Verbied sekere mense ons kerke
Worry does not empty tomorrow of its sorrow, it empties today of its strength. —Corrie ten Boom
Verbied sekere mense ons kerke
C. Christopher Smith en John Pattison het onlangs ‘n boek, Slow Church, geskryf wat besig is om baie aandag te geniet. Ek gaan ‘n aantal blogs aan hierdie boek spandeer.
Soms is gemeentes onwillig om sekere groepe mense te verwelkom en gasvry teenoor hulle te wees. Dit is dikwels op grond van hulle ras, ekonomiese status of seksuele oriëntering. Enige teologie wat nie met gasvryheid na ander uitreik nie, aanvaar nie God se liefde vir en versoening met alle mense nie. Vandag is rassisme in meer subtiele vorms teenwoordig: ons skuif ons gemeente geografies as die demografie ten opsigte van ras in ons gemeenskap verander.
Homoseksualiteit is die groot sondebok in ons kerke vandag – dit dreig selfs om kerke te skeur. As ons glo dat homoseksualiteit sonde is, moet ons nooit die balk van sonde in ons eie oë miskyk nie. Ons moet erken dat alle mense na die beeld van God gemaak is en daarom op gasvryheid en vrygewigheid aanspraak kan maak. Ons mag hulle nie haat nie. Ons moet brüe na hulle bou; ons moet hulle leifhê: onvoorwaardelik, tasbaar en meetbaar.
Fragmentering was nog altyd ‘n probleem vir die Christendom. Dink maar aan die stryd tussen die Jode en die heidene in die vroeë kerk. Lees net Paulus se briewe. Paulus daag hulle herhaaldelik uit om in vrede saam te woon – hulle is immers die verenigde mense van God. Dit is ‘n las wat ons vandag steeds dra. Hoe sal dit lyk as ons as mense altyd bewus bly van God se versoening vir alle mense – vir die hele skepping?
Ons moet begin met berou. Om te rou beteken dat ons langs diegene wat huil kom staan – ons sit met hulle in stilte; ons besef dat in God se skepping waar alles met mekaar verbind is, is hulle pyn ook my pyn. Om te rou beteken nie om woorde van vertroosting te uiter nie; dit is nie om die probleem te probeer regstel nie. Rou beteken ek ondersoek my eie siel – ons soek vir die soort opstand en geweld wat enige oomblik kan uitbars in geweld teenoor ander.
As ons vrede liefhet, moet ons ongeregtigheid, tirannie en gierigheid haat – ook as hierdie dinge in onsself voorkom. As ons rou, sien ons hoe gebroke ons, en die hele skepping is, maar ons sien ook dat in Christus daar ‘n uitweg is. Berou is die begin – ons herken en noem die saak by sy naam. Ons probeer vasstel hoe dit ons beïnvloed. Verandering gebeur selde oornag, maar ons mag nooit hoop opgee en sinies word nie.
Dekades van kortpaaie neem het baie mense afgestoot van die geloof en die gehalte van ons lewens saam verminder. Die effek van die fragmenterings wat ons beskryf het, is ernstig. Dit gaan nie sommer oornag genees nie. Christene moet opoffer om die eise van vandag te hanteer, en om die wonde van die verlede te genees. Ons moet in die voetstappe van Jesus volg; ons moet onsself as lewende offers gee (Romeine 12:1).
Volgende keer kyk ons hoe ons op ‘n meer holistiese manier kan saamleef.