IS ONS GEDULDIG GENOEG?

The religion which man craves after is one of sight and sense, and not of faith – J. C. Ryle

 

Is ons geduldig genoeg?

C. Christopher Smith en John Pattison het onlangs ‘n boek, Slow Church, geskryf wat besig is om baie aandag te geniet. Ek gaan ‘n aantal blogs aan hierdie boek spandeer.

Above all, trust in the slow work of God, our loving vine-dresser – Pierre Teilhard de Chardin

Spoed het ons samelewing onomkeerbaar hervorm – vinnige karre/kos/rekenaars … In 1989 word die Slow Food Manifesto vrygestel. Dit was ‘n reaksie teen die vinnige lewe en die homogeniserende effek van globalisering – die verlies aan natuurlike en kulturele diversiteit.

Ons leef in ‘n kultuur van spoed. Dit geld nie net vir die spoed van verandering nie. Vinnig beteken ek is besig, aggressief, analities, bekommerd, oppervlakkig, ongeduldig, aktief, ens. Stadig beteken ek is kalm, versigtig, stil, intuïtief – dit gaan oor die maak van ware en betekenisvolle verbindings met mense, kultuur, werk, kos en enigiets.

 

Wat het dit nou met die kerk te doen?  Die kerk is net so vatbaar vir die aantrekkingskrag van die vinnige lewe soos die res van die kultuur. Die sosioloog, George Ritzer, noem dit “McDonaldization.” Hierdie proses het vier dimensies: doeltreffendheid, voorspelbaarheid, kwantifiseerbare resultate en beheer. Hierdie dimensies kry ons vandag in feitlik elke aspek van ons kultuur – insluitend die kerk in die Weste. Baie gemeentes, veral dié gedryf deur gemeentegroei modelle,  is baie naby om die Christelike geloof as ‘n verbruikersartikel te verpak, te bemark en dit te verkoop. Diep, holistiese dissipelskap, wat elke aspek van ons lewens raak, word nie meer gekweek nie. Die geloofslewe word beperk tot die erediens op ‘n Sondagoggend (veilig en voorspelbaar) en ‘n persoonlike verhouding met Jesus Christus wat ek uit die privaatheid van my huis kan bestuur. Om Jesus te volg is nou verskraal tot ‘n geprivatiseerde geloof en nie meer ‘n lewenslange vakleerlingskap uitgevoer in die geloofsgemeenskap nie.

Die Christelike geloof in die Weste het kortpaaie aanvaar. As ons dit uit die oogpunt van doeltreffendheid – die kortste pad van ongered na gered, van ongelowig na gelowig – bekyk, kry ons indrukwekkende korttermyn resultate. Die kerk is besig. Maar watter langtermyn gevolge het hierdie benadering; hoe volhoubaar gaan hulle wees? Teiken bemarking, bekende (celebrity) leraars, verpakte aanbiddingsgeleenthede, gemeentegroeiformules toegepas sonder inagneming van die plaaslike konteks en programme en programme en programme wat almal wonderlike resultate in enkele maklike stappe belowe, is aan die orde van die dag.

Wat het ons alles prysgegee in ons najaag van die kultus van spoed. Ons moet onsself afvra: Wat beteken dit om ‘n geloofsgemeenskap te wees op ‘n sekere plek en op ‘n sekere tyd? Die Stadige Kerk is ‘n oproep om weer van ons interafhanklikheid bewus te word – ons en die skepping en ons en ander mense. Ons moet weer aandag aan die wêreld om ons gee en dit wat God besig is om daar te doen – ook in ons eie woonbuurt.

Die beginsels van hierdie beweging is:

  • Etiek – verbind tot kwaliteit en nie net aan kwantiteit en doeltreffendheid nie. Die uitdaging is om die beliggaming van Jesus Christus in ‘n spesifieke plek te wees.
  • Ekologie – ons oproep om Jesus Christus te volg moet binne God se sending van die versoening van alle dinge verstaan word. Ons moenie net aan wat ons doen aandag gee nie, maar ook aan hoe ons dit doen.
  • Ekonomie – dit verwys na God se oorvloedige voorsiening vir God se versoeningswerk.

Alles goed en wel, maar is daar ‘n teologiese visie vir die stadige kerk? Daarna kyk ons volgende keer.




Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Huishoudelike Aktiwiteite(2)

Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Huishoudelike Aktiwiteite(2) – Hennie Stander

Die koop van kos

Sekere kossoorte kon vir redelike tye geberg word deur dit te droog of met sout te behandel, maar in ander gevalle was dit weer moeiliker veral in warm klimaatstoestande. Dit was dus nodig om periodiek kos aan te koop. So lees ons in Johannes 4:8 dat Jesus se dissipels na die stad gegaan het om voedsel te gaan koop. In Markus 6:36 wou die dissipels weer vir die skare wegstuur sodat hulle vir hulself brood kon gaan koop. Terwyl Jeremia in die tronk was, het by elke dag brood ontvang uit die straat van die bakkers in Jerusalem (Jeremia 37:21).

Voedsel is op markplekke gekoop. ‘n Markplek was ‘n handelsentrum wat uit verskeie gebiede bestaan het waar handel gedryf is-baie soos die basaars van die hedendaagse Oosterse gebiede.

mark

‘n Voedselmark in Hebron. Die markplekke van die Bybelse tye was bale soortgelyk hieraan.

 

Die bak van brood

Brood was die basiese voedsel. Meel, wat met die meul gemaal is, is met water gemeng. As die brood ingesuur moes word, is suurdeeg geneem en in die deeg geplaas. Die deeg is dan so gelos totdat dit deursuur is (Matteus 13:33; Galasiers 5:9). Daarna is dit gebak.

 

Daar was verskillende metodes hoe hierdie brood gebak is. Een daarvan was om klippe warm te maak en die brood dan daarop te bak (1 Konings 19:6). Maar daar was ook primitiewe oonde. So byvoorbeeld is potte van erdewerk verhit deur dit om te keer op die vuur en dan is die brood op die warm konkawe kante daarvan gebak. (‘n Mens moet onthou dat die brood waarskynlik plat en rond was.) Ander oonde was weer silindervormig of piramiedvormig. Hierdie soort oonde was oop aan die bopunt en verder was daar ook ‘n opening aan die onderkant waarin daar vuur gemaak is (sien die afbeelding). Die brood is moontlik aan die binnekant van die oond teen die wande vasgedruk, of dit is op klippe op die bodem daarvan gebak nadat die vuur en as verwyder is.

 

Die Israeliete het ook van gewone klei of metaal bakplate gebruik gemaak. Onder die plaat is vuur gemaak en bo-op is die brood gebak. In Hosea 7:4 ev word die hele proses van hoe brood in ‘n oond gebak word, as simbool gebruik om ‘n sameswe­ring binne ‘n paleis te beskryf.

oond

‘n Tradisionele soort oond

Siesta

Wanneer die dag op sy warmste was, was dit tyd om te ontspan of te slaap. So lees ons dat Abrahamby sy tentdeur gesit het (Genesis 18:1). In 2 Samuel 4:5 lees ons dat Isbosetop die warmste van die dag besig was om sy middagslapie te geniet.

Skrywer:  Prof Hennie Stander

 




Jesus se dood en Jona

Jesus se dood en Jona – Francois Malan

Petro vra:

Graag wil ek weet Jesus verwys na Sy dood dat dit soos Jona s’n is wat drie dae in die vis se maag was en dan weer uitgespoeg is, maar ons glo dat Jona lewend was die drie dae in die vis tog glo ons dar Jesus dood was vir drie dae.

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

 

Volgens Markus 8:11-12 vra die Fariseërs van Jesus ‘n teken uit die hemel om Hom te toets. Jesus antwoord met ‘n diep sug in sy binneste: ‘Waarom vra hierdie geslag ‘n teken? Voorwaar, Ek sê vir julle: Aan hierdie geslag sal beslis geen teken gegee word nie.’

 

Volgens Matteus 16:1-4 is dit die Fariseërs en Sadduseërs wat die teken uit die hemel van Jesus vra. Jesus sê: ‘n Bose en owerspelige geslag vra ‘n teken, maar geen teken sal aan hulle gegee word nie, behalwe die teken van Jona.’

 

Volgens Lukas 11:29-32 sê Jesus vir die skare: Hierdie geslag is ‘n slegte geslag. Hulle vra ‘n teken, maar geen teken sal aan hulle ggee word nie, behalwe die teken van Jona. Netsoos Jona vir die mense van Nineve ‘n teken was, so sal die Seun van die Mens ‘n teken wees vir hierdie geslag. Die mense van Nineve sal in die oordeel saam met hierdie geslag opstaan en dit veroordeel, omdat hulle op grond van die prediking van Jona tot bekering gekom het, en waarlik, wat hier is, is meer as Jona.

 

Volgens Matteus 12:38-41 vra van die skrifkenners en Fariseërs dat hulle graag ‘n teken van Jesus wil sien. Hy het hulle geantwoord:’n Bose en owerspelige geslag vra ‘n teken, maar geen teken sal aan hulle gegee word behalwe die teken van die profeet Jona nie. Want net soos Jona drie dae en drie nagte in die ingewande van die seemonster was, so sal die Seun van die Mens drie dae en drie nagte in die hart van die aarde wees. Die mense van Nineve sal in die oordeel saam met hierdie geslag opstaan en hulle veroordeel, omdat hulle op grond van die prediking van Jona tot bekering gekom het, en waarlik, wat hier is, is meer as Jona.

 

Markus 8 praat van ‘n teken, sonder verwysing na Jona.

 

Matteus 16 noem slegs die teken van Jona, sonder verduideliking.

 

Lukas 11 betrek die skare se versoek om ‘n teken op die prediking van Jona teenoor die prediking en optrede van Jesus onder hulle.

 

In Matteus 12 antwoord Jesus die skrifkenners en Fariseërs se begeerte na ‘n teken met ‘n vergelyking tussen Jona se drie dae en drie nagte in die ingewande van die seemonster met die Seun van die Mens se drie dae en drie nagte in die hart van die aarde, en betrek die prediking van Jona teenoor die prediking en optrede van Jesus onder hulle.

 

Dit gaan in nie een van die gevalle oor ‘n vergelyking tussen die dood van Jesus teenoor ‘n biddende Jona in die ingewande van die vis nie. (Jesus noem Homself telkens in die Evangelies ‘die Seun van die Mens’ na aanleiding van  Daniël 7:13-14).

 

Die vergelyking tussen Jesus en Jona gaan oor ‘n tyd wat God beperk tot enkele dae en nagte wat Jona in die ingewande van die monstergroot vis was om hom tot inkeer te bring,  en Jesus in die hart van die aarde sal wees om die dood te oorwin, die dood wat oor die skepping en die ganse mensdom gekom het en ingelei is deur die ongehoorsaamheid van Adam en Eva (Genesis 2:17) sodat Jesus die ganse mensdom ‘n bose geslag noem wat hulle rug op God gedraai het om self soos God te wees (Genesis 3:4-6) deurdat elke mens vir homself lewe en nie soos hy/sy bedoel is om vir God te lewe nie, ‘n owerspelige geslag wat die ware God verlaat het en die ganse skepping saam met ons aan die dood onderwerp het (Romeine 8:22-23).

 

Maar die eintlike vergelyking gaan oor die prediking van God se profeet Jona, wat die woord van God aan die heidense stad Nineve gebring het en hulle reaksie daarop. Hulle het hulle tot God bekeer. Maar toe Jesus, wat die Woord van God is, wat self God is (Johannes 1:1-3), mens geword het om die ware God aan die mense bekend te maak, wil mense Hom nie glo en aanvaar as die Here van hulle lewe nie.  

 

Daarom   sal die mense van Nineve in die oordeel saam met hierdie geslag opstaan en hulle veroordeel, omdat hulle op grond van die prediking van Jona tot bekering gekom het, en waarlik, wat hier is, is meer as Jona.

 

Dié mense wat die woord van God in die Ou Testament geglo het, en sedert Jesus se koms in Hom glo, word nie veroordeel nie, maar wie nie glo nie, staan reeds veroordeel omdat hulle nie in die Naam van die enigste Seun van God geglo het nie (Johannes 3:18).

 

Prof Francois Malan

 




Ek soek God se wil

Little learning and much pride come of hasty reading. —C.H. Spurgeon

 

Ek soek God se wil

Wat is God se wil vir my lewe? Dit is ‘n vraag waarmee baie van ons worstel. Ons word bang as ons aan ons toekomsplanne dink. Hoe weet ek wat is die regte besluit? Ons glo dat as ons net lank genoeg en hard genoeg soek, sal ons weet wat om te doen.

 In sy boek Just Do Something sê Kevin DeYoung dat ons nooit God se wil vir ons toekoms sal kry nie. Wat hy sê, is:  ons is vry van die las om God se plan te probeer vasstel voor die tyd. Die lewe is nie ‘n doolhof wat ons moet navigeer om by die eindpunt uit te kom nie. Nee. God vra dat ons Hom om al die draaie moet vertrou. Ja, God is in beheer van my lewe; Hy het spesifieke planne vir my toekoms, maar Hy verwag nie dat ek al die besonderhede van sy plan moet ken voor ek daar kom nie. Dit is nutteloos om na iets te soek wat God nie wil openbaar nie.

 

 

Hoekom weerhou God sy planne van ons? ‘n Onbekende toekoms lei tot geloof in ‘n bekende God. As ek elke stap en besonderheid van my lewe vorentoe geken het, was dit nie nodig vir my om te glo nie. God het nie net ‘n unieke plan vir jou lewe nie, maar Hy wil hê dat jy Hom moet vertrou. God gee aan ons meer as wat ons op ons eie kan hanteer, sodat ons kan besef dat ons sy hulp nodig het. Vertrou volkome op die Here en moenie op jou eie insigte staat maak nie. Ken Hom in alles wat jy doen en Hy sal jou die regte pad laat loop (Spreuke 3:5 – 6). In plaas van bid dat ons God se wil sal ken, moet ons eerder bid dat ons op sy leiding sal vertrou.

 

Ons dink aan God se wil vir ons lewe in terme van die toekoms. God wil egter hê dat ons Hom nou en hier moet soek en verheerlik. God se wil is dat jy meer soos Jesus Christus sal wees en Hom sal verheerlik. Hy wil ons hart en denke verander. As God aan ons ‘n nuwe hart gegee het wat begeer wat Hy begeer, sal ons besluite by sy plan inpas. Ons werk deur hierdie besluite met die wysheid wat Hy aan ons deur sy Gees gee.

 

Ons is so vasgevang in ons soeke vir God se verborge plan vir ons dat ons skoon van die passie en begeertes wat Hy aan ons gegee het, vergeet.

Kry die passies en begeertes wat God aan jou gee en volg hulle.

Neem jou besluite en staan vas in hulle.

Vertrou God – Hy is groter as jou taak en baie groter as jou bekommernis oor die toekoms.