Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Familie(4)

Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Familie(4) – Hennie Stander

Betreding van volwassenheid

Dit is aanvaar dat die Joodse seun op die ouderdom van dertien jaar ‘n “seun van die Wet geword’. Die vader is verantwoordelik gehou vir die seun se dade tot op die ouderdom van dertien jaar en daarna is die seun as ‘nverantwoordelike lid van die Joodse gemeenskap beskou en kon by ‘n lid van die sinagoge word.

 

Poligamie

Lameg was die eerste persoon van wie ons lees wat twee vrouens gehad het Jakob het met beide Lea en Ragel getrou, en daarbenewens het by ook ‘n seksuele verhouding met die slavin van elk van hulle gehad (Genesis 29).Nogtans, alhoewel dit toelaatbaar was om tegelykertyd met meer as een vrougetroud te wees, soos in bostaande gevalle, was poligamie nie so algemeen in Israel in die Bybelse tye as wat dikwels beweer word nie. Een van die redes hiervoor was dat ‘n man redelik ryk moes wees om meer as een vrou te kon bekostig en dus was monogamie die meer algemene vorm van die huwelik onder die gewone mense in Israel. Poligamie het meer onder die koninklikes voorgekom. Dawid, byvoorbeeld, het baie vrouens gehad (insluitende Migal, Abigail en Batseba) en Salomo het selfs nog meer gehad gedurende die meer florerende tydperk van sy koningskap. Verskeie Ou Testamentiese figure het egter slegs een vrou gehad. Hieronder tel byvoorbeeld Noag, Isak, Josef en Moses. Dit is dikwels deur die rabbis uitgewys dat dit net tot probleme lei wanneer ‘n mens meer as een vrou het-byvoorbeeld in die geval van Lea en Ragel (Genesis 30) en Hanna en Peninna (1 Samuel 1).

 

Prof Hennie Stander

 




Selfbeheersing en dissipline

 

 “Here ends another day, during which I have had eyes, ears, hands and the great world around me. Tomorrow begins another day. Why am I allowed two?”  G.K. Chesterton

 

Selfbeheersing en dissipline

Baie van ons leef twee verskillende lewens – een waarvan hou, maar moeilk is om vol te hou; een wat ons haat, maar waartoe ons dikwels versoek word. Die eerste lewe is een van selfbeheer en dissipline; die tweede is ‘n lewe van onstabiliteit.

 

Die Bybel beveel selfbeheer en dissipline aan: selfbeheersing is ‘n vrug van die Gees (Galasiërs 5:23); Oefen jou lierwer om in toewyding aan God te lewe (1 Timoteus 4:7). Ongelukkig is selfbeheersing ‘n deug wat ons maklik ignoreer.

Ons is ongemaklik met die idee van selfbeheer en beklemtoon eerder genade. Ons is opgewonde oor die vryheid van die evangelie, maar die evangelie bevry ons nie van selfbeheer nie.

 

Selfbeheer en dissipline is gawes wat ons moet gebruik om sonde te beheer en heiligmaking te bevorder. Omgelukkig word ons so maklik verlei na ‘n lewe van verwarring en onstabiliteit. Ons word beïnvloed deur die ou mens (die mens wat ek was) en die nuwe mens (die mens wat ek besig is om te word) word verwaarloos. Die nuwe mens sien elke oomblik as ‘n gawe van God en wat goed gebruik moet word; die ou mens ignoreer tyd en geleenthede. Die nuwe mens sien dat gewoontes vernuwe kan word; die ou mens aanvaar dit as ‘n inherente swakheid wat nie verander kan word nie.

 

Is dit nie tyd dat ons ons weer aan ‘n lewe van selfbeheer toewy nie? Daar is geen beter tyd as juis nou nie.

 




Blaise Pascal

 

People are like stained glass windows: they sparkle and shine when the sun is out, but when the darkness sets in their true beauty is revealed only if there is a light within. -Elisabeth Kubler-Ross, psigiater en skrywer (1926-2004)

 

Blaise Pascal

Blaise Pascal was ‘n briljante 17de eeuse wiskundige en fisikus. Hy het ‘n dramatiese bekeringsondervinding gehad en het daarna baie van sy tyd aan godsdiens en filosofie spandeer. Hy maak notas bymekaar wat hy later in boekvorm wou verwerk. Hy sterf egter twee maande voor sy 39ste verjaardag. Hierdie notas word as Pensees (gedagtes) gepubliseer.

Hier is een van Pascal se Pensees:

Hier beskryf Pascal hoe om die Christelike boodskap aan diegene wat nie glo nie, te verkondig. Hy begin met die sielkunde van ongeloof. Hy sê dat mense nie objektief oor geloof is nie. Hulle verag dit en wil nie hê dit moet waar wees nie. Tog is hulle bang dat dit waar mag wees. Niemand is neutraal nie. Mense weet instinktief dat as die Christelike geloof waar is hulle beheer gaan verloor – hulle sal nie meer kan leef net soos hulle wil nie. Dan is hulle maar te gewillig om enige beswaar teen geloof te aanvaar.

Hoe moet Christene reageer? Pascal glo daar is drie stadia om iemand op die pad van geloof te bring:

  • Jy moet hulle ontwapen en verras. Baie mense hoop dat die Christelike geloof geen sin sal maak nie. Hulle hoor graag van belydende Christene wat irrasioneel, opvlieënd en vals is. As die verkondiging van die Christelike geloof – of selfs net ‘n Christen se karakter – egter weldeurdag, verstandig, onbevooroordeeld is, breek dit die stereotipes af. Mense respekteer dit – al is dit teensinnig.
  • Nou moet ons meer pro-aktief wees. Maak die boodskap aantreklik sodat goeie mense wens dit was waar. Dit beteken nie dat ons ons geloof iets moet maak wat dit nie is nie. Nee, ons moet die kenmerke wat daar is blootstel. Hiervoor is vasberadenheid en vindingrykheid nodig. Ons moet ons kultuur ken en dan wys dat hierdie aspirasies wat hulle het net in Christus vervul kan word. Pascal sê nie ons moet praat oor sonde vermy nie, maar ons moet ook oor die vele en verbasende seëninge praat. Praat ons oor die nuwe geboorte en wat dit is, ons nuwe naam en identiteit, aanneming in God se familie, die stadige maar radikale verandering in ons karakter, vrede,krag en betekenis in lyding, ens? As ons dit doen sal sommige (nie almal nie) sê: “As die Christelike geloof dit kan aanbied, sal dit wonderlik wees. Dit souwonderlik wees as dit waar was, maar die Christelike geloof is ongelukkig nie waar nie.”
  • Nou moet ons wys dat dit waar is. As mense nie deur Stadium 1 (ontwapen en verbaas deur die lewens en verhale van Christene) en Stadium 2 (sien die groot en aanloklike beloftes van God in Christus) gegaan het nie, sal hulle oë net dof word as ons oor die bewyse van die opstanding begin praat. As geloof eers emosionele en kulturele sin begin maak, sal hulle luister na ‘n bespreking wat logiese en rasionele sin maak. Emosionele sin beteken dat die Christelike geloof leemtes moet vul en antwoorde verskaf  in die persoonlike en innerlike sfeer van mense. Kulturele sin beteken dat ons moet wys dat die Christelike geloof die hulpbronne het om ons sosiale probleme te hanteer en dat dit sosiale gedrag kan verduidelik.

 

Net as ons iemand se verbeelding vasgevang het, sal mense luister na die sterk argumente ten gunste van die Christelike geloof. Ons moet fokus op die hart en op die verbeelding, maar ook op die rede/denke as ons in die openbaar oor ons geloof in Jesus praat.

 




Die Eerste Brief van Johannes: Ken God. Die derde vereiste om in die lig te kan lewe: verwerp wêreldgesindheid en oorwin die bose (2:12-17) (a) Ken God (2:12-14)

In digterlike vorm, met twee stelle van drie sinne elk parallel geskryf, word die gelowiges se oorwinning oor die mag van die Bose besing. Teenoor die vorige verse oor die valse Christene, wat sê dat hulle in die lig is, maar in duisternis lewe, kan van die egte gelowiges gesê word dat hulle waarlik God se vergifnis ontvang het, Hom persoonlik ken, en die bose oorwin. Hulle word verseker van hulle verlossing. Verse 15-17 is ‘n waarskuwing aan Johannes se ortodokse lesers om die versoekings te weerstaan, en nie aan te pas by die wêreldse lewenswyse nie, wat die valse gelowiges vasgevang het.

Die eerste drie sinne begin met ‘Ek skryf aan julle…’ en verwys na die positiewe opdragte in 2:3,7,8,10 om lief te hê; die tweede groep van drie sinne begin met ‘Ek het aan julle geskryf…’ en verwys na die negatiewe aanwysings in 2:4,9,11 moenie sondig nie.
Die drie terme ‘kindertjies,’ ‘vaders’ en ‘jongmense’ word verskillend verstaan. ‘Kindertjies’ word deur Johannes gewoonlik gebruik vir die hele gemeente (2:1); vaders kan na ouer persone verwys, of na die rypheid van gelowiges wat leiding gee; jongmense kan verwys na fisiese ouderdom, of na die energie van die jeug in diens van die Here. Augustinus (354-430 n.Chr) het die drie benamings gesien as geestelike kwaliteite wat by elke gelowige pas: ‘kinderstjies’ in onskuld, ‘jongmense’ in sterkte, ‘vaders’ in ervaring. Van al die gelowiges kan gesê word: julle sondes is vergewe, julle het Hom geken wat van die begin af was, julle het die bose oorwin. Met Johannes se manier om woorde te gebruik met meervoudige betekenisse, kan al die moontlikhede waarskynlik in die oog gewees het, maar met digterlike afwisseling om die hele gemeente te betrek, word telkens die hele gemeente bedoel.
Die ses maal ‘omdat’ kan ook ‘dat’ wees: met ‘naamlik dat’ herinner die skrywer sy lesers aan hulle Christelike erfenis, en hy moedig hulle aan om verantwoordelik te bly lewe in die lig. Hy kan dit egter ook sê ‘omdat’ hulle verlossing waar is.

2:12 ‘Ek skryf aan julle, my geliefdes (kindertjies as liefdesnaam), omdat julle sondes vergewe is op grond van sy Naam.’ Die gelowiges se sondes is deur God vergewe en dit bly so (is vergewe – passiewe voltooide tyd). ‘sy Naam’ verwys na alles wat God in die persoon en bediening van Jesus Christus gedoen het. Dit is die rede waarom God hulle sondes vergewe het, en gelowiges as God se gereinigde ‘kindertjies’ kan lewe (Hand 4:12). Jesus Christus is die fondament van ons ganse lewe (1 Kor 3:11) en die ruimte waarin die Christen leef (1 Kor 3:1 ‘in Cristus’). Hulle is aan Hom verbind en dra sy Naam.

2:13 Die ‘vaders’ van die gemeente kan verwys na die ouer persone (moeders ingesluit) of die meer ervare gelowiges, maar ‘die kennis van Hom wat van die begin af is’ is die voorreg van elke gelowige. Joh 1:1 sê reeds dat die Woord van God wat mens geword het van die begin af was, dat Hy by God was en self God was – die gelowige is seker dat Jesus God is, teenoor die dwalende Joodse gelowiges, wat Jesus se Godheid betwyfel en teenoor die ‘verligte’ Hellenistiese gelowiges, wat op hulle siening en kennis van God vertrou en nie op Jesus wat God kom openbaar het nie.

Die ‘jongmense’ kan na die jeug in die gemeente verwys, of na nuwe gelowiges. Maar die oorwinning oor die Bose verwys na alle gelowiges. ‘Julle het oorwin’ is ook in die voltooide tyd, wat verwys na ‘n oorwinning in die verlede wat daaglks voortgaan, nadat Jesus aan die kruis die Bose oorwin het (Jn 12:31; Kol 2:15). Ons oowinning is die daaglikse toepassing van Jesus se oorwinning, deur nie toe te gee aan die Bose en ons sondige selfsugtige begeertes nie. Van die 28 keer wat die werkwoord ‘oorwin’ in die Nuwe Testament voorkom, kom 24 daarvan in die Johannese geskrifte voor en ‘oorwinning’ slegs in 1Jn 5:4.
Wat die gelowiges en die kerk onderskei van die valse aanspraakmakers op geloof in verse 12-13, word opgesom as die vergifnis van hulle sonde deur Christus, hulle kennis van God deur Jesus, en hulle oorwinning oor die duiwel deur hulle verbondenheid aan Jesus se lewe, sterwe en opstanding.

2:14 Die stellings in verse 12-13 word hier opgesom en ‘n bietjie uitgebrei as inleiding tot die vermanings wat daaruit voortvloei in verse 15-17.

‘Geliefdes’ (paidia ‘kindertjies’ is ook ‘n troetelnaam soos vers 12 se teknia) as aanduiding van al die gelowiges, van oud tot jong, vaders en jonges ingesluit. ‘omdat julle die Vader ken’ (in vers 12 was dit omdat hulle sondes vergewe is);
‘Vaders, omdat julle Hom ken wat van die begin af is (dieselfde as in vers13)

‘Jongmense, omdat julle sterk is, en die woord van God in julle bly (‘n uitbreiding), en julle die Bose oorwin het’ (‘n herhaling van v13).

Deur Jesus te ken, ken ons die Vader (Jn 14:7; vgl. 14:10: die Vader is in Jesus en Jesus in die Vader). Die gelowiges is geestelik sterk deurdat die woord van God in hulle bly, deur die inwoning van die Heilige Gees. Hy is die Gees van die waarheid, wat ons alles leer en herinner aan alles wat Jesus vir die dissipels gesê het (Jn 14:17,26). Daarom is die egte gelowige in staat om die Bose te oorwin (soos Jesus Hom oorwin het deur gebruik van die woord van God (Mat.4:4,7,10).

Skrywer:  Prof Francois Malan