Die menslike natuur en God se stadige versoening

The absence of accurate definitions is the very life of religious controversy – J. C. Ryle

Die menslike natuur en God se stadige versoening

C. Christopher Smith en John Pattison het onlangs ‘n boek, Slow Church, geskryf wat besig is om baie aandag te geniet. Ek gaan ‘n aantal blogs aan hierdie boek spandeer.

Daar is twee eienskappe van die menslike natuur wat ook tot die stadige pas van God se versoening bydra.

  • Menslike opstandigheid en ongehoorsaamheid loop dwarsdeur die storie van die Bybel. Ons glo dat ons idees oor hoe dinge gedoen moet word beter as God se idees is. As gevolg van selfsugtigheid reageer ons op ons begeerte vir gemak en beheer en selfbehoud. Ons volg nie God se leiding nie. Hoekom gebeur dit? Wantroue en vrees. Ons wonder, soos Adam en Eva, of God werklik in beheer is – mislei Hy nie net vir ons nie. Maar geleidelik leer ons om nie uit vrees en twyfel te praat nie, maar uit ons vertroue op God. God kan die slegste gevolge van ons opstand in genade  vryspreek.
  • Die stryd van die mens om goed van kwaad te onderskei. Al wil ons gehoorsaam wees, is die mens nie altyd seker wat die regte pad is nie. Ons onderskat ons vermoë om onsself te mislei. Ons onderskeidingsvermoë verbeter as ons ander by die proses betrek en as ons saam God se weg soek. Die betroubaarheid van ons kennis sal nooit volledig wees voordat God sy versoeningstaak afgehandel het nie.

In die Westerse wêreld is individualisme aan die orde van die dag. Ons roeping om as geloofsgemeenskap saam te leef, is onbekend. Ons sukkel om die idee van ‘n gemeenskap te aanvaar en uit te leef. Ons is gebroke mense met vrese, vooroordele en gewoontes wat vir onsself en ander skadelik is. Daarom verkies ons om as individue te leef. Maar ons roeping in Christus is ‘n roeping in ‘n gemeenskap – dit is ‘n lewe gedeel met ander in ‘n plaaslike samekoms. Dit is die uitdrukking van Christus se liggaam.

Hierdie geloofsgemeenskap is noodsaaklik vir die sending van versoening. Alle mense is beelddraers van God en God het almal lief. Maar om die gevalle mensdom te verlos het God sy sending van versoening op ‘n enkele plek begin – Israel. God se taak is om mense vir Hom bymekaar te maak. Dit het met Abraham begin.

Die primêre werk van die Stadige Kerk is nie om mense na ons kerkgeboue aan te trek nie, maar om saam die opstandingslewe van Christus te kweek. Hoe doen ons dit? Deur ons naaste opreg lief te hê – selfs ons vyande. Soos ons holisties Christus se liefde beliggaam, ondervind ons vreugde wat ander mense na Christus sal aantrek.

Al die mense is spelers in die drama – of hulle dit nou weet of nie. Hierdie geselskap het klein begin, maar brei geleidelik uit.  Geleidelik word die vertroue van mense gewen totdat almal sy rol vervul. Die hart van Stadige Kerk is die besef dat God se mense belangrik is vir sy sending in die wêreld. Dit gaan ook oor die blydskap wat kom as ons groei in die plekke waartoe ons geroep is.

In die volgende blog gaan ons begin kyk na etiek.




God begeer samewerking met die mensdom

 

Show us anything plainly written in that Book, and, however trying to flesh and blood, we will receive it, believe it and submit to it – J. C. Ryle

God begeer samewerking met die mensdom

C. Christopher Smith en John Pattison het onlangs ‘n boek, Slow Church, geskryf wat besig is om baie aandag te geniet. Ek gaan ‘n aantal blogs aan hierdie boek spandeer.

God betrek die mensdom in sy werk van versoening met liefde en geduld. Hierdie begeerte vir samewerking dra by tot die stadigheid van die verlossingsverhaal. Die kleinste optrede van menslike trou word stadig en geduldig in die groot Bybelse drama van verlossing ingeweef. God verlang die radikale transformasie van ons gebroke wêreld, maar anders as mense wat in hulle ongeduld gebruik maak van geweld, het God genoeg tyd.

 

God se geduldige samewerking met die mens is sigbaar dwarsdeur die verhaal van die Bybel. Soms gebeur dit al is dit teenstrydig met die verlossingsverhaal. Ons sien dit as die mense van Israel vir God smeek dat hulle ook ‘n koning wil hê (1 Samuel 8) – soos al hulle heidense buurlande. God maak dit duidelik dat ‘n koning nie in Israel se beste belang sou wees nie – die koning sal hulle onderdruk, hulle seuns vir militêre diens oproep, die beste van hulle lande en boorde neem, ens. Die Israeliete hou vol met hulle versoek vir ‘n koning – en God gee tot hulle nadeel toe. God se samewerking met die mensdom berus primêr – nie eksklusief nie – by sy mense.

Maar dra die mens by tot die stadige pas van God se versoening bydra? Daarna kyk ons volgende keer.




Die geduldige karakter van God

If the thing is not in the Bible, deducible from the Bible, or in manifest harmony with the Bible, we wil have none of it –J. C. Ryle

Die geduldige karakter van God

C. Christopher Smith en John Pattison het onlangs ‘n boek, Slow Church, geskryf wat besig is om baie aandag te geniet. Ek gaan ‘n aantal blogs aan hierdie boek spandeer.

Thomas Merton het van die spontane omwenteling van die mensdom gepraat. Hy het voorspel dat hierdie opstand van die mens deur desperaatheid, sinisisme, geweld, vrees, hoop, twyfel, geloof, skepping, vernietiging en ‘n obsessie met beelde, programme, afgode en slagspreuke sal wees. In hierdie vlak waters van die postmodernisme probeer die Stadige Kerk anker neerlaat in die stil diep waters van ‘n geduldige, tog nabye, God. Dit is deel van die lewe van God se besondere mense – in die wêreld, maar nie deel van die wêreld nie en daarom kan ons vir die wêreld wees.

 

Die Stadige Kerk kyk vooruit na die klimaks van die drama – Jesus Christus se tweede koms. Hierdie kerk se siening is langtermyn. Daarom ondersoek dit alle denke en kulture, elke ideologie, elke aanname, elke optrede in die lig van die eindtyd.

Die Skrif verlig eienskappe van beide God en die mens se natuur. Kom ons kyk eerstens na God se natuur. God is besig om die wêreld te transformeer en te versoen, maar Hy verwag nie onmiddellike en totale verandering nie – Hy is geduldig. Jesus se gelykenisse in Matteus 13 – die suurdeeg en die mosterdsaadjie – herinner ons daaraan dat God se transformasie nie oornag gebeur nie. Ons leef in ‘n tyd waar onmiddellike resultate belangrik is. Hierdie gelykenisse beskryf die manier waarop God gewoonlik in die wêreld werk. The faith of Christ offers no button to push for quick service. The new order must wait the Lord’s own time (A. W. Tozer).

God se liefde spruit voort uit sy liefde vir die skepping. As Paulus die kenmerke van die liefde in 1 Korintiërs 13 beskryf, is dit geen wonder dat hy met die liefde is geduldig begin nie. Kyk maar na die storie van Israel: opstand na opstand met verspreide tye van trou tussen-in, maar deur dit alles sien ons God se geduld. God is bereid om verneder te word en te ly, maar Hy los nie sy liefdeswerk nie.

God se karakter staan in skerp kontras met vandag se klem op doeltreffendheid gedryf deur die oortuiging dat die eindresultaat die middele wat gebruik word om dit te bereik, regverdig. Ons lewe in die Stadige Kerk begin by die liefde en geduld van God.

Maar God verlang ook na samewerking met die mensdom. Daarna kyk ons volgende keer.




‘n Teologiese visie vir die stadige kerk

 

Our faith can find no resting place except in the Bible, or in Bible arguments. Here is rock: all else is sand –  J. C. Ryle

 ‘n Teologiese visie vir die stadige kerk

C. Christopher Smith en John Pattison het onlangs ‘n boek, Slow Church, geskryf wat besig is om baie aandag te geniet. Ek gaan ‘n aantal blogs aan hierdie boek spandeer.

We are impatient, anxious to see the whole picture, but God lets us see slowly, quietly. The Church has to learn how to wait – Pous Franciskus

All the world is a stage

And all the men and women merely players

They have their exits and their entrances

William Shakespeare – As You Like It

Hierdie reëls is so bekend dat ons geneig is om die waarhede daarin vervat, te vergeet. Hierdie beeld van die wêreld as ‘n drama waarin die hele skepping betrokke is, is tekenend van die Stadige Kerk. Die Bybelse verhaal is die storie van die hele skepping – van die begin tot nou tot aan die einde. Dit is ‘n storie wat ons verander in die mense wat ons veronderstel is om te wees. Ons kan nooit die rigting waarin hierdie storie gaan ontwikkel voorspel nie – ons weet nie waar dit gaan eindig nie.

 

In improvisering is dit jou verantwoordelikheid om by te dra – jy moet iets tot die gesprek byvoeg. Net so is niemand ‘n passiewe waarnemer van die drama van die Bybel nie. Die Skrif is nie soos ‘n rolprent nie – alles netjies uitgewerk nie. Dit gee aan ons ‘n basiese raamwerk; dit gee aan ons kerke – die akteurs in hierdie drama – buitengewone vryheid en kreatiewe geleenthede.

N. T. Wright (Scripture and the Authority of God) beskryf die geskiedenis as ‘n drama in vyf tonele:

1. Skepping

2. Die sondeval

3. Israel

4. Jesus

5. Kerk

Die implikasies hiervan is ernstig: dit ondermyn ons kulturele impuls om verbruikers en toeskouers te wees in plaas daarvan dat ons getroue deelnemers aan die vyfde toneel van God se drama – die kerk – is. Hierdie toneel volg natuurlik op die voorafgaande tonele, maar dit is ook die tyd waar werklike nuwe dinge kan gebeur.

Hoe dieper ons betrokkenheid by die storie, hoe beter sal ons improvisering wees. In die geloofsgemeenskap – ‘n gemeenskap van vertroue – leer ons lewe in die naderende onbekende van die toekoms. Die mense van God is ‘n geselskap wat aandag gee en betrokke is by die storie van die Skrif. Hoekom? Om vertroue te bou en om te leer om getrou binne die raamwerk van die Skrif te improviseer.

Volgende keer gaan ons kyk na God se geduldige karakter.