Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Familie(3) – Hennie Stander
Gebruike rakende die lewensloop van die mens
Binne die gesinslewe was daar vier groot gebeurtenisse wat die voortgang van die lewe gekenmerk het, naamlik die geboorte, die bereiking van vol¬wassenheid, die huwelik en die sterwe. As gevolg van die belangrikheid van hierdie gebeurtenisse, het dit dikwels met spesiale gebruike of rites gepaard gegaan. Wanneer mense egter glo dat God be¬trokke is in die verloop van die lewe, verkry hierdie gebeure al gou ‘n godsdienstige betekenis en word dit op beide godsdienstige en sosiale wyse gevier.
Kinders
Omdat ouers in hul kinders die voortsetting van hulself sien, is kinders as groot seëninge beskou (Deuteronomium 28:4; Psalm 128:3). Hoe meer kinders iemand kon hê, hoe beter was dit. Die Psalmdigter se “Soos pyle in die hand van ‘n held, so is die seuns van die jeug. Gelukkig is die man wat sy pylkoker daarmee gevul het!” (Psalm 1’27:4-5). Gewoonlik het die huweliksgaste ook die hoop uitgespreek dat die huwelikspaar met baie kinders geseënd sou wees. So lees ons dat toe Rebekka haar ouerhuis verlaat het om Isak se vrou te word, het haar broers haar met die volgende seënwense gegroet “Ons suster, mag jou nageslag tienduisende word” -(Genesis 24:60). As ‘n vrou nie kinders kon hê nie, is dit as ‘n straf van God gesien (vgl Genesis 20:18). Omdat vrou-ens se aansien verhoog is wanneer hulle deur die, verwekking van kinders tot die voortsetting van die geslagslyn bygedra het, het kinderlose vrouens dikwels die smaad van die gemeenskap gedra. Vir Ragel was haar kinderloosheid dus ‘n groot hartseer en sy het aan Jakob gesê dat as hy nie aan haar kinders gee nie, sy sou sterf (Genesis 30:1). Ook Hanna het groot hartseer ervaar vanweë haar kin¬derloosheid (1 Samuel 1). Nadat Johannes gebore is, kon Elisabet uitroep dat die Here haar smaad van haar weggeneem het (Lukas 1:25).
Alhoewel die geboorte van alle babas groot vreugde vir hul ouers ingehou het, was dit veral seuns wat as ‘n groot seëning ervaar is. Die mans het immers by die familie aangebly en dus het die familie net verder uitgebrei deur die toevoeging van vroue en kinders. Onder die seuns was dit ook veral die oudste wat spesiale voorregte geniet het. ‘n Dogter, daarenteen, was net kosbaar omdat sy nog werk kon verrig terwyl sy jonk was en omdat daar aan haar ouers ‘n bruidsprys as kompensasie betaal is wanneer sy getrou het en na ‘n ander familie oorgegaan het.
Geboorte
Die moeder is tydens die geboorte, wat gewoonlik tuis plaasgevind het, deur ‘n vroedvrou bygestaan (Genesis 35:17; Eksodus 1:15-19). Die pasgebore baba se naelstring is afgesny en daarna is by gewas en met sout ingevryf. Vervolgens is hy in doeke toegedraai (Esegiël 16:4; Lukas 2:12). Die baba is deur die moeder gesoog (Genesis 21:7; 1 Konings 3:21) en is soms aan ‘n oppaster toevertrou (Genesis 24:59; 35:8; Eksodus 2:9; 2 Konings 11:2). Volgens antieke bronne is kindertjies eers op die ouderdom van omtrent drie jaar gespeen (vgl. 1 Samuel 1:21-23). Toe Isak gespeen is, is daar fees gevier (Genesis 21:8).
Besnydenis
Babaseuns is volgens die Wet agt dae na hul geboorte besny (Levitikus 12:3) alhoewel die Israeliete hierdie gebruik verwaarloos het terwyl hulle in die woestyn was (Josua 5:2-8). Die besnydenis het daaruit bestaan dat die voorhuid met behulp van ‘n klipmes afgesny is (Eksodus 4:25; Josua 5:2-3). Hierdie operasie is deur die vader of stamhoof gedoen; behalwe in die uitsonderlike geval van Eksodus 4:25 waar dit deur die moeder gedoen is. Die besnydenis was waarskynlik oorspronklik ‘n inlywingsrite wat voor die huwelik voltrek moes word soos dit vandag nog in baie Afrika¬stamme gedoen word (vgl in hierdie verband. Eksodus 4:25). God het egter bepaal dat alle baba¬seuns besny moes word as teken van sy verbond met Abraham (Genesis 17:9-14; 23-27). Hierdie bepaling het vir almal gegeld, insluitende die slawe (Genesis 17:12-13).
Naamgewing
Onmiddellik na geboorte is ‘n naam aan die kind gegee (Genesis 29:31 tot 30:24; 35:18). Dit is eers in die Nuwe Testament dat ons lees dat daar tot die besnydenis gewag is voordat daar ‘n naam aan ‘n kind gegee is (Lukas 1:59; 2:21). Daar is geglo dat om die naam van iemand te ken, impliseer dat jy ook mag oor hom gehad het. Dit is ook eers in die Nuwe Testament dat ons lees dat ‘n kind vernoem word na een of ander familielid (Lukas 1:59-61). Soms het omstandighede wat met die geboorte gepaard gegaan het, aanleiding gegee tot die naam wat gekies is (Genesis 4:1; Genesis 29:31 tot 30:24; Genesis 35:18). Soms is ook die name van diere gebruik (soos byvoorbeeld Ragel (“ooi”), Kaleb (“hond”) en Debora (“by”). Ook plantname is gebruik, soos byvoorbeeld Elon (“eikeboom”) of Tamar (“palmboom”).
Nadat die baba gebore is, is die vrou vir ‘n tydperk van sewe dae as onrein beskou (sien Levi¬tikus 12). Op die agste dag is die seuntjie besny en dan mag die moeder vir ‘n verdere 33 dae aan niks geraak het wat heilig was nie. As sy ‘n dogter in die wêreld gebring het, was sy vir twee weke onrein en dan moes sy vir ‘n verdere 66 dae aan niks geraak het wat heilig was nie: Hierna moes sy ‘n jaaroud lam as brandoffer en ‘n tortelduif of enige ander duif as sondoffer na die priester toe neem. Wanneer iemand te arm was om ‘n lam as brandoffer -te bring, kon nog ‘n duff in die plek daarvan gegee word. Die sondoffer het waarskynlik aangedui dat/ die vrou: ritueel onrein was; net soos wanneer sy gemenstrueer het (Levitikus 15:19-24). Die rituele onreinheid was nie werklike vuilheid as gevolg van die bevalling nie, maar dit was bedoel om die vrou te beskerm teen ‘n seksuele verhouding in tye wanneer sy swak was of wanneer dit moontlike verleentheid kon skep.
Skrywer: Prof Hennie Stander