Werk vier uur per week

Let us not be moved by the specious argument, that it is humility to  disallow private judgment, and to have no opinion of our own, that it is the part of the true Christian not to think for himself – J. C. Ryle

 

Werk vier uur per week

Timothy Ferriss het ‘n baie interessante boek –  The 4-Hour Workweek –  geskryf. Dit gaan nie net oor ‘n beter aftrede nie.Hy sê: “When you run so fast to get somewhere you miss half the fun of getting there.” Hy sê dat te veel van ons vir ons uitbrand as gevolg van werkpatrone wat net nie volgehou kan word nie.

 

Twee wette – eenvoudig maar moeilik om te implementeer – is die basis van sy teorie

 

Wet #1: Pareto se wet

Wilfredo Pareto was ‘n kontroversiële Italiaanse ekonoom aan die einde van die 19de eeu. Hy beskryf die 80/20 beginsel: 80% van die resultate in die gevolg van 20% van die insette. Die teenoorgestelde is ook waar: 80% van jou probleme kom uit 20% van jou bronne. Die doel van die wet is eenvoudig: verhoog jou onderskeidingsvermoë en word minder aktief. Luister na Ferriss:  “Being busy is a form of laziness—lazy thinking and indiscriminate action. Being overwhelmed is often as unproductive as doing nothing, and is far more unpleasant.”

 

Wet #2: Parkinson se wet

Die wet sê: Die taak neem toe in gewaande belangrikheid en ingewikkeldheid in verhouding met die tyd wat daarvoor toegeken is. Jy kan ‘n projek waarvoor twee weke geskeduleer is in 24 uur voltooi, want die kort teikendatum dwing jou om net op die noodsaaklike te fokus. Stel vir jouself kort teikendatums vas – moenie toelaat dat uitstel paniek veroorsaak nie. Hierdie is nie natuurlik nie, want ons glo hoe langer ons werk hoe produktiewer is ons. Ons gebruik tyd sleg, want meeste omgewings moedig ons aan om die volle tyd te gebruik. Om tyd te mors is ‘n slegte gewoonte.

 

Kom ons voeg die twee wette saam: Identifiseer die paar kritiese take wat lei tot meeste van jou resultate en skeduleer hulle met kort teikendatums. Dit beteken jy kry meer gedoen. Alles goed en wel, behalwe hierdie reëls geld nie as ons met mense werk nie.

 




Die klank van stilte

When a wise man talks to a fool, two fools are talking. – Joodse spreekwoord

 

Die klank van stilte

Kom ons kyk na die siening van vier persone in die Bybel:

  • Habakuk

Die Here is in sy heilige tempel: almal op aarde moet in sy teenwoordigheid stil wees (2:20)

Soms is die enigste toepaslike reaksie op God se heiligheid stille eerbied.

 

  • Paulus

Paulus bid vir alle mense  – ook dié wat regeer en mag uitoefen sodat ons ‘n rustige en stil lewe kan lei in volkome toewyding aan God en in alle eerbaarheid (1 Timoteus 2:2).

 

  • God

Na Elia se magtige oorwinning oor die profete van Baäl op Berg Karmel dreig Isebel, die koningin. Elia verval in ‘n erge depressie en dreig om sy eie lewe te neem. God praat met Elia, nie in ‘n sterk wind of ‘n aardbewing of ‘n vuur nie, maar in’n fluistering in die windstilte (1 Konings 19:12). God praat in die stilte; die stilte help ons om God se stem te hoor.

 

  • Jesus

Jesaja praat profeties oor Jesus, die lydende dienaar van Jesaja 53: Hy was mishandel, maar het geduldig gebly, hy het nie gekla nie. Soos ‘n lam wat na die slagplek toe gelei word en soos ‘n skaap wat stil is as hy geskeer word, het hy nie gekla nie (53:7). Tydens sy bediening het Jesus die skares onderrig, gelykenisse vertel, vrae gevra, maar tydens sy verhoor bly Hy stil.

 

Habakuk, Paulus, God en Jesus het almal gedink dat stilte goud werd is. Hoekom?  Dit is baie moeilik om te luister as daar lawaai is en daar is baie lawaai in ons wêreld. Ons het stilte nodig om na God en na ander te luister.

 




God se genade en die Judas-brief

Verbiage is too often the fig leaf which does duty as a covering for theological ignorance. ~ C. H. Spurgeon

 

God se genade

Soms is dit nodig om God se genade te verdedig – veral teenoor onsself.  Aan die einde van sy eerste brief skryf Petrus: Ek het geskrywe om julle te bemoedig en julle te verseker dat hierdie dinge die ware genade van God is. Staan hierin vas! (5:12). Die kort briefie van Judas help ons. Hy waarsku die kerk teen sekere mense wat ongemerk hulle geledere binnegedring het. Hulle misbruik die genade van ons God. Hulle is goddelose mense en sal veroordeel word. Judas waarsku die kerk teen dwaalleraars, en ons kan hierdie waarskuwings te harte neem.

 

 

Hier is sewe waarskuwings waarin Judas ons waarsku om nie God se genade te misbruik nie.

  • Verwerp ek die gedagte dat Jesus Christus my enigste Meester en Here is? (Vers 4) Maak dit jou ongemaklik as Jesus opdragte gee? Judas gee nie om om te sê dat hy ‘n dienaar van Jesus Christus is nie – dat Hy gehoorsaamheid van hom (Judas) kan verwag nie.
  • Het ek ‘n begeerte om die gesag van die Here te verwerp? (Vers 8). Is ek suspisieus van enige vorm van gesag wat my outonomie mag aantas? As selfs aartsengele gelukkig is onder God se gesag, hoeveel te meer nie ek wat deur genade verlos is nie?
  • Erken ek God se gesag om diegene wat nie glo nie, te vernietig? (Vers 5). Erken ek God se gesag om ongehoorsame engele met onbreekbare kettings te bind en hulle in duister dieptes vir die oordeel van die groot dag te hou? (vers 7) Verwerp ek ‘n God wat mense gemaak het en vir hulle plek gereed hou in die duister dieptes, waar hulle ewig sal bly? (vers 13)
  • Vertrou ek toenemend op my eie denke: Maar hierdie mense praat lasterlik oor dinge waarvan hulle geen kennis het nie? (vers 10). Glo ons selfs ons eie drome in plaas van God se openbaring in die Bybel? (Vers8)
  • Het ek ‘n toenemend siniese siening van Christene ontwikkel wat daartoe lei dat jy hulle beledig? (Vers 8) Is ek deel van die klaers en ontevredenes? (Vers 16). Word ek ‘n spotter? (Vers 18)
  • Speel die Gees van God geen rol in my lewe nie? (Vers 19). Maak die Heilige Gees enige verskil in my lewe?
  • Weerstaan ek die feit dat ek my lewe  op die allerheigste geloof moet bou? (vers 20). Weerstaan ek die idee dat ek in die liefde van God moet bly: (Vers 21).

 

Die brief van Judas is relevant vir almal van ons. Maar luister net hoe eindig hy sy brief: Aan Hom wat magtig is om julle van struikeling te bewaar en julle onbevlek  en met vreugde sy heerlikheid te laat aanskou, aan die enigste God, ons Verlosser deur Jesus Christus ons Here, aan Hom behoort die heerlikheid en die majesteit, en die krag en die mag, van alle ewigheid af, ook nou en tot in alle ewigheid! Amen.




Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Woonplekke(6)

Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Woonplekke(6) Hennie Stander

Water

Water is altyd saam met brood gesien as dit wat noodsaaklik is vir die menslike bestaan (1 Samuel 25:11; 1 Konings 18:4). Juis daarom het stede ook ontstaan in die nabyheid van waterbronne. So ‘n put of fontein was gemeenskaplike besit en die vrouens het die water daarvandaan na hul huise gedra. ‘n Mens wat sy eie put gehad het, was baie bevoorreg en ons lees dat koning Sanherib van Assirië aan die Israeliete beloof het dat, indien hulle hulself aan hom sou oorgee, elkeen sy eie put sou hê (2 Konings 18:31). n Goed toegeruste huis het ook sy eie sisterne (opgaarbakke) gehad waarin reënwater opgevang is.

Daar is argeologiese getuienis gevind dat verskeie stede waterkanale gehad het. By Megiddo, byvoorbeeld, is daar ‘n uitstekende watervoorsieningsisteem gevind wat waarskynlik uit die dae van Koning Agab dateer. By Jerusalem het argeoloë die Siloam-tonnel ontdek. Hierdie tonnel het water na die stad gebring van die bron Gihon af. 2 Samuel 5:8 verwys heel moontlik na hierdie tonnel. Voorts is daar ook etlike putte in die stede gegraaf.

Water

 

‘n Bedoeienmeisie skep water uit ‘n put in die woestyn. Let op die waterbak (sistern) Iangsaan die put.

Daar was geen sanitasiesisteem in gewone huise nie, alhoewel daar later goeie dreineringsisteme ge­bou is, soos byvoorbeeld in Sesarea en by die Tempel in Jerusalem. Nogtans is daar streng gesondheids­wette in die Torah uitgespel (dit is byvoorbeeld in Deuteronomium 23:13 bepaal dat gedurende oorlogstyd menslike ontlasting in gate begraaf moes word).

 

Huise vir die rykes

Een van die verskille tussen ‘n huis van ‘n ryke en ‘n huis van ‘n arme het gelê in die teenwoordigheid van ‘n binnehof al dan nie. In sy eenvoudigste vorm was so ‘n binnehof bloot ‘n ommuurde vierkant wat aan die huis toegevoeg is. Maar so ‘n binnehof het ‘n groot verskil gemaak. Diere kon “buitekant” die huis gehou word; daar kon ook in hierdie vierkant gekook word; die trappe van die dak kon daarop uitloop en dus was toegang tot die dak meer beperk; waterbakke kon daar aangehou word, ens.

 

Die meer vermoëndes kon twee of meer addisionele vertrekke aanbou wat aan die binnehof aangegrens het. Sommige van hulle het ook ‘n ekstra kamer op die dak aangebou (2 Konings 4:10; sien ook Handelinge 1:13; 9:37,39; 20:8). Die rykes kon hul huise van gekapte klip maak (Amos 5:11) en ook baie marmer inbou (Ester 1:6). Afwerkings is met sederhout en ander houtsoorte gedoen (Jeremia 22:14; Haggai 1:4). Ivoorinlegsels in die mure het tot gevolg gehad dat daar selfs van “ivoorhuise” gepraat is (1 Konings 22:39; Amos 3:15). Welgesteldes het selfs verskillende huise gehad vir die somer en die winter sodat hulle meer gemak kon hê in die onderskeie seisoene (Amos 3:15).

Rykhuis

 

Die binnekant van ‘n huis van ‘n ryk familie. Dit is duidelik beinvloed deur Romeinse smaak. Let op die sentrale area (of “atrium”) met ‘n groot bad onder ‘n groot opening in die dak.

 

Skrywer:  Prof Hennie Stander