Bedank ons Jesus genoeg?

 

Peace is the smile of God reflected in the soul of the believer – William Hendricksen

 Bedank ons Jesus genoeg?

1n 1 Timoteus 1:11 sê Paulus dat die evangelie aan hom toevertrou is. Hy het die voorreg om as apostel in diens van Christus te staan.  Nou kan hy nie anders as om eers sy betoog te onderbreek nie en opnuut sy verwondering en dankbaarheid oor die genade van God uit te spreek.  Die feit dat hy ‘n apostel is, maak hom klein voor God.  Teenoor Christus Jesus ons Here is ek dankbaar: Hy het my krag gegee en my betroubaar geag om my in sy diens te stel (1 Timoteus 1:12).

Daar is vier dinge waarvoor Paulus Jesus wil bedank:

 

  • Hy bedank Hom omdat Hy hom gekies het.  Paulus het nooit die gevoel gehad dat hy Christus gekies het nie, maar altyd dat Christus hom gekies het.  Dit was asof, toe hy reguit op pad was na selfvernietiging, Christus sy hand op sy skouer gelê het en hom weggetrek het.  Dit was asof, terwyl hy besig was om sy lewe weg te gooi, Christus hom tot sy sinne gebring het.  Paulus was Christus se man; Christus het hom gekies.
  • Hy bedank Hom omdat Hy hom betroubaar geag het.  Dit was altyd vir Paulus verbasend dat hy, die aartsvervolger van Christene, gekies is as sendeling van Christus.  Jesus het hom nie alleen vergewe nie, maar hom ook vertrou.  Ons vergeef soms iemand wat ‘n fout gemaak het of skuldig was aan een of ander sonde, maar ons maak dit baie duidelik dat omrede sy foute ons hom nooit weer kan vertrou nie.  Christus het vir Paulus vergewe en werk aan hom toevertrou.  Christus se vervolger word sy ambassadeur.
  • Hy bedank Hom omdat Hy hom in diens gestel het.  God het op die Damaskus-weg beslag gelê op sy lewe.  Hy het hom aangestel vir diens.  Paulus het nooit geglo hy is aangestel vir eer of vir leierskap in die kerk nie.  Hy is gered om te dien.  Hy staan langs sy Koning in die stryd.
  • Hy bedank Hom omdat Hy hom krag gegee het.  Paulus het lank gelede al uitgevind dat Christus nooit vir ons ‘n taak gee as Hy ons nie ook die krag gee om die taak te verrig nie.  Paulus sê nooit: Kyk wat het ek gedoen, nie.  Hy sê altyd: Kyk net waartoe het Christus my in staat gestel.  Geen mens is goed genoeg, rein genoeg, slim genoeg om Christus te dien nie.  Gee ons ons aan Christus, sal ons dien, nie in ons eie krag nie, maar in die krag van ons Here.

Is ons altyd dankbaar genoeg vir alles wat Jesus Christus vir ons gedoen het?




Wat is die gesonde leer?

 

We belong to Jesus because He has purchased us by His blood. He will not return or exchange what He has bought. —Anthony Carter

 

Wat is die gesonde leer?

Die gesonde leer is in ooreenstemming met die evangelie wat aan my toevertrou is, die evangelie van die heerlikheid van die goeie God (1 Timoteus 1:11)

In hierdie bose wêreld kom die Christelike boodskap.  Dié gedeelte vertel ons vier dinge oor hierdie boodskap:

 

  • Dit is die gesonde leer.  Die woord beteken letterlik “gesondheid gee”.  Die Christendom is ‘n etiese godsdiens.  Dit vereis van ons nie net die onderhouding van sekere rituele en wette nie, maar die leef van ‘n gesonde lewe.  Om Christen te wees, beteken nie dat ons  sekere rituele moet nakom nie – al is die ritueel Bybellees en kerk toe gaan.  Dit beteken om ‘n goeie lewe te leef.  Ware Christelikheid is genesend; dit is die morele antiseptikum wat ons lewe reinig.
  • Dit die evangelie van heerlikheid.  Dit is heerlike goeie nuus; goeie nuus van vergifnis van sondes en die mag om sonde te oowin in die toekoms; goeie nuus van die genade en redding van God.
  • Die nuus kom van die goeie God.  Die Christelike godsdiens is nie ‘n ontdekking wat ‘n mens gemaak het nie; dit is deur God geopenbaar.  Dit bied nie alleen die hulp van mense aan nie, maar ook die mag van God.
  • Die nuus kom deur mense.  Dit is aan Paulus toevertrou om dit aan ander mense oor te dra.  God maak sy aanbod; Hy benodig boodskappers.  Die ware Christen aanvaar die aanbod van God, maar besef dat hy nie sulke goeie nuus vir homself mag hou nie – hy moet dit vertel aan ander wat dit nog nie gehoor en hul eie gemaak het nie.

 

Dit is die gesonde leer – die Goeie Nuus – wat ons aan ander moet oordra.

 




Die Eerste Brief van Johannes: Gesalf met die Gees Die vierde vereiste om in die lig te kan lewe – behou die geloof en oorwin die antichris (vervolg). (b) Gesalf met die Gees (2:20-22)

2:20 ‘Maar julle het die salwing/aanstelling deur die Heilige en julle almal weet,’ Die lidmate wat weggebreek het, het Jesus se ware wese as God en mens misken. Daarteenoor is een van die kenmerke van dié lidmate wat die geloof in Jesus behou het, dat hulle hulle inwyding in die gesin van God, en hulle toewyding aan Jesus en sy voortgesette taak in die wêreld, van die Heilige ontvang het.

Die naam ‘die Heilige’ vir Jesus word ook genoem in Jn 6:69, Mk 1:24 en Lk 4:34 as ‘die Heilige van God;’ vgl. Lk 1:35 die kind sal heilig genoem word. In die Ou Testament word ‘die Heilige’ of ‘die Heilige van Israel’ dikwels vir die God van die verbond gebruik (bv. Jes 40:25; 1:4).

Die woord chrisma ‘salwing’ met olie, word hier figuurlik gebruik vir die inwyding of aanstelling van iemand vir ‘n taak, met die implikasie van bonatuurlike sanksie, seën en toerusting daarvoor. Daar is ‘n spel tussen die woord chrisma ‘salwing’ en Christus ‘Gesalfde’ en die antichristoi ‘dié wat teen die Gesalfde is.’ Die getroue gelowiges het die goddelike ‘chrisma, salwing’ ontvang en is daarom christene ‘gesalfdes/ingewydes/aangesteldes’ van God.

    In die Ou Testamernt is mense met olie gesalf as teken dat hulle deur God aangewys is en met die Gees van God toegerus is vir hulle taak: (i) as priesters (vgl. Eks 29:7; 40:15) – selfs om die tent van ontmoeting en alles daarin aan die Here te wy (Eks 30:25-29) – (ii) as koning (1 Sam 10:1; 16:13), (iii) as profeet (1 Kon 19:16). So sê Paulus in 2 Kor 1:21-22 dat God ons in Christus ‘n vaste fondament gegee het, en ons gesalf het, wat ons ook verseël het (as sy eiendom), en die Gees as waarborg in ons harte gegee het.

    Christus is die Woord van God (Jn 1:1), en die Heilige Gees word die Gees van die waarheid genoem, wat in ons bly (Jn 14:17), wat oor Jesus getuig (Jn 14:26) en die gelowige in die volle waarheid inlei (Jn 16:13) ; 1 Jn 2:14 sê: die woord van God bly in julle, So bind die Heilige Gees ons aan Christus en sy woord, die woord van God. Daarom is ons as ‘gesalfdes,’ aan God en sy Woord gewy, as getuies van die Woord van God wat mens geword het. Elke gelowige het die chrisma, ‘aanstelling,’ deur die Heilige God, sodat Jesus sy bediening voortsit om God se liefde vir die wêreld te verkondig deur die Heilige Gees van die waarheid in en deur elke gelowige – ‘julle almal weet,’ julle almal ken die ware Jesus en is deur die Heilige Gees in staat om julle ‘opdrag’ van God uit te lewe en van Jesus te getuig. Dit sê Johannes vir elke gelowige, teen die Hellenistiese afgedwaaldes wat beweer dat net húlle groepie die ware kennis oor God het.

    Dat Jesus die ‘Heilige van God’ is (Jn 6:69), sê Johannes teen die Joodse afgedwaaldes wat maar net nie wil glo dat Jesus hulle verwagte Messias is, en self God is nie.

    Die ‘salwing’ met die Gees (2:20) en met die woord van God (2:27) word in 3:24; 4:13; 5:6 breër uitgewerk.

2:21 Dit wat Johannes vir die gemeentes geskryf het oor die voorwaardes vir ‘n lewe in die lig, is nie onbekend by hulle nie. Dit is juis ‘n bevestiging van die waarheid oor die wese van God, wat Hy deur Jesus Christus geopenbaar het. Daar kom geen valsheid uit dié waarheid, wat die Heilige Gees hulle geleer het nie. Die getroue gelowiges kan onderskei tussen waarheid en leuen. Waarheid kom van God en die leuen van die duiwel (Jn 8:44). Gelowiges lewe in die goddelike werklikheid van Christus (v20). Daarom moet hulle in dié waarheid volhard.

2:22 Die eerste kenmerk van ‘n gelowige is dat hy die waarheid ken, deur die Gees van die waarheid in hom. Die Gees bind hom aan Christus en sy woord, en daarom kan hy onderskei tussen die waarheid en die leuen (2:21).
Die tweede kenmerk word in 2:22-23 beskryf: die ware gelowige glo dat Jesus die Messias/Christus/God se Gesalfde is, terwyl diegene wat sy Messiasskap loën, aan die kant van die antichris staan.
‘wie is die leuenaar anders as hy wat ontken dat Jesus die Christus is?’ – dit kan na Helleniste christene wys wat probleme het met die mensheid van Christus as God se Gesalfde, en na Joodse christene wat probleme het met die godheid van die mens Jesus.
‘hý is die antichris, wat die Vader en die Seun ontken.’ – in Jn 14:9-11 sê Jesus: wie My sien, sien die Vader…Ek is in die Vader en die Vader is in My. Vir Johannes is die ontkenning dat Jesus die Seun van God is, ook ‘n ontkenning van die Vader, al sou die dwalendes ten sterkste ontken dat hulle kwansuis nie in God glo nie. Maar dan is dit ‘n ander god as wat Jesus kom openbaar het, naamlik die God wat uit sy liefde vir die wêreld sy Seun gegee het om vir die sonde van die hele wêreld se mense te kom sterf (Jn 3:16). God se liefdevolle Vaderskap word verwerp vir ‘n denkbeeldige onbekende god. So’n mens is nie bloot verdwaal nie, maar die spreekbuis van die antichris, wat die Persoon van Jesus as God en mens verwerp, en daarmee ook Jesus se vergifnis en sy nuwe pad vir die lewe, nl. om soos Hy lief te hê.

Skrywer:  Prof Francois Malan




Kom weer aan die gang

Memory… is the diary that we all carry about with us. ~Oscar Wilde, “The Importance of Being Earnest”

 

Kom weer aan die gang

As jy misluk het, is daar een waarheid wat jy moet onthou: God is ‘n God van tweede kanse. Laat Hom toe om jou mislukking te gebruik om jou vorentoe te laat beweeg.

 

Hoe kan ek van mislukking herstel en na vore beweeg?

  • Aanvaar verantwoordelikheid vir jou mislukking

Hy wat sy oortredinge bedek, sal nie voorspoedig wees nie; maar hy wat die bely en laat staan, sal barmhartigheid vind (Spreuke 28:13). Weier ons om ons foute te erken, vermors ons ‘n leergeleentheid. Wees eerlik met jouself en met ander. Ons is almal kundiges om blaam na ander oor te plaas. God sê: “As jy weer voor wil begin, erken dit.” Ons hoef nie voor te gee dat ons volmaak is nie – niemand is volmaak nie.

 

  • Hou op jammer wees vir jouself; begin bely

Bely beteken dat ek my gedagte verander; ek kyk na die saak uit ‘n ander hoek. Jy sit nie op ‘n hopie en kla nie. Droefheid volgens die wil van God bring bekering wat tot redding lei, en daaroor was niemand nog ooit jammer nie. Daarteenoor bring droefheid uit wêreldse oorwegings die dood (2 Korintiërs 7:10). Hier lees ons van twee soorte droefheid: Goddelike droefheid lei tot verandering – dit motiveer jou om iets te doen; wêreldse droefheid is terneerdrukkend en lei tot die dood. Sekerlik een van die emosies wat jou lewe kan vernietig is selfbejammering. Baie van die suksesverhale in die lewe is op mislukking gebou.

 

  • Vergeet van die verlede en fokus op die toekoms

Maar een ding doen ek: ek maak my los van wat agter is en strek my uit na wat voor is. Ek span my in om by die wenstreep te kom, sodat ek die hemelse prys kan behaal waartoe God my geroep het in Christus Jesus (Filippense 3:13 – 14). Watter gedagte oor die verlede laat jy toe om steeds jou lewe te manipuleer? Sommige mense laat toe dat hulle verlede hulle toekoms beheer. Jou verlede is verby. Jy kan nie jou verlede verander deur jou daaroor te bekommer nie. Fokus op die toekoms. Wat belangrik is, is nie waar jy was nie, maar waarheen jy op pad is. Jy verloor as jy tou opgooi, want dan verwerp jy God se genade. Jy kan jouself voortdurend veroordeel of jy kan bely en met jou lewe voortgaan.

 

  • Vertrou op God om alles op te los

Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is (Romeine 8:28).God is besig om ons lewenspatroon uit te werk; alles pas mooi inmekaar. Vir ons lyk dit dikwels nie so nie. Maak nie saak wat die oorsaak van jou probleem is nie, God kan dit steeds gebruik.

 

Wat is jou probleem? God wil jou help om dit te oorwin. Hou op om jou te bejammer en laat Hom toe om in jou lewe te werk.