Ek is geïrriteerd

 

Don’t allow the Internet to become your congregation. YouTube is a horrible place to go to church. —Albert Mohler

 

Ek is geïrriteerd

‘n Sagte antwoord laat woede bedaar; ‘n krenkende woord laat woede ontvlam (Spreuke 15:1).

As ek geïrriteerd is plaas ek ‘n las op ander, want my skerp woorde maak dat hulle kwaad word. Ons probeer altyd ander mense blameer – dit is hulle wat my irriteer. Paulus sê die liefde word nie geïrriteerd nie (1 Korintiërs 13:5 – Interliniêre Bybel).

 

Geïrriteerdheid se oorsaak is gewoonlik selfsugtigheid – dit is gewoonlik omdat ons iets wat ons wil hê nie kan kry nie.

Wat ons begeer is dikwels nie verkeerd of sondig nie, maar ons selfsugtige reaksie beteken dat ek God nie vertrou nie.Vertrou altyd op Hom (Psalm 62:9). Dit is ook dikwels omdat ek iemand anders nie waardeer, liefhet of dien nie. Liefde is nie geïrriteerd nie.

 

Alles goed en wel, maar wat kan ek doen om minder geïrriteerd te wees?

  • Stop en bely dat jy verkeerd is. Vra vir jouself: “Wat begeer ek wat ek nie kan kry nie?”
  • Vertrou beloftes soos 2 Korintiërs 9:8 (En God is by magte om aan julle alles in oorvloed te skenk, sodat julle in alle opsigte altyd van alles genoeg kan hê), Filippense 4:19 (En my God sal in elke behoefte van julle ryklik voorsien), ens. Hulle sal jou help om die versoeking van geïrriteerdheid te oorwin.
  • Gehoorsaam. Moet dan nie toelaat dat die sonde nog langer oor julle heerskappy voer en julle die begeertes van julle sterflike aardse bestaan laat gehoorsaam nie (Romeine 6:12). As ons besef dat liefde nie geïrriteerd word nie, sal ons emosies mettertyd aan sy opdragte gehoorsaam wees. As julle my liefhet, sal julle my opdragte uitvoer (Johannes 14:15).
  • Beplan. Dink voor jy iets doen of sê. Dit kan jou help om die versoeking van geïrriteerdheid teen te staan. Vra jouself af: “Wanneer is ek geïrriteerd?” Vra ander om jou te help om hierdie vraag te antwoord. Plaas dan sisteme en gewoontes in plek wat hierdie struikelblokke sal verwyder.

 

Dit gaan nie maklik wees nie. Om gewoontes te verander is harde werk. Werk daaraan.

 




Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Opvoeding(1)

Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Opvoeding(1) – Hennie Stander

Opvoeding is noodsaaklik sodat die vaardighede en die insig wat deur een geslag verwerf is, oorgedra kan word na ‘n ander geslag. ‘n Mens moet egter nie die fout maak om te dink dat skole en formele onderrig eers in die moderne era ingestel is nie. Reeds in die antieke tye was daar georganiseerde opvoeding van kinders.

Sumeriese opvoeding

Toe God vir Abraham geroep het om die stad Ur in Sumerië te verlaat om te trek “na die land toe wat Ek vir jou sal aanwys” (Genesis 11:31-12:5), was dit inderdaad ‘n daad in die geloof. Ur was reeds ‘n ontwikkelde stad, en Abraham is geroep om dit te verlaat vir die onbekende. Die Sumeriërs, wat tussen die Tigris- en die Eufraatrivier gewoon het, het reeds meer as 3000 jaar v. C. oor ‘n skryfsisteem beskik. Hulle skryfmateriaal was kleitablette. Hulle het die tablet in hulle linkerhand vasgehou en dan met ‘n riet- of metaalstilus skriftekens op die nat, gebreide klei afgedruk. Die punt van die stilus was wigvormig en dus het die skriftekens soos ‘n groepering van wiggies of spykers gelyk – vandaar die naam spykerskrif.

Argeologiese vondse uit hierdie tyd toon aan dat daar baie skole was in antieke Sumerië. In hierdie skole is die leerlinge opgelei vir religieuse, handels en regeringstake. Die onderrig was duur en verder was dit ook vrywillig. Die leerlinge het dus uit die hoër klasse van die samelewing gekom. Die leerplanne het gehandel oor wiskunde, tale, aardrykskunde, plantkunde, dierkunde en ander kulturele studies. In die stad Mari is tablette gevind wat oefeninge van kinders bevat met die onderwysers se korreksies daarop wat in die klei aangebring is. ‘n Leermeester is ‘n vader genoem en hy het sy leerlinge as seuns aangespreek. Hierdie leermeesters het die skool met die hulp van assistente bedryf. Daar was selfs onderwysers vir spesifieke vakke.

kaart

 

Op een tablet wat daar gevind is, word vertel wat ‘n seun in die skool gedoen het: “Ek het my tablet gelees, my ete genuttig, my tablet voorberei, daarop geskryf, en dit voltooi”. Vir ongehoorsame leerlinge is die roede gebruik. Die ouers moes self betaal vir die opvoeding. Daar is natuurlik geen bewys dat Abraham so ‘n “tablethuis” (soos hierdie skole genoem is) bygewoon het nie. Nogtans moet ons besef dat hy nie uit ‘n onbeskaafde en ongeletterde wêreld gekom het nie.

 

Skrywer:  Prof Hennie Stander

 




Moet mense volgelinge van Jesus Christus wees?

The role of a pastor is not to grow a big church. The pastor’s role is to grow mature disciples who make disciples. — Rick Howerton

 

Moet mense volgelinge van Jesus Christus wees?

‘n Leser vra vir Lee Strobel: Is dit nie ‘n bietjie meerderwaardig om te sê dat jy ‘n volgeling van Jesus moet wees as jy in die hemel wil kom nie?

 

Lee Strobel antwoord: Dit kan sekerlik so klink. Ongelukkig is sommige Christene baie arrogant in die manier waarop hulle hulle geloof uitleef en aan ander kommunikeer. Die egte Christelike geloof is alles behalwe arrogant en eksklusief.  Kom ons verbeel ons daar is twee klubs. Om lid te word van die eerste klub moet jy ‘n lang lys streng reëls nakom – jy moet jou lidmaatskap verdien.

Jy moes iets in die lewe bereik het; jy moet ‘n lang lyse vereistes nakom voordat jy ‘n lid kan word. Ten spyte van al hulle pogings is daar baie mense wat dit nie maak nie – hulle word uitgesluit. Dit is hoe ander godsdienssisteme is.

 

Die tweede klub se deure staan wyd oop. Hulle nooi almal in – ryk en arm, swart en wit, maak nie saak waar jy woon nie. Hulle wil jou graag insluit by hulle klub. Toegang word nie deur jou kwalifikasies of pogings bepaal nie – jy moet net die uitnodiging aanneem. Jesus het reeds vir jou lidmaatskap betaal. Jy moet besluit, maar die klub sal jou nooit wegwys as jy in nederigheid en opregtheid toegang soek nie. Dit is hoe die Christendom is.

 

Watter klub is arrogant? Christene is nie arrogant nie, hulle is gasvry. Hulle verbeel hulle nie hulle is beter as ander nie – nee, hulle erken hulle eie swakhede en nooi ander wat swak voel om by hulle aan te sluit om te kry wat hulle deur Christus gekry het.

 

N. T. Niles som opregte Christenskap goed op as hy sê ons is een bedelaar wat vir ‘n ander bedelaar vertel waar hy kos kan kry.

 

 Die Gees en die bruid sê: “Kom!” En elkeen wat dit hoor, moet sê: “Kom!” En elkeen wat dors het, moet kom; elkeen wat die water van die lewe wil hê, moet dit kom kry, verniet! (Openbaring 22:17).

 




Die baie godsdienste

 

Peace is the smile of God reflected in the soul of the believer. —William Hendricksen

 

Die baie godsdienste

‘n Leser vra vir Lee Strobel, bekende skrywer: “Ðaar is so baie godsdienste – hoe kan ons seker wees dat die Christelike geloof die regte een is?”

 

Hy antwoord: Geen twyfel nie. Mense glo allerhande godsdienstige idees. Meeste mense is opreg in wat hulle glo. Ons moet hulle met respek hanteer: Wees altyd gereed om ‘n antwoord te gee aan elkeen wat van julle ‘n verduideliking eis oor die hoop wat in julle lewe. Maar doen dit met beskeidenheid en met eerbied vir God (1 Petrus 3:15 – 16). Ons moet hulle reg om hulle godsdiens vryelik te beoefen beskerm – ook ons eie reg om dit te doen.

 

 

Mense kan opreg wees, maar steeds verkeerd wees. Alle godsdienste kan onmoontlik nie reg wees nie, want op basiese punte weerspreek hulle hulleself. As voorbeeld kyk net wat leer hulle oor God:

  • Boeddhisme ontken die bestaan van God
  • Hindoïsme leer dat alles deel is van ‘n onpersoonlike god (panteïsme)
  • Die Christendom leer dat daar een persoonlike God is wat alles gemaak het.

 

Ons word dus gedwing om tussen die verskillende geloofsisteme te kies. Moet ons hierdie besluit neem op grond van ons tradisies of op grond van wat ‘n gesagsfiguur vir ons sê of moet ons glo of wat ons in ons harte voel. Hierdie is baie gevaarlik maniere om besluite te neem.

 

 Strobel se benadering is dat ons ‘n keuse moet maak op grond waarheen logika en die bewyse wys terwyl ons God vir leiding vra. Dit het hom laat besluit op die Christelike geloof.

 

 Kom ondervind en sien self dat die Here goed is. Dit gaan goed met die mens wat by Hom skuil (Psalm 34:9). Die psalmis is reg; kom en ondervind daardie seëninge. Dan sal ons kan getuig dat die psalmis reg was – die Here is werklik en Hy is goed.

 

Ek is die Here jou God wat jou onderrig tot jou beswil, wat jou lei op die pad waarop jy moet gaan (Jesaja 48:17).