Maria se Loflied

Maria se Loflied – Coen Slabber

Elmien vra:

Waar in die bybel kry ek die lofsang van Maria?

Antwoord

Coen Slabber antwoord:

Ons kry Maria se loflied in Lukas 1:46 – 55.

Nadat Maria volle sekerheid gekry het, word sy ook deur die Heilige Gees aangespreek en sing sy ‘n loflied uit tot eer van God. Hier het ons een van die grootste lofliedere van alle tye – die Magnificat – na aanleiding van die eerste woord in die Latynse vertaling van hierdie lied (Magnificat anima mea Dominum). Dit word dikwels gebruik as vertrekpunt vir koormusiek en liedere. Dit is deurweek met die Ou Testament, en is soortgelyk aan die loflied van Hanna, Samuel se moeder (1 Samuel 2:1 – 10). Dit bevat ook grepe uit ander uitsprake in die Ou Testament. In sy inhoud en vorm oortref dit die loflied van Hanna. Die lied val in twee dele uiteen:

Deel 1: Dit druk Maria se lof oor God se genade aan haar uit (vs 47 – 50).

Deel 2: Maria spits haar lof toe op God se groot dade aan Israel (vs 51 – 55).

 

Dr Coen Slabber

 




Seuns van God en vroue van die aarde

Seuns van God en vroue van die aarde – Marius Nel

Christo vra:

Veduidelik vir my Gen 6 waar die seuns van God die vroue van die aarde geneem het as vroue en daar is reuse gebore. Hoekom sou God dit toelaat en waarom?

Antwoord:

Prof Marius Nel antwoord:

Genesis 6:1-8 handel oor die verval van die mensdom.

6:1-4 Die vergoddeliking van mense.

Presies wat met hierdie vier verse bedoel word, is onseker. Daarmee word dit een van die mees omstrede dele in die Bybel.

Na aanleiding hiervan word die volgende verskillende verklarings teëgekom:

(a) Dis engele wat met mensedogters getrou het. Daarteenoor word gesê dat volgens Matteus 22:30 engele nie kan trou nie.

(b) Omdat Israel in Eksodus 4:22 “seun van God” genoem word, verwys dit na die afstammelinge van Set. Maar hoe kan ’n mens sommer Israel met Set gelykstel?

(d) ’n Joodse interpretasie lui dat dit konings of vername mense van destyds is (vgl 2 Sam 7:14, hy sal vir my ’n seun wees). Die beswaar is dat die oordeel van 6:3 dan onverstaanbaar is.

(e) Ons het met ’n mite* te doen wat ’n bepaalde verskynsel op ’n bonatuurlike wyse wil verklaar. In hierdie verband word gevra of ’n mens dan van mites in die Bybel kan praat.

Uitsonderings het nog altyd mense se aandag getrek. In die antieke tyd het mense sulke voorwerpe en persone aan die bomenslike verbind. So byvoorbeeld is bome of rotsformasies met ’n vreemde voorkoms beskou as met krag belaai. Geleidelik het mense gedink iets goddeliks kleef daaraan. Mettertyd het dit selfs oorgegaan in die aanbidding van die voorwerpe.

Die ou verhale van die antieke wêreld vertel van sulke besonder dapper, sterk, groot of bekwame figure wat beskou is as deels mens en deels goddelik. Gewone mense is nie so nie, daarom kan so ’n persoon nie ’n gewone mens wees nie, het hulle gedink. ’n Goeie voorbeeld kry ons in die bekende Babiloniese vertelling oor Gilgamesj in die sogenaamde Babiloniese vloedverhaal. Daarvolgens was Gilgamesj ’n besonder sterk en dapper persoon omdat hy een derde mens en twee derdes godheid sou gewees het.

Hierdie opvattings was ook in Israel aan die orde van die dag. Daarvan getuig die talle profetiese vermanings teen die vergoddeliking van kragte, voorwerpe en mense.

Wanneer daar in die Bybel teen ’n populê­re opvatting standpunt ingeneem word, word die opvatting dikwels gestel en dan opgevolg deur die profetiese vermaning. Omdat daar in Hebreeus egter nie so iets soos aanhalingstekens is wat die populêre aanhaling sou aantoon, nie, is dit vir ons moeilik om die onderskeid raak te sien. Voorbeelde is Hosea 9:7b-9 (waar die vertaling geen aanhalingstekens gee nie), Hosea 12:5-7 en Miga 2:6-7 (waar die vertaling wel aanhalingstekens gee).

 

Skrywer: Prof Marius Nel

 




God is oppermagtig oor al die nasies (4)

 

Any theology that does not lead to song is, at a fundamental level, a flawed theology. —J.I. Packer

God is oppermagtig oor al die nasies (4)

In Jesaja 13 – 20, ‘n gedeelte wat ons gewoonlik vinnig lees, is daar drie primêre waarhede wat Jesaja beklemtoon. Vandag kyk ons na die derde van hierdie waarhede:Kyk na Hom.

Die belangrikste besluite word nie in Pretoria of Kaapstad geneem nie, maar in die hemel. Daardie dag sal die mens weer sy hoop op sy Maker vestig, sy hulp van die Heilige van Israel verwag. Hy sal nie meer sy hoop vestig op die altare, die werk van sy eie hande nie (17:7 – 8). Onmiddellik moet ons een gevolgtrekking maak: In hierdie wêreld is daar vir ons geen sekuriteit nie – ons sekuriteit is by God. Daarom moet ons nie op mense vertrou nie, maar op God alleen.

Ons moet ophou om ons hoop te plaas op dit wat ons kan doen.

Ons moet alles wat onverenigbaar met Hom is, verwerp – die altare vir afgode in ons hart. God roep ons om in geloof te leef. Enigeen wat ‘n kind van God is, kan die sondige wêreld oorwin. En die oorwinning wat ons oor die wêreld behaal het, is deur ons geloof (1 Johannes 5:4). Oorwin ons die wêreld of oorwin die wêreld vir ons? God roep ons op tot geloof wat die wêreld sal oorwin, want Hy heers oor die nasies. Wat meer kan ons vra as dat ons God by die wêreld betrokke is.

Gaan ons op God se oppermag en geregtigheid vertrou – reg nou in ‘n deurmekaar wêreld? Laat Hy ons stabiliseer met daardie dinge wat die wêreld nooit aan ons kan gee en van ons kan wegneem nie.




God is oppermagtig oor al die nasies (3)

The world is never won by trimming, and compromising, by facing both ways, and trying to please all –  J. C. Ryle

God is oppermagtig oor al die nasies (3)

In Jesaja 13 – 20, ‘n gedeelte wat ons gewoonlik vinnig lees, is daar drie primêre waarhede wat Jesaja beklemtoon. Vandag kyk ons na die tweede van hierdie waarhede:God regeer.  

Soos Ek my voorgeneem het, so sal dit wees, wat Ek besluit het, sal gebeur … Dit is die besluit wat vir die hele aarde geneem is, my hand is klaar uitgesteek teen al die nasies om hulle te oordeel. Die Here die Almagtige het dit besluit ; wie kan dit verydel? Sy hand is uitgesteek; wie sal die oordeel kan afweer? (14:24 – 27). Ons is in God se hande; Hy is betrokke by ons wêreld – nou. God se hand is in die wêreld aan die werk. Ons kan nie sy hand wegdraai nie. Let op: Die Here die Almagtige het besluit. Ons moet nou besluit: Praat God die waarheid of jok Hy vir ons?

 

As ons besluit dat God opreg is, moet ons sy woord glo en gehoorsaam en Hom onder alle omstandighede vertrou. God se finale doel met die mens is nie oordeel nie, maar verlossing. Die Here die Almagtige sal hulle seën en sê: Geseënd is my volk Egipte, geseënd is Assirië wat deur My geskep is, en geseënd is Israel, my eiendom (19:25).

In die volgende blog gaan ons na Jesaja se derde primêre waarheid kyk: Kyk na Hom.