Die Eerste Brief van Johannes: Die vierde vereiste vir kinders van God – om lief te hê (vervolg) (d) Vrymoedigheid in die liefde (4:17-18) – Francois Malan
4:17 ‘Hierin…’ kan verwys na 4:16 en/of na die res van 4:17. Met 4:16 beteken dit dat die gemeenskap tussen die mens en God en God en die mens die basis is van die vervolmaking of hoogtepunt van die liefde. As ‘n brug tussen v16 en v17 verwys ‘hierin’ waarskynlik ook na 4:17: wat verduidelik hoe die liefde onder ons vervolmaak word.
In die lig van v16 se wedersydse inwoning ‘God in ons en ons in God’ verwys liefde hier waarskynlik na God se liefde vir ons en ons liefde vir Hom en ons medemens. Dat dié liefde vervolmaak is, beteken dat dit sy doel bereik het en tot vervulling en volle uitdrukking gekom het in ons wedersydse en onderlinge liefde.
‘Ons sal op die oordeelsdag vrymoedigheid hê…’ (vgl. 2:28 vrymoedig wanneer Christus sal verskyn)’ – ‘hierin,’ wat vooruitwys, verduidelik hoe liefde vervolmaak is; verbind met v16 is die vrymoedigheid die gevolg van onderlinge liefde. In 2:5 is die gelowige se gehoorsaamheid aan God se woord die teken dat die liefde van God in hom tot volle uitdrukking gekom het. Hier word vrymoedigheid aan die onderlinge liefde verbind. In 3:23 word geloof in Christus en onderlinge liefde saam verbind aan die inwoning van die Heilige Gees in ons. Die vrymoedigheid voor God op die oordeelsdag behels ook dat ons nou reeds vrymoedig voor God lewe, soos in 2:29 se sekerheid dat ons uit God gebore is, en 3:21 se vrymoedigheid voor God. Liefde bereik sy doel waar ons nou reeds reg lewe (2:29) en in ons vrymoedigheid voor God op die oordeelsdag.
‘…omdat ons, soos Hy (Jesus) in hierdie wêreld is.’ Dat die vrymoedige gelowige in die wêreld is soos Jesus in die wêreld is, verwys na God wat in ons is en ons in Hom, en daarom deel geword het van sy liefde. Ons moet gehoorsaam God se liefde in hierdie wêreld uitlewe, want die God van liefde is in ons, en ons in Hom (soos Jesus; vgl. Jn 14:10-11 Ek is in die Vader en die Vader in My). Jesus sit sy werk in die wêreld voort deur die Heilige Gees in ons soos blyk uit ons onderlinge liefde en uitreik na die wêreld in liefde soos Jesus.
.
4:18 Die beginsel word eers negatief gestel: ‘in die liefde is daar geen vrees nie’ – positief beteken dit dat ons voor God die vertroue en vrymoedigheid van Christus teenoor sy Vader het, omdat God in ons bly met sy liefde en ons lewe in Hom deur Hom en ons medemens lief te hê. Vrees is ‘n toestand van groot benoudheid vir moontlike pyn, gevaar, boosheid of iets dergelyks, wat jou mag tref. Paulus sê: Die Gees wat aan julle gegee is, maak julle nie tot slawe nie en laat jullle nie meer in vrees lewe nie…’ (Rom 8:15).
‘In teendeel, volmaakte liefde dryf die vrees na buite;’ as daar ‘n wedersydse verhouding van volmaakte liefde is, van God se liefde vir ons en ons liefde vir Hom, is daar geen rede of plek meer vir vrees nie. Waar dié liefde ten volle ontwikkel, is dit eg en ‘n werklikheid in die lewe van die gelowige. Paulus sê dat die Gees wat ons ontvang het, getuig saam met ons gees, dat ons kinders van God is, wat selfs mét Christus ly sodat ons saam met Hom verheerlik sal word (Rom 8:16-17).
‘want vrees het te doen met straf’ – die gelowige hoef nie te vrees vir die oordeelsdag en ewige straf nie. Die pyn en onsekerheid van vrees versteur ook ‘n egte liefdesverhouding van wedersydse vertroue tussen mense en tussen mense en God..
‘en wie vrees, het nie volmaak geword in die liefde nie.’ Die beginsel ‘daar is geen vrees in die liefde nie’ word hier in persoonlike terme gestel: die persoon wat nog vrees, is nog onvolkome in die liefde. Die gedagte van 4:12 dat die liefde van God volkome uitgewerk word in ons liefde onder mekaar, word hier beperk deur gelowiges wat nog steeds vrees in die teenwoordigheid van God, deurdat hulle nog nie die doel bereik het wat die gawe van God se liefde vir hulle bied nie.Vir so’n gelowige is die pad om hom steeds meer oor te gee aan die liefde van God en vertroue op Hom, om met vrymoedigheid voor God te lewe en oop en opreg te wees teenoor ander mense.
Skrywer: Prof Francois Malan