Gees van die Seun en die Heilige Gees – Francois Malan

Jan Smith vra:

Joh 15: 26. Praat van die Gees van die waarheid wat van die Vader UITGAAN. Ampl Bible: (proceeds) from the Father.
Gal 4: 6. En omdat julle kinders is, het God die GEES VAN SY SEUN in julle uitgestuur en Hy roep ABBA Vader.. Ampl Bible: God has sent the (Holy) Spirit of His Son into your hearts —.
Fil 1: 19. Want ek weet dat dit deur julle gebed en die ondersteuning van die Gees van Jesus Christus my tot heil sal strek. Ampl: the Spirit of Jesus Christ (the Messiah).

Op die Pinksterdag ontvang die dissipels die Heilige Gees wat van God uitgaan.
Nou praat Paulus van:

Die Gees van Sy Seun.
Die Gees van Jesus Christus.
Ek sal dit op prys stel as die verband tussen die terme Gees van die Seun/Jesus Christus en die Heilge Gees verklaar kan word, asseblief?

 

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Vir Filippus wat vir Jesus gevra het: Wys ons die Vader, en dit is vir ons genoeg, het Jesus geantwoord: Ek is al so ‘n lang tyd by julle en het jy My nie leer ken nie, Filippus? Wie My gesien het, het die Vader gesien. Waarom sê jy dan ‘Wys ons die Vader?’ Glo jy dan nie dat Ek in die Vader is en die Vader in My nie? Die woorde wat Ek vir julle sê, sê Ek nie uit Myself nie, maar dit is die Vader wat in My bly en sy werke doen..’ (Joh 14:8-10).

So kan 1 Kor 8:6 sê: Vir ons is daar één God, die Vader, uit wie alles is en ons vir Hom,

En één Here, Jesus Christus, deur wie alles is en ons deur Hom.’

Dieselfde as Joh 1:1-3: In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die

Woord was God. Hy was in die begin by God. Alles het deur Hom ontstaan, en

sonder Hom het selfs nie een ding wat bestaan, ontstaan nie.

Daarmee verwys Johannes na Genesis 1:3-26 waar telkens staan: ‘Toe het God gesê…’ –

God skep deur sy Woord, en Joh 1:1 sê Jesus is die Woord van God was skep.

 

Die Heilige Gees het ook deelgeneem aan die skeppingswerk. In Gen 1:2 staan: Die Gees van God het oor die waters gesweef – die Hebreeuse woord beteken: vrugbaarmakend gesweef. Hy het lewe geskep in die skepping (Ps 33:6: Deur die woord van die HERE is die hemele gemaak en deur die asem van sy mond die hemel se hele leër), ook toe God sy lewensasem in die mens geblaas het (Gen 2:7). En Hy is nou nog daarmee besig (Job 33:4: Die Gees van God het my gemaak, en die asem van die Almagtige het my die lewe gegee), ook in die skepping (Ps 104:30: Stuur U u asem, word hulle – die diere – geskape en U vernuwe die aangesig van die aarde).

 

Dat die Heilige Gees as Persoon uit die Vader en die Seun uitgaan, soos asem uit sy mond (en die Seun as God se woord uit sy mond) verwys na die intieme verhouding tussen die Gees, die Vader en Jesus Christus, sodat die Heilige Gees uitdruklik die Gees van God en die Gees van Christus genoem kan word. In Romeine 8:9 word Hy die Gees van God en die Gees van Christus in een vers genoem.

 

Die Heilige Gees is ook intiem betrokke by Jesus. Die ganse lewe van Jesus staan van begin tot end onder die leiding van die Gees. Andersyds staan die Gees volledig in diens van Christus wat Hom stuur om sy, Jesus se, werk op aarde te doen.

Met sy geboorte word Maria swanger deur die werking van die Heilige Gees (Matteus 1:18; Lk 1:35). Vir sy werk word Hy gedoop met die Gees (Mk 1:10) en die Gees stuur Hom om deur die duiwel versoek te word (Mt 4:1). Hy keer daarna terug ‘vol van die krag van die Gees’ (Lk 4:14), en in sy eerste preek identifiseer Hy Hom met Jesaja 61:1-12: die Gees van die Here is op My omdat Hy My gesalf het om die evangelie aan armes te verkondig. Sy hele bediening is in die krag van die Gees (Lk 10:21: Jesus het deur die Gees uitgejubel in sy lof aan sy Vader; Joh 3:34: Jesus kan die woorde van God spreek want die Vader het nie die Gees in geringe mate aan Hom gegee nie – maar ten volle; Hd 10:38: God het Jesus van Nasaret met die Heilige Gees en met krag gesalf; Mt 12:28: Ek dryf die demone uit deur die Gees van God; vgl. Jes 11:2 se belofte). Ook in sy lyding, sterwe en opstanding word Hy gelei en versterk deur die Gees (vgl. Rom 8:11).

Aan die anderkant werk Christus deur die Gees voort in die wêreld. Ook Hy stuur die Gees (Joh 15:26 die Gees wat Ek vir julle van die Vader af sal stuur; Joh 16:7 As Ek weggaan sal ek Hom na julle stuur). Die Gees sê net wat Hy van Christus hoor – Joh 16:15: Wat Hy van My ontvang, sal Hy ook aan julle bekendmaak. Hy getuig oor Jesus (Joh 16:26). Niemand kan sê: ‘Die Here is Jesus!’ behalwe deur die Heilige Gees nie (1 Kor 12:3).

 

In Johannes 14:16-17 belowe Jesus dat Hy die Vader sal vra en Hy sal vir hulle ‘n ander Helper/Trooster/Voorspraak gee sodat Hy ewig by julle kan wees…Hy sal by julle bly en in julle wees. En in dieselfde hoofstuk, 14:23: As iemand My liefhet, sal Hy ter harte neem wat Ek sê en my Vader sal hom liefhê en Ons sal na hom toe kom en by hom woon.

 

Die Heilige Gees gebruik die woord van God om ons te oortuig van ons sonde, en van ons geregtigheid wat Jesus vir ons aan die kruis verwerf het en so ons verhouding met God reg gemaak het, en van oordeel as ons ons nie bekeer nie (Joh 16:8-11). So lei Hy ons tot die besluit om te glo dat Jesus vir ons sonde gesterf het (wat Jesus slegs kon doen omdat Hy God is), en verbind die Gees ons in die geloof aan die Seun van God sodat ons kinders van God genoem kan word deur ons verbondenheid aan sy Seun, deurdat die Gees self in ons kom woon het (vgl. Rom 8:11,14,16).

 

1 Johannes 4:8,16 sê God is liefde. Liefde is ‘n verhouding. So is liefde die verhouding tussen die Vader en die Seun en die Heilige Gees. Hulle eenheid in ‘n liefdeseenheid, hulle liefdesverbondenheid aan mekaar.

Jesus se soendood aan die kruis is God se hoogste liefdesoffer vir die wêreld wat Hy so lief het dat Hy sy Seun gegee het, sodat elkeen wat in Jesus glo (glo deur die werking van die Heilige Gees) die ewige lewe kan hê – ewige lewe is ‘n lewe in gemeenskap met God, wat nou reeds begin met God die Heilige Gees wat in elke gelowige woon en ons verbind aan Jesus as ons Verlosser en aan die Vader as ons Versorger se liefde. Hy stort sy liefde in ons om aan dit ander te gee (1 Joh 4:19: Ons het lief omdat Hy ons eerste liefgehad het). Jesus se nuwe gebod aan sy dissipels op die vooraand van sy kruisiging was: Julle moet mekaar liefhê soos Ek julle liefhet (Joh 13:34; 15:12).

 

Die term Heilige Gees?

Die woord heilig beteken letterlik afgesonderd vir God en toegewyd aan God. Daarom identifiseer ons met die naam die Heilige Gees Hom as die Gees wat saam met die Vader en die Seun die ware God is, wat toegewy is aan die Vader en die Seun. Dit is ‘n onderlinge liefdestoewyding. So noem Jesus ook God sy Heilige Vader (Joh 17:11) en word Jesus genoem ‘U heilige dienskneg Jesus’ in Hand 4:27,30).

 

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




Versoen met die Heilige Gee – Francois Malan

Sue vra:

Hoe versoen ‘n mens die Heilige Gees? – dis ‘n vraag wat een van my dogters my gevra het en ek sal graag aan haar die korekte antwoord wil gee.

 

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Ek veronderstel die vraag bedoel: hoe word ek/ons met die Heilige Gees versoen.

 

Die Heilige Gees is ‘n Persoon in die godheid saam met die Vader en die Seun. In Johannes 14 sê Jesus:

In die huis van my Vader is daar baie woonplek…Ek gaan om vir julle plek te berei (14:2)

As iemand My liefhet, sal hy ter harte neem wat Ek sê, en my Vader sal hom liefhê en

Ons sal na hom toe kom en by hom woon (14:23)

As julle My liefhet, sal julle my opdragte gehoorsaam. En Ek sal die Vader vra en Hy sal

vir julle ‘n ander Helper gee sodat Hy vir ewig by julle kan wees. Hy is die Gees

van die waarheid…Julle ken Hom, om Hy by julle en in julle sal wees (14:15-17).

Die Helper, die Heilige Gees, wat die Vader in my Naam sal stuur, Hy sal julle in alles

onderrig en julle aan alles herinner wat Ek vir julle gesê het (14:26).

 

Ons versoening is met God, die Vader en die Seun en die Heilige Gees.

Dit begin by God wat die wêreld wat Hy geskep het so lief het dat Hy sy enigste Seun

gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore gaan nie, maar die ewige lewe kan hê (Joh 3:16).

…wanneer iemand gesondig het, het ons Jesus Christus, die Regverdige, as Helper by die Vader. En Hy is ‘n versoening/soenoffer vir ons sondes – nie net vir ons sondes

nie maar ook vir dié van die hele wêreld ( 1 Joh 2:1-2)

Hierin bestaan die liefde: nie dat ons God liefgehad het nie, maar dat Hy ons liefgehad

het en sy Seun gestuur het as soenoffer vir ons sondes (1 Joh 4:10).

Almal het gesondig en nagelaat om die eer aan God te gee, en tog word hulle

goedgunstiglik vrygespreek deur die bevryding in Christus Jesus. Hom het God

daargestel as ‘n versoeningsoffer in sy bloed, en wat deur die geloof verkry word

(Romeine 3:23-26).

 

Die geloof in Jesus as ons versoening met God word gewerk deur die Heilige Gees wat ons deur die woord van die Here oortuig van ons sonde, en van geregtigheid – dat ons verhouding met God reggestel is deur Christus se offer – en oordeel – as ons ons nie bekeer tot die Here Jesus nie (Johannes 16:7-11). Efesiërs 2:8 sê ook dat ons geloof in Jesus ‘n gawe van God is.

Romeine 8:11 sê: As die Gees van Hom wat Jesus uit die dood opgewek het in julle woon, sal Hy wat Christus uit die dood opgewek het, ook julle sterflike liggame lewend maak deur sy Gees wat in julle woon.

 

God werk in ons deur sy woord wat ons hoor oor Jesus wat ons versoening met God bewerk het deur sy sterwe en opstanding. Die Heilige Gees gebruik dié woord om ons te oortuig van ons sonde en dat ons deur Jesus se sterwe met God versoen is en God se kinders geword het in ons geloofsverbondenheid aan sy Seun. Ons versoening is met God. Jesus het dit bewerk aan die kruis toe Hy, wat self God is, al ons sonde en die sonde van die ganse wêreld op Hom geneem het en so versoening vir ons berei het. Die Heilige Gees verbind ons aan Jesus se soenoffer deur ons tot geloof in Jesus te oortuig.

 

Hoe versoen ‘n mens die Heilige Gees? – 1 Joh 1:9 sê: As ons ons sondes erken – God is getrou en regverdig en daarom sal Hy ons ons sondes vergeef en ons van alle kwaad reinig.

Romeine 8:26 sê: So kom die Gees ons ook in ons swakheid te hulp, want ons weet nie mooi waarvoor ons behoort te bid nie; maar die Gees tree self vir ons in met versugtinge wat nie verwoord kan word nie.

 

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Landbou(10) – Hennie Stander

Verbouing van olyfbome

Die olyfboom kom vir die eerste keer ter sprake in die Ou Testament in die verhaal van Noag waar ons lees dat ‘n duif teruggekeer het na die ark met ‘n olyfblaartjie in sy bek (Genesis 8:11). In die res van die Bybel word daar herhaaldelik na die olyfboom verwys. Olyfbome het teen die hange van berge gegroei waar daar nie baie grond was nie. Die olywe self was ‘n belangrike voedselsoort en is beide voor en tydens etes genuttig. Die olyfboom was ‘n simbool van voorspoed en in Psalm 128:3 skryf die Psalmdigter dat die seën van die Here sal kom oor diegene wat Hom dien: “Jou vrou is in jou huis soos ‘n vrugbare wingerdstok, jou seuns is rondom jou tafel soos Jong olyfboompies!” Aanvanklik is ‘n olyfboom of twee vir die gesin se gebruik digby die huis geplant, maar met die verloop van tyd, toe olie gebruik is om onder andere ook belastings mee to betaal, is olyfboorde aangeplant langs die wingerde en die graanlanderye. Olyfbome het so goed geaard in Palestina dat daar soms na hierdie gebied as “land van . . . olieryke olyfolie” verwys is (Deuteronomium 8:8).

Daar was baie soorte olyfbome en soms is een-soort olyfboom op, ‘n ander soort ingeënt. Dit is juis na hierdie praktyk wat Paulus verwys wanneer hy die verhouding tussen die Christendom en die Jodedom bespreek (Romeine 11:17-24). In sy beeld stel Paulus die stam ,van die mak olyfboom gelyk met die Jodedom: Nuttelose takke van hierdie boom is afgekap en daarna is takke van die wilde olyfboom hierop ingeënt. Die takke van die wilde olyfboom verteenwoordig diegene wat uit die heidendom gekom het. Paulus se beeld lyk vir n moderne leser vreemd, want gewoonlik word ‘n mak loot- op ‘n wilde loot geënt. Tog is daar gegewens uit die antieke tyd bekend waar die teendeel wel gebeur het sodat Paulus se beeld nie vir sy lesers vreemd sou geklink.het nie.

Olyfbome verg baie min versorging. Die wortels van hierdie boom gaan baie diep af tot in die rotsagtige grond, en hierdie feit lê. moontlik ten grondslag van Deuteronomium 32:13 wat verwys na olie wat uit klipharde rots gesuig word. Die olyfboom neem omtrent vyftien jaar om uit te groei en daarna dra dit nog vir eeue lank vrug. Die ou wortels laat dikwels nuwe takke uitspruit en die profeet bou sy beeld op hierdie feit wanneer hy skryf oor die nuwe koning wat uit Dawid se nageslag gaan verrys en hy soos volg sê: ‘n Takkie sal uit­spruit uit die stomp van Isai, ‘n loot uit sy wortels sal vrugte dra; ” (Jesaja 11:1).

Die olyfboom is omtrent ses meter wanneer dit heeltemal uitgegroei is. Die stam is baie knoesterig en die blare het ‘n dowwe groenerige kleur. Dit is vir Westerlinge nogal moeilik om te verstaan waarom die olyfboom in die Bybel se tyd as ‘n mooi boom beskou is (vgl Hosea 14:7). ‘n Mens moet egter onthou dat dit baie moeilik is om immergroen bome in die Ooste te kweek. Dit is dus ook opmerklik dat etlike Bybelskrywers na die groenerige kleur van die boom verwys (Psalms 52:10; Jeremia 11:16). In die sonlig vertoon die blare silwerkleurig. In die lente is die boom met baie wit bloeisels bedek (Job 15:33) en wanneer hierdie boom sy bloeisels afgooi, lyk dit behoorlik soos ‘n neerslag van sneeuvlokkies.

In September/Oktober is die vrugte gereed om deur vrouens en kinders afgepluk to word. ‘n Groot doek word dan onder die boom gelê, en die takke word geslaan om die olywe af te skud sodat dit op die doek kan val. In die Ou Testamentiese tye moes die vruggies wat nie afgeval het nie, net so gelos word sodat die armes dit vir hul eie gebruik kon afpluk (Deuteronomium 24:20; vgl ook Jesaja 17:6).

Die olyfboom het ‘n hout met baie fyn grein en dit is amberkleurig. Dit is vir skrynwerk en houtsneewerk gebruik alhoewel die knoetserige aard daarvan gemaak het dat dit nie gebruik kon word om baie groot balke daarvan te maak nie. Die hout is baie mooi en die gerubs van die Tempel, asook die binne- en buitedeure daarvan, is van olyfhout gemaak.

Olywe is dikwels saam met garsbrood geëet en dit het ‘n belangrike deel van die maaltyd uitgemaak. Die olywe is bewaar deur dit in soutwater te druk. Die belangrikste gebruik van die olywe was egter vir die olyfolie wat daarvan verkry is. Die olyfpers het bestaan uit ‘n baie groot silindervormige klip met plat kante aan weerskante (sien die foto). Die een plat kant van die silindervormige klip is uitgehol om ‘n vlak bak te vorm; die olywe is daarin gegooi. ‘n Klipwiel is op sy kant geplaas en, met behulp van ‘n donkie, is dit in die rondte gedraai in die plat bak om so die olywe daarin fyn te druk. Vervolgens is die moes wat hieruit gekom het, verder tot olie verwerk.

Een manier om olie uit te trek, was om die moes in ‘n mandjie te plaas en dit in ‘n pers teen mekaar te druk, hetsy deur ‘n skroefdraad, of deur ‘n houtbalk te laat afsak en dit teen ‘n houtraam te laat druk. ‘n Ander metode was om die moes in linnesakke te sit en daarna met jou voete daarop te trap. Die olie het vervolgens deur die linne gevloei. Die olie wat so vrygestel is, is in kruike gegooi en laat staan totdat die afsaksel op die bodem gaan lê het. Daarop is die olie afgetrek en op ‘n koel plek gebêre. Die eerste olie wat so gelewer is, was altyd die beste olie. Die tweede klomp olie wat onttrek is, was gewoonlik van ‘n veel swakker gehalte. Die oes van een olyfboom kon tot negentig liter olyfolie per keer lewer. Getsemane, wat op die Olyfberg geleë was, se naam beteken Olyfpers waarskynlik omdat daar ‘n olyfpers was. Dit was wel ook moontlik om die olywe in die pers te trap, net soos n mens druiwe trap (Miga 6:15).

Olyfboom

 

‘n Knoesterige olyfboom in die Tuin van Getsemane, Jerusalem.

 

Skrywer:  Prof Hennie Stander

 




Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Landbou(9) – Hennie Stander

Die maak van wyn

Die druiwesap is vir omtrent ses weke lank in die houers waarin dit opgevang is, laat staan. Dit het dan daarin begin gis. Die afsaksels het op die bodem van die houer gaan lê. Die wyn is versigtig afgeskep sonder om die afsaksel te versteur (vgl Jeremia 48:11). Die flesse is met klei verseël, maar die gasse wat met die verdere gisting ontstaan het, kon deur ‘n klein gaatjie by die handvatsel ontsnap. Wanneer die proses voltooi is, is die gaatjie met ‘n bietjie nat klei verseël en die eienaar se naam is op die nat klei geplaas. Die wyn is ook in velsakke gegooi, maar indien die vel al oud was en nie meer kon uitsit as daar gasse ontstaan het nie, het dit gebars en het die wyn verlore gegaan. Hierdie feit lê ten grondslag van Jesus se vertelling in Matteus 9:17.

romeinsefles

‘n Romeinse fles, of amphora, waarin wyn gebere is.

In die Nuwe Testamentiese tye is wyn in Judea ingevoer van oral oor die Mediterreense wêreld. Die rykes het kelders in hul huise gehad en het die wyn gestoor in smal flesse wat ‘n skerp punt aan die onderkant daarvan gehad het. Hierdie flesse is amphorae genoem. Die skerp of smal punte is in die grond begrawe om te help om die wyn koel te hou. Wyn is ook van dadels, granate, appels en graan gemaak.

Daar was ook ander gebruike vir wyn as net dit wat voor die hand liggend is. Dit is onder andere as ‘n ontsmettingsmiddel gebruik om wonde skoon te maak voordat die helende olyfolie daarop gegooi is (Lukas 10:34). Verder is dit ook met gal gemeng en dan gedrink om pyn te verdoof (Matteus 27:34).

Wingerdsimboliek

Die wingerd het ‘n belangrike plek ingeneem in die godsdiens van Israel. Dit is as simbool gebruik vir die godsdienstige lewe van Israel en ‘n tros druiwe is dikwels voor aan die buitekant van ‘n sinagoge uitgegraveer. Die simboliek is gebaseer op passasies soos Psalm 80 en Jesaja 5:1-5 waar Israel as God se wingerd voorgestel word. Jesus het homself as die ware wynstok voorgehou en Hy het inderdaad dit wat Israel teenoor God moes wees, vervul (Johan­nes 15:5-7). Die wingerd is soms gebruik as sim­bool van teenspoed en van God se oordeel (Deute­ronomium 28:30; Amos 5:11; Sefanja 1:13).

Wyn was een van die seëninge wat ‘n mens uit God se hand kon ontvang (Genesis 27:28) en derhalwe het dit deel uitgemaak van die daaglikse offers wat aan God gebring moes word (Eksodus 29:40). Indien iemand egter te ver van die sentrale heiligdom gebly het, en dus nie die tiende van onder andere sy wyn soontoe kon neem nie, moes by dit in geld omsit en dan iets daarmee koop en dit in die teenwoordigheid van die Here geniet (Deu­teronomium 14:22-27).

Sommige persone moes hulself heeltemal weerhou van die drink van wyn ter nakoming van sekere voorskrifte. Iemand wat byvoorbeeld ‘n nasireërbelofte afgele het, moes horn onthou van die gebruik van wyn en van bier en van enigiets wat van die wingerdstok afgekom het (Numeri 6:3-4). Johannes die Doper het geen wyn gedrink nie (Lukas 1:15) en ook priesters was verbied om dit te drink wanneer hulle in die tent van samekoms ingegaan het (Levitikus 10:9). Wyn kon positief gebruik word (vgl Genesis 14:18), maar dit is soms ook verkeerd gebruik (Genesis 9:21; Jesaja 5:11; 28:7). In die Bybel self word die blote drink van wyn egter nie verbied nie, maar wel die oormatige gebruik daarvan (1 Timoteus 3:8; Titus 2:3).

wynsalspoel

‘n Egiptiese vrou wat ‘n wynsak in ‘n rivier spoel

 

Skrywer:  Prof Hennie Stander