Vroue in die Pauliniese gemeentes

Vroue in die Pauliniese gemeentes – Francois Malan

Tersia vra:

Wil graag u verklaring hoor van 1 Timoteus 2 vr 11-15. Is dit nog van pas in vandag se tyd? Hoekom was dit so bepaal in die Bybelse tyd.

Antwoord

Prof. Francois Malan antwoord:

Die benaderings tot die verklaring van die verse kan in drie hoofgroepe verdeel word:

Die tradisionele hiërargiese verklaring wat vroue verbied om mans in die gemeente se samekoms te onderrig op grond van die skeppingsordinansies wat vir die hele kerk vir altyd geld.

Die feministiese rekonstruksie van die vroeë kerk wat hierdie tipe tekse nie as maatstaf aanvaar nie, omdat dit die toepassing van die mens se bevryding wat Paulus se evangelie verkondig belemmer, en daarom geskrap moet word.

Die derde groep begin by Paulus se stellings oor die gelykwaardigheid van man en vrou, en sien hierdie tekse as ‘n uitsondering wat aan ‘n spesifieke gemeente vir ‘n spesifieke tyd se probleme aanwysings gee. In 1 Timoteus waarsku Paulus juis teen ‘n valse leer wat sy kop uitgesteek het in die gemeente van Efese, waar Timoteus leiding moet gee. (Die derde verklaring word hieronder kortliks verduidelik)

1 Paulus se stellings oor die gelykwaardigheid van gelowiges

In hoofstuk 12 oor die verskillende gawes van die Gees vergelyk hy die gemeente met ‘n liggaam: Want soos die liggaam ‘n eenheid is maar uit baie ledemate bestaan, en al die ledemate van die liggaam, alhoewel hulle baie is, een liggaam vorm, so is dit ook met Christus. En ons is tog almal deur die een Gees gedoop in een liggaam – Jode of Grieke, slawe of vrymense – en ons is almal met een Gees deurdrenk (12:12-13).

In die brief aan die Kolossense, geskryf tussen 60 en 62 n.C., sê Paulus: By die nuwe mens, wat tot volle kennis en na die beeld van die Skepper vernuwe word, is daar nie onderskeidings soos Griek of Jood, besnedene of onbesnedene, barbaar (nie-Grieke) of selfs Skittiër (‘n volk wat destyds die toonbeeld van onbeskaafdheid was), slaaf of vry persoon nie, maar Christus is alles en in almal (3:10-11).

2 Vroue in die Pauliniese gemeentes

Volgens Handelinge18:26 het Paulus se vriende (vgl. 18:1-3,18), die vrou Priscilla en haar man Akwila, vir die prediker Apollos na hulle huis toe geneem en vir hom die Weg van God nog duideliker uiteengesit. Volgens Romeine 16:3-5, waar Priska ook eerste genoem word, was daar later ‘n huisgemeente in hulle huis, waar hulle die leiding sou geneem het.

Junia en haar man Andronikus in Romeine 16:7 was medegevangenes van Paulus. Hulle het reeds voor Paulus een met Christus geword, en is hoog aangeskrewe by die apostels.

3 Moontlike spesifieke probleme in die gemeente Efese wat in 1 Tim 2 aangespreek word (waarskynlik in 62-63 n.C. geskryf).

Volgens 1 Tim 1:3 was daar ook mense wat vreemde leringe versprei het in die gemeente (vgl. 6:20-21). In 2 Timoteus 2:18-19 word verduidelik dat hulle sê dat die opstanding reeds plaasgevind het en dit het tot ongeregtigheid gelei. Hulle is in die strik van die duiwel gevange gehou om sy wil uit te voer (2 Tim 2:26). 1 Tim 4:1-3 sê die afvalliges verhinder mense om te trou en laat hulle sekere kossoorte vermy. In 1 Tim 5:11-15 word dan ook verwys na jong weduwees wat deur die valse leraars veroordeel word as hulle weer wil trou en ander wat weggelok word om met ongelowiges te trou. Die verbod op vroue om in die gemeente onderrig te gee of hulle mans te domineer (2:12) is miskien die gevolg van hulle verkondiging van hierdie vals leer.

4 Toepassing van die gelykheidsuitsprake

Verlossing is ‘n proses wat progressief in elkeen se lewe moet deurwerk. In 2 Kor 3:18 skryf Paulus: ‘En ons almal, terwyl ons met ontsluierde gesig die heerlikheid van die Here aanskou soos in ‘n spieël (of: om dit te weerspieël), word na dieselfde beeld verander, van heerlikheid tot heerlikheid, soos afkomstig van die Here, die Gees.’ So behaal ons oorwinning oor sonde en ou gewoontes en gebruike, en groei ons om al meer soos Jesus te word. Maar die finale oorwinning oor sonde vind eers met die opstanding plaas. So gaan dit ook in die kerk en samelewing.

 

Prof Francois Malan

 




Ons sing nie meer in die kerk nie

 There is a land of the living and a land of the dead and the bridge is love. ” Thornton Wilder

 

Ons sing nie meer in die kerk nie

Thom Schultz sê dat die meerderheid mense nie meer in die kerk sing nie. Diegene wat wel sing, het skaars hulle lippe beweeg. Al stemme wat jy hoor, is die sangers op die verhoog met hulle mikrofone. As die sogenaamde aanbiddingsleier op die verhoog kom en vra dat die mense moet staan en sing, staan almal ewe gedwee op, maar dan word hulle stom. Hoekom het dit gebeur? Schultz noem vier redes:

 

  • Gemeentelike sang word toenemend ‘n toeskouer gebeurtenis

 Almal verwag dat die mense op die verhoog hulle ding moet doen. Die lidmate in die kerkbanke gedra hulle soos ‘n goeie gehoor: hulle kom in; hulle is stil; hulle vra nie vrae nie; hulle dra nie by nie; hulle kyk hoe die sangers in die veelkleurige ligte hulle konsert uitvoer.

 

  • Professionalisme

Die musiek moet meer professioneel as deelnemend wees. Die lidmate in die banke besef hulle kan nie kers vashou met die harde stemme in die mikrofone nie. Kwaliteit word aanbid. Lidmate gaan hierdie kwaliteit net afbring. Daarom bly jy stil of maak of jy sing.

 

  • Geluid

Die musikante se volume is so hoog dat die lidmate nie eers hulle eie stemme of dié van die mense om hulle kan hoor nie. Daarom sing hulle nie – hulle kan tog niks byvoeg nie. Daar is geen manier wat die gemeente se pogings deur die lawaai gaan breek nie.

 

  • Musiekkeuse

Mense sing nie, want dikwels is die liedere onbekend of moeilik om te sing. Die lied mag nog tematies by die preek pas, maar dit is onmoontlik om dit te sing. Soms kies die aanbiddingsleier liedere geskryf deur sy gunsteling skrywer – hyself.

 

Schultz sê dat hy hom by die meerderheid aangesluit het – hy sing nie meer nie. Hy weet hy moet hierdie hindernisse kan oorkom, maar hy verlang na ‘n omgewing wat sy deelname ontlok en waardeer.

 




‘n Gebed vir hoop

One word of truth outweighs the whole world – Alexander Solzhenitsyn

 

‘n Gebed vir hoop

Onthou tog u woord aan my, die woord waarop U my laat hoop het  (Psalm 119:49)

Hierdie is die soort hoop wat ons by mense kry wat verlang na verlossing en geregtigheid en wat verlang dat God sy heerlikheid sigbaar sal maak.

 

Scot McKnight voel dat die hoop hier volg op die teleurstelling van 119:41 – 48. Die hoop wat ons in daardie verse kry, het nie gematerialiseer nie. Die psalmis sê nie: “As God nie my gebede verhoor nie, gee Hy nie om nie,” of “God bestaan nie.” Nee, hy rig weer ‘n versoek en spreek sy hoop uit. Hy vra ook dat God sal onthou.

God onthou ons sondes; God onthou al sy beloftes. Onthou hier beteken dat God sy beloftes op so ‘n manier sal onthou dat hulle verwesenlik sal word. ‘n Goeie voorbeeld is Hanna wat vra dat God haar nie sal vergeet nie, maar aan haar ‘n seun sal gee (1 Samuel 1:11).

 

Die psalmis, alhoewel hy dit reeds gedoen het, herinner God aan sy toestand. Lees net verse 49 – 56: my ellende … die felle spot van hovaardige mense … die goddeloses wat u wet verontagsaam. Die psalmis glo God is oral teenwoordig. Dit weerhou hom nie daarvan om sy toestand aan God bekend te maak nie. Soos die weduwee in Lukas 18 wat aanhou vra het, vra die psalmis dat God sy beloftes moet onthou.

Ons moet die vasberadenheid, moed en eerlikheid van die psalmis bewonder. Ontsteltenis het my oorval oor die goddeloses wat u wet verontagsaam (119:53). Hoekom?

  • Die psalmis weet dat God genadig, liefdevol, maar ook regverdig is (Psalm 11).
  • Die psalmis besef dat hy sukkel en stry om die regte dinge te doen, ten spyte van teenkanting van diegene wat veronderstel is om beter te wees.
  • (119:55)

Die psalmis vind vertroosting, want hy het sy gedagtes van sy probleme weggeneem en vreugde in God se goedheid, trou en heerlikheid gevind.

 




Jesus is die Here/Jesus het opgestaan

The beginning of anxiety is the end of faith, and the beginning of true faith is the end of anxiety. —George Muller

 

Jesus is die Here/Jesus het opgestaan

Die vroeë Christene het dikwels ‘n liturgiese groet gebruik om hulle as deel van die geloofsgemeenskap te identifiseer. Daar is veral twee wat van belang was.

  • Jesus is die Here (Kyrios Iesous)

As jy met jou mond bely dat Jesus die Here is, en met jou hart glo dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy gered word (Romeine 10:9). Paulus sê ook: Niemand kan sê: “Jesus is die Here” nie, behalwe deur die Heilige Gees (1 Korintiërs 12:3)

 

 

Jesus is die Here het vir die vroeë Christene en vir Paulus as ‘n primitiewe toets van lojaliteit gedien. Die sprekers sou die teologiese en sosiologiese implikasies van so ‘n uitspraak verstaan het – absolute gehoorsaamheid aan Christus. Dit was ook dikwels die eerste woorde wat persone wat gedoop is, gesê het as hulle uit die water gekom het. Dit sê nie alleen wat Christus se identiteit is nie, maar verwerp ook die heidense aanpraak: Die keiser is here.

 

  • Jesus het opgestaan (Alethos Aneste!)

Hierdie is ‘n groet wat nog in Ortodokse kerke gebruik word wanneer twee Christene mekaar met ‘n heilige soen op Paassondag groet. Die inisieerder begin: “Jesus het opgestaan,” terwyl die ander een reageer met: “Hy het waarlik opgestaan.” Die presiese oorsprong van hierdie groet is onduidelik. Party mense verwys na Lukas 24:34, maar dit is onseker.