Wat is goed vir ons?

 

There are lots of people who mistake their imagination for their memory. – Josh Billings

 

Wat is goed vir ons?

Dit is goed vir my dat ek verdruk was, sodat ek u insettinge kan leer. Die wet van u mond is vir my beter as duisende stukke goud en silwer (Psalm 119:71 – 72 – OAV)

Ons probleem is dat ons definisie van wat goed is, is daardie dinge wat hier en nou vir ons voordelig is. Ons stel belang in wat ons tydelik sal bevoordeel, maar God stel belang in wat ons in ewigheid sal bevoordeel. Ons stel belang is dit wat ons vir ‘n tydjie gelukkig sal maak; God stel belang in wat ons heilig sal maak.

 

 

God het ons lief; Hy wil deur ons lewens verheerlik word. Daarom verwyder Hy nie altyd ons swaarkry nie, want dit kan ons sterker maak en nader aan Hom bring. Teenspoed hou ons nederig; sukses het ‘n neiging om mense trots te maak – hulle voel nie dat hulle ‘n behoefte aan God het nie. Eers as ons teenspoed ondervind, besef ons wat regtig in hierdie lewe belangrik is. Ons moenie so bang wees vir pyn nie. Daar is iets veel erger as pyn – voorspoed wat daartoe lei dat ons van God vergeet. Teenspoed leer vir ons ewigheidswaarhede wat ons dalk andersins nooit sou geleer het nie.

 

Ons wil ten alle koste pyn vermy. “No pain, no gain.”  Ongelukkig is dit waar van die lewe. Ons pyn herinner ons aan ‘n dieper behoefte – die behoefte aan God in ons lewens. God leer vir ons lesse in daardie valleie wat ons nooit op die bergtoppe sou leer nie.

 

 

 




Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Familie(7)

Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Familie(7) – Hennie Stander

Begrafnis

Die begrafnis moes gou na die sterfte plaasvind, moontlik nog dieselfde dag, aangesien die warm klimaat veroorsaak het dat die lyke vinnig ontbind het. Nogtans het so ‘n begrafnis nooit op ‘n Sabbatdag of ‘n ander heilige dag plaasgevind nie. Soms het die naasbestaandes die liggaam omhels en gesoen (Genesis 50:1). Die liggaam is gewoonlik gewas, en daarna in ‘n linnekleed toegedraai.

Die oë van die gestorwene is toegedruk sodat dit gelyk het of hy geslaap het (Genesis 46:4). In Israel is die lyke nooit gebalsem nie. Ons lees wel dat Jakob en Josef se lyke gebalsem is, maar dit moet toegeskryf word aan die gebruike wat in Egipte aan die orde van die dag was (Genesis 50:2-3,26). Dit was ook net in Egipte dat lyke in ‘n kis geplaas is (Genesis 50:26). Lyke is gewoonlik op ‘n lykbaar na die graf gedra (2 Samuel 3:31; Lukas 7:14).

Dit is as ‘n skande en ‘n straf beskou indien die lyke onbegrawe gelaat is (sien 1 Konings 21:23-24; Jeremia 22:19). Verdere is verassing of die verbranding van die liggaam by Israelslegs vir misdadigers gereserveer en vir diegene wat afskuwelike sonde gedoen het (Genesis 38:24; Levitikus 20:14; 21:9). Verbranding was egter algemeen by baie ander volke van destyds. Maar dieselfde kan ook van begrafnisse gesê word. Die gestorwene is in ‘n natuurlike grot begraaf (Genesis 49:29-32) of in ‘n grafkamer wat in die kalksteenheuwels van Palestina uitgegraaf is. Josef van Arimatea het so ‘n graf in sy tuin uitgegraaf en Jesus is later daarin begraaf (Matteus 27:60). Die liggaam van die gestorwene is dan op ‘n lys, rak of nis in die rotswand neergelê. Soms het die grafte uit meer as een vertrek bestaan. Omdat daar nogtans net ‘n beperkte aantal grafte beskikbaar was, is die beendere van reeds ontbinde lyke verwyder en in ‘n kleipot of in ‘n klipkissie (ook ‘n ossuarium of knekelkis genoem) gegooi. Hierdie potte is in die hoek van die graf gebêre en die nis kon weer vir ander liggame gebruik word. Die bek van die graf is met ‘n ronde, plat klip verseël. Hierdie klip het soos ‘n wiel in ‘n groef gerol en dit was baie moeilik om so ‘n klip weer weg te rol as dit eers in sy posisie gelê het (Markus 16:3).

Die armes kon egter nie altyd sulke grafte bekostig nie. Hulle liggame is bloot in vlak grafte geplaas en is dan met klein klippies en grond bedek. Bo-op die graf is ‘n klip of gedenksteen geplaas om dit te merk (Genesis 35:20). Die grafte was gewoonlik buite die dorp of stad (Lukas 7:12). Slegs koninklikes is binne die stad se grense begraaf (1 Konings 2:10).

Maar met elke sterfte is daar ook agtergeblewenes. ‘n Vrou wat haar man aan die dood moes afstaan, was in ‘n baie moeilike posisie omdat sy dan daarmee haar finansiële ondersteuning verloor het. Sy het nie geërf nie, en as iemand nie vir haar gesorg het nie, sou sy haar tot bedelary moes wend. Jesus het die Fariseërs berispe omdat hulle selfs die huise van die weduwees ingepalm het (Markus 12:40). God het egter reg laat geskied aan die weduwee en die wees (Deuteronomium 10:18) en die Wet het ook vereis dat daar na hulle omgesien moes word (Deuteronomium 24:17-21). Die vroeë Christene het die weduwees se lot op hul hart gedra (Hand 6:1 ev) en Paulus het vereis dat weduwees deur hulle families onderhou moes word (1 Timoteus 5:3 ev). Jonger weduwees kon weer trou. Tamar het egter intussen na haar man se dood by haar vader gaan woon, maar Rut by haar skoonmoeder (Rut 1).

kis
Hierdie ossuarium, of knekelkis, is in Jerusalem gevind. Dit bevat die inskripsie: “Bene van die familie van Nikanor die Aleksandryn wat hekke gemaak het.

Skrywer: Prof Hennie Stander




Lewe na 50 jaar ouderdom

The whole life of man until he is converted to Christ is a ruinous labyrinth of wanderings. —Johannes Calvyn

 

Lewe na 50 jaar ouderdom

Almal is bang vir oud word – wat gaan ek doen; hoe gaan ek my dae omkry … Maar hierdie tyd na 50 jaar is dikwels die beste tyd van jou lewe. God het ons gemaak wat ons nou is: In Christus Jesus het Hy ons geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het (Efesiërs 2:10). Die vooruitsigte vir die lewe na 50 is rooskleurig. Hoekom?

  • In die tweede helfte van jou lewe is jy meer gefokus en minder geneig om af te dwaal

Bob Buford sê ons behoeftes in die lewe kan in vier konsentiese sirkels verdeel word.  Die buitenste sirkel is die behoefte aan geld en om dit te spandeer. Een sirkel na binne is dit wat jy bereik – jou prestasies. Die derde sirkel is jou verhoudings – vrou, kinders, familie en vriende. Die binneste sirkel is jou geestelike behoeftes wat Jesus as die brood van die lewe en lewende water beskryf het. In die eerste vyftig jaar van jou lewe spandeer jy die meeste van jou tyd in die buitenste twee sirkels. Die tweede helfte van jou lewe nooi jou uit na ‘n nuwe balans. Jy beweeg na die binneste twee sirkels.

 

 

  • In die tweede helfte van jou lewe leef jy jou eie agenda

In die eerste helfte van jou lewe het jy ‘n werk en jy moet oorleef. Dit beteken jy is dikwels met iemand anders se idees besig. Jy moet ‘n lewe maak, maar tog het jy die begeerte om jou eie idees uit te leef.

 

  • In die tweede helfte kry jy beheer oor jou lewe

Nou kan jy ten minste sê: NEE. Nou kan jy die mens word wat jy nog altyd wou gewees het.

 

  • In die tweede helfte van jou lewe het jy dikwels hulpbronne

Jy het reserwes opgbou. Ons praat nie net van geld nie. Ons kennisbasis is wyd en diep; ons het ‘n netwerk na wie ons kan draai vir hulp. Hierdie tyd van ons lewe is ons dikwels baie doeltreffend.

 

  • In die tweede helfte van ons lewe kan ons pyn hanteer

Gebeure wat seermaak of ‘n terugslag wat jou in jou jong dae sou ontspoor het, het nie meer daardie effek nie. Emosioneel en geestelik is jy meer volwasse – sterker. Ons besef nou dat ons kan seerkry, maar steeds vooruitgaan. Dit is ‘n groot bate – en vertroosting.

 

  • In die tweede helfte weet jy iets van genade

As ons jonk is, het ons ‘n behoefte om ons te bewys. As ons 50 jaar oud is, weet ons wat ons kan doen en is daarom minder bang vir dit wat ons nie kan doen nie. Almal van ons het genade ontvang – niemand is oorgeslaan nie

 

Maar ons as bejaardes moet dink aan dit wat ons lewe beter maak na 50 jaar ouderdom. Ons moet besef dat betekenis in die lewe belangriker is as geld.




Mites wat Christene oor depressie glo

I believe in Christianity as I believe that the sun has risen: not only because I see it, but because by it I see everything else –  C. S. Lewis

 

Mites wat Christene oor depressie glo

Daar is ‘n aantal mites oor depressie wat Christene ontslae van moet raak:

  • Ware gelowiges ly nie aan depressie nie.

Daar is baie mense met depressie.  Dit lei tot pyn. Dit voel asof jy in dryfsand vasgevang is – jy voel asof jy al dieper wegsink. Hierdie siening dat gelowiges nie depressie kry nie, vererger die situasie dramaties – dink aan die skuldgevoel en skaamte by iemand met depressie as hy so iets hoor.

 

 

  • Depressie is ‘n geloofsaak

Nêrens word dit beloof dat Christene ‘n lewe sonder pyn, sieke en stryd sal leef nie. Wat wel belowe word is dat ons ‘n Verlosser, Vertrooster en Vriend het. Die siening dat depressie ‘n geloofsaak is, is vals – dit het niks met ‘n gebrek aan geloof te doen nie. Baie depressielyers sê juis dat hulle depressie hulle geloof verdiep het, want geloof was al wat hulle gehad het. In hulle donkste oomblikke sien hulle vir Jesus reg langs hulle.

 

  • Depressie kan weggebid word

Ons glo in die krag van gebed; ons glo dat God alle dinge kan genees. Natuurlik genees hy ook depressie, maar dit beteken nie dat ons nie behandeling nodig het nie – ondersteuning, terapie en medikasie. God het aan ons wysheid en baie navorsing gegee om die vele fasette van depressie te verstaan. Bid beslis, maar wees bereid vir behandeling.

 

  • Depressie is nie fisies nie

Net soos kanker en diabetes is depressie ‘n stryd van die liggaam. Dit het ‘n impak op ons emosies, ons denke en selfs ons gees. Daar is baie oorsake vir depressie, maar dit affekteer feitlik altyd die liggaam.

 

  • Ons moenie oor depressie praat nie

Depressie is nie ‘n skande waaroor ons moet swyg nie. Ons moet daaroor praat; leraars moet daaroor bid. In die Skrif lees ons van mense wat gesukkel het met depressie. Wat doen hulle? Hulle roep uit – altyd die eerste stap na genesing. Depressie is ‘n siekte wat in isolasie floreer. Deur daaroor te praat, maak ons geleidelik die greep van depressie los

Gelowiges se gesindheid oor mense met depressie moet verander. Ons moet ‘n omgewing skep wat hierdie mense veilig kan voel. Moenie hierdie mense wegstoot nie. Onthou dat ons swakheid ons altyd sal rig op Hom wat ons krag gee.