Die evangelie en die koffieboontjie

 

All the time a person is a child he is both a child and learning to be a parent. After he becomes a parent he becomes predominantly a parent reliving childhood. -Benjamin Spock, pediater

Die evangelie en die koffieboontjie

C. Christopher Smith en John Pattison het onlangs ‘n boek, Slow Church, geskryf wat besig is om baie aandag te geniet. Ek gaan ‘n aantal blogs aan hierdie boek spandeer.

Die evangelie is soos ‘n koffieboontjie. Ons kan nie die smaak van koffie direk van die boontjie kry nie – ons ondervind dit indirek, want dit moet eers gerooster, gemaal tot ‘n poeier en dan moet kookwater daarop gegooi word. God wil hê dat ons vreugde in ons plaaslike geloofsgemeenskap moet ervaar, maar ons soek dit tevergeefs direk.

Ons ontdek vreugde soos ons deur die vuur gaan, gemaal word en vir mekaar uitgestort word. Hierdie proses van onsself gee vir mekaar is Jesus se manier. Ter wille van die vreugde wat in Hom in die vooruitsig was, het Hy die kruis verduur sonder om vir die skande daarvan terug te deins, en Hy sit nou aan die regterhand van die troon van God (Hebreërs 12:2).

In ons verbruikerskultuur word ons voortdurend gebombardeer met boodskappe wat ons uitnooi om geluk te soek – gewoonlik deur ons beursie oop te maak. Jesus sê iets ander – iets wat ons sukkel om te verstaan: Wie sy lewe wil behou, sal dit verloor; maar wie sy lewe ter wille van My verloor, sal dit terugkry (Matteus16:25). Dit is in die konteks van die plaaslike gemeente waar ons leer om vir mekaar uitgestort te wees.

Volgende keer kyk ons na stabiliteit.




McDonaldifikasie van die kerk

The Gospel does not call us to receive Christ as an addition to our life, but as our life. —Paul Washer

McDonaldifikasie van die kerk

C. Christopher Smith en John Pattison het onlangs ‘n boek, Slow Church, geskryf wat besig is om baie aandag te geniet. Ek gaan ‘n aantal blogs aan hierdie boek spandeer.

‘n McDonalds kitskos restaurant het vier kenmerke wat sommige kerke probeer naboots:

  1. 1.Doeltreffendheid

Om doeltreffendheid na te streef word alles by al die restaurante op presies dieselfde manier bestuur – die spyskaart en uitleg is oral dieselfde. Sommige gemeentes bied geluk, ‘n dieper gebedslewe, intimiteit met God aan – alles in vyf maklike stappe. Dissipelskap word oorvereenvoudig. Die pad van dissipelskap is egter een wat ons saam met ander loop. Soms is dit loop, soms is dit hardloop; soms is dit wag.

Die pad loop op en af – nie altyd gelyk nie. Soms sien ons lig; soms is dit donker. Dit gaan dus nie oor doeltreffendheid nie – dit gaan oor ‘n gesprek met Jesus Christus en jou medegelowiges. Soms voel dit of jy alleen is, maar jy is nie, want God en jou medegelowiges is by jou.

  1. 2.Getalle

Die klem val op resultate en getalle is die maatstaf vir sukses. Ons word slawe van spoed en vyande van tyd. Ja, een grootte pas almal. Daar is geen tyd om bates, behoeftes, die geskiedenis, diversiteit, tradisies en waardes van die gemeenskap te ontdek nie. Hierdie modelle beklemtoon kwantiteit en nie kwaliteit nie.

Die Stadige Kerk het ‘n ander perspektief van tyd. Jy moet doelgerig, maar nie haastig wees nie. Ons word nie deur tyd gebind nie. Jy kan bekostig om in jou gemeente en gemeenskap te gaan en te luister. Geestelike vorming is ‘n lang proses waarin jy tyd moet maak vir God, jouself en ander mense.

  1. 3.Voorspelbaarheid

Almal moet alles doen op ‘n manier wat vir hulle voorgeskryf is. Daarom weet jy presies wat jy gaan kry as jy iets bestel. Dit vereis uiteraard dissipline, orde, formalisering van prosesse en roetine – dit is wat jou veilig laat voel. Daarom kom kliënte weer terug, want hulle verwag voorspelbare resultate.

Natuurlik kan ons leer van sukses en mislukking van ander gemeentes, maar jy kan hulle nie slaafs naboots nie. Die kontekste verskil. Daarom moet ons altyd besluit wat ons in ons eie unieke toestande moet doen. Dikwels is ons so beïndruk met wat God elders gedoen het dat ons nie kan sien wat Hy hier en nou kan doen nie.

  1. 4.Beheer

Beheer word gebruik om ondoeltreffendheid, onsekerheid en onvoorspelbaarheid te beheer. Alles moet rigied gehou word; vrywilligers veral moet streng beheer word. En in die Stadige Kerk? Kom ondervind en sien self dat die Here goed is! (Psalm 24:9). In die Stadige Kerk word geëksperimenteer. Ons vind langs die pad uit wie Jesus Christus is, want ons loop saam met Hom. In die proses besef ons dat Hy die weg en die bestemming is. Ons word geroep tot ‘n vakleerlingskap.

Volgende keer gaan ons na die evangelie van die koffieboontjie kyk.




Die gemeentegroei beweging

Truth has no degrees or shades. A half truth is a whole lie, and a white lie is really black. — John MacArthur

Die gemeentegroei beweging

C. Christopher Smith en John Pattison het onlangs ‘n boek, Slow Church, geskryf wat besig is om baie aandag te geniet. Ek gaan ‘n aantal blogs aan hierdie boek spandeer.

As mense saam werk, lewe, eet, skoolgaan, leer, speel, ens –  as mense naby aan mekaar is – groei gemeentes dikwels buite die mure van die kerkgebou. Die kerkgroei beweging gebruik insigte van die sosiale en gedragswetenskappe om metodes te ontwikkel om die evangelie aan spesifieke teikengroepe te verkondig. Die metodologie, formules en kwantifiseerbare resultate word beklemtoon. Dit lei tot ‘n plaaslike tegnokrasie, sterk bo-na-onder leierskap, lae van bestuur, meer spesialisasie, meer vertroue op die toepassing van die wetenskaplike metode in elke gemeente.

 

Daar is drie ernstige probleme met hierdie benadering:

  1. 1.Die gemeente word homogeen

Vir die doeltreffende toepassing van hierdie beweging is segregasie nodig – ras, geslag, ouderdom, opvoedingsvlak, getroud/enkel, werkend/afgetree. Hier is dit nie van belang of iemand Griek of Jood is nie, besny of nie besny nie, andertalig, onbeskaaf, slaaf of vry nie. Hier is Christus alles in almal (Kolossense 3:11). In die Nuwe Testament is diversiteit juis ‘n kenmerk van die koninkryk van God. Gemeentes moet aktief die inertia van uniformiteit teenwerk.

  1. 2.Sendingstasies

Die kerkgroei beweging gebruik die model van sendingstasies in hulle gemeentes – hulle skep Christelike kolonies in die gemeenskap; plekke van veiligheid in ‘n andersinds vyandige en vreemde wêreld. Hulle spandeer baie tyd en energie om die regte mengsel te kry: nuwe, groter geboue; kontemporêre prediking; baie parkeerplek; uitstekende programme; lewendige kleingroepbediening; ens. Die leierskap en die kultuur skryf voor wat ‘n model Christen is. Hulle het ‘n kom-en-sien benadering – die aktiwiteite word tot die gebou beperk en beweeg nie uit in die omliggende gemeenskap nie.

  1. 3.Telbare mense

Die groei in getalle is die standaard waarteen sukses beoordeel word. Hulle maak dissipels juis daar waar die beste kans op sukses is. Wat is die Bybel se maatstaf vir sukses? Maar sal die Seun van die mens by sy koms nog geloof op die aarde vind? (Lukas 18:8). Paulus was oënskynlik nie bekommerd oor die getalle in sy gemeentes nie – sy bekommernis was dat die lidmate in die voetspore van Jesus Christus sou volg. Allan Hirsch sê dat die gemeentes waar die getalle toeneem dit dikwels as gevolg van mense wat van gemeente verander, is. Daar is eintlik baie min groei in bekeerlinge.

Nou kom ons by ‘n belangrike probleem in ons gemeentes: die McDonaldifikasie van ons kerke.




ETIEK: MY SPESIFIEKE TERREIN

 “Everyone thinks of changing the world, but no one thinks of changing himself.” – Leo Tolstoy

Etiek: My spesifieke terrein

C. Christopher Smith en John Pattison het onlangs ‘n boek, Slow Church, geskryf wat besig is om baie aandag te geniet. Ek gaan ‘n aantal blogs aan hierdie boek spandeer.

Reg aan die begin het ons gesê dat die beginsels van hierdie beweging drieërlei is:

  • Etiek – verbind tot kwaliteit en nie net aan kwantiteit en doeltreffendheid nie. Die uitdaging is om die beliggaming van Jesus Christus in ‘n spesifieke plek te wees.
  • Ekologie – ons oproep om Jesus Christus te volg moet binne God se sending van die versoening van alle dinge verstaan word. Ons moenie net aan wat ons doen aandag gee nie, maar ook aan hoe ons dit doen.
  • Ekonomie – dit verwys na God se oorvloedige voorsiening vir God se versoeningswerk.

Die eerste aspek waarna ons gaan kyk, is terrein.

Just remember, you can never franchise the blessings of God – Warren Wiersbe

Daar is sekere kenmerke van die koninkryk van God wat herhaal kan word. As ons hoor dat Jesus die koninkryk met suurdeeg en ‘n mosterdsaad vergelyk besef ons dit is ‘n raamwerk vir groei – organies, dikwels onsigbaar vir die blote oog en uiteindelik geheimsinnig. In Handelinge 8 probeer Simon die towenaar die bevoegdheid van Petrus kry om te verseker dat elkeen op wie hy sy hande lê die Heilige Gees kan ontvang. Petrus wys hom tereg. Dit is duidelik dat ons nie die koninkryk van God kan koop nie.

Baie gemeentes, veral dié gedryf deur die gemeentegroei beweging, kom baie naby daaraan om die Christelike geloof tot ‘n verbruikersartikel te reduseer – iets wat verpak, bemark en verkoop kan word.

Baie gemeentes word tot geestelike vulstasies gereduseer – ons Sondagoggend kuipestop voor ons weer by die rotteresies aansluit. Gemeentes is die plek waar jy godsdienstige goedere en dienste koop. Die gevolg is dat ons die lewe in geestelike en nie-geestelike gebiede verdeel. Die stadige kerk probeer wegbeweeg van hierdie gekompartementaliseerde paradigma. Die wysheid van die kruis is belangrik vir alle aspekte van die lewe.

Terrein is die kombinasie van natuurlike faktore (grond, hoogte bo seevlak, mikroklimaat) en menslike faktore (tradisie en praktyke en bewerking) wat ‘n unieke karakter vir elke klein landbou gebied en die kos wat daar verbou, gemaak en gekook word, is. Net so is die Stadige Kerk se wortels in die natuurlike, menslike en geestelike kultuur van ‘n besondere plek. Dit is ‘n unieke plaaslike uitdrukking van die globale liggaam van Christus.

Die Stadige Kerk verkies kwaliteit bo kwantiteit; dit soek die welstand van die gemeente en die gemeenskap. Dit word deel van die gewone alledaagse lewe van die omliggende gemeenskap – daar waar die mense woon. Ons woon tussen mense; ons werk saam en eet saam met die mense wat in ons gemeenskap woon. Ons is aan mekaar verbind. ‘n Kultuur gebou op spoed maak dit onmoontlik. Dit gaan dus oor nabyheid en stabiliteit, die ontwikkeling van gedeelde tradisies, ons neem standpunt in teen vervreemding. Ons vorm ‘n nuwe gedeelde storie vir die gemeenskap. Terselfdertyd verbind ons ons aan die kosmiese kerk.

Hierdie benadering is ‘n erkenning dat ons lot ingeweef is in die lot van ons bure. Bevorder die belange van die stad waarheen Ek julle in ballingskap weggevoer het, bid tot My vir daardie stad, want sy belange is ook julle belange (Jeremia 29:7).

Volgende keer gaan ons na die gemeentegroeibeweging kyk.