Die Eerste Brief van Johannes: Die vierde vereiste vir kinders van God – om lief te hê (4:7-5:4) – Francois Malan

Die herkoms uit God al dan nie, bepaal die aard van die liefde. Uit enige ander bron kan dit mensliewend, welwillend en vriendelik wees, maar skiet tog te kort in die weegskaal van God se oordeel.

 

  • Deel van God se liefde (4:7-10)

4:7‘Geliefdes’ – so word die gelowiges ses maal intiem aangespreek in hierdie brief (2:7; 3:2,21; 4:1,7,11). Johannes betoon sy liefde teenoor hulle voordat hy liefde van hulle vra (in die Griekse teks begin die eerste drie woorde met ‘n ‘a’ (agapetoi, agapoomen allelous). Hierdie gedeelte, 4:7-10 is in poësievorm geskryf as ‘n gedig oor die liefde.

‘laat ons mekaar liefhê…’ – 2:10 het reeds gesê: wie sy broer liefhet, bly in die lig; 3:11 dat die boodskap van die begin af was dat ons mekaar moet liefhê, en 3:23: God se gebod is dat ons in sy Seun, Jesus Christus moet glo en mekaar moet liefhê ooreenkomstig die gebod wat Jesus ons gegee het (vgl. Joh 13:14-17,35; 15:12). Die vorm van die opdrag om mekaar lief te hê dui aan dat dit ‘n voortgaande aksie moet wees, jou hele lewe deur.

‘…want die liefde is uit God’ – dit is die basis van die opdrag. Dit is nie net ‘n opdrag van Jesus of van God nie, maar is gegrond op die wese van God wat self liefde is (4:8,16). Hy is die bron van ons liefde (4:19). Liefde is ‘n gawe van God aan ons, ‘n gee van Homself aan ons.

‘en elkeen wat liefhet, is uit God gebore…’ – hierdie tweede sin brei uit op die vorige sin. Die agtergrond van die liefde van die gelowiges is hulle wedergeboorte deur die Gees tot kinders van God (3:24; 4:13; Joh 3:7-8;

vgl. 1 Jn 3:9 God se saad/natuur woon in die gelowige).

Dié wat uit God gebore is ‘…ken God’ – dit druk ‘n voortgaande intieme kennis van God uit (5:20 sê dat die Seun van God aan ons die insig en denkwyse gegee het om die ware God te ken). Die geboorte uit God en kennis van God word hier aan die liefde verbind. Wie liefhet, kan weet dat hy uit God gebore is en die ware God ken.

 

4:8 Die teendeel van vers 7 word hier gestel om die positiewe duidelik in perspektief te stel. Waar vers 7 praat van voortgaande kennis van God by die kinders van God, word hier gesê ‘wie nie liefhet nie, het God nie leer ken nie…’ – vers 7 praat van ‘elkeen wat steeds liefhet;’ vers 8 slegs ‘wie ookal nie vir God liefhet nie…’ en die vorm van die ‘nie’ en verlede tyd van ‘liefhê’ in Grieks veronderstel enigiemand wat nog nie in die verlede liefgehad het nie. So word die deur oopgelaat vir die moontlikheid om God te leer ken deur die werking van die Gees om hom te oortuig (Joh 16:8).

‘want God is liefde.’ – God is nie slegs die bron van liefde nie, maar God is die liefde self. Liefde is nie slegs een van sy werke nie, maar al sy werke is gevul met sy liefde: Hy skep in liefde, Hy regeer en sorg in liefde, Hy oordeel in liefde, alles wat Hy doen is uitdrukking van sy natuur wat bestaan in liefhê, soos dit veral in aksie te sien is in Jesus se optrede op aarde – dit is so verrassend, so nuut, so groots dat dit die mens se verstand te bowe gaan (Ef.3:19). Die Vader se liefde vir die wêreld word gesien in elke aksie van sy Seun wat mens geword het vir ons (1Jn 4:14). Hy trek ons na die gekruisigde Christus toe (Joh 12:32). God is ‘n persoonlike God, ons Vriend, wat Hom aan ons in sy Seun openbaar. Liefde is ‘n verhoudingsterm. Dat God liefde is, verwys dit na die verhouding tussen die Vader en die Seun en die Gees. Liefde is die eenheidsband tussen die Vader en die Seun en die Heilige Gees (Joh 3:35; 14:31; 17:24). In hierdie liefdesverhouding is ons opgeneem deur die inwoning van sy Gees in en by ons (Joh 14:16-17; 15:9-10; 17:26).

 

4:9 ‘Hierin is die liefde van God aan ons geopenbaar:…’ – die liefde wat van God uitstraal is destyds aan mense geopenbaar.’ 1 Jn 3:16 het reeds gesê: Hieraan ken ons die liefde: Jesus het sy lewe vir ons afgelê.

‘…dat God sy enigste Seun na die wêreld gestuur het…’ die vorm van die werkwoord dui ‘n handeling in die verlede aan, waarvan die gevolge voortduur. Die ‘enigste Seun’ is volgens die Ou Testament nie slegs die enigste kind nie (Rigt 11:34), maar ook die geliefde kind (Gen.22:2, soos in Mk 1:11; 9:7).

‘sodat ons deur Hom kan lewe’ – die werkwoordsvorm dui aan dat ons deur Hom kan begin lewe, die begin van ‘n voortgaande proses, waarmee God besig is met ons, waarin ons betrokke is en waarvoor ons self ook verantwoordelik is. ‘Lewe’ is in 1 Jn 1:1-3 verduidelik as ‘n lewe in gemeenskap met die Vader en sy Seun, Jesus Christus (wat self ‘Ewige Lewe’ genoem word). In Joh 6:57 sê Jesus: ‘Soos die lewende Vader My gestuur het, en Ek deur Hom lewe, so sal hy wat My eet, ook deur My lewe’ – om deur Hom te lewe is ‘n lewe wat deur Jesus bepaal en gelei word, nie volgens my eie wil en wense nie, maar soos die Seun vrywillig die wil en wense van sy Vader uitgevoer het.

 

4:10   Hierdie vers verduidelik hoe ons die Vader se liefde en ‘n lewe in sy liefde kan beleef ‘deur’ die werk van die Seun.

‘hierin bestaan die liefde…’ – wat die liefde werklik is, word uitgespel: ‘nie dat ons God liefgehad het nie, maar dat Hy ons liefgehad het…’ Dit is nie die mens wat God liefgehad het en daarmee voortgaan nie, maar God se ewige liefde vir die mens het vir Jesus op dié bepaalde tydstip in die geskiedenis gestuur. God is die bron wat liefde skep. Dit word beklemtoon deur die negatiewe en die positiewe stelling in hierdie sin. Die mens se liefde vir God het vér tekort geskied. Maar as die liefde van God deur die Heilige Gees in ons kom woon, kan ons begin om God opreg lief te hê.

‘en sy Seun gestuur het as soenoffer vir ons sondes’ – die woord ‘soenoffer’ wys na die middel waardeur sondes vergewe word. Die Seun van God is die enigste soenoffer wat God en mens versoen. Jesus se offer van Homself is deel van die liefde van God. Die stuur van sy enigste/geliefde Seun as ons soenoffer is deel van die Vader se onbaatsugtige liefde. In 2:2 het Johannes reeds gesê: ‘Jesus is die versoening vir ons sondes; en nie net vir ons sondes nie, maar ook vir dié van die hele wêreld.’ Hy het ons sondeskuld en sondesmet op Hom geneem, en alles opgeruim wat skeiding tussen God en die mens maak. God het ons gerehabilteer en neem ons weer op in sy gemeenskap. Daar kan geen groter bewys van sy liefde wees nie. Voortaan kan sy liefde ons aanraak, opwek, ons insluit en ons meevoer op sy pad.

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




Die Eerste Brief van Johannes: Die derde vereiste vir kinders van God – weerstaan wêreldgesindheid (4:1-6) (b) Julle is uit God (4:4-6) – Francois Malan

4:4 ‘Julle,…’ verwys na die Jesus-belyers teenoor dié wat Hom nie bely nie. ‘Julle’ wat in Jesus glo ‘is uit God.’ Dit is deur God dat hulle in Jesus glo, deur die Heilige Gees wat hulle oortuig het om in Jesus te glo, sodat hulle besluit het om Hom as die Here van hulle lewe te volg. Johannes spreek sy mede-volgelinge van Jesus weer aan as ‘liewe kinders.’ Dit is Jesus se liefde wat deur Johannes sy geestelike kinders bemoedig.

‘en julle het hulle klaar oorwin…’ daarvan is hulle geloof in Jesus, deur God in hulle bewerk, die bewys. Die geloof in Jesus is reeds die oorwinning oor die ongeloof en verleidende woorde en argumente van die vals leraars (vgl. 2:13-14 gelowiges het die Bose oorwin).

‘omdat Hy wat in julle is…’ verwys na God (3:20,24), die Vader (4:12,13,15) en die Seun (2:14; Joh 14:20,23; 17:23,26) en die Gees (Joh 14:16-17; 16:13-15) wat in hulle kom woon het. God

‘…groter is as hy wat in die wêreld is’ – dit is die Bose (2:13-14; 3:12), die duiwel (5:18-19). Die vals leraars is verbind aan ‘die wêreld’ wat teenoor God staan, met die gedagtes, wysheid, en strominge van die wêreld. Johannes is seker dat die Almagtige God in die gelowiges is, en daarom kan die getroue gelowiges seker wees van hulle oorwinning.

.

4:5 ‘Hulle…’ word voorop in die sin beklemtoon teenoor ‘julle’ in vers 4: ‘hulle is uit die wêreld’ – die wêreld van mense in opstand teen God met die bose gesindheid van die Anti-chris, teen-Christus. Die wêreld is hulle oorsprong waaraan hulle behoort, hulle lidmaatskap. Dit word gestel teenoor ‘julle is uit God’ as die oorsprong van die gelowiges se kindskap.

‘en daarom praat hulle uit die wêreld’ – hulle praat vanuit die wêreld se siening, soos die wêreld wil hê dat hulle moet praat. Terwyl die ware gelowiges gelei word deur die gees/Gees van die waarheid (4:6), word ‘hulle’ deur die gees van die wêreld gelei (vgl. Joh 3:31).

‘en luister die wêreld na hulle’ – die wêreldlinge luister en aanvaar die dwalendes se siening oor Jesus en sy kerk met graagte, want hulle en hulle boodskap kom vanuit die wêreld se eie negatiewe sienings oor Jesus (Hy is òf te veel mens, òf te veel God vir hulle). Hulle boodskap is populêr in die wêreld. So word die ‘egte gelowiges’ van binne aangeval en van buite bedreig, maar hulle hoef nie te wanhoop nie, want God staan aan hulle kant. Hy het in hulle kom woon.

 

4:6 ‘Ons..’ met klem voorop om eie werkwoord te versterk, teenoor 4:5 se ‘hulle.’ ‘Ons, ons is uit God; en wie God ken, luister na ons.’ Ons – die skrywer en sy lesers, alle egte gelowiges, ‘…kom uit God’ – deur sy werking in ons het ons tot geloof gekom in Jesus as die Seun van God wat waarlik mens geword het vir ons.

‘en wie God ken, luister na ons’ – die werkwoord in die teenwoordige tyd veronderstel ‘n verhouding met God wat voortduur en groei – om in ‘n geloofsverhouding met Hom te lewe. So iemand luister na die egte getuienis oor Jesus deur die gemeente. Soos die wêreldlinge na mekaar luister, hoor die gelowiges mekaar se getuienis oor Jesus, en word daardeur versterk in hulle geloofsverhouding met God; so ook dié mense uit die wêreld in wie God besig is om te werk om tot geloof in Jesus te kom.

Die negatiewe word daarteen gestel: ‘Wie nie uit God is nie, luister nie na ons nie.’ Wie nie in Jesus glo nie, ken nie die ware God nie, lewe nie in gemeenskap met Hom nie – al maak hulle daarop aanspraak dat hulle God ken (soos die Jode wat nie God se Seun wil aanvaar nie, en ook nie die Grieke met hulle afgode en filosofiese strominge nie). Die teenstelling impliseer ook ‘n beroep op die gelowiges om die verleiding van die wêreldse gesindheid van die vals leraars te weerstaan en in gemeenskap met God te volhard.

‘Hieruit ken/herken ons die gees van die waarheid en die gees van die dwaling’ – in 2:20 is reeds gesê: julle is egter almal deur Christus gesalf met die Heilige Gees, en julle ken almal die waarheid. Daarom kan ons die persoon wat met die waarheid van God af kom onderskei van die persoon wat met die verleidende gees van die wêreld/Antichris/duiwel die waarheid oor Jesus en God verdraai. Die persoon wat deur die Heilige Gees gelei word, bely die waarheid oor Jesus en word deur God se kinders aanvaar; die persoon wat die waarheid oor Jesus en oor God verdraai, word deur die gees van die wêreld gelei, en sy siening en lewenswyse kan en moet deur die gelowiges weerstaan word, want God wat groter as die duiwel is, is in hulle (4:4). Die toetssteen of iemand uit God is, is of die persoon na ons boodskap oor Jesus, die Seun van God se menswording luister/aanneem of nie. Die vals profete het ook daarop aanspraak gemaak dat hulle God ken, maar omdat hulle nie ontvanklik is vir die boodskap van Jesus Christus nie, toon hulle dat hulle geen verbindtenis met God het nie.

 

In 4:1-6 stel Johannes dat die geloof van die gemeente en van elke lid daarvan ‘n teken is dat hulle God ken en gelei word deur die Gees van God. Elke gees wat egte getuienis lewer oor Jesus, kom van God af. Dit is die toets vir hulle getuienis, ook vir elkeen wat na hulle luister. Terwyl die dwaalleraars in die wêreld van die Bose is, en die Bose in hulle wêreld woeker, is die gelowige in Christus en Christus in die gelowige. Johannes moedig sy lesers aan om die ‘wêreldse’ denke en lewenswyse te verwerp, en te lewe as kinders van God deur te onderskei wat waar is (4:1-3), en die waarheid van God hulle lewenswyse te maak (4:4-6).

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




Die Eerste Brief van Johannes: Die derde vereiste vir kinders van God – weerstaan wêreldgesindheid (4:1-6) (a) Toets die geeste (4:1-3) – Francois Malan

Wêreldgesindheid is hier in die eerste plek ‘n verkeerde lewenshouding; die neiging om aan ‘n gemeenskap te behoort wat nie vir God reg ken nie. Hier gaan dit veral oor ware geloof in God teenoor ‘n valse lering oor God, oor goddelike waarheid teenoor wêreldse dwaling.

In hierdie ses verse word die woord ‘gees’ of ‘geeste’ deurgaans gebruik vir mense wat geïnspireer word òf deur die Heilige Gees òf deur die gees van die wêreld/antichris/duiwel.

 

4:1 ‘Geliefdes…,’ kort-kort word die lesers in die brief liefdevol aangespreek om hulle dringende aandag vir die volgende saak te vra.

‘… moenie elke gees glo nie,…’ moenie elke mens wat beweer dat hy deur ‘n gees geïnspireer is se woord aanvaar vir die waarheid nie. Dit beteken ook: moenie in die mag van elke gees beland nie. 3:24 het gehandel oor die Gees wat God aan ons gegee het. Hier word gewaarsku dat daar ook vals geeste is, nie die Gees van die waarheid nie, maar leuengeeste (vgl. Ef 6:12).

‘…maar toets die geeste…’ – in 1 Kor 12:10 verwys Paulus na die gawe wat party het om tussen die geeste te onderskei. In 1 Tes.5:21-22 is dit ‘n opdrag vir elke gelowige, soos hier in 1Jn, dat elke gelowige die opdrag het om die egtheid te toets van die mense wat beweer dat hulle deur die Gees gelei word. Elke gelowige het die ‘salwing’ van die Heilige Gees daarvoor (1 Jn 2:20,27).

‘…of hulle van God kom…, – of hulle uit God voortkom en van Hom afhanklik is. Dié wat van die gemeente afgedwaal het, beroep hulle ook op die Gees, en roem oor besondere openbarings van die Gees. Nie alle entoesiasme kom van God af nie (die Griekse woord enthousiasmos beteken om deur ‘n god geïnspireer of in besit geneem te wees). Nie almal wat beweer dat hulle deur die Gees gelei word, word deur die Heilige Gees gelei nie, maar dikwels deur hulle eie gees of deur dwaalgeeste. Die gelowiges moet toets of die gees van God of van die Bose af kom. In 4:2,7 gee Johannes die maatstaf vir die toetsing, nl. die regte belydenis van Jesus, wat sê hulle oor Jesus? en of dit liefde vir mekaar bevorder (3:23).

‘…want baie vals profete het (van ons) uitgegaan in die wêreld in’ – in 2:18-19 is reeds van hulle gepraat en word hulle antichriste genoem, wat uit die gemeente ‘uitgegaan het’ en hulle rug op Jesus en sy gemeente gedraai het, soos Judas wat van Jesus en sy dissipelgroep ‘uitgegaan het’ (Jn 13:30) om Jesus te gaan verraai. Hulle is ‘in die wêreld in’ – die wêreld van ongeloof in Jesus. Dit is die wêreldgesindheid waarvan Johannes hier praat, waarvoor die gemeentes moet oppas (vgl. 2 Tim 4:10). Jesus het gesê: ‘…vals christusse en vals profete sal na vore tree en hulle sal tekens en wonderwerke doen om, indien moontlik, die uitverkorenes te laat afdwaal. Maar julle moet op julle hoede wees…’ (Mk 13:22-23).

 

14:2 Die toets wat die gelowige onder leiding van die Heilige Gees moet aanwend om die ware inspirasie van die valse te onderskei is die belydenis oor Jesus, dat Hy van God af gekom het en mens geword het – die toets vir onderskeiding van die geeste word in 4:6 met die gelowige se belydenis herhaal , en omring so 4:3-5 se kontraste: waarheidsgetuienis-vals profesie, God/Jesus-duiwel/antichris, God se mense-wêreld se mense.

‘Hieraan ken julle die Gees/gees van God…’ – as ‘die Gees’ na die Heilige Gees verwys sou dit beteken: dit is hoe julle kan herken wie deur die Gees geïnspireer is, of: as ‘die gees’ na die gees van die mens oor God verwys sou dit beteken ‘dit is hoe julle die gees/mens wat van God af kom kan herken. Johannes het skynbaar albei die gedagtes, dat die gees van die mens wat na julle toe kom van God af is, en dat dit ook verwys na die Gees van God wat die mens se gees inspireer.

‘Elke gees wat bely dat Jesus Christus as mens gekom het, is uit God’ – dit gaan daarom dat die persoon wat na jou toe kom die waarheid oor Jesus bely: dat Jesus Chrustus van God af gekom het en mens geword het (letterlik: in die vlees gekom het, soos in Joh 1:14; en 6:51-55 sy vleis eet en sy bloed drink – dat Hy waarlik ‘n swakke mens geword het). Dit word bely teenoor die Grieke wat nie glo dat Jesus ten volle mens geword het nie, en teen die Jode wat nie sy godheid kan aanvaar nie. Die voltooide vorm van die werkwoord ‘gekom het’ impliseer dat Jesus se koms in die verlede steeds deurwerk in die hede. Die Seun van God het ten volle in ons geskiedenis ingetree as die tussenganger tussen ons en die Vader. Dit is nie slegs ‘n geloofsartikel nie, maar wys na ‘n egte persoonlike verhouding met God deur Jesus, en na die gevolg daarvan vir die manier waarop ons lewe.

 

4:3 Teenoor die persoon wat Jesus (so) bely, stel Johannes: ‘en elke gees wat dit nie van Jesus bely nie, is nie uit God nie…’ Johannes maak ‘n skerp teenstelling tussen waarheid en valsheid. Die valse verdwaalde gelowe in en om die gemeente is ‘n antichristelike opstand teen God. Dit gaan om Jesus self, die regte beoordeling van sy identiteit. Wie Hom nie bely as ewige God wat ware mens geword het nie, bewys dat sy gees nie uit God is nie,

‘…maar is die gees van die Antichris, van wie julle gehoor het dat hy/dit aan die kom is en nou reeds in die wêreld is.’ Dit is die gees wat mense weglei van Jesus af, en daarmee bewys hulle dat hulle nie aan God behoort nie. Al praat hulle hoe vroom oor God. Wie ookal vir Jesus verloën, het vir God verwerp, en daarmee sy verlossing vir die mens (Jn 5:23).

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Opvoeding(7) Interessante Bybel Gedeeltes – Hennie Stander

“Tugmeester”?

Galasiers 3:24. Die Griekse woord paidagogos word in die Ou Afrikaanse Vertaling met tugmeester vertaal. In die antieke tye was die paidagogos ‘n man (gewoonlik ‘n slaaf) wat verantwoordelik was om die Griekse kind na die skool toe te neem en weer terug huis toe. Hy het ook die verantwoordelikheid gehad om sorg te dra vir die algemene gedrag van die kind. Die Griekse woord het dus later die betekenis van gids, voog of leier aangeneem. In hierdie gedeelte sê Paulus dus dat die Wet ons gids was wat ons na Christus toe gelei het

Die Hebreeuse alfabet

Psalm 37; Psalm 111; Psalm 112; Psalm 119. Op etlike plekke in die Ou Testament (Ou Afrikaanse Vertaling) sien ons die woorde alef, bet, gimel . . . Dit verteenwoordig die letters van die Hebreeuse alfabet. Hebreeuse digters was nogal lief om gedigte te skryf waarin elk van die volgende reëls met die volgende letter van die Hebreeuse alfabet begin het. Die ekwivalent daarvan in Afrikaans sou wees indien ons ‘n gedig sou skryf waarvan die eerste reël of vers met ‘n “a” begin, die tweede met ‘n “b’, die derde met ‘n “c’, ens. So ‘n gedig word ‘n akrostikon genoem. Dit is natuurlik feitlik onmoontlik om ‘n Hebreeuse gedig wat in hierdie vorm geskryf is net so in Afrikaans te behou wanneer ‘n mens dit vertaal. In die Ou Afrikaanse Vertaling is die Hebreeuse letters telkens in hakies gesit om iets van die oorspronklike vorm weer te gee, maar in die Nuwe Vertaling is dit net uitgelaat.

 

Skrywer:  Prof Hennie Stander