Slot: Christelike vrymoedigheid en vertroue (vervolg) – Francois Malan

Lewe in God en Jesus (5:20-21)

5:20 ‘En ons weet dat die Seun van God gekom het…’ dit is die derde keer dat Johannes skryf: ‘ons weet,’ ons is seker. ‘En’ volg op 19b: ‘die hele wêreld lê in die mag van die Bose.’ Ten spyte daar van, kan ons, wat uit God gebore is (19a), seker weet dat die Seun van God (in die wêreld wat die mag van die Bose lê) gekom het. Die werkwoord ‘Hy het gekom (hekei) wys na sy koms met sy menswording om permanent in hierdie wêreld te wees (Jn 8:42 En nou is Ek hier)..

‘…en aan ons verstand gegee het sodat ons die Waaragtige kan ken…’ die woord vir ‘verstand/denke’ (dianoia) verwys na die vermoë om te verstaan, te beredeneer, te dink en om te besluit, maar dan ook na ‘n spesifieke manier van dink oor iets/iemand, en dan ook na die inhoud van ons denke en redenering (een van die woorde vir bekering is ook metanoia die verandering van ons denke en manier van dink oor God). Die werkwoord ‘Hy het gegee’ is in die voltooide tyd, wat beteken dat dit in die verlede gegee is en die gevolge daarvan duur nou voort (Rom 11:29). ‘die Waaragtige’ het ‘n persoons lidwoord, wat verwys na God as die ware God, wat self die waarheid is, wat getrou is, en ‘n werklikheid in ons lewe is (Jes 65:16; Jn 17:3; 1 Ts 1:9; Op 3:7). Hy staan teenoor die vals gode van 4:1-3. In Jn 1:9 word Jesus genoem ‘die ware lig;’ in Jn 15:1 die ‘ware’ wingerdstok. Hy het die ware God vir ons kom openbaar en is self ook die ware God.

‘…en ons is in die Waaragtige (in Hom wat die waarheid is), in sy Seun, Jesus Christus.’ in 5:11 is reeds gesê ‘dat God die ewige lewe vir ons gegee het, en dié lewe is in sy Seun.’ Om die Seun te hê, is om dié lewe te hê (5:12). Netso word hier gesê: om die Seun te erken beteken ook om die Vader te hê. Die ware gelowige bly in die Seun en in die Vader (2:23-24; Jn 10:38 :Ek is in die Vader en die Vader in My; Jn 17:21 dat hulle ook in Ons mag wees; 1 Ts 1:1 aan die gemeente…wat aan God die Vader en die Here Jesus Christus behoort). 1 Jn 5:20 verduidelik wat dit beteken om in die ware God te wees: Ons is in God en het met Hom gemeenskap as ons in Christus is. Jesus het God aan ons kom openbaar sodat ons die ware God mag ken en in noue gemeenskap met Hom te kan lewe (vgl. 1 Jn 1:3). Om in God en in Jesus te wees benadruk die voorwaarde, maar ook die manier waarop gelowiges in hierdie wêreld moet lewe. God, soos Jesus Hom aan ons openbaar as die God van liefde en geregtigheid, is die ruimte waarin ons as sy kinders lewe: onder sy sorg en leiding.

‘Hy is die ware God en die ewige lewe.’ Na wie ‘Hy’ verwys is verskillend uitgelê as die Vader of die Seun, maar albei is betrokke. Dit gaan in hierdie teks oor Jesus wat aan ons kennis gee om die ware God as die Vader van Jesus te ken, met wie ons gemeenskap het deur Jesus, wat self ook God is. Die ewige lewe behels juis dat ons God die Vader ken en in gemeenskap met Hom lewe. Maar dit kan nie, sonder dat ons Jesus ken en in Jesus glo nie. In 1:2 word die ewige lewe aan Jesus verbind. Dit is die lewe wat Hy en die Vader saam lewe. In 5:13 is reeds gesê dat dié wat in die Naam van die Seun van God glo, kan vir seker weet dat hulle die ewige lewe het. En die ewige lewe begin nou reeds deur ons lewe in gemeenskap met die Seun en die Vader (wat bewerk word deur die Heilige Gees, volgens 3:24; 4:2,6 die Gees van die waarheid; 4:13).

5:21 ‘My liewe kindertjies…’ soos reeds ses maal tevore in die brief, as ‘n uitdrukking van Johannes se intieme liefdesverbondenheid en bekommernis oor die gemeente. In plaas van ‘n formele vaarwel, sluit Johannes sy brief af met die waarskuwing uit sy liefde vir hulle:

‘…beskerm julleself/hou noukeurig oor julleself die wag, teen die afgode.’ Hulle word met ‘n sterk vorm van die bevelswerkwoord opgeroep om wag te staan oor hulleself, oor hulle denke en geloof en optrede. Hulle moet aktief daaraan werk, terwyl in 5:18 reeds gesê is dat Jesus ons vashou en bewaar, sodat die Bose ons nie sal aanraak nie. Ons is betrokke in die stryd teen die Bose, en moet steeds in Christus bly om te oorwin (5:4-5).

Johannes skryf vir die gemeentes in en rondom Efese waar die godin Artemis (Grieks)/Diana (Latyn) en ander gode vereer is, en die stroom van mense en familielede na die feesgeleenthede ter ere van die afgode vir die gelowiges ‘n versoeking bly. Die woord vir ‘afgod’ (eidoolon) beskryf ‘n voorwerp wat soos ‘n mens, of dier of iets anders lyk en die voorwerp van aanbidding is. Dit word figuurlik gebruik vir enige vals god, wat lyk na god, maar dit nie is nie. Daarom waarsku Johannes die gelowiges om te waak teen enige substitute vir die ware God, teen ‘n ander siening oor God as wat Jesus vir ons gebring het. Sommige van die mense wat reeds die gemeentes verlaat het om terug te keer na die Jode se opvatting oor God en Jesus nie erken nie, het hy ‘antichriste’ genoem (2:18-19; en vals profete 4:1). Die vals gode moet verwerp word en die gelowiges moet waak teen die vals gode en profete se invloed op hulle, om getrou te blyaan die ware God wat in sy Seun die ewige lewe gee aan die gelowiges.

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




Vertalingsverskille – Hermie van Zyl

Petro vra

Ek het iets op die hart wat ek baie graag vir u wil vra. Ek gaan saam met my man na die NG kerk, maar gaan ook baie keer na die ander kerke soos AGS ens. (Ek het NG groot geword) In die charismatiese kerke gebruik hulle meestal net die 1933 vertaling en dit pla my altyd, want hoekom moet daar verskillende bybels gebruik word in verskillende kerke totdat ek eendag Matt 20 vers 23 gelees het en gesien het dat die twee bybels baie verskil in daardie vers. Hoekom het die 1983 vertaling die gedeelte “en met die doop waarmee Ek gedoop word, sal julle gedoop word” uitgelaat in die 1983 vertaling? (ook in vers 22) Ek het gegaan na die ou bybel wat nog in Hollands gedruk is en daarin staan ook dieselfde as in die 1933 vertaling. Dit het my laat wonder wat is nog verander in die 1983 vertaling?? Dit is moeilik om die twee bybels vers-vir-vers te gaan vergelyk? Ek voel die mense word op ‘n dwaalspoor gelei oor die doop. Dit het my altyd gepla dat ek net klein gedoop is totdat ek eendag in my hart begin voel het om my groot te laat doop en dit het ek 16jr gelede laat doen en dadelik het ek vrede in my hart gehad, maar dit is nou nie die rede hoekom ek u kontak nie. Ongelukkig is ek nou baie skepties oor daar weer ‘n nuwe vertaling kom. Ek is bang ons beweeg weg van die oorspronklike Woord. Hoop u kan my meer duidelikheid gee hieroor.

 

Antwoord:

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Ek wil graag in my antwoord ingaan op die kwessie van wat die “oorspronklike Woord” is. Want dit lê aan die kern van jou vraag. (Die kwessie van grootdoop en kleindoop laat ek daar, omdat dit nie die wesenlike saak is nie.)

Om die begrip “oorspronklike Woord” te begryp, moet ek iets sê oor ‘n bepaalde aspek van die totstandkoming van die Bybel. Uiteraard gaan ek baie vlugtig daaroor, en ek konsentreer slegs op die Nuwe Testament (NT).

Die feit van die saak is dat ons nie meer die “oorspronklike Woord” het nie. Daarmee bedoel ek: ons het nie meer die oorspronklike manuskripte (mss) van die NT nie. Dit wil sê: daardie manuskrip (ms) wat Matteus met sy eie hand geskryf het, het ons nie meer nie; dit is vir altyd verlore. Ons het net afskrifte van afskrifte van afskrifte, ensovoorts, daarvan. En omdat alles in daardie vroeë eeue met die hand oorgeskryf is (onthou, die boekdrukkuns is eers in die 15e eeu nC ontwikkel), het daar dikwels foute in die oorskryfproses ingesluip. Kopieerders het meermale onbewustelik skryffoute begaan, soms selfs doelbewus, laasgenoemde veral as die manuskrip wat as basis van die kopiëring gedien het na hulle oordeel nie die korrekte inhoud bevat het nie.

Omdat kopiëring met die hand die enigste manier was waarop die NT in die eerste veertien eeue vermeerder en versprei kon word, beskik ons vandag oor ongeveer 5 500 Griekse mss wat die NT bevat (Grieks synde die taal waarin die NT oorspronklik geskryf is). Sommige van hierdie mss bevat die hele NT, ander weer net dele van die NT. Verder, die oudste mss wat die hele NT bevat, stam uit die 3e/4e eeu nC. Jy kan dus verstaan dat selfs ons oudste mss steeds ongeveer drie eeue verwyderd is van die oorspronklike Woord of oorspronklike mss wat die NT bevat het. Hierdie 5 500 mss is ook nie identies nie, hulle verskil in bewoording van mekaar. Nou is die vraag: As ons vandag die NT in Afrikaans wil vertaal, watter van hierdie mss moet ons gebruik of aan voorkeur gee om net eers ‘n Griekse teks saam te stel wat ons as basis vir ons vertaling kan gebruik?

Die wetenskap wat vir ons ‘n Griekse teks saamstel, word Tekskritiek genoem. Dit is ‘n wetenskap wat reeds lank bestaan, maar veral in die afgelope 200 jaar met rasse skrede vooruitgegaan het, hoofsaaklik weens die ontdekking van meer en ouer mss, en ook weens die ontwikkeling van beter kriteria en tegnieke om te bepaal watter mss vir ons die oorspronklike NT die beste bewaar. Want die algemene reël is: hoe ouer ‘n ms is, d w s, hoe nader ‘n ms aan die tyd van die NT is, hoe beter is die kanse dat dit vir ons die oorspronklike teks van die NT die beste weergee.

Uit hierdie 5 500 mss is daar in die verlede verskillende Griekse tekste saamgestel wat na die mening van tekskritici (geleerdes wat die oorspronklike mss van die NT bestudeer) die oorspronklike teks van die NT die beste weergee. Mettertyd is hierdie prosesse verfyn sodat Bybelvertalers reg oor die wêreld vandag een van twee Griekse tekste gebruik – óf die een van die United Bible Societies in die VSA, óf die sogenaamde Nestle-Aland teks van die Institute for New Testament Text Research in Münster, Duitsland. Weens die samewerking tussen die twee instansies is die merkwaardige dat die twee Griekse tekste wat bewoording betref identies is. Dit maak dus nie saak hoe vertalings van mekaar verskil in bewoording nie, van een ding kan mens vandag seker wees en dit is dat hulle dieselfde Griekse teks vir die vertaling gebruik.

Hoekom verskil die 1933-Afrikaanse Vertaling (33AV) van die 1983-Afrikaanse Vertaling (83AV)? En nou praat ek nie van vertaalverskille nie, maar van gedeeltes waar dit lyk of die 83AV sekere bewoordings weggelaat het wat wel in die 33AV voorkom. Die rede hiervoor is dat die 33AV van ‘n Griekse teks gebruik gemaak het wat nog nie die nuutste inligting oor die beste mss bevat het nie. (So ook die ou Hollandse Vertaling, die sg Statevertaling.) Maar toe die 83AV tot stand gekom het, is besluit om ook die nuutste en beste Griekse teks te gebruik wat deur al die ander vertalers oor die wêreld heen gebruik word. Daarom lyk dit asof in bepaalde gevalle die 83AV dele van die “oorspronklike Woord” weggelaat het. In werklikheid is dit presies die teenoorgestelde: dis na regte so dat die 33AV, wat op ‘n swakker Griekse teks gebaseer was, bewoording bevat wat eintlik nooit deel was van die oorspronklike NT nie. Die 83AV het Afrikaanssprekendes dus eintlik ‘n groot guns bewys om die Afrikaanse Bybel op een lyn te bring met ander vertalings reg oor die wêreld wat op die beste Griekse teks gebaseer word.

Kom ek gee nou aandag aan Matt 20:23 (jou vraag) om alles wat bo teoreties bespreek is, meer prakties te maak. Die 33AV bevat in Matt 20:23 ook die woorde: “… en met die doop waarmee Ek gedoop word, sal julle gedoop word.” Hierdie woorde kom nie in die 83AV voor nie. Die Griekse teks wat in die 83AV gebruik is (wat op die beste Griekse mss gebaseer is), bevat nie hierdie woorde nie. Daarom kom dit ook nie in die vertaling voor nie. Wat waarskynlik in die vroeë eeue van manuskripkopiëring gebeur het, is dat kopieerders die woorde van Mark 10:39 (die parallel van Matt 20:23) waar hierdie woorde inderdaad in die beste mss voorkom, ingevoeg het by Matteus, dalk omdat hulle gedink het dat hulle die teks van Matteus op hierdie manier “verryk” of “aanvul”. Dit is wat ons in die Tekskritiek “harmoniëring vanuit parallelle gegewens” noem, d w s, weens die parallelle materiaal tussen die Evangelies kry ons soms dat kopieerders aanvullings vanuit die ander Evangelies gedoen het in die oorskryfproses. Dit is ook meteen ‘n voorbeeld van doelbewuste foute wat in die oorskryfproses plaasgevind het. Later, toe ouer en beter mss ontdek is, is besef dat daar by Matt 20:23 eintlik deur die kopieerders ‘n byvoeging gemaak is wat nie in die oorspronklike ms van Matteus gestaan het nie. Daarom is dit nie ingesluit in die vertaling nie. Ons wil tog so na as moontlik kom aan die ms soos Matteus dit self geskryf het, en nie soos latere kopieerders gedink het Matteus behoort te klink nie.

Hiermee hoop ek het ek iets probeer weergee van die ingewikkelde proses van tekssamestelling en vertaling. Na alles moet ons net besef dat al is daar verskille tussen die 33AV en die 83AV, die verskille nie van ‘n wesenlike aard is wat die kern van die Christelike leer aantas nie. Dit gaan meermale oor mindere kwessies wat nie die wese van ons geloof aantas nie. As jy voel dat die 33AV vir jou nader aan die hart lê – lees dit! Dit sal niks aan jou saligheid verander nie. Maar moenie dink dat daar fout is met die 83AV nie, as sou dit jou wil wegvoer van die oorspronklike Woord nie. Dis gewoon nie waar nie; die teendeel is waar.

Wees ook gerus dat in die nuwe Afrikaanse Vertaling waaraan daar tans gewerk word, waarvan die NT en Psalms reeds verskyn het, daar geen poging is om die Woord van God te vervals of om gelowiges weg te lei van die oorspronklike Woord nie. Nee, hierdie vertaling is net nog ‘n manier om gelowiges so na as moontlik aan die oorspronklike Woord van God te bring. En enigeen wat jou probeer wysmaak dat daar bose motiewe agter die nuwe Vertaling is, is besig met misleiding – óf uit onkunde óf uit moedswilligheid.

Skrywer:  Prof Hermie van Zyl

 




Slot: Christelike vrymoedigheid en vertroue (vervolg) – Francois Malan

Lewe sonder sonde (5:18-19)

5:18-20 Dwarsdeur die brief het Johannes geskryf wat die regte fondament vir die Christus-gelowige se lewe is: die regte lewenswyse voor God, die regte geloof in God, en die regte omgang met mense. Daarom sluit hy aan by wat ons moet weet (5:13) en wat ons weet (5:15), en sluit die brief met drie duidelike en vertroubare sekerhede, wat elkeen ingelei word met: ‘ons weet’ (15:18,19,20). Daarmee word die wonderlike grondwaarhede waarin die brief die lesers inlei, opgesom.

15:18 ‘Ons weet dat niemand wat uit God gebore is aanhou sonde doen nie.’ (die perfektum deelwoord ‘wat gebore is’ dui ‘n gebeure aan wat in die verlede plaasgevind het en waarvan die gevolge voortduur – jy bly kind van God);

dat elkeen wat kind van God geword het ‘nie aanhou sonde doen nie’ (die woord ‘sondig’ is in die teenwoordige tyd wat voortgang aandui). Johannes beklemtoon dat die nuwe soort lewe die uitvloeisel behoort te wees van die nuwe geboorte as kind van God (Paulus noem dit die vrug van die Gees – Gal 5:22).

‘maar Hy wat uit God gebore is…’ (gewone verlede deelwoord, ho gennetheis) waarskynlik verwys Johannes hier na Jesus, in teenstelling met die gelowige ‘wat uit God gebore is’ (perfektum deelwoord, ho gegennemenos). Jesus word ook ‘die eniggebore Seun, of enigste Seun’ genoem, enig in sy soort, ewig (1 Joh 4:9, monogenes). Met die twee eenderse werkwoorde, maar verskillende tydsvorme onderstreep Johannes ons identiteit en eenheid met Christus, maar ook die wesenlike verskil tussen ons, as gelowige mense, en Jesus, wat self God is.

‘..Hy bewaar/beskerm hom…’ (die 1983-vertaling volg die kodeks Vaticanus, wat verduidelik: maar die Seun van God bewaar hom; die 1953-vertaling volg o.a. die kodeks Sinaïticus ‘bewaar homself,’ omdat afskrywers die vorige werkwoord misverstaan het) – Jesus, die Een wat uit God gebore is, bewaar (tereoo) die gelowige, wat ook uit God gebore is – sodat die gelowige in staat gestel word om die woord/gebooie van God te bewaar/gehoorsaam (tereoo, 2:3; 2:5; 3:22,24; 5:3) om nie voort te lewe in die sonde nie. Die Kind van God bewaar die gelowige kind van God (in 3:9 was dit die ‘saad van God wat in hom bly’wat hom bewaar dat hy nie sonde doen nie).

‘…en die Bose kan hom niks aandoen nie.’ Die Bose doen hom geen leed aan nie, hou hom nie vas nie’ (vgl. 2:13-14 vir ons oorwinning oor die Bose, die duiwel; teenoor 3:12: Kain wat in die mag van die Bose was; 5:19: die hele wêreld wat in die mag van die Bose is).

Die teenwoordige tyd van die werkwoorde in vers 18, ‘nie aanhou sonde doen nie,’ ‘bewaar,’ ‘niks aandoen nie,’ beskryf die gelowige se geestelike stand en verbondsverhouding met God wat voortgaan. In Christus is dit altyd moontlik om die Bose en bose gedagtes en woorde en dade te oorwin, en om goed te doen. – as volgelinge van die Woord van die Lewe (1:1-2), as kinders van die Lig (1:5,7). Sonde is ‘n ernstige realiteit vir alle gelowiges, maar in gemeenskap met Christus en deur die krag van sy Gees kan ons die sonde oorwin, dit aflê, en lewe volgens God se gebooie, veral om lief te hê.

5:19 ‘Ons weet dat ons uit God is…’ – vers 18 het gesê ons is uit gebore. Ons word kinders van God deur weer gebore te word deurdat die Heilige Gees ons oortuig om in Jesus Christus te glo as die Seun van God wat mens geword het om ons sondes op Hom geneem. Ons wedergeboorte is die werk van God, en daarom behoort ons aan God, as kinders van sy huisgesin deur ons verbondenheid aan sy ewige Seun.

‘…en (ons weet) dat die wêreld as geheel (ho kosmos holos) in (die mag van) die Bose lê’ – in 2:1,2 is gesê dat Jesus Christus die Regverdige ‘n versoening is…vir die sondes van die hele wêreld (holou tou kosmou). Die hele wêreld is die voorwerp van God se verlossingswerk deur Jesus. Maar hier in 5:19 word die omvang van die werk van die duiwel aangedui (deur die verskillende plasings van ‘hele’ in Grieks). Al lê die wêreld as geheel in die mag van die Bose, is die oorwinning oor die wêreld reeds bewerk: 5:4-5 sê ‘want elkeen wat ‘n kind van God is, kan die sondige wêreld oorwin. En die oorwinning wat ons oor die wêreld behaal het, is deur ons geloof. Wie anders is dit wat die wêredl oorwin as hy wat glo dat Jesus die Seun van God is?’

Terwyl die wêreld hulpeloos in die mag van die duiwel lê, kan hy die kind van God geen leed aandoen nie (5:18). Die verhouding van die kind van God as ‘uit God (gebore)’ staan voorop in die sin, en is totaal anders as die verhouding van die wêreld tot die Bose, die wêreld in sy geheel word meegesleur in die kloue van die duiwel (vgl. Joh 14:30 oor die heerser van die wêreld wat nie mag oor Jesus het nie). Die oorsprong van die nuwe lewe van die kind van God lê in God, en hulle hele wese word bepaal deur God se liefde vir ander. Die wêreld is die mensheid wat vyandig staan teenoor God, teen Christus gekies het, en in ongeloof verhard het. Hulle lê onderworpe aan die Bose en sy begeertes, wat op hulle self sentreer.

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




Die Heiligheid van God – Hermie van Zyl

Francois vra:

In die Ou Testament word die heiligheid van God oor-en -oor beklemtoon en mense wat die heiligheid nie gerespekteer het nie, is erg gestraf, selfs met die dood. In die Nuwe Testament word daar baie minder, en minder eksplisiet, verwys na die heiligheid van God (met moontlik die uitsondering van in Openbaring en die Ananias en Safira gebeurtenis). Jesus se koms het tog nie God se heiligheid verminder nie. 1. Hoe moet God se heiligheid volgens die Nuwe Testament verstaan word? 2. Hoe moet die heiligheid van God vandag deur sy kinders uitgeleef word?

Antwoord:

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Die term “heilig” in die Bybel het meer as een betekenis. Toegepas op God druk dit die essensie van sy wese uit as die Een wat nie soos mense is nie maar vlekkeloos, sondeloos en absoluut volmaak. So besing die hemelse wesens dan ook sy heiligheid (vgl die sg trishagion, of te wel, “drie maal heilig”-uitroep in Jes 6:3 en Op 4:8). As die Heilige verdra Hy ook nie onreg en sonde nie; uiteindelik moet die sonde gestraf word (Jes 65:1-5; Am 2:7).

As die Heilige in absolute sin is God nie net anders as mense nie, maar ook anders as die sogenaamde gode, wat eintlik maar net projeksies van mense was en dieselfde eienskappe as mense vertoon het, behalwe net dat hulle baie magtiger as mense was. Mense moes daarom voortdurend die gode paai en kalmeer sodat hulle nie in toorn ontbrand teen mense nie. Die lewende God se heiligheid kom egter veral in sy liefde, barmhartigheid en genade na vore. Dit maak Hom nie net totaal anders as die gode nie, maar ook as mense. Waar die gode in blinde woede kan reageer, is God lankmoedig en genadig. Waar mense ontrou is, is God betroubaar en onwankelbaar in sy liefde en genade (vgl Hos 11:9).

“Heilig” word verder ook op die kinders van God toegepas, bv Lev 19:2 en 1 Pet 1:15-16, waar gesê word dat hulle heilig moet wees omdat God heilig is. So gesien kan dit nie “sondeloos” of “volmaak” beteken nie, maar eerder dat God se kinders volkome toegewyd aan God moet lewe. God se heiligheid skuur as’t ware af op sy kinders. Hy wil hê dat sy kinders hulle moet wegkeer van wat sondig is en toegewyd aan Hom moet lewe. Hier is “heilig” dan nie soseer ‘n wesenskwaliteit van mense nie, maar eerder ‘n etiese kwaliteit, d w s, hoe mense moet lewe om daardeur te wys dat hulle aan God behoort. Toewyding het ook die betekeniskomponent van “afsondering”, wat veral in die OT ten opsigte van die priesters gegeld het. Hulle moes hulle van sekere praktyke wegkeer of afsonder om daardeur hulle toewyding aan God te demonstreer (vgl 1 Kron 23:13). Afsondering het egter niks te make met wêreldvreemdheid of wêreldmyding nie, maar dat God se kinders in hierdie wêreld maar nie van die wêreld nie sal wees.

In die Ou Testament (OT) was dit veral nodig om die heiligheid van God te beklemtoon sodat die volk Israel sou weet dat hulle God nie maar soos ‘n gewone mens is, net baie magtiger nie. Nee, Hy is die “gans andere”, die een wat die Skepper is van hemel en aarde, wat ontoeganklike lig bewoon (Ps 104:2; Dan 2:22; vgl 1 Tim 6:16), en tog Homself as die barmhartige en genadige betoon wat besorg is oor die weduwee, die weeskind en die arme.

Dit is veral lg aspek wat in die Nuwe Testament (NT) baie meer prominent is as in die OT. Want die NT leer dat die Heilige, die Ewige, méns geword het in Jesus Christus, dat Hy naby ons gekom het, dat Hy die gestalte van ‘n slaaf aangeneem het (Fil 2:7), om te dien, selfs tot in die dood toe. Dus, die heilige God is in Jesus Christus volkome mens, maar sonder sonde (Heb 4:15). Juis so het God kom toon wie Hy en wat ware menswees eintlik is.

Dis om hierdie rede dat die NT minder klem lê op die afstand tussen God en mens en meer die nabyheid van God aan die mens benadruk. Maar Hy is steeds Gód, en ons ménse. Geen wonder nie dat Paulus die absolute andersheid en ondeurgrondelikheid van God in Rom 11:33-36 besing. Sy nabyheid hef dus nie sy Godheid of heiligheid op nie. Dit gee net daaraan ‘n bepaalde dimensie wat voorheen in die OT nog nie so prominent was nie.

Die slotsom van bogenoemde is dat ons vandag nie beangs en bevrees vir God hoef te lewe nie. Sy heiligheid maak ons nie bevrees om in sy teenwoordigheid te verskyn nie, maar nooi ons eerder uit om in gemeenskap met Hom te lewe. Maar dit beteken ook dat ons, synde God se kinders, hoe langer hoe meer God die Heilige se eienskappe in ons lewe sal reflekteer.

Skrywer:  Prof Hermie van Zyl