Die eerste brief van Johannes: Bly in die liefde Die tweede vereiste om in die lig te kan lewe: wees gehoorsaam (vervolg): (c) Bly in die liefde (2:9-11)

2:9 Vir die derde maal word verwys na mense in die gemeente wat daaop aanspraak maak: 2:4 dat hulle God ken – maar dan sou hulle gehoorsaam gewees het; 2:6  dat hulle in Hom bly – dan sou hulle soos Jesus gelewe het; 2:9 dat hulle in die lig is – dan sou hulle die medegelowiges liefgehad het.

In Joh 12:46 het Jesus gesê: Ek het as die lig na die wêreld toe gekom, sodat dié wat in My glo, nie in die duisternis sal bly nie (vgl. Jn 8:12: Ek is die lig vir die wêreld. Wie My volg, sal nooit in die duisternis lewe nie, maar sal die lig hê wat lewe gee). Mense wat beweer dat hulle ‘verligtes’ is omdat hulle kennis het, moet weet: om konstant in die lig te wees beteken om deel te hê aan die lewe van God in Christus, en moet dié daaglikse uitdaging en geleentheid aangryp om te groei in die Christelike manier van lewe, om te lewe uit die liefde van God.

Maar as so iemand sy mede-gelowige in Christus haat, is sy aanspraak dat hy‘n  ‘verligte’ sou wees wat vir God ken, vals. Johannes is bekommerd oor die onderlinge verhoudings in sy gemeentes, oor die krisis waar sommige reeds die gemeente verlaat het (2:19), vandaar sy klem in hierdie brief op die ‘broers’. Maar om  ander mense voor die voet en onbaatsugtig lief te hê, soos Jesus, sluit liefde tot ongelowiges nie uit nie. God het die wêreld lief! (vgl. 1 Jn 2:2). Maar liefdeloosheid onder gelowiges weerspreek die belydenis dat ons in God glo en volgelinge van Jesus is, dat ons sogenaamde Christene is.

Die mens wat nog haat, lewe steeds in die duisternis van die boosheid van hierdie bedeling. Die lig van Christus skyn egter reeds in die wêreld in die lewe van gelowiges. Terwyl die lig van God reeds in die wêreld skyn, leef dié wat nou nog haat, in duisternis. Die egtheid van jou geloof word gesien in jou verhouding tot Jesus en jou medemense.

2:10 Die beginsel wat agter die uitspraak van vers 9 lê, word positief in 10  en negatief in vers 11 gestel.

Die regte verhouding tot God, om te bly in die lig, word natuurlik en eg uitgeleef in aktiewe liefde vir ander, wat begin met liefde teenoor medegelowiges. ‘Bly’ in die lig onderstreep dat dit konsekwent ‘n gewoonte geword het, dat jy getrou bly in die liefde, dat jou hele lewe gebou word op liefde.Wie sy medegelowige liefhet bly in die lig, en omdat hy in die lig is kan hy sien waar hy loop en daarom die struikelblokke van verleiding konstant vermy, en daarom ook nie ander in sonde laat val nie.

Die woord ‘struikelblok’, leterlik ‘n vangstrik, word in die Nuwe Testament figuurlik gebruik vir verleiding weg van Christus af, of as verleiding tot sonde, en met altwee ‘n struikelblok vir ander.te wees.

2:11 Die stelling in 2:9 word herhaal: ‘wie sy mede-gelowige haat, is in die duisternis.’ Dit word hier uitgebrei met twee byvoegings: ‘en wandel in die duisternis’ – met ‘n volkome wêreldse lewe; en, ‘hy/sy weet nie waarheen hy/sy gaan nie’ (Jn 12:35). Die hater strompel voort omdat hy/sy nie die pad gevind het nie, verdwaal het,  en nie eers weet waarheen hy/sy op pad is nie. Onetiese optrede lei tot die mens se val, al verder van  God af, en van die lig af wat Hy gebring het. Haat verdraai en verderf ‘n mens se hele lewenswandel. Iemand wat haat verloor die sin en maatstaf  vir die lewe, en wys daarmee dat hy nie die lig van God het om sy lewensweg te verhelder nie.

‘want die duisternis het sy/haar oë verblind’ (Spr 4:19; 2 Kor 4:4). ‘n Lewe wat steeds in die duisternis bly, lei tot geestelike blindheid, tot verharding in die sonde of sondige gewoontes, sodat dit al moeiliker word om by God uit te kom, en, om mekaar lief te hê, word al moeiliker. Wat in Jn 12:39-40 van die ongelowige Jode gesê is, word hier toegepas op dié lidmate wat hulle van die gemeente begin afskei. Dit is nie God wat Hom van ons afskei nie, maar sonder liefde isoleer ons onsself van die lig van die wese van die God wat liefde is en van sy teenwoordigheid (God is liefde 4:8; God is in ons, 3:9,24; 4:12,15,16).

In 1:8-2:2 was die oproep om sonde af te lê. In 2:3-11 is gehoorsame liefde vir mekaar die toets vir ‘n egte lewe in geloof in Christus en in gemeenskap met God. Die oproep kom skynbaar in antwoord op drie van die dwalendes se aansprake: dat hulle God ken, in Hom bly en dat hulle ‘verligtes’ is wat in die lig van hulle eie kennis en insig lewe – al drie is valse aansprake as hulle te kort skiet in gehoorsaamheid aan God se wil om hulle mede-gelowiges lief te hê. Liefde laat ons reg dink, maak ons uitkyk, oordeel en gedrag gebalanseerd (Jn 8:12; 12:46); haat verwring ons perspektief en ons beoordeling van mense. Die dwalende ‘verligtes’ kan later nie meer die sedelike gevolge van hulle blindheid raaksien nie. Ons kan slegs in gemeenskap met God lewe deur ‘n geloofsband met sy Seun,  ‘n liefdesband met mede-gelowiges, en selfs met ons vyande (Mat 5:44)..

Skrywer:  Prof francois Malan




Vereistes vir ‘n wêreldsiening

 

“Pride is the devil’s dragnet in which he takes more fish than in any other, except procrastination.” C. H. Spurgeon

Vereistes vir ‘n wêreldsiening

‘n Wêreldsiening moet sekere sleutelvrae kan beantwoord:

  • Die werklikheid: Wat is werklik? Hoekom bestaan iets? Bestaan God?
  • Oorsprong: Waarvandaan kom ons?
  • Die menslike natuur: Wie is ons? Het ons regte en waarde? Wat is die oplossing vir ons probleme?
  • Bestemming: Wat gebeur as ek doodgaan? Is daar lewe na die dood en wat is die aard daarvan?
  • Kennis: Hoe weet ons? Hoekom moet ons in enigiets glo?
  • Etiek: Bestaan objektiewe morele waardes? Hoe kan ons reg van verkeerd onderskei?
  • Geskiedenis: Het die geskiedenis ‘n doel? Het die lewe enige betekenis?

‘n Wêreldsiening is nie net iets wat ons intellektueel glo nie. Dit behels ook ‘n oriëntering na of weg van God. Hierdie wêreldsiening is dikwels onbewus – soos ‘n huis se fondament: jy sien die nie, maar jy weet dit is daar. Voldoen jou wêreldsiening aan hierdie vereistes?




Interpretasie van die Bybel – sekere kerngedeeltes

 

“A Bible that’s falling apart usually belongs to someone who isn’t.” C. H. Spurgeon

Interpretasie van die Bybel – sekere kerngedeeltes

As ons die Bybel interpreteer is daar een aspek waaraan ons aandag moet gee. Sekere kerngedeeltes in die Skrif bevat ‘n uitgebreide hantering van sekere belangrike leerstellings. Dit is plekke waar ons die grootste hoeveelheid materiaal in een plek van daardie leerstelling kry. In werklikheid stel hierdie gedeeltes grense vir ons interpretasie van daardie aangeleenthede.

Kom ons noem ‘n paar van hierdie gedeeltes:

 

  • Genesis 1 – 2: Die skepping.
  • Jesaja 40: Die onvergelykbaarheid van God.
  • Jesaja 53: Die aard van die versoening.
  • 1 Korintiërs 15: Die opstanding van Christus.
  • 2 Korintiërs 5:1 – 10: Die aard van die tussenstadium
  • Filippense 2:1 – 11: Die aard van Jesus se menswording.



Jesus het nooit gesê ons moet kerkgeboue vol maak nie.

 

You may be singing ‘Holy, holy, holy,’ but if you aren’t thinking about God while singing it, you are not worshiping. —Donald Whitney

 

Jesus het nooit gesê ons moet kerkgeboue vol maak nie.

Om kerk toe te gaan was nog nooit die punt nie. Ons sien vandag dikwels dat mense op Facebook skryf dat hulle verlang na die ou dae toe kerkgeboue elke Sondag vol was. ‘n Mens kan dit verstaan, maar daar is probleme om na die goeie ou dae te verlang:

  • Die goeie ou dae was nie werklik so goed nie. Ons het ‘n selektiewe geheue en onthou net die goeie dinge.
  • Om na die verlede te verlang, beteken jy verloor. Jy kan tog nie daarheen teruggaan nie Eer die verlede, leef in die hede en beplan vir die toekoms.
  • Is vol kerke ‘n teken van herlewing of geestelike ontwaking? Kerkgebou moet leeg word; lidmate moet uit in die gemeenskap wees om daar te dien en die woord te verkondig.

 

Ons wêreld het nie groter of voller kerke nodig nie. Wat ons nodig het is veranderde lewens, families,stede en lande. Dit kan jy nie regkry as jy in kerkgeboue vasgekluister sit nie. Jesus en sy dissipels het nooit kerkbywoning beklemtoon nie. Wat hulle wel beklemtoon het, was dat gelowiges die kerk moet wees – hulle moet in die wêreld uitgaan.

 

Kerk gaan nie oor ‘n gebou vol maak nie, maar oor die gemeenskap met die goeie nuus van Jesus se liefde te vul. Kerk beteken uitgaan en nie net intrek nie. Natuurlik is dit wonderlik as die kerkgebou vol entoesiastiese gelowiges wat God aanbid, is. Maar dit kan nooit die doel wees nie. ‘n Vol kerk is ‘n instrument wat God gebruik om die wêreld te bereik – nooit dié doel nie.

 

Miskien moet ons die gesondheid van ons gemeentes meet deur hoe ons ons kerkgeboue leegmaak en nie net vol maak nie.