Die kruis van Jesus Christus (2)

The Great Commission means telling Christ’s story, not yours – Trevin Wax

Die kruis van Jesus Christus (2)

Ons het in die vorige blog gesien dat Paulus met die gemeente oor niks anders praat nie as oor Jesus as die Christus, en wel oor Hom as die Gekruisigde (1 Korintiërs 2:2). In die boodskap van die kruis kry ons twee kritiese eienskappe:

  • Die boodskap van die kruis verdeel mense absoluut (1:18 – 21)

Dit verdeel mense in mense wat verlore gaan en mense wat gered word. 1:18 maak die verdelingslyn tussen die twee groepe duidelik. Deur die kruis vernietig God die mens se aansprake op wysheid en geleerdheid. Hier kry ons ‘n sentrale tema van die Skrif: God trek mense na Hom toe, sodat hulle met vreugde en gehoorsaamheid erken dat Hy die middelpunt van alles is – Hy alleen is God.

Ons wil almal Nommer 1 wees; ons maak graag onsself die middelpunt van ons gedagtes en hoop. Ons is selfgesentreerd en tree op asof God aan ons verduidelikings verskuldig is. Maar ons is heeltemal onmagtig om ons sonde en versoening met God self te hanteer – God is egter magtig genoeg om dit te doen.

Die evangelie is nie goeie raad nie – dit is God se krag vir diegene wat glo. Om dit te beklemtoon, vra Paulus ‘n paar retoriese vrae (1:20):

  • Waar is die wysgeer van hierdie wêreld nou? Geen wysheid het blywende krag as die middelpunt daarvan nie die kruis is nie – as dit nie die mens met die lewende God versoen nie. Geen wysheid is belangriker as dit nie.
  • Waar die slim woordvoerder? Dit is die uitblinkers in retoriek. Vir hulle is die vorm net so belangrik as die inhoud. Maar die gewaande wysheid van die wêreld is dwaasheid/onsin.
  • Waar is die skrifgeleerde? Dit is die kundiges oor die wet van God – hulle ken die Bybel en al die tradisies. Vir die moderne geslag gaan godsdiens oor selfvervulling en persoonlike behoeftes.

Hoe doen God dit? Deur die prediking wat vir die wêreld onsin is, dié te red wat glo (1:21). Dit verstaan die mens nie – hoe kan God besluit dat die wêreld nie deur geleerdheid tot Hom sou kom nie? Dit is nie iets wat die wêreld self sou kon uitdink nie. Die boodskap van die kruis verdeel mense absoluut.

  • God se swakheid oorskry mense se krag (1:22 – 25)

Paulus verdeel diegene wat verlore gaan in twee groepe. Hulle verteenwoordig die twee fundamentele vorme van afgodery van sy tyd – en eintlik van ons tyd ook.

  • Die Jode vra wondertekens

Sommige verwag ‘n teken sodat hulle Hom kan evalueer – hulle wil sy aansprake toets. Ek sal my aan die Here wy as Hy my kind gesond maak. Met ander woorde: ek stel voorwaardes; ek kom nie onvoorwaardelik na Hom nie.

  • Die Grieke soek wysheid

Hulle glo hulle kan alles verduidelik en in beheer van alles is.

Albei benaderings is baie selfgesentreerd. Daarom sê Paulus: Vir die Jode is dit ‘n aanstoot en vir die ander is dit onsin (1:23). Vir die Jode is ‘n kruisdood ‘n skandaal; vir Grieke is rede/denke en nie geloof nie belangrik. ‘n Gekruisigde held was vir hulle dwaasheid. Maar vir gelowiges is Christus die krag van God en die wysheid van God (1:24). Let op hoe hierdie vers begin: Maar vir dié wat deur God geroep is. Daarom is hulle anders as ander mense.

Wat vir die wêreld die onsin van God is, is groter wysheid as die wysheid van mense, en wat vir die wêreld die swakheid van God is, is groter krag as die krag van mense (1:25).

Maar Paulus skryf nie net oor die mense wat die boodskap van die kruis verwerp nie. Hy skryf ook oor diegene wat die Boodskap van die kruis aanvaar. Daarna kyk ons volgende keer.




Die kruis van Jesus Christus (1)

Conversion is a turning into the right road; the next thing is to walk in it – Spurgeon

Die kruis van Jesus Christus (1)

Tans word die kruis deur baie mense gesien eksklusief as die manier waarop Christus ons verlossing bewerkstellig het. Natuurlik is dit baie belangrik, maar die kruis beteken nog meer. Die kruis bepaal onder andere ook wat ons moet verkondig en hoe ons dit moet doen; dit skryf voor wat Christelike leiers moet wees en hoe Christene Christelike leiers moet dien; dit vertel hoe ons moet dien; ens. Ons gaan ‘n hele aantal blogs spandeer aan die kruis van Jesus Christus.Om verder oor die kruis te besin, gaan ons kyk na 1 Korintiërs 1 en 2.

 

Wat moet ons verkondig?

Ek het my voorgeneem om met julle oor niks anders te praat nie as oor Jesus Christus, en wel oor Hom as gekruisigde (2:2). Om oor die kruis en kruisiging te praat, sou Paulus se gehoor geskok het. Geen Romeinse burger is ooit deur kruisiging tereggestel nie, behalwe as die keiser dit eksplisiet goedgekeur het. Kruisiging was ‘n metode gebruik vir slawe en vreemdelinge. Kruisiging was ‘n skande. Vandag kry ons kruise in ons kerke en juwele. Daarom is dit vir ons moeilik om 1:18 te verstaan: Die boodskap van die kruis van Christus is wel onsin vir dié wat verlore gaan, maar vir ons wat gered word, is dit die krag van God (1:18). Ons moet egter hierdie afstand oorbrug en terugkeer na Jesus se kruis.

 

Paulus het die gemeente reeds oor die onenigheid onder hulle gewaarsku – die een is vir Paulus, een is vir Apollos en een vir Sefas (1:11 – 12). Die Korintiërs was geneig om hulle aan sterk leiers te bind en dan op ander neer te sien. Hulle was dikwels meer beïndruk met die vorm en vertoon van hulle leiers as met die inhoud en waarheid van hulle leiers se boodskap. Paulus verkondig die evangelie nie met woorde van menslike wysheid nie, want dan sou die kruis van Christus sy krag verloor  (1:17). Te midde van al die onenigheid besluit Paulus om net die evangelie te verkondig.

Die boodskap van die kruis van Christus is wel onsin vir dié wat verlore gaan, maar vir ons wat gered word, is dit die krag van God (1:18). Hy fokus op die inhoud van die boodskap: Daarom het God in sy goedheid besluit om deur die prediking wat vir die wêreld onsin is, dié te red wat glo (1:21).

As ons dan, soos Paulus, besluit om niks anders as Jesus Christus, en wel oor Hom as die gekruisigde, te praat nie, moet ons twee kritiese eienskappe in gedagte hou. Daarna kyk ons volgende keer.




Leef die Christelike lewe

 

I will never forsake the Word of God to fill pews. For sometimes you can fill them with more devils than disciples of the kingdom.” — G. Sims

 Leef die Christelike lewe

Hoe kan ek die Christelike lewe leef? Een tegniek wat ons kan gebruik is om oor die Skrif na te dink. Maar nadenke is ‘n moeilike praktyk. Ons hou van die idee, maar vind dit moeilik om toe te pas. In sy boek Simplify Your Spiritual Life sê Donald Whitney: When meditating on a a verse of Scripture, it’s usually much easier to answer specific questions about it than to think about the text without any guidance or direction at all.

As voorbeeld gebruik hy dan Filippense 4:8: Verder, broers, alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is – watter deug of lofwaardige saak daar ook mag wees – daarop moet julle julle gedagtes rig.

 

Na hy hierdie vers bestudeer het, kom Whitney na vore met ‘n aantal vrae wat nuttig is om oor feitlik enigiets in jou lewe – veral die Skrif – na te dink.

  • Wat is waar of van watter waarheid is dit ‘n voorbeeld?
  • Wat is eerbaar/edel hiervan?
  • Wat is reg hiervan?
  • wat is prysenswaardig hiervan?
  • Wat is mooi hiervan?
  • Wat is prysenswaardig/kan aanbeveel word/versterk jou reputasie hiervan?
  • Wat is uitstekend hiervan?
  • Wat is lofwaardig hiervan?

Hier is agt vrae wat jou in jou nadenke kan lei. Maak seker dat jy nie net die Skrif lees nie, maar ook daaroor nadink en dit toepas.




Die Prediker van die kruis (1 Korintiërs 2:1 – 5).

 

“… hospitality asks for the creation of an empty space, where the guests may find their own souls.” ~ Henri J.M. Nouwen (1932 – 1996) 

 

Die Prediker van die kruis (1 Korintiërs 2:1 – 5).

Paulus se eie voorbeeld moes vir die Korintiërs gewaarsku het dat hulle ‘n baie gevaarlike pad geloop het. Hy het hom doelbewus gedistansieer van die retoriese opgeblasenheid van destyds: Toe ek na julle toe gekom het om die geheimnisvolle waarheid van God aan julle te verkondig, het ek nie met hoë woorde of groot geleerdheid gekom nie (2:1). Baie intellektuele bewegings plaas baie klem op retoriek. Filosowe is geloof vir  hulle aanbieding – net soveel as vir die inhoud. Hierdie openbare sprekers is geloof en gevolg as gevolg van hulle vermoë om in die openbaar oortuigend te praat. Sprekers wat nie aan hulle standaarde kon voldoen nie, is as minderwaardig beskou.

 

Wat is die beginsels wat Paulus hier na vore bring?

  • Verkondig die getuienis oor God

Wat my betref, broers, toe ek na julle toe gekom het om die geheimnisvolle waarheid van God aan julle te verkondig (2:1). Vroeër het ons gelees: Daarom het God in sy goedheid besluit om deur die prediking wat vir die wêreld is, dié te red wat glo (1:21). Die inhoud van Paulus se boodskap is die getuienis oor God – dit beteken dit wat God in Jesus Christus gedoen het. Paulus verkondig hierdie boodskap – dit beteken nie net Sondae van die preekstoel verkondig nie. Verkondiging is die aanbieding van God se evangelie waardeur mense Hom leer ken. Die inhoud van hierdie boodskap is ononderhandelbaar en mag nie afgewater word nie.

  • Fokus op Jesus Christus as die gekruisigde

Ek het my voorgeneem om met julle oor niks anders te praat nie as oor Jesus Christus, en wel oor Hom as die gekruisigde (2:2). Alles wat Paulus gedoen en geleer het, is aan die kruis verbind. Dit bepaal Paulus se prioriteite, sy leefwyse en sy bedieningstyl. Dit beteken hy verwerp ‘n bedieningstyl wat ontwerp is om te beïndruk en applous te ontlok. Maar wat beteken hierdie vers vandag? Ons is so prestasie-geörienteerd dat ons nie eers besef hoe gekompromitteerd ons is nie. Die vertoning raak vir ons belangrik. Het ons nie toegelaat dat allerhande bykomstighede die inhoud verplaas nie?

  • Moenie dat swakheid, angs en huiwering jou oorweldig nie

Dit is juis onder sulke omstandighede dat God veral sy mag tentoonstel. So lank as wat mense  beïndruk is met jou sterk persoonlikheid en indrukwekkende gawes is daar min ruimte om hulle met die gekruisigde Verlosser te beïndruk. Paulus was bewus van my swakheid, en met groot angs en huiwering het ek na julle toe gekom (2:3). Hy het besef dat God se krag veral in ons swakheid na vore kom. Hy was bang en swak; hy het gevoel dat hy oorweldig word deur die omvang van sy taak. Hy het egter nie op sy swakheid gefokus nie. Hy kon skryf: Daarom is ek bly oor swakhede, beledigings, ontberings, vervolging en moeilikhede ter wille van Christus, want as ek swak is, is ek sterk (2 Korintiërs 12:10).

  • Moenie mense manipuleer nie

Die boodskap wat ek verkondig, het julle oortuig, nie deur geleerdheid en welsprekendheid nie, maar deur die kragtige werking van die Gees (2:4). Paulus oortuig mense sonder om hulle te manipuleer; om mense met geleerdheid en welsprekendheid te oortuig is goed mits dit nie gepaard gaan met afwatering van die evangelie nie. Dit is die waarheid en krag van die evangelie wat mense moet oortuig en nie geleerdheid of welsprekendheid nie.

  • Besef dat ‘n kruis-gesentreerde bediening gekenmerk word deur die krag van die Gees en bevestig word deur lewens wat verander het

Paulus se boodskap gaan gepaard met die kragtige werking van die Gees. Dus is julle geloof nie op die wysheid van mense gegrond nie, maar op die krag van God.  Waar daardie krag teenwoordig is, weet mense dit.

Die boodskap van die kruis breek die afgode van die kerk: selfbevordering, die liefde vir meer professionalisme, ons verslawing aan goed gedefinieerde metodes. Bybelse verkondiging beklemtoon die evangelie en verhoog die gekruisigde Christus.

Volgende keer gaan ons kyk na mense wat verdeeldheid in die gemeente saai.