Niemand besoek die gemeente nie

We belong to Jesus because He has purchased us by His blood. He will not return or exchange what He has bought. —Anthony Carter

 

Niemand besoek die gemeente nie

Dit is interessant dat sekere gemeentes gereeld besoekers kry terwyl ander (waarskynlik die meerderheid van gemeentes)  feitlik nooit besoekers kry nie. Hoekom? Bill Tenny-Brittian noem vier redes waarom sekere gemeentes gereeld besoekers kry.

  • Lewens word verander en mense weet dit

Die bestaansrede vir die gemeente is om dissipels van Jesus Christus te maak. As iemand besluit om Jesus te volg, verander sy lewe – radikaal. Sy gedrag verander; verslawings word oorwin; verhoudings word herstel – sy hele lewe word aangeraak. As ‘n lewe verander, hoor mense daarvan en as mense daarvan hoor, kom kyk hulle.

Gemeentes waar lewens verander word, sien nuwe besoekers … gereeld.

 

  • Lidmate is opgewonde

Lewensverandering maak mense opgewonde. Dit is nie die enigste ding wat lidmate opgewonde maak nie. ‘n Spesifieke gebeurtenis of preekreeks kan die vlak van opgewondenheid in die gemeente laat styg. Gemeentes wat opgewondenheid skep en vertroetel, maak lidmate opgewonde. Opgewonde lidmate nooi besoekers.

 

  • Die gemeente het iets wat die moeite werd is om mense na uit te nooi.

Gemeentes met geteikende eredienste en met uitmuntenheid uitgevoer, sien gereeld besoekers. As ‘n lidmaat of besoeker ‘n erediens bywoon wat by hom aanklank vind en vir hom relevant is, sal hy ander uitnooi om ook die eredienste by te woon. Hy weet dat die erediens ook by hulle aanklank sal vind. Gemeentes baat van ‘n gereelde stroom besoekers as dit geteikende gebeure aanbied – gebeure waarvan lidmate oortuig is hulle vriende sal ook waardeer.

 

  • Die gemeente het besoekers-momentum

Dit word gesê dat ‘n blokkie 2,5 X 2,5 cm ‘n trein kan verhoed om vorentoe te beweeg. As die trein egter aan die gang is, sal ‘n muur dit nie eers keer nie. Gemeentes vind dit moeilik om die eerste klompie besoekers te kry, maar as die besoekers eers kom en uitvind hulle het iets ontdek wat die moeite werd is, nooi hulle ander uit. Nou word dit ‘n stroom besoekers. Besoekers wat terugkeer is die gemeente se doeltreffendste manier om ‘n eksponensiële styging in besoekers te sien. Momentum laat die stroom vinnig toeneem.

 

Daar is redes waarom sommige gemeentes elke week nuwe besoekers kry. Maak nie saak hoe groot die gemeente is nie, as nuwe besoekers opdaag en terugkeer, gaan die gemeente groei in getalle.

 

 




Het Jesus bloed gesweet in die tuin van Getsemane?

 

“People need to be reminded more than they need to be instructed.”   Samuel Johnson

 

Het Jesus bloed gesweet in die tuin van Getsemane?

‘n Leser vra vir Lee Strobel of Jesus werklik bloed gesweet het toe Hy in die tuin van Getsemane gebid het of is dit maar net beeldspraak?

 

Lee Strobel antwoord: Dr Alexander Metherell is ‘n geneesheer en kundige oor Jesus se kruisiging. Hy sê daar is ‘n bekende mediese toestand wat as hematidrose bekend staan. Dit is nie algemeen nie, maar kom voor in gevalle van erge sielkundige stres. Die oorsaak is dat onder erge spanning die liggaam chemilalië vrystel wat die klein bloedvaatjies in die sweetkliere afbreek.

Dit lei tot ‘n klein hoeveelheid bloeding in die sweetkliere. Sweet gemeng met bloed kom dan vry. Dit is baie klein hoeveelhede wat so vrygestel word.

 

Baie interessant is dat dit juis Lukas, die geneesheer, was wat hierdie verskynsel raakgesien het. Die direkte vertaling van die Interliniêre Bybel lees soos volg: Hy was in angs en het nog vuriger gebid en sy sweet het soos bloeddruppels geword wat op die grond val (Lukas 22:34).

 

Jesus se angs was sekerlik voldoende en kon hierdie mediese toestand veroorsaak het. Die Journal of Medicine het 76 gevalle van hematidrose ondersoek. Hulle bevinding was dat die algemene oorsake akute vrees en intense bepeinsing was.

 

Maar watter effek sou dit op Jesus gehad het? In gevalle van hematidrose word die vel breekbaar. Toe die soldate vir Jesus geslaan het, sou Jesus se vel baie sensitief gewees het.

 

Hoekom sou Jesus gewillig die lyding in Getsemane, die geseling en die kruisiging  verduur het?  Liefde.

Maar God bewys sy liefde vir ons juis hierin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was (Romeine 5:8).

 

 




Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Familie(8) – Interessante Bybelgedeeltes

Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Familie(8) – Interessante Bybelgedeeltes – Hennie Stander

Name

Die naam van God (El, Jahweh of Jah) het dikwels deel uitgemaak van iemand se naam. Dit word teofore genoem. Voorbeelde van sulke teofore is Abijah (“Jahweh is my vader”), Joram (“Jahweh is verhewe”), Eli(j)a (“Jahweh God”), Jeremia (“Jahweh grondves”), Jonatan (“Jahweh het gegee”), Josua (“Jahweh is verlossing”), Elisa (“My God is redding”).

Jesus se kinderdae

Lukas 2:21-40. Ons lees hier dat die kindjie Jesus op die agste dag besny is. Volgens die Wet was Maria vir veertig dae onrein nadat Jesus gebore is (Levitikus 12). Nadat hierdie tydperk verby is, het Josef en Maria na Jerusalem gegaan om die nodige offers te bring (vv. 22-24). Dit is duidelik dat Josef en Maria baie arm was, want hulle kon net twee duiwe bekostig (vgl Levitikus 12:8). Hierna het hulle met Jesus teruggegaan na Nasaret. Moontlik was Jesus byna twee jaar oud toe die Wyse Manne hul geskenke vir hom gebring het (vgl Matteus 2:16). Volgens Matteus 2:11 was Jesus nie meer in die stal toe hulle hom besoek het nie, maar in ‘n huis. Verder vertel die Bybel ons bitter min van Jesus se kinderdae. Daar het egter etlike buite-Bybelse geskrifte (Apokriewe) vir ons bewaar gebly wat allerhande verhale bevat oor wat Jesus as kind gedoen het.

 

Verbreking van die wette

Levitikus 18. Die wette van Levitikus 18 is nie altyd nagekom in die Bybelse tye nie. Sara was Abraham se halfsuster (Genesis 20:12), en ons lees in 2 Samuel 13 (vgl Levitikus 18:9-11) dat Amnon sy halfsuster Tamar onteer het. Moses se vader het met sy eie tante getrou (Eksodus 6:19; vgl Levitikus 18:12-13). Jakob het met twee susters getrou (Genesis 29:16-30; vgl Levitikus 18:18).

 

Weeklaag

Psalm 119:36; vgl ook Jeremia 9:1. Die psalmdigter weeklaag (soos wanneer ‘n mens iemand aan die dood afgestaan het) omdat die mense nie die gebooie van die Here onderhou nie.

 

Witgevertde grafte

Matteus 23:27. Die grafte in en om Jerusalem is altyd in die tyd voor pasga wit geverf sodat dit maklik raakgesien kon word. Die rede hiervoor was dat ‘n mens nie onwetend of onverwags aan ‘n graf sou raak wat ‘n mens onrein kon maak nie. Dit sou dan tot gevolg hê dat jy jouself weer ritueel moes reinig om aan die pasga te kon deelneem. Die Here vergelyk die Fariseërs hier met witgeverfde grafte – buite is hulle mooi wit, maar binne is hulle vol doodsbeendere.

 

Vastye en die huwelik

Matteus 9:14-15. Soos ons reeds gesien het, is daar vir ‘n volle week lank fees gevier wanneer ‘n huwelik gesluit is. Tydens so ‘n feesgeleentheid is daar nooit gevas nie, selfs nie op die tradisionele vasdae (die tweede en die vyfde dag van die week) nie. Jesus sê dus hier dat Hy, die Bruidegom (d.w.s die Messias), teenwoordig is. Die heilstyd het aangebreek en dus is daar net plek vir blydskap en vreugde.

 

Sadduseers en die Opstanding Matteus 22:23-33. Die Sadduseers was lede van ‘n Joodse godsdienstige party wat uit vername lae van die samelewing gekom het. Hulle het nie aan die opstanding van die dode geglo nie omdat hulle geglo het dat die Wet van Moses niks hieroor gesê het nie. Hulle het net die eerste vyf boeke van die Ou Testament as Skrif beskou.

 

Skrywer:  Prof Hennie Stander

 




Churchill en die huwelik

Avalanches of evil begin with a single pebble of sin. —John Piper

Churchill en die huwelik

Winston Churchill woon by geleentheid ‘n formele banket in Londen by. Al die hoogwaardigheidsbekleërs moes ‘n vraag antwoord. Die vraag was: “As jy nie kan wees wie jy is nie, wie sou jy graag wou wees?” Almal was nuuskierig om te hoor wat Churchill sou sê. Hy het langs sy geliefde Clemmie gesit.

Churchill was laaste op die lys. Sy antwoord: “As ek nie kan wees wie ek nou is nie, sou ek graag,” – hy bly stil en neem sy vrou se hand – “Lady Chrurchill se tweede man wou wees.” Ten spyte van sy ander foute was hy absoluut toegewy aan sy vrou.