If God were not my friend, Satan would not be so much my enemy. —Thomas Brooks
Ek aanvaar die boodskap van die kruis
Paulus het baie geskryf oor die kruis wat mense verdeel. Hy het veral op diegene wat daardie boodskap verwerp, gefokus. Nou fokus hy op diegene wat die boodskap van die kruis aanvaar.
Paulus se punt (1:26)
Dink maar net, broers, aan wat julle was toe julle geroep is. Volgens die opvatting van mense was daar nie baie geleerdes of baie invloedrykes of baie mense van aansien onder julle nie. Kyk mooi na Paulus se argument: nie baie … nie. Die vroeë Christene was baie heterogeen. Daar was dus geleerdes, invloedrykes en mense van aansien onder hulle, maar ook baie arm en ongeletterde mense. Wat Paulus hier sê, is dat om wys, invloedryk en van aansien te wees, nie kriteria vir ‘n Christen is nie. God se genade kan enigeen bereik. God is nie beïndruk met politieke mag, rykdom en filosofieë – dit wat die wêreld so bewonder – nie.
Ons kan hierdie punt wat Paulus hier maak die ignoreer nie. Ons is so geneig om Christen sportsterre, mediapersoonlikhede en pop sangers voor te hou as voorbeelde. Hoekom dink ons hulle menings en ondervindings van God se genade is meer betekenisvol as dié van enige ander gelowige? Hierdie siening in ons gemeentes vernietig nederigheid, minimaliseer genade en gee te veel eer aan geld, invloed en die wysheid van ons dag.
Paulus se teologiese regverdiging (1:27 – 30)
Meeste van die gelowiges in Korinte kon nie spog met hulle agtergrond nie. Hoekom is dit so? God self. En tog, wat vir die wêreld onsin is, het God uitverkies om die geleerdes te beskaam; wat vir die wêreld swak is, het God uitgekies om die sterkes te beskaam, en wat vir die wêreld sonder aansien of betekenis is, ja, wat niks is nie, het God uitgekies om wat iets is tot niet te maak (1:27 – 29).
Paulus se veronderstelling is dat mense nie na God sou kom tensy God hulle kies nie. God het dus voorkeur aan die mense sonder aansien gegee. God kies die onsinnige dinge om die geleerdes te beskaam. God het dus ‘n behae daarin om al die aansit van hierdie opstandige wêreld te prik. Terwyl selfgesentreerde leiers hunker na mag, kies God diegene sonder aansien. Alles wat iets is – dinge van belang in die wêreld – maak God tot niet. Hulle word afgeskrywe; hulle het geen ewigheidsbetekenis nie.
Hoekom doen God dit? Voor God het geen mens dus iets om op te roem nie (1:29). Menslike trots word afgebreek. God skuld aan niemand vergifnis of die ewige lewe nie – dit is alles genade. As mense deur hulle wysheid of krag of status verlos is, sou hulle met reg trots daarop kon wees. Ek is die Here, dit is my Naam, die eer wat My toekom, gee Ek aan geen ander nie, die lof wat My toekom, gee Ek aan geen gesnede beelde nie (Jesaja 42:8). Paulus waarsku die Korintiërs gedurig oor hulle trots. Het ons nou iets uit onsself om op te roem? Nee, dit is uitgesluit (Romeine 3:27).
God se kategorieë van wysheid en sterkte verskil radikaal van dié van die wêreld. Verlossing is God se vry gawe verseker deur sy kruisdood. Dit word deur diegene wat Hom vertrou verkry – nie deur die ryk en sterk mense nie
‘n Christelike visie van roem (1:30 – 31)
Het Christene dan niks om op te roem nie? Nee, hy sê as Christene roem op die dinge waarop die wêreld roem, roem hulle oor die verkeerde dinge. Dié wat wil roem, moet in die Here roem (1:31). Dit beteken nou nie selfgesentreerde godsdienstige fanatici kan rondhardloop en daarop aanspraak maak dat hulle menings oor alles altyd reg is nie. Menslike roem is verkeerd, want dit verhef die mens tot die toppunt van belangrikheid. Doen ons dit fokus ons op dit wat verbygaande is. – van geen ewigheidsbetekenis is nie.
Wat vir die mens belangrik is, is die kennis van God. Mense wat op hulleself fokus, kry nie hierdie kennis nie. Diegene wat God werklik ken se vreugde is in Hom – Hy word die middelpunt van hulle lewens. Hulle roem in Hom. Hulle kry hulle leidrade oor hoe om te lewe by Hom. Sy karakter is hulle model. Jesus Christus wat gekruisig is en opgestaan het, is God se plan en wysheid. Hy het vir ons geword die wysheid wat van God kom: die vryspraak, die heiliging en die verlossing (1:30). Die wysheid van Christus is die kruis. Hierdie wysheid lei tot ewigheidsveranderinge en bring mense in ‘n dieper verhouding met God.
Hierdie wysheid, hierdie plan, beteken ons vryspraak, heiliging en verlossing. Hierdie wysheid van God is nie maar net ‘n beter uitgawe van die wêreld se wysheid nie. Daarom beskryf Paulus die gevolge van God se wysheid in Bybelse terme: vryspraak, heiliging en verlossing. Net nadat hy dit gesê het, haal Paulus vir Jeremia aan: Dié wat wil roem, moet in die Here roem.
Ons is net so dwaas soos die Korintiërs as ons dinge wat net tydelik is, opblaas; as ons die waardes, planne en programme van die wêreld bevorder. Hulle gaan verby. Hoe beter ons God ken, hoe meer wil ons hê dat ons hele bestaan om Hom sal wentel. Dan sien ons dat die enigste doelwitte en planne wat die moeite werd is, is die wat aan God verbind is. Jesus het immers self gesê dat sy volgelinge vir hulle skatte in die hemel bymekaar moet maak (Matteus 6:19 – 21).
Die boodskap van die kruis moet ons bediening vorm (1:18 – 25); Die uitreik van die kruis bevestig daardie boodskap en dryf ons terug na wat fundamenteel is (1:26 – 31). Daar is nog ‘n element om in gedagte te hou: die prediker en die kruis.