Amos(9) – Francois Malan
Die sesde profesie (Amos 6:1-14)
Die sesde profesie gaan oor Israel as welvarende gemeenskap wat nie hulle ondergang verwag of sien kom nie, en die HERE se besluit om hulle oor te gee aan die gevolge van hulle lewenswyse, omdat hulle Hom en sy wet nie gehoorsaam en daarvolgens lewe nie. 6:1-7 Ballingskap kom vir die welvarende Israel. 6:1 ‘Wee (Hoi) dié wat hulle sorgeloos verlaat op Sion, dié wat hulle veilig voel op berg Samaria, (Wee) die vernames van die (twee) eersteling-volke na wie die volk van Israel kom.’ LXX Wee (Ouaì) aan die wat Sion as niks beskou en vertrou op die berg Samaria, wat voordeel trek van die heersers van die nasies (hulle vrugte gaan pluk) en in hulle self gekeer het. 2020: Wee dié wat gerus is in Sion, dié wat hulle veilig voel op die berg Samaria, die hooggeplaastes van die mees vooraanstaande nasies, na wie die volk van Israel kom. Amos huil, weeklaag, oor die twee hoofstede van Juda en Israel – Jerusalem wat Dawid op die berg Sion as koningstad gebou het (2 Sam 4:6-7;9-12), en Samaria wat koning Obed van Israel as sy koningstad gebou het (1 Kon 16:24). Soos in Amos 2:4-5 word Juda aangespreek saam met Israel (die LXX het die deelwoord ‘sorgeloses’ vertaal met ‘as niks beskou nie’ en dit geformuleer as ’n aanklag teen Israel wat neersien op Sion se godsdiens). Amos huil egter ook oor Juda wat sonder sorge is omdat hulle dink die HERE is tevrede met hulle lewe. Die argeloses in Israel het nie erg aan die woord van die HERE nie. Hulle sorgeloosheid het gegroei uit Juda en Israel se mening dat hulle beter is as die ander nasies. Hulle dink hulle is die twee hoof-volke, vir wie die HERE uit die nasies uitgekies het as sy volk (Amos 3:2). Amos huil oor die argelose leiers, die vernames na wie die volk kom vir raad, hulp en bystand. Maar die ironie is dat die HERE se twee uitverkore volke en hulle leiers die ander nasies se gode dien en hulle heidense lewenswyse aanvaar. Daarom huil Amos oor hulle, want hy weet ook wat die HERE se besluit oor hulle toekoms is. 6:2 ‘Gaan oor na Kalne en kyk, en loop vandaar na Hamat-Rabba (groot Hamat) en gaan af na Gat van die Filistyne. Is julle beter as hierdie koninkryke of hulle grondgebied groter as julle s’n? Israel se gebied is ’n bietjie groter as die stede rondom hom: Hamat noord van Israel, Kalne nog verder noord, Gat in die suide van Juda. Dit veral ná Jerobeam II se uitbreiding van sy gebied, en dit nogal soos die HERE gesê het omdat Hy hulle jammer gekry het (2 Kon 14:25-28). Maar Israel is baie kleiner as die groot magte, Assirië verder noord en Egipte verder suid. Amos spot eintlik deur hulle met die kleiner bure te vergelyk wat nie hulle groot bedreiging is nie. Eintlik is hulle grootste bedreiging die HERE, want sy uitverkore volk volhard met hulle afgodsdiens en heidense selfsugtige lewenswyse, teen sy duidelike opdragte en waarskuwings aan hulle (2 Kon 14:23-24). Die HERE het hulle juis uitgekies om sy Naam onder die volke uit te dra deur te lewe volgens sy woord. Sy opdrag is ‘wees heilig want Ek is heilig’ (Lev 11:45; 19:2; 20:7,26; 1 Petr 1:15-16). 6:3 ‘Julle wat meen die dag van onheil is nog ver, en die setel (troon) van geweld aanbring.’ LXX Julle wat na die dag van onheil toe beweeg, wat nader kom en valse Sabbatte aankleef (‘setel’ in Hebreeus sjêbêt; LXX se ‘Sabbatte’ in Hebreeus sjābbat – die vokale verskil). In Amos 5:18-20 is reeds gesê dat die dag van die HERE duisternis bring en nie lig nie. In die voorspoedige dae van Jerobeam II se bewind stel die leiers die bose dag ver weg in hulle gedagtes en woorde en optrede. Sorgeloos bring hulle die setel of troon van geweld nader. Dit het twee betekenisse. Hulle sorgelose lewenswyse is gebou op hulle geweld teenoor die swakkes. Dit bring egter ook die geweld van die HERE se toorn oor hulleself. Hoe dit in hulle troonsaal van ongeregtigheid gaan, word in verse 4-6 beskryf. Dit gaan oor die wantoestande in die binnelandse bestuur en in die ekonomiese lewe. Die ironie is dat hulle deur hulle geweld teen medeburgers die dag van die HERE se geweld oor hulle nader bring (vgl. Amos 3:10). 6:4 Julle wat op rusbanke met ivoorinlegsels aanlê (aan feestafels), wat uitgestrek lê op julle divans, wat jong ramme uit die kudde eet, en jong bulletjies uit die midde van die vetgemaakte kalwers.’ LXX Julle wat op ivoorbeddens slaap, wat losbandig/wellustig verkeer op julle oopgespreide beddens, julle wat jong bokkies uit julle kudde eet, en jong bulletjies uit die suigkalwers. Die lewe in weelde word deur Amos met unieke konkreetheid geskilder, met luukse rusbanke wat ryklik met ivoorinlegsels versier is waarop hulle aanlê aan tafel en nie meer sit soos in die vroeër dae nie (1 Sam. 20:5 – dit is die eerste keer dat aanlê aan tafel in Israel genoem word, ’n buitelandse vorm van hoogkultuur wat in later tye die gebruik by eetmale word, vgl Joh 13:12, 23). Maar dit is nie net blote gemaksugtigheid nie. Hulle hang (sāruach hang oor) ook dronk (vers 6) en dik gevreet oor die sofas, te dronk en oorvol om te loop. Hulle soek die sagste en vetste vleis uit die vetmaakkamp, waar die diere versorg word wat nie werk nie, maar net vetgemaak word vir slag. Die prominente mense in die samelewing aanvaar slegs uitsoekvleis. 6:5 Hulle improviseer (liedere) op die klank van die luit; soos Dawid dink hulle vir hulle musiek op instrumente uit.’ LXX Dié wat die geluid van musiekinstrumente (órganon) beheer wat hulle as permanent beskou en nie van verbygaande aard nie. 2020: Hulle neurie met begeleiding van die harp, soos Dawid improviseer hulle op musiekinstrumente. Van die Hebreeuse woorde is moeilik verklaarbaar. Die Hebreeuse woord vir ‘improviseerders’ (poretim) kom nêrens anders voor nie, en het moontlik verband met ‘n Samaritaanse woord vir sing. Moontlik gebruik Amos dit in ’n veragtelike sin van ’n onsamehangende gejubel van ’n groep papdronkes wat saam eet en met harpbegeleiding probeer sing. Feeste gaan gepaard met musiek. Die luit, ‘die tiensnarige instrument’ met ’n hol klankbord,’is reeds in 5:23 genoem. 2 Kron 29:27 praat van die musiekinstrumente van Dawid wat in Hiskia se dae gebruik is vir die herinwyding van die tempel. Amos spot met hulle wat probeer om soos Dawid liedere vir musiekinstrumente uit te dink. Amos het blykbaar die lawaai van die dronk mans se geïmproviseerde liedere beskou as tekens van die sorgelose selfvertroue van die vooraanstaandes in Samaria. Hulle dink blykbaar dat hulle met hulle dronkmansliedere in die spore van Dawid loop, wat die regverdiges oproep om te jubel oor die HERE met begeleide lofliedere (Ps 33: 1-5; 81:1-4; 98:4-6 .
Skrywer: Prof Francois Malan