2 Johannes – Lewe in waarheid en liefde (verse 4-6) – Francois Malan

In verse 4-11 kom die praktiese waarde van die brief aan die beurt: verse 4-6 oor die geestelike lewe van die gemeente brei uit op vers 3; in verse 7-11 word gewys na die geestelike gevare wat die gemeente van buite omring en van binne bedreig – soos 1 Jn gewys het op die kontraste tussen waarheid en leuen, liefde en haat.

 

4 Die gewone Griekse brief begin met vreugde oor goeie nuus, ná die naam van die skrywer en die geadresseerders en groete. Die skrywer sê ‘ek was baie bly dat ek van jou kinders gekry het wat in die waarheid wandel…’ – hy het in die onlangse verlede met lede van dié gemeente wat só lewe, kontak gehad. Dit impliseer egter dat daar party van die lidmate is wat nie meer in die waarheid wandel nie, en dat daar ‘n skeuring in die gemeente plaasvind. Volgens v7 glo die ander nie dat Jesus waarlik mens was nie (‘n probleem vir die Griekse wat glo dat die mens se liggaam die tronk van sy siel is). Om in die waarheid te wandel beteken dat die getroues toegewy is aan God se waarheid, wat in Jesus geopenbaar is, en in ons bly (v2), dat God se waarheid in gehoorsaamheid uitgelewe word.

 

‘…soos die gebod wat ons van die Vader ontvang het’ – in 1 Jn 3:23 is gesê: ‘En dit is sy gebod: Ons moet in sy Seun, Jesus Christus, glo en ons moet mekaar liefhê, ooreenkomstig die gebod wat Hy ons gegee het.’ Dié twee gaan saam: die waarheid wat in Jesus geopenbaar is, en die liefde wat God beveel en in ons lewe bewerk (2 Jn 2). In dié verdeelde gemeente is die menings oor Jesus verdeeld, en liefde ontbreek by sommige van die dwalendes. Die stelling in die eerste deel van die vers dat sommige wandel in die waarheid van God wat in hulle bly, word in die tweede deel van die vers verbind aan die gebod van God, dat ons steeds in die waarheid moet wandel. God gee aan ons die waarheid as sy gawe, en eis dan dat ons volgens sy gawe lewe. As ons die openbaring van God se waarheid ontvang, is ons nie langer vry om te kies of ons dit sal doen of nie. Hoe duideliker die openbaring, hoe groter die verantwoordelikheid om dit te glo en te gehoorsaam (vgl. Amos 3:2). So word vers 5-6 voorberei.

 

5 Die oudste pleit nou by die gemeente (met die simbool ‘dame’ aangespreek) dat ons mekaar steeds sal liefhê. Die ‘nou’ volg op die kontak wat hy reeds in die verlede gehad het met ‘van jou kinders’ (4). Die dringende versoek is nie nuut nie, maar volg op die liefdesgebod wat alle gelowiges van die begin af ken (1 Jn 2:7; 3:11), wat Jesus aan al sy volgelinge gegee het (Joh 13:34; 15:12,17). In die huidige omstandighede van die gemeente word dit weereens beklemtoon. Liefde kan ‘n gebod wees, want dit is nie ‘n blote emosie nie, maar ‘n wilsbesluit, ‘n gehoorsame reaksie op God se eis dat ek myself aan Hom oorgee as die Here wat my lewe beheer. So is ‘bly in die waarheid’ ‘n opdrag tot gehoorsame toewyding aan God se openbaring van Homself in Jesus se optrede. Dit is nie bloot ‘n intuïsie oor wat waarheid is nie. Die eis om mekaar lief te hê, het met die Drie-eenheid te doen: liefde kom van die Vader (1 Jn 4:7), is geopenbaar in die Seun wat sy lewe vir ons afgelê het (1 Jn 3:16), en word aan ons geskenk en in ons gewerk word deur die Gees wat die lewe gee, as God wat in ons bly en ons in Hom (1 Jn 4:13-16). Ons word deel van die liefdeseenheid tussen die Vader en die Seun en die Gees.

6 Die omskrywing van die geestelike lewe van die gemeente word met hierdie vers afgesluit. Die twee groot sake word herhaal: wandel/lewe volgens God se gebooie; wandel/lewe in die liefde. Johannes beklemtoon dat liefde uitgedruk word in gehoorsaamheid. Sonder gehoorsaamheid aan God se gebod is daar geen ware geloof nie en ook geen egte liefde nie. Ons hele lewe moet ingerig word volgens die liefdesgebod.

Die invoeging, dat hulle die liefdesgebod van die begin af gehoor het, herhaal dat dit die fundamentele verpligting is, wat telkens herhaal moet word, en konstant uitgelewe moet word. Hier word dit andermaal onderstreep vir ‘n gemeente wat juis probleme het met die onderlinge liefde van gemeentelede, met afdwaling van die ware geloof in Christus, en die aard van die waarheid as die selfopofferende liefde van Christus verloor.

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




2 Johannes – Lewe in waarheid en liefde (1-13) – Inleiding vervolg – Francois Malan

Vers 2. Die sin in vers 1 gaan voort en volg op die hoofwerkwoord in v1: ‘wat ek in waarheid liefhet…op grond van die waarheid wat in ons bly en vir ewige met ons sal wees.’ Waarheid is die dryfveer en die konteks van alle Chrstelike liefde. Terwyl vers 1 van die Christelike waarheid gepraat het as ‘n werklikheid, word hier gewys dat dit ‘n krag is wat vir altyd in ons bly (vgl. Jer 31:31 Ek sal my woord op hulle harte skryf en dit in hulle gedagte vaslê). Christene het mekaar lief, nie net omdat die waarheid oor God, wat Jesus aan ons geopenaar het, ‘n opdrag bevat om lief te hê nie, maar omdat die waarheid in die kerk en die gelowige bly, en ons innerlik dring om tot liefdes-aksie oor te gaan (1 Jn 2:14 die woord van God bly in julle). Wat in Jn 14:15-17 van die Gees van waarheid gesê is, dat Hy vir ewig in ons kom woon, word hier van die waarheid self as ‘n persoonlike invloed gesê. 1 Jn 2:21 het gesê dat die gelowiges die waarheid ken, en 1 Jn 5:20 dat hulle geroep is om in Hom wat die waarheid is te bly; 1 Jn 4:16 dat die God van liefde in hulle bly, deur die Gees wat Hy hulle gegee het; ’want die Gees is die waarheid’ (Jn 5:6).

 

Die skrywer se opvatting van die waarheid is nie iets wat op sy eie los staan nie, maar betrek die moontlikheid van ‘n intieme en voortgaande verhouding met God in sy gemeenskap met sy Seun en ook met ander mense (2 Jn 4,7,10-11). Die Heilige Gees oortuig ons deur die woord van God (Jn 16:8,13-14), sodat ons besluit om te glo dat Jesus God is wat vir ons gesterf het. Deur die voortgaande inwoning van die Gees is God aktief teenwoordig in die gelowige, en tot in ewigheid by hom/haar (Jn 14:17,20,23).

 

‘…en (die waarheid) vir ewig met ons sal wees.’ Die ‘ons’ sluit almal in wat die waarheid ken (1). Die waarheid van God het gekom om in die gemeenskap van die gemeente te bly, en so lank as wat hulle die waarheid ken en aanvaar, so lank sal die onderlinge liefde in die gemeente bly. Die waarheid oor Christus is die fondament van wedersydse christelike liefde en die eenheid van die kerk as die huisgesin van God ons Vader.

 

3 Die brief-inleiding sluit met ‘n seën, wat hier ‘n belofte word: ‘genade, barmhartigheid, vrede sal met ons wees…’ met ‘ons’ sluit die skrywer homself by die belofte in, iets wat ongewoon is in die ander briewe van die Nuwe Testament.

Genade is die onverdiende liefde wat God aan sy skepsels bewys (1 Kor 15:9-10).

Barmhartigheid het dieselfde betekenis wat meer die gesindheid aandui; dit sluit ook God se getrouheid aan sy verbondsverhouding met die mens in, en, wanneer die mens ontrou word aan die verbondsverhouding, sluit dit ook God se vergifnis in (Lk 1:72). Dié twee uitdrukkings van God se liefde dui sy genade aan vir skuldiges en onverdienstelikes, en sy barmhartigheid vir hulle in nood en sonder hulp.

Vrede, die Joodse sjaloom, sluit verlossing en heelheid in, op elke terrein van die lewe, ook geestelik (Jes 26:3; Jn 14:27); dit beteken vrede met God, met ander mense en met jou self. Vrede verduidelik die karakter van ons verlossing; barmhartigheid ons behoefte daaraan; genade die vrye voorsiening daarvan in Christus. Johannes bevestig dat dié gawes van God met ons sal wees, dit sal ons deel wees. Dit is nie slegs ‘n wens nie, maar ‘n versekering dat God sy woord gestand sal doen.

 

‘…van God, die Vader, en van Jesus Christus, die Seun van die Vader…’ Die Vader en die Seun is die bron van ons lewe in liefde (1 Jn 4:19). Die ‘Seun van die Vader’ is ‘n ongewone uitdrukking, en onderstreep die unieke verhouding van Jesus met die Vader, anders as die verhouding van gelowiges teenoor die Vader (in die Johannese geskrifte word die term ‘Seun, huios, van God’ slegs vir Jesus gebruik. Gelowiges word ‘kinders, tekna, van God’ genoem). Dit word ook beklemtoon teenoor die dwaalleraars wat die godheid van Jesus misken (1 Jn 2:22-23). Jesus is nie slegs die Christus, die Joodse Messias, nie, maar die Seun van God.

 

‘…in waarheid en liefde.’ God se seën van genade, barmhartigheid en vrede word alleen beleef in die ruimte van God se waarheid en liefde (vgl. hoe die Here Hom aan Moses geopenbaar het, ná Israel se sondeval met die goue kalf, Eks 34:6-8; en God se hoogste liefdesoffer vir die sonde van die wêreld met sy Seun aan die kruis, Jn 1:29 ). Gelowiges en die gemeente word geroep om mekaar in dié waarheid lief te hê en om in liefde aan dié waarheid vas te hou (vgl. Jn 13:34; 15:12-14). Ons liefde moet nie so blind wees dat ons nie ander se afwyking van die waarheid raaksien nie. Maar ons moet die waarheid in liefde teenoor mekaar verdedig, nie in ‘n harde en bitter gees nie. Ons liefde word pap as dit nie met die waarheid versterk word nie; en ons waarheid word hard as dit nie versag word deur die liefde nie – So word die boodskap van die brief ingelei, nl. om in waarheid en liefde te leef (4-11).

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




2 Johannes – Lewe in waarheid en liefde (1-13) – Inleiding – Francois Malan

2 Johannes volg waarskynlik op 1 Johannes, wat op die Evangelie volgens Johannes gevolg het, en is deel van die geskiedenis van die gemeentes in en om Efese:
Die Evangelie het ‘n breuk in die Efese gemeentes begin sien. Die Joodse belydenis van een God (Deutr. 6:4) was vir sommige Joodse Christene ‘n struikelblok om Jesus as God te aanvaar; Grieke het baie gode gehad en het nie ‘n probleem met Jesus se godheid gehad nie, maar met sy liggaamlike mensheid. Die Grieke het geglo die liggaam is die tronk van die mens se ewige siel. Vir sommige Griekse Christene was die mens Jesus se lydig en opstanding ‘n struikelblok. Elke hoofstuk in die Evangelie beklemtoon Jesus se godheid (vgl Jn 1:1-3, 20:28) en deurgaans word Hy as ware mens beskryf (vgl. Jn 1:14; 20:27).
Toe 1 Johannes geskryf is het die breuk begin, in 2 Johannes het sommiges reeds die gemeentes verlaat, en 3 Johannes getuig van die spanning in die gemeentes.

1 Johannes se vier voorwaardes van lewe in die lig as kinders van God word weerspieël in 2 Johannes: afstand doen van sonde (vv10-11), gehoorsaamheid aan die liefdesgebod (5-6), afstanddoen van wêreldsgesindheid (7), volhard in die geloof (1-2,4,9). In verse 10-11 word ook ‘n nuwe tema ingebring. Die doel van die brief is om die liefdesgebod by die gemeente in te skerp, en hulle te waarsku teen dwaalleraars.

Soos ‘n tipiese Griekse brief begin die brief met die skrywer, die lesers, en ‘n groete in 1-3.

1 ‘Die Oudste, aan  die uitverkore vrou en haar kinders…’ anders as Paulus, gee die skrywer nie sy naam nie, maar sy amp, en gebruik ‘n woord (ho presbuteros) wat beteken  ‘die ou man,’  wat die betekenis van leier (ouderling) van ‘n gemeente gekry het in die Ou Testament en in die Nuwe Testamentiese gemeentes. Uit die brief blyk dit dat hy verantwoordelik is vir die gemeentes wat met Johannes geassosieer word in en om Efese. Hy was moontlik een van die groep volgelinge van Johannes wat verantwoordelik was vir die skrywe van die Evangelie en die drie briewe wat Johannes se naam dra. Hy noem homself egter nie ‘n apostel nie, en is daarom mikien nie die apostel Johannes self nie. Sommige verklaarders meen egter ‘Oudste’ is ‘n eerbiedvolle naam vir die apostel Johannes in sy oudag.

‘mevrou/dame… ’ (kuria) ‘n term van respek wanneer ‘n vrou aangespreek word of oor haar gepraat word. Hier word dit gebruik sonder dat ‘n naam gegee word. ‘Uitverkore dame’  het nie ‘n bepaalde lidwoord nie, en die algemene karakter van die brief wys dat die brief aan ‘n gemeenskap geskryf is oor hulle probleme, eerder as aan ‘n persoon of ‘n familielid. Die nuwe gebod (v5), wat verwys na Jesus se nuwe gebod aan sy dissipelsgroep as verteenwoordigers van  sy kerk (Jn 13:34), veronderstel eintlik dat die brief aan ‘n gemeente geskryf is. In Jes 54 word Israel en Jerusalem beskryf as ‘n vrou (vgl. Hosea 2:18 Israel as God se bruid; Gl 4:25 die slavin Hagar as beeld van die Jerusalemslawe van die wet) en in 2 Kor 11:2 word die kerk beskryf as die bruid van Christus.

‘…en haar kinders…’ verwys na al die gemeentelede van een van die huiskerke in Efese en omgewing. Vers 13 sê ‘die kinders (tekna) van jou uitverkore suster…’ Dit verwys waarskynlik na ‘n ander huiskerk in Efese en omgewing. Die naamloosheid van die skrywer en ontvangers van die brief is moontlik ‘n veiligheidsmaatreël in ‘n tyd toe die kerk van koning Jesus onder verdenking van die Romeinse koning/keiser, sy administrasie en kultus was. Gemeentelede word in 1 Jn as kinders (tekna) van God, of as ‘uit God geborenes,’ beskryf (3:1,2,10; 5:2). Die Nuwe Testament sien die gelowiges as God se ‘uitverkorenes’ (Mt 22:14; 24:31; Rm 8:33; Op 17:14).

‘…wat ek in waarheid liefhet…’ ‘ek’ word beklemtoon teenoor die dwaalleraars wat geen liefde vir die waarheid het nie (10,11). ‘die waarheid’ verwys in laaste instansie na God wat die waarheid is, soos Hy deur Jesus geopenbaar is. Die skrywer het sy lesers lief op die manier wat ooreenstem met die waarheid van die evangelie, wat wedersydse liefde sien as ‘n uitvloeisel en verpligting van ons geloof in die God wat sy liefde in Jesus se woorde en optrede geopenbaar het.

‘…en nie net ek nie, maar ook almal wat die waarheid leer ken het.’  Die oudste is nie alleen in sy liefde vir hulle nie. ‘Almal wat die waarheid ken’ is die ortodokse gelowiges in die Johannese gemeentes, teenoor die lidmate wat begin wegdwaal van die regte leer oor God. Om die waarheid te ken beteken om die boodskap oor Christus te aanvaar en jou toewyding aan Hom in liefde uit te lewe. Die werkwoord ‘ken’ is in die voltooide tyd, wat beteken dat jy God in Christus leer ken het, en nou volgens daardie kennis van God lewe.

 

Skrywer:  Prof Francois Malan




Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Landbou – Interessante Bybelgedeeltes – Hennie Stander

Interessante Bybelgedeeltes

‘n Volmaakte offerande

Numeri 19:2. Die Wet het bepaal dat slegs ‘n koei wat nog nooit ‘n juk opgehad het nie, toegelaat was om as ‘n offerande gebring te word. Die rede hiervoor was omdat die offerkoei nog jonk en vol krag moes wees en ook nog nooit ongewyde werk moes verrig het nie (1 Samuel 6:7; Deuteronomium 21:3).

 

Swaarde tot ploegskare

Joel 3:10. Joel praat van mense wat hulself vir die oorlog gereedmaak en swaarde maak van hul ploegskare en spiese van hul snoeiskêre. In Jesaja 2:4 en Miga 4:3, daarenteen, word daar weer van vredestyd gepraat waar die mense ploegskare smee van hul swaarde en snoeiskêre van hul spiese. Metaal was so skaars in daardie tyd dat dit dikwels nodig was om implemente te omskep tot ander gebruiksvoorwerpe.

 

Lewensiklus van vyebome

Hooglied 2:13; Mat 21:19. Dit is nie altyd moontlik om presies te bepaal na watter fase van die vyeboom se lewensloop verwys word nie. In Hooglied 2:13 is die verwysing waarskynlik na die voorvye omdat hulle ryp is in dieselfde tyd as wat die wingerd bot. Jesus, weer, het waarskynlik vir die laat wintervye gesoek wat moontlik nog aan die boom kon wees, of dalk vir die eerste voorvye. Die feit dat die boom blare gehad het, was ‘n teken dat dit vye kon dra. Watter vye dit ook al was wat ontbreek het, dit was nogtans duidelik dat hierdie boom onvrugbaar was en nie ‘n hoofoes sou gee wanneer dit die tyd daarvoor was nie. Jesus het die boom se nutteloosheid onderstreep deur dit te laat doodgaan.

Skrywer:  Prof Hennie Stander