Paulus en evangelisasie (2)

 

Fault-finding is the easiest of all tasks – J. C. Ryle

Paulus en evangelisasie (2)

Watter raamwerk gebruik Paulus? Daar is drie waarnemings vooraf:

Ons lees Paulus se toespraak in drie minute, maar toesprake voor die Areopagus was beslis nie kort nie. Hierdie is ‘n erg gekondenseerde verslag van wat Paulus gesê het. Paulus het waarskynlik op elke punt in hierdie verslag verder uitgebrei.

 

Daar is heelwat ooreenkomste tussen hierdie verslag en Paulus se brief aan die Romeine.

Die woorde wat Paulus hier gebruik is baie interessant – dinge wat ons in die Stoïsynse kringe sou verwag. Maar in elke geval pas hy hulle aan sodat hulle die boodskap wat hy wou oordra, oordra.

Kom ons kyk na die raamwerk wat Paulus gebruik:

Een: Hy begin by God wat die wêreld met alles wat daarin is, gemaak het (17:24). Dit beteken dat die Skepper anders as die skepsels is. Dit impliseer ook dat die mens aanspreeklik is – ons skuld ons Skepper alles. Om onsself in die middelpunt van die skepping te plaas, is die kern van alle sonde. Om dinge wat gemaak is in plaas van die Skepper te aanbid, is die kern van afgodery.

Twee: Hy is die Here van hemel en aarde, en Hy woon nie in tempels wat deur mense gemaak is nie (17:24). Die oppermag van God staan uit teen die gode aan wie ‘n spesifieke domein gekoppel is (byvoorbeeld Neptunus oor die see). Die God van die Bybel is oppermagtig oor alles. Daarom kan ons Hom nie tot ‘n gebied beperk nie – nie eers tot ‘n tempel nie. God kan nie tot tempels ingeperk word nie. Hy is groter as dit.

Drie: Hy het ook nie nodig dat mense Hom versorg nie (17:25). Hy het ons nie nodig nie; Hy is totaal onafhanklik van die skepping; Hy het ons nie nodig vir sy bestaan nie.

Vierde: Dit is Hy wat aan almal lewe en asem en alles gee (17:25). Dit stroop ons van ons sogenaamde onafhanklikheid.

Vyfde:  Uit een mens het Hy al die nasies gemaak (17:26). As die sonde en dood deur een mens in die mensdom gekom het sodat die beslissende optrede van ‘n ander Man nodig was om dit om te keer, was dit belangrik dat Paulus sy antropologie moes regkry.

Ses:  God het hulle gemaak om Hom te soek, al sou hulle ook moes rondtas om Hom te vind (17:27). Iewers het iets verkeerd geloop.

Sewe: Hy is nie ver van enigeen van ons af nie (17:27). Paulus sal nie toelaat dat mense dink dat God onverskillig is nie – dat Hy nie omgee nie. Want deur Hom lewe ons, beweeg ons en bestaan ons (17:28).

Ag: Aangesien ons dan self van God afstam, moet ons nie dink dat die Godheid aan beelde van goud, silwer of klip gelyk is nie. Dit is bloot skeppinge van menslike vaardigheid en verbeelding (17:29). Afgodery is verwerplik.

Nege: Hy kom na vore met ‘n sekere siening van tyd. Paulus vestig hier ‘n liniêre raamwerk: die skepping is op ‘n vaste punt: Want Hy het ‘n dag bepaal waarop Hy regverdig oor die wêreld gaan oordeel deur ‘n Man wat Hy uitgekies het (17:31).

Hierdie is die raamwerk wat Paulus gevestig het.

Volgende keer gee ons aandag aan die ononderhandelbare evangelie wat Paulus verkondig het.




Paulus en evangelisasie (1)

Money, I am convinced, will never be wanting for a good cause, if a case is really made out –  J. C. Ryle

 

Paulus en evangelisasie (1)

Paulus leer vir ons die verskil tussen evangelisasie onder mense wat grotendeels jou wêreldsiening deel en diegene wat Bybels ongeletterd is.

·Mense wat grotendeels jou wêreldsiening deel

 In Handelinge 13 lees ons van Paulus se preek in Pisidië. Hy preek in die sinagoge – sy hoorders is Jode of nie-Jode wat die Joodse godsdiens aangeneem het. Dit was mense wat die Skrif – die Ou Testament – geken het. Daarom vertel hy vir hulle die verhaal soos ons dit in die Ou Testament kry. Hy doen dit om te bewys dat Jesus van Nasaret die beloofde Messias is.

Hy haal verse aan en argumenteer dat die opstanding van Jesus die vervulling van die Bybelse profesieë is. Daarvandaan redeneer hy terug na Jesus se dood en die betekenis daarvan: Wat aan julle verkondig word, die vergewing van sondes deur Hom is, en dat elkeen wat glo, deur Hom vrygespreek word van alle sondes (13:38 – 39). Hy eindig met ‘n aanhaling uit Habakuk 1:5 waarin gewaarsku word van die verskriklike oordeel oor ongeloof en skeptisisme.

Hier is Paulus se benadering tot mense wat Bybels geletterd is.

·Mense wat glad nie jou wêreldsiening deel nie

In Handelinge 17 evageliseer Paulus intelligente Ateners, maar mense wat totaal Bybels ongeletterd is. Sy benadering verskil radikaal van sy benadering in Pisidië. Ons moet hierdie gedeelte bestudeer, want ons leef in ‘n wêreld wat toenemend Bybels ongeletterd is.

Wat is die realiteite waarvoor Paulus te staan gekom het? Daar was die Bybelse ongeletterdheid – hierdie mense het nog nooit ‘n Bybel oopgemaak nie en nog nooit van Moses gehoor nie. Daar was drie eienskappe in hulle kultuur wat belangrik was.

  • Die Romeinse Ryk is deur grootskaalse godsdienstige pluralisme gekenmerk

Die Romeine het besef dat as mense godsdiens, land en mense kan belyn hulle maklik in opstand kan kom. Daarom het hulle van die gode van die volke wat hulle oorwin het as deel van hulle eie goderyk aangeneem. Hulle het ook daarop aangedring dat van hierdie mense wat onderwerp is van hulle – die Romeine se -eie gode moes aanvaar het. In enige burgeroorlog sou dit nie duidelik gewees het watter kant die gode ondersteun het nie. Godsdienstige pluralisme was endemies en is deur die wet ondersteun. Geen god kon Rome uitdaag nie.

  • Hierdie mense was Bybels ongeletterd, maar hulle het verskillende wêreldsienings aangehang

Twee van hierdie wêreldsienings word in die teks genoem: Epikureërs en Stoïsyne (17:18). Hierdie sienings het na ‘n totale lewenswyse verwys. Paulus stel God se wil en soewereiniteit teenoor menslike afhanklikheid en behoefte. Hier is ‘n groot botsing tussen wêreldsienings. Paulus evangeliseer hier mense wat aan ‘n fundamenteel vyandige wêreldsiening toegewy is.

  • Hulle sien neer op Paulus

Wat sou hierdie praatjiesmaker tog wil sê? Ander sê weer: Dit lyk of hy ‘n boodskapper van vreemde gode is.

As ons in ons postmoderne wêreld mense wil evangeliseer, moet ons sekere werklikhde in die kultuu identifiseer en altyd in gedagte hou.

Die opvallende reaksie van Paulus toe hy sien wat in Atene aangaan is ‘n Bybelse analise: Hy het baie verontwaardig geword toe hy sien hoe vol afgodsbeelde die stad is. Hy mag die argitektuur bewonder het, maar hy was allermins deur Atene geïntimideer. Hy sien die afgodsbeelde. Het ons nie ook Christene nodig wat nie deur reputasies en prestasies beïndruk en geïntimideer word nie.

Paulus se teiken is twee uiteenlopende groepe:

hy het in die sinagoge met die Jode en die godvresendes geredeneer – die mense wat die Bybel geken het. Ons is so geneig om van hierdie groep te vergeet.

En elke dag op die stadsplein met die verbygangers gepraat. Hy teiken enigeen wat daar verbykom. Meeste van hulle was Bybels ongeletterd. Hy gaan voort met sy evangelisasie en die gevolg daarvan was ‘n uitnodiging na die Areopagus. Hy wag nie eers toe hy ‘n uitnodiging na die Areopagus kry voor hy met sy evangelisasie begin nie.

Sy prioriteite was dus ‘n Godgesentreerde kultuuranalise en evangelisasie van mense wat Bybels geletterd en ongeletterd was.

Volgende keer gaan ons kyk na die raamwerk wat Paulus in Atene gebruik het.




Hoekom is mense nie by die gemeente betrokke nie?

 

Many young believers are living out their Christian faith with enormous moral laxity,” – David Kinnemann

Hoekom is mense nie by die gemeente betrokke nie?

Nie almal is vir dieselfde rede onbetrokke nie. Maar elke gemeente sit met die probleem van lidmate wat nie betrokke is nie – die toeskouers in die gemeente. Baie van hulle woon die eredienste gereeld by, maar daar hou dit op. Hoekom? Lidmate weet tog dat hulle moet dien, maar dit lyk asof hulle geen begeerte het om dit te doen nie.

Ed Stetzer glo dat daar veral drie redes is waarom mense nie by die gemeente betrokke is nie. As ons weet hoekom hulle onbetrokke is, kan ons hulle dalk help om betrokke te raak.

 

  • Party mense voel dat hulle nie ‘n bydrae het om te lewer nie.

Hulle voel dat hulle niks het om aan te bied nie. Hulle mag dink dat hulle persoonlik nie ‘n bydrae kan lewer nie of hulle mag voel dat net kerkleiers in God se werk betrokke kan wees. Hulle weet nie dat God hulle geroep en aan hulle spesiale gawes gegee het om te dien nie. Hulle moet leer wat Petrus in sy eerste brief geskryf het: As goeie bedienaars van die veelvoudige genade van God moet elkeen, namate hy ‘n genadegawe ontvang het, die ander dien (4:10). Let wel: elkeen moet dien; nie net die leraar, ouderlinge en diakens nie. Daar is nie mense in die gemeente wat geroep is en ander wat nie geroep is om te dien nie. Diegene wat voel dat hulle nie ‘n bydrae het om te lewer nie, moet geduldig geleer word dat God ‘n gawe aan hulle gegee het om ander te dien.

  • Sommige mense het seer

In elke gemeente is daar mense wat seer het. Soms is dit die kerk wat hulle seergemaak het. Weens hulle verlede is hulle huiwerig om weer betrokke te raak. Ons moet hierdie mense bystaan om weer te genees. Ons moet hulle liefhê en help. Hulle tyd om te dien sal kom, maar nou moet die gemeente hulle eers dien. Daar is min mense wat aktief betrokke in bediening is wat nie op een of ander stadium seergekry het nie. Hulle het motivering nodig.

  • Sommige mense is net lui

Sekere mense wil nie betrokke raak en dien nie. Hulle wil hê dat ander die werk moet. Al wat hulle doen, is om die voordele van ander se werk te geniet – ‘n ek-kom-eerste gesindheid. Dit is deel van die menslike natuur –ons is eerder verbruikers as medewerkers. Hierdie mense moet uitgedaag word Die probleem is dat luiheid aansteeklik is. Om te dien is moeilik – niemand wil werk terwyl tientalle mense net op die pawiljoen sit nie.

Al God se mense word opgeroep om te dien. Die enigste vrae is: Waar? Onder wie? Daar is altyd diegene wat nie betrokke is nie. Die eerste stap is om uit te vind waarom hulle nie betrokke is nie. Die gemeente is opgeroep om dissipels vir Jesus Christus te maak. Die enigste manier om hierdie taak buite die mure van die kerkgebou te verrig, is deur aktiewe en betrokke dissipels in die gemeente te hê.

Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Woonplekke(1)

Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Woonplekke(1) – Hennie Stander

Die huise in die Heilige Land word vandag deur veral twee prominente eienskappe gekenmerk. In die eerste plek het die huise almal baie dieselfde styl en voorkoms. Hulle neig almal om redelik vierkantig te wees, met ‘n plat dak en met trappe aan die buitekant en is oor die algemeen van wit kalksteenblokke gebou. Hierdie boustyl het ontstaan as gevolg van die heersende klimaat, die beskikbaarheid van boumateriaal en ‘n oorspronklike behoefte om so te bou dat plek bespaar word. Die tweede tipiese kenmerk van die woonplekke in Israel van vandag is dat baie ou huise nog steeds bewaar word tussen die redelike nuwe huise met die gevolg dat besoekers vandag nog, direk langs moderne huise, voorbeelde kan sien van wonings wat sekerlik nie veel verskil van dit wat in Bybelse tye bewoon is nie

Verdeling van die land

Die Israeliete het hul grondgebied deur verowering verkry en elke stam en familie het hulle eiendom as komende uit die hand van God beskou. Die wyse waarop die land verdeel is, word vir ons in die tweede helfte van die boek Josua beskryf. Die area is met ‘n tou of maatlyn verdeel en dit is daarna deur die lot toegeken (Amos 7:17; Psalm 78:55; vgl. ook Sagaria 2:1-2). ‘n Lot was amper iets soos ons hedendaagse dobbelsteentjie. Dit het waarskynlik bestaan uit ‘n klippie of ‘n stukkie erdewerk of selfs ‘n stokkie wat spesiaal gemerk is. Daar is nogtans geglo dat dit  volkome onder die beheer van God was wanneer dit gewerp is. Die outeur van die boek Spreuke bevestig dit met die woorde “In die skoot word die lot gewerp, maar elke beslissing daarvan kom van die Here” (Spreuke 16:33). Wanneer Dawid sê: “Die meetsnoere het vir my in lieflike plekke geval, ja, my erfenis is vir my mooi” (Psalm-16:6) verwys hy na die maatlyn waarmee grondgebied verdeel is. Hy gebruik dit egter as ‘n beeld waarmee hy God dank vir Sy Voorsienigheid en Dawid sien in sy, materiële voorspoed die goedheid van .God raak.

 

Nadat die grond toegeken is, is dit met een of ander baken afgemerk,soos n hoop klippe, ‘n natuurlike landmerk of. ‘n dubbele voor van geploegde land. Niemand mag so ‘n. landmerk verskuif het nie omdat die grond n geskenk van God was en omdat die verskuiwing van ‘n landmerk reëlreg ingegaan het teen Sy opdrag (Deuteronomium 19:14; 27:17). Om hierdie selfde rede was dit ook oneervol om so ‘n gebied wat jy as erfenis ontvang het, te verkoop. Juis om hierdie rede het Nabot geweier om sy wingerdaan Koning Agab te verkoop en laasgenoemde kon horn ook nie verplig om dit te doen nie (1 Konings 21).

Hebron – soos dit vandag lyk. Die huise en die ongeordende uitleg van strate van vandag lyk nie veel anders as wat dit in die Bybelse tye gelyk het nie.

Hebron

 

 

Die oasisdorp van Al Ula Hedjaz, Arabië (die BybelseDedan). Hierdie huisies, elk met sy binnehof, stem baie ooreen met die huise van die Ou Testamentiese tye.

oasisdorp

 

 

Skrywer:  Prof Hennie Stander