Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Landbou(8) – Hennie Stander

Druiwetyd

Die druiwetyd het in Juliemaand begin en tot September geduur. ‘n Gemeenskap het dan in groot getalle na die wingerde gegaan (soos in Rigters 9:27) omdat die werk vinnig afgehandel moes word. Dit was harde werk om die druiwe te oes in die Bybelse tye, maar nogtans was daar n gesing, gedans en feesvieringe. Die feesvieringe was so n integrale deel van die druiwe-oes, dat die afwesigheid daarvan ‘n duidelike teken van God se oordeel was (Jesaja 16:10). Elkeen het groot mandjies gebring waarin hulle die druiwetrosse gesit het. Sommige druiwe is vars geëet of uitgedruk om vars druiwesap te maak. Die skinker wat saam met Josef in die tronk was, het gedroom dat by druiwe gepluk het en dat hy dit uitgedruk het in die beker wat in die farao se hand was (Genesis 40:11). Van die sap is ook gebruik om wyn mee te maak.

vrouplukdruiwe

‘n Arabiese vrou pluk druiwe.

Maar die druiwe is ook gebruik vir die maak van rosyne. Dit is gedoen deur die druiwe in soutwater en olie te lê en dit daarna in die son te droog; die korrels moes dan daagliks omgedraai word. Dawid het op etlike geleenthede groot hoeveelhede rosyne ontvang (1 Samuel 25:18; 2 Samuel 16:1; vgl ook 1 Kronieke 12:40), want dit was n stapelkossoort. Daar was heeltemal te veel druiwe om dit alles net vir rosyne te gebruik en daarom is baie vir hul sap uitgedruk.

 

Die parskuip

Die parskuip was ‘n bak of tenk, wat in die rots uitgekap is, met ‘n opening in die bodem. Gewoonlik was daar minstens twee kuipe-‘n hoërliggende en ‘n laerliggende kuip. Die hoërliggende kuip was sommer baie groter as die laerliggende kuip. Etlike persone het dan in die hoërliggende kuip ingeklim en die druiwe met hul voete uitgetrap; die uitgetrapte sap het deur die opening in die hoërliggende kuip gevloei tot in die laerliggende kuip. ’n Parskuip het dikwels uit verskeie kleiner kuipe bestaan en die druiwesap het in elkeen hiervan ‘n hele tydjie oorgestaan en afsaksels gevorm alvorens dit tot in die laaste bak gevloei het. Gelukkig is daar baie parskuipe uit die Bybelse tye deur argeologiese opgrawings gevind sodat ons vandag ‘n goeie beeld kan vorm hoe hulle gelyk het. Gewoonlik het die uittrap van die druiwe met groot gelag en gesels gepaard gegaan (Jeremia 25:30). Jeremia sien die verdwyning van die vreugde­geroep tydens die uittrap van druiwe as tekenend van die oordeel van God (Jeremia 48:33). Dit is inderdaad ‘n treurige prentjie om te sien hoe iemand stoksielalleen die druiwe moet uittrap (sien Jesaja 63:3). Die persone wat die druiwe uitgetrap het, se klere was gewoonlik rooi van al die druiwesap (Jesaja 63:2). Die uittrap van druiwe is ook as beeld gebruik om God se oordeel oor mense te illustreer wanneer Hy op hulle trap soos op druiwe. Sy klere word dan rooi, nie van die uitgetrapte druiwesap nie, maar van die mense se bloed (Jesaja 63:3-6; Openbaring 19:13,15).

Lampiedruiwetrap

Die bokant van hierdie Romeinse lampie beeld twee mense uit wat druiwe trap.

Baie van die druiwesap is gebruik vir die maak van wyn. Dit is nie net met die oog op die genot daarvan gedoen nie, maar ook vanweë noodsaak. Die water was nie altyd veilig om gedrink te word nie behalwe as dit uit ‘n vars fontein gekom het. Toe Paulus vir Timotheus aangeraai het om ‘n bietjie wyn te drink ter wille van sy maag, was dit nie net omdat ‘n bietjie wyn sy maag goed sou doen nie, maar ook omdat dit skadelik kon wees om net van die “onsuiwer” water te drink (1 Timoteus 5:23).

Skrywer:  Prof Hennie Stander

 




Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Landbou(7) – Hennie Stander

Groente en ander produkte

Vlas is gekweek omdat dit gebruik is vir die vervaardiging van linne. Dit is ‘n maand voor die gars geoes en is met ‘n skoffel teen die grond afgesny. Die stoppels is dan in die son oopgesprei om droog te word. Die manne wat in Josua se tyd Jerigo gaan verken het, het weggekruip onder die vlasstoppels wat Ragab op die dak van haar huis oopgesprei het (Josua 2:6). Verder het hulle ook komkommers, waatlemoene, prei, uie en knoffel verbou, asook plantsoorte waarvan hulle die groen blaartjies kon eet (soos kiesieblaar, suring en artisjok). Ook boontjies en lensies is gekweek en dit is onder andere in sop gebruik (vgl Genesis 25:34).

johannesbroodboom

Peule van die Johannesbroodboom. Die peule van hierdie bome is deur diere en deur die armes geeet.

 

Wingerde

Volgens Genesis 9:20 was Noag ‘n boer en ook die eerste persoon wat ‘n wingerd aangeplant het. Elke Jood het begeer om sy eie wingerd te hê. Langs sy huis het by ‘n prieel gemaak en in die warm somers het dit skadu verskaf (1 Konings 4:25). Om n wingerd te besit was teken van n meer gevestigde lewenswyse en juis daarom het die Regabiete hul daarvan weerhou om wingerde aan te plant om sodoende bewys te lewer van hul nomadiese lewenswyse (Jeremia 35).

wingerde

Terrasvormige wingerde naby Hebron, Israel

Gewoonlik het boere hul eie druiwe geoes, maar die wingerde van kleinboere is dikwels opgekoop deur meer vermoënde grondeienaars wat elders gewoon het. In sulke gevalle het die kleinboere huurders op die plaas geword en ‘n sekere persentasie van die opbrengs ontvang (Matteus 20:1; Lukas 20:9-10). Die wingerdstok aard baie goed in die Palestynse klimaat. Toe Moses die twaalf manne uitgestuur het om die land Kanaän te gaan verken, was die verbouing van druiwe ook reeds goed gevestig in die land (Numeri 13:23).

In Jesaja 5:1-2 word al die stappe beskryf wat gevolg word wanneer ‘n wingerd aangeplant word: “Hy wat ek liefhet, besit ‘n wingerd op ‘n vrugbare heuwel. Hy het die grond omgespit en die klippe verwyder, dit beplant met veredelde wingerdstokke. Hy het ‘n wagtoring daarin gebou en ‘n parskuip uitgekap.” (Sien ook Matteus 21:33). Die wingerde is ge­woonlik teen heuwels geplant waar daar beter dreinering van water was en waar dit aan direkte sonlig blootgestel kon wees. Die graan kon dan op die gelyk gedeeltes verbou word. Natuurlik was nie alle wingerde altyd op heuwels nie. In Esegiël 19:10-11 lees ons ook van n wingerdstok wat in n boom opgerank het. Die heel eerste stap was om terrasse aan te lê Hiervoor kon die klippe gebruik word wat oral oor die land verspreid gelê het; die terrasse kon terselfdertyd gronderosie teenwerk wanneer dit swaar gereën het. Rondom die win­gerd is ‘n klipmuur gebou (Spreuke 24:30-31) om dit onder andere teen wilde diere te beskerm wat die wingerd kon verniel (Hooglied 2:15). In Psalm 80:12-13 lees ons dat ook mense die wingerde geplunder het as dit nie deur ‘n muur beskerm was nie. Die Wet het egter wel toegelaat dat ‘n mens van jou naaste se druiwe kon pluk en eet, maar jy mag dit net nie in ‘n houer weggedra het nie (Levitikus 19:10; Deuteronomium 23:24).

Daarna is daar ook n wagtoring gebou wat as ‘n soort somerhuis kon dien-‘n plek waar die familie gedurende die somertyd kon bly terwyl die druiwe afgepluk word. Dit was nie goedkoop om so ‘n wagtoring te bou nie. Jesus het eenkeer ‘n verhaal vertel van wat gebeur wanneer iemand se geld opraak nog voordat hy die toring klaar gebou het omdat hy nie voor die tyd die koste daarvan behoorlik bereken het nie (Lukas 14:28-30). Die boonste deel van die toring is as ‘n uitkykpos gebruik. In gevalle waar die eienaar nie so ‘n toring kon bekostig het nie, het die mense wat die wingerd moes oppas, maar net ‘n tent opgeslaan.

wagtoring

‘n Wagtoring, wat besig is om te verbrokkel, in die veld naby Samaria

Die steggies is selfs tot 3 meter en verder uit mekaar geplant ten einde aan die ranke genoegsame spasie te gee. As die wingerd op gelyk grond was, was daar genoeg spasie om ‘n ploeg tussen die steggies deur te kry. Sommige soorte wingerdstokke is net so gelaat en die plante het dan grondlangs gerank. Ander is weer teen rowwe stellasiewerke opgelei of met gevurkte stokke ondersteun. As die wingerd eers gevestig was, is dit gedurende die wintermaande met snoeimesse teruggesnoei (sien Joel 3:10) om sodoende van swak, gebreekte of besmette takke ontslae te raak. Sodoende kon verseker word dat die wingerd die beste vrugte moontlik kon dra. In Johannes 15 gebruik die outeur ‘n woord wat met beide “skoonmaak” en “snoei” vertaal kan word. Met hierdie woordspel gebruik Johannes die snoeiproses as beeld om te illustreer hoe Jesus ons “skoonmaak” of “snoei” deur die lering wat Hy aan ons gegee het (Johannes 15:3). Lote wat nie vrug dra nie, word deur Horn afgesny maar die lote wat wel vrug dra, snoei by sodat dit nog meer vrug kan dra (Johannes 15:2).

Skrywer:  Prof Hennie Stander

 




Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Landbou(6) – Hennie Stander

Uitwanning

Teen die aand se kant, wanneer die aandwind begin opsteek het, is die koring (wat op hierdie stadium nog met strooi gemeng was) op ‘n hoop in die middel van die dorsvloer gegooi sodat dit uitgewan kon word. Hiervoor het die landbouer ‘n hooivurk met vyf tande, ook ‘n gaffel genoem, gebruik, asook ‘n skopgraaf. Die vurk is in die hoop gesteek en dan is die koring wat met die strooi gemeng is, in die lug opgegooi. Die strooi is deur die wind weggewaai, maar die koring het weer op die grond geval omrede dit veel swaarder was. Wanneer dit wat oorgebly het te min was om met die vurk of gaffel opgeskep te word, is die skopgraaf vir dieselfde doel gebruik. Wanneer daar geen wind gewaai het nie, en klein hoeveelhede koring uitgewan moes word, was dit wel moontlik om ‘n wind te veroorsaak deur ‘n stuk matwerk te waai. Die kaf is bymekaar gemaak om die stowe in die huise aan die brand te steek terwyl die strooi versamel is sodat dit as voer vir die diere gegee kon word.

houtvurk

‘n Houtvurk wat so gelyk het, is in die Bybelse tye gebruik om koring mee uit te wan.

Die koring moes hierna met n groot sif skoongemaak word. Die koring­ en garskorrels was met allerhande vuilighede wat van die dorsvloer afgekom het, gemeng. Alles is in groot siwwe gegooi wat wel die korrels deurgelaat het, maar die vuilighede agtergelaat het. Op hierdie stadium moes ook die sogenaamde drabokkorrels verwyder word. In die Afrikaanse Nuwe Testament word die Griekse woord vir “drabok” gewoonlik met “onkruid” vertaal (sien Matteus 13:24-30). Drabok is ‘n on­gewenste plant met giftige korrels en dit lyk net soos koring. Wanneer hierdie korrels egter ryp word, word dit Swart in plaas van geel. Dit is bitter en dit veroorsaak duiseligheid en mislikheid wan­neer dit geëet word.

landbouersifkoring

‘n Landbouer sif die koring met ‘n groot sit.

Die skeiding van die kaf van die koring is deur Bybelse outeurs as model gebruik om die oordeel van God to illustreer (Jeremia 15:7; sien ook Psalms 1:4). Die hele proses van uitwanning is weer deur Johannes die Doper as beeld gebruik om die werk van Jesus te beskryf (Matteus 3:12). Jesus het weer op sy beurt na die sifting van koring verwys toe Hy vir Petrus gesê het dat die Satan vurig begeer het om hulle soos koring te sif (Lukas 22:31).

landbouer

‘n Landbouer is besig om koring uit to wan. Let op dat die werker in die agtergrond “sy lendene omgord het

 

Opberging

Hierna is die koringkorrels afgemeet deur dit in erdewerkhouers te gooi. Hierdie houers het hul name ontleen aan die inhoudsmate wat hulle geneem het. Soveel as moontlik is in hierdie houers gegooi en soms het dit selfs oorgeloop (vgl Lukas 6:38). Die koring is dan opgeberg-klein hoeveelhede is in erdewerkpotte gebêre en groter hoeveelhede in ‘n droë put of bak, in ‘n vertrek wat aan die huis gegrens het, of selfs in ‘n skuur (Deuteronomium 28:8; Spreuke 3:10; Matteus 13:30; Lukas 12:18). Ook was daar openbare graanskure (Genesis 41:48).

koring houers

Koring is in houers van erdewerk geberg om dit droog te hou.

Daar was ‘n hele aantal maniere waarop peste van die opgebergde graan weggehou is. In die eerste plek is die graanskure van stene met dik mure gebou en die enigste manier hoe ‘n mens daarin kon kom, was deur ‘n gat aan die bokant daarvan. Die mure is aan die binnekant gepleister. Dit was waarskynlik ook sulke skure waarin die offergawes geberg is wat deur die volk gegee moes word. Een tiende van die opbrengs van die land (van die vrugte en die graan) moes geoffer word (Levitikus 27:30-32; Deuteronomium 14:22-29).

Ons is nie bewus van enige misstof wat vir die graan gebruik is nie, alhoewel dieremis soms wel in ander gebiede gebruik is. Die grond is egter elke sewende jaar (of sabbatsjaar) ‘n rus gegee (Levitikus 25:1-7). Derhalwe het God beloof dat by elke sesde jaar aan hulle ‘n baie goeie oes sou gee ten einde hulle in staat te stel om maklik deur te kom in die sewende jaar (Levitikus 25:18-22). Wat ook al in die sewende jaar wel opgekom het, sou aan die armes behoort (Eksodus 23:10-11). Hierdie wet is nie in die beginjare van die koningskap nagekom nie met die gevolg dat die Kroniekskrywer van mening was dat die Jode in ballingskap weggevoer is, ten einde aan die grondgebied die geleentheid te bied om weer te herstel en op so ‘n wyse op te maak vir al die sabbatsjare wat nie nagekom was nie (2 Kronieke 36:21). Na die ballingskap het Nehemia probeer om weer die sabbatsjaar in te stel (Nehemia 10:31) en dit is wel tydens die Griekse periode nagekom. In een van die ou Joodse geskrifte, bekend as die boek van die Makkabeërs, word vertel dat in 163/162 v.C. die Jode lewensmiddele kortgekom het aangesien dit ‘n sabbatsjaar was en die land “gerus” het (1 Makkabeers 6:49,53).

 Skrywer:  Prof Hennie Stander

 

 




God se wil/my wil – Hermie van Zyl

Francois vra:

Ek sukkel om my vraag te omskryf, maar dit gaan basies oor God se wil en my wil. Het wat ek wil enigsins `n kans. Neem God enigsins “wat ek wil” ook soms in ag ?

Antwoord:

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Ek antwoord graag met ‘n uittreksel uit ‘n artikel wat ek ‘n tyd gelede geskryf het wat presies hierdie saak van God se wil en my wil aanraak. Dit word geskryf vanuit die hoek van gebed en die wil van God.

Die oorkoepelende doel van gebed is om ons in pas te bring met God en sy wil. Juis daarom is dit verrassend hoe min kere in die Bybel gebed in soveel woorde met die wil van God in verband gebring word. Tog moet die saak van God se wil altyd as agtergrond vir gebed veronderstel word. Reeds in die Ou Testament is dit duidelik dat God nie as vanselfsprekend geneem kan word nie. Hy is nie die Groot Staatmaker wat maar altyd net gewillig is om mense ter wille te wees nie. Inteendeel, Hy is die soewereine Heer, en daarom is sy antwoord op gebed altyd van sy Raad en besluite/wil afhanklik. Hierdie toedrag van sake word in die Nuwe Testament voortgesit. Wanneer Jesus in die Bergrede oor ons daaglikse stryd om den brode handel, verseker Hy ons van God se versorging, maar herinner Hy ons terselfdertyd daaraan dat ons ons allereers moet beywer vir God se koninkryk en sy (God se) geregtigheid (Matt 6:33). God se oorkoepelende saak/wil vorm so die konteks waarbinne die gelowige werk en bid. En in die normatiewe Ons Vader-gebed word ons by name geleer om te bid dat God se wil sal geskied (Matt 6:10), met die implikasie dat die gelowige hom daaraan sal onderwerp.

In die algemeen skep die wete dat ons moet bid volgens die wil van God nie probleme vir die gebedslewe nie. Maar dis wanneer allerlei “logiese” afleidings omtrent die verband tussen gebed en die wil van God gemaak word dat probleme ontstaan. Dit kom naamlik daarop neer dat gebed as oorbodig, futiel, beleef kan word in die lig daarvan dat God se wil in elk geval geskied. Waarom bid mens nog vir ‘n bepaalde saak as dit “reeds duidelik” is dat God se wil in ‘n ander rigting lê, of, as God in elk geval alles, lank gelede, “voor die grondlegging van die wêreld”, in ‘n onveranderlike en gedetailleerde bloudruk vir die wêreld vasgelê het? Hoe kan gebed enigiets verander aan God se wil?

Hierdie soort denke is die rede waarom mens soms stemme hoor dat die gelowige in sy/haar gebed eintlik net moet konsentreer op lof en dank. Die voorbidding-element moet liefs gelaat word omdat God Hom nie laat verbid nie. Sy wil en Raad staan vas. Hy is die Groot Beplanner wat ongeag menslike optrede of versoeke sy wil onverbiddelik deurvoer. Al wat die gelowige kan doen, is om God vir sy wil te loof en te dank – in weerwil van die lyding en smart wat sy wil mag meebring – en dit gelowig-inskiklik uit God se hand te ontvang.

Hierdie siening van gebed is ‘n goeie voorbeeld van hoe ‘n bepalende invloed ‘n mens se teologie, veral jou Godsbeeld, op gebed kan hê. Die standpunt dat mens God se wil nie moet probeer verander nie, maar net daarvoor moet buig, mag baie vroom voorkom, maar dit stuit op die duidelike voorbeelde in die Bybel waar gelowiges nie sonder meer die wil van God gelate aanvaar nie, maar met God “stry” oor wat met hulle aan die gebeur is. En in sommige gevalle verander God inderdaad sy plan, maar in ander gevalle nie. Voorbeelde van eersgenoemde is Hiskia wat, ná hy berig ontvang dat hy nie van sy siekte sou herstel nie maar dat God hom sou laat sterwe, ernstig tot God bid, en God sy plan verander en nog 15 jaar by Hiskia se lewe voeg (2 Kon 20:1-6). ‘n Ander geval is die gebeure wat in die boek Jona beskryf word. God beplan om Nineve te verwoes vanweë dié se sonde, maar die Nineviete kom tot bekering en roep tot God om af te sien van sy plan. Toe God hulle berouvolle optrede sien, verander Hy inderdaad van besluit (Jona 3:3-10). Voorbeelde waar God nie sy plan verander nie, is by Jesus se Getsemane-gebed (Mark 14:36,39 par) en by Paulus se gebed om die verwydering van die doring in die vlees (2 Kor 12:1-10). Jesus is bewus van die lydensbeker wat Hy moet drink – wat die wil van sy Vader is (vgl die drievoudige lydensaankondigings in Mark 8, 9 en 10) – maar smeek God desnieteenstaande om die lydensbeker by Hom te laat verbygaan. Is daar nie dalk ‘n ander weg tot sy koms in heerlikheid nie? Nogtans onderwerp Jesus Hom aan wat God ook al mag besluit. En God hou by sy plan en laat Jesus die kruispad loop. Dieselfde by Paulus: Die doring in die vlees blý; God se genade is genoeg om dit draaglik te maak.

Dit word nou duidelik dat die verhouding tussen ons gebede en God se wil nie vir menslike – selfs gelowige – denke deursigtig is nie. Die voorbeelde hierbo wys juis uit dat gebed wat soek na die wil van God met veel worsteling gepaardgaan. Maar wat wel uit die voorbeelde duidelik behoort te wees, is dat die konsep dat God onveranderlik en onbeweeglik in sy wil is, mank gaan aan grondige denke. Daar is geen teenstrydigheid tussen God se soewereine Heerskap en sy openheid tot verandering nie. Ja, God ís die Groot Beplanner, die Meesterbrein wat die wêreld – en individue – stuur en rig volgens sy welbehae, maar op die een of ander manier betrek en inkorporeer Hy ons gebede by sy meesterplan. Dis die minste wat ons kan sê, maar waarskynlik ook die meeste. Die belangrike is egter dat hierdie insig die gelowige nie by voorbaat laat boedel oorgee nie, en die gebed nie laat verstom wanneer ons gekonfronteer word met wat vir ons na die onveranderlike en onbeweeglike wil van God lyk nie. Nee, die wete – die kinderlike geloof! – dat God nie buite ons om nie, maar sáám met ons sy wil volvoer, nooi ons juis uit om Hom in die gebed te raadpleeg, voorbidding te doen – tot in die fynste besonderhede toe – en met Hom te worstel totdat ons die saak “deurgebid” het (soos Jesus en Paulus) en ons gemoed tot rus gekom het in sy wil.

Mens moet egter nie dink dat gebed en Goddelike antwoord ‘n simplistiese “ek vra God gee”-verhouding is nie. Wanneer God van plan verander, is dit steeds in ooreenstemming met sy Goddelike natuur en Raad. God handel nie vóór ons gebede strydig met sy Goddelike aard, en ná ons gebede meer op een lyn daarmee nie. Nee, wanneer God verander, doen Hy dit as God, in ooreenstemming met sy Goddelike wese en Raad.

Maar ook wanneer God nie van plan verander nie, of waar dit na baie worsteling nog nie duidelik is wat God se wil is nie, of dit nie duidelik is óf Hy hoegenaamd, en indien wel, hóé Hy my gebede verhoor nie, kan ons steeds rus in die wete dat Hy wel ons gebede verhoor. Die toestaan van ons versoeke deur God, en gebedsverhoring, val nie noodwendig saam nie. God mag dalk nie aan ons versoeke gehoor gee nie, maar dit beteken nie dat ons gebed nie verhoor word nie. Indien ons gebedsverhoring en die toestaan van ons versoeke met mekaar sou identifiseer, sou dit beteken dat Jesus se Getsemane-gebed en Paulus se se doring-in-die-vlees-gebed nie verhoor is nie. En so ‘n afleiding lyk nie geregverdig in die lig van die teksgegewens nie. As ons Jesus se Getsemane-gebed en die verdere verloop van gebeure in oënskou neem, is dit duidelik dat Hy deur sy gebedsworsteling in die tuin versterk is en sy kruisdood met ‘n nuwe aanvaarding tegemoet getree het. Trouens, in die Matteusweergawe van Jesus se tuin-gebed is dit duidelik dat daar groei in Jesus se onderwerping aan die wil van sy Vader plaasvind. Anders as Markus, rapporteer Matteus die tweede gebedsmeking van Jesus in groter besonderhede. Die eerste keer pleit Jesus nog met ‘n positiewe verwagting: “My Vader, as dit moontlik is, laat hierdie lydensbeker by My verbygaan” (Matt 26:39). Maar die tweede keer is daar al klaar ‘n groter aanvaarding van sy Vader se wil as Hy in die negatief bid: “… as hierdie beker nie by My kan verbygaan sonder dat Ek dit drink nie …” (26:42). Jesus se gebed moes dus op ‘n ander, hoër, vlak verhoor gewees het as bloot dié van die toestaan van sy versoek. Dieselfde met Paulus wat rus in die genade van God wat genoeg is. Hy kry nie wat hy vra nie, ten spyte daarvan dat hy God dringend en volhardend vra, maar hy rus uiteindelik daarin dat sy versoek betrek word by ‘n groter waarheid omtrent sy lewe as waarop hy aanvanklik gereken het – die wil van God. Paulus het die grense van wat hy kon vra – die wil van God, spesifiek omtrent lyding – nie by voorbaat geken nie; hy moes dit al biddende leer. Die Christelike gebede wat ons in die Nuwe Testament aantref, word algaande gevorm deur ‘n teologie van die kruis, waar gebedsverhoring nie soseer in die toestaan van versoeke bestaan nie, maar in die openbaring van God se genade en krag in swaarkry.

Hierdie insigte bring ‘n dimensie in ons gebedslewe na vore wat kortsigtigheid en tonnelvisie verminder en vryheid en vrymoedigheid bring. As dit die oorkoepelende doel van gebed is om in pas te kom met die wil van God, dan open dit ons oë vir die welbehae van God, dat Hy goed is vir ons, maar dat sy goed-wees soms onbegryplik anders kan wees as wat ons versoek. Ons moet God steeds God laat bly in ons versoeke, soos Jesus gemaak het: Hy vra – voluit – dat die lydensbeker by Hom sal verbygaan, maar lê Hom terselfdertyd neer by die wil van sy Vader, as dié anders mag blyk te wees.

Dat ons gebede in die “dun lug” van God se wil moet beweeg, is nie bedoel om ons kortasem te maak nie. Dit wil nie ons gebede intimideer, inhibeer, inkort of selfs die swye oplê nie. Dit rig eerder die uitdaging aan ons om die gesprek met ons hemelse Vader op ‘n “gevorderde” vlak – op God se vlak – voort te sit. Dis hier waar ‘n mens se geloofspiere tot die uiterste ingespan word. Want eintlik is ons besig om uit te reik na God se gedagtes wat hoër en anders is as ons s’n. Maar wie met hierdie gesprek volhard, het die versekering dat dit uiteindelik rus sál bring, al gaan dit met baie wroeging en worsteling gepaard. God wil hê dat ons klein versoeke sal saamsmelt met sy liefdevolle groter wil vir ons.

Samevatting:

  • God se wil is nie iets wat alles so deterministies bepaal dat gebed – veral gebed as voorbidding/versoeke – daarmee die swye opgelê word nie. Die kontekste waarin gebed in verband met die wil van God voorkom, toon juis aan dat God Hom laat verbid; Hy is nie onver-bid-delik nie. God kan “van plan verander”. Hierdie planverandering is egter nie willekeurig nie. God tree steeds in ooreenstemming met sy Goddelike wese en Raad op wanneer Hy van plan verander. Hy is nie ná sy planverandering meer God as daarvóór nie.
  • God se wil is nie deursigtig nie. Daarom staan Hy ons gebedsversoeke dikwels nie toe nie. Sulke gebede moet egter nie as onverhoord aangemerk word nie. God verhoor altyd gebede. Maar gebed open juis ons oë vir ‘n groter waarheid omtrent ons lewe as waarvoor ons aanvanklik gevra het.
  • Of God “van plan verander” en ons gebedsversoeke toestaan, of nie – sy wil is altyd goed; dit wil die beste vir ons, hoewel hierdie “goed” en “beste” dikwels onbegryplik is. Daarom is gebed volgens die wil van God altyd ‘n uitdaging. So ‘n gebed reik uit na God se gedagtes wat hoër is as ons s’n. Maar wie met hierdie gesprek volhard, sal uiteindelik rus vind in God.

 

Skrywer:  Prof Hermie van Zyl