir visvangs gebruik is, was nie baie groot nie, maar dit kon maklik tien tot twaalf persone neem. Dit was dus groot genoeg vir Jesus om met sy dissipels daarop te kon uitgaan. ‘n Mens kon ook in die agterstewe slaap (Markus 4:38). Die bote is voortgedryf deur roeispane en wind. In laasgenoemde geval is ‘n driehoekige seil aan ‘n houtstut aan ‘n sentrale mas opgehang sodat dit gedraai kon word. Die boot se stuur, of roer, was aan die agterkant. Twee mense kon dit hanteer en die bote het dikwels saam in pare gevaar.

Omdat die bote nie baie groot was nie, was hulle baie kwesbaar in stormweer. Die See van Galilea is ongeveer tweehonderd meter onder seespieël en word deur heuwels omring. In die warm somer verdamp die water. Wanneer die vertikale lugstroom in aanraking kom met koeler lug van die Middellandse See, is daar ‘n groot onstuimigheid en steek daar ‘n onverwagte storm op. Dit is moontlik wat gebeur het toe die dissipels in n skielike storm op die see beland het (Markus 4:35-41). Wanneer die wind gaan lê, word die meer gou weer kalm omdat dit nie baie groot is nie (ongeveer twintig kilometer lank en tien kilometer op die breedste plek).

Baie tyd is bestee aan die instandhouding van die nette. Wanneer daar klaar visgevang is, is die nette uitgespoel (Lukas 5:2), op die strand oopgesprei en drooggemaak (Esegiël 26:5) en die stukkende plekke in die nette is heelge­maak (Matteus 4:21).

galileakaart

Die visdorpies van Galilea in die Bybelse tye. Storms kon skielik vanuit die omringende heuwels oor die meer opsteek

Skrywer:  Prof Hennie Stander