Ambassadeurs vir Christus (1)

This shift from “accepting the existence of different views” to “acceptance of different views,” from recognizing other people’s right to have different beliefs or practices to accepting the differing views of other people, is subtle in form, but massive in substance. To accept that a different or opposing position exists and deserves the right to exist is one thing; to accept the position itself means that one is no longer opposing it. The new tolerance suggests that actually accepting another’s position means believing that position to be true, or at least as true as your own. – D.A. Carson

Ambassadeurs vir Christus (1)

Wat beteken dit as ons sê dat ons ambassadeurs vir Jesus Christus is? Ons gaan ‘n hele paar blogs hieraan afsonder. As basis gaan ons van 2 Korintiërs 5:11 – 21 gebruik maak.

Ons tree dus op as gesante van Christus (5:20). Hier gee Paulus vir ons ‘n beskrywing van die aard van die bediening van Christene – ons is Christus se gesante/ambassadeurs. Christus het ons gestuur om in ‘n bepaalde kulturele omgewing om sy onthalwe op te tree.

Meeste van ons is gewoond om in ‘n kultuur te werk waar die basiese boustene van die evangelie bekend is – al word dit nie geglo nie. Maar nou kry ons ‘n nuwe opdrag: om Christus se ambassadeurs te wees in ‘n postmoderne wêreld.

‘n Ambassadeur is ‘n verteenwoordiger van die regering. Hy dien in ‘n vreemde land waar hy die beleid van sy land moet kommunikeer op so ‘n wyse dat die mense wat hom hoor in ‘n goeie verhouding met die land wat hy dien, sal wees. Dit is nie maklik om ‘n ambassadeur vir Christus te wees in ‘n postmoderne wêreld nie. Hulle het nog nooit die land wat ons verteenwoordig besoek nie; sommige aanvaar nie die gesag van die land wat ons verteenwoordig nie; ander kan nie insien hoe die beleid van die land wat ek verteenwoordig hulle raak nie. Daar is selfs mense wat glo dat daar nie iets soos regeringsbeleid kan wees en selfs as daar is, het ons nie die vermoë om dit akkuraat te beskryf nie. Die ambassade is oop en ons taak is om Christus as ambassadeurs in hierdie postmoderne land te dien.

Volgende keer gaan ons na die ambassadeur se profiel kyk.




Die paradoks van die evangelie

The greatest missionary is the Bible in the mother tongue. It needs no furlough and is never considered a foreigner. —William Cameron Townsend

 

Die paradoks van die evangelie

Daar is ‘n oneindige afstand tussen die Skeppergod en sy skepsels. Die skeiding is die gevolg van ongehoorsaamheid en opstand teen daardie Skepper. Die Bybel sê vir ons hierdie afstand tussen Skepper en skepsel deur Jesus Christus onderhandel is – die deur is weer oop vir die oorspronklike verhouding tussen God en mens.

Almal het gesondig, en het nie deel aan die heerlikheid van God nie, maar hulle word, sonder dat hulle dit verdien, op grond van sy genade vrygespreek vanweë die verlossing deur Jesus Christus (Romeine 3:23 – 24). Volgens Martin Luther is hierdie verse die kern van die brief.

Vers 21 begin met maar nou.  Dit is die bemoedigende nuus dat in Christus, en nie deur wetsonderhouding nie, het God voorsiening gemaak vir ons verlossing. Dit is bemoedigend, want hierdie verlossing hang nie van ons pogings af nie. Dit hang net van God en sy genade af.

Hierdie goeie nuus geld vir almal, sonder onderskeid, wat in Jesus Christus glo. Hierdie verlossingsplan is deur God self geïnisieer en dit hanteer die ingewikkeldste probleem in die geskiedenis van die mens: hoe kan ‘n sondige mens deur ‘n heilige en regverdige God vrygespreek word? Hierdie gedeelte beskryf wat God in Christus gedoen het om hierdie hindernis van sonde en die mens se gesindheid om op homself te vertrou, te oorkom.

In vers 21 – 26 gebruik Paulus die woord vryspraak nie minder as ses keer nie. Die woord glo word vier maal gebruik – dit is die manier waarop God se vryspraak beskikbaar gestel word. God gee dit (vryspraak) sonder onderskeid aan almal wat glo. Vryspraak is egter buite die bereik van alle menslike pogings. As ‘n mens nie glo nie, is dit onmoontlik om te doen wat God wil (Hebreërs11:6); En enigiets wat ‘n mens nie uit geloofsoortuiging doen nie, is sonde (Romeine 14:23).

Die paradoks van die evangelie: die nietige skepsel word deur Jesus Christus met die magtige Skeppergod versoen.




Bekering – meer as net godsdienstige voorkeur

 

 Advice is what we ask for when we already know the answer but wish we didn’t. ” — Erica Jong

Bekering – meer as net godsdienstige voorkeur

Bekering se definisie is: om van een stel dinge wat ons glo na ‘n ander te draai – heiden na Christen –  mag nie noodwendig op fundamentele hartsverandering dui nie – dit mag slegs dui op ‘n verandering van intellektuele of teologiese perspektief. Dit is dikwels slegs ‘n aanduiding van godsdienstige voorkeure.

 

Basies dui dit op bekering deur ‘n besluit – ek het besluit of ek het ‘n sekere gebed gebid. Hoeveel van hierdie besluite eindig met ware dissipelskap is onseker. Daar is ‘n gevaar in ons huidige kerkkultuur wat bekering as ‘n besluit en nie as ‘n lewensverandering sien nie. Die gevaar word groter omdat al hoe meer mense eintlik Bybels ongeletterd is. Om vir hulle te sê dat Jesus Christus vir hulle sondes gesterf het, kan op baie verskillende maniere geïnterpreteer word – of dit mag net soos onsin klink.

Vir evangelisasie om tot bekering te lei, vereis drie faktore:

Dit moet inhoud-spesifiek wees

As ons evangelie sonder inhoud is, is daar die risiko dat enige besluit net sielkundig gemaklik is. Die persoon wat geëvangeliseer word, moet verstaan waartoe hy bekeer word. Die probleem is dat ons evangelisasie so op die mens fokus dat ons God skoon vergeet. Van die inhoud wat ons moet oordra, sluit in:  Wie is God? Wie is ons? Wie is Jesus Christus? Wat is sonde? Wat het Jesus Christus oor ons sonde gedoen? Wat moet ons doen na aanleiding van wat Jesus vir ons gedoen het? Hiervoor is veral die tien gebooie en die bergrede van belang. Bekering moet nooit as ‘n blote intellektuele besluit beskou word nie. Dit moet gesien word as ‘n totale lewenstoewyding aan die waarheid van die Christelike wêreldsiening.

Dit moet die siening dat Christus die enigste weg na verlossing is, insluit

Kan ‘n persoon werklik bekeer wees as hy glo dat daar verskillende maniere is waarop ‘n mens verlos kan word? Baie moderne/postmoderne mense glo dat daar nie so iets soos die absolute waarheid is nie. Geen wonder mense sê dat hulle Christene is, maar soek hulle verlossing nie by Jesus Christus nie, maar elders. Baie glo dat ons Jesus Christus plus nog iets nodig het. Johannes 14:6 en Handelinge 4:12 moet vir mense wat tot bekering kom iets beteken.

Nou weet ons dat eksklusiwiteit ‘n gruwel vir die posrmoderne denke is. Alles wat ons glo, is vir hulle iets persoonlik of iets wat deur ons kultuur gekondisioneer word. Daarom mag ons geen siening verwerp nie. Die aanspraak dat een of ander godsdiens intrinsiek beter as ‘n ander is, is verkeerd. Onverdraagsaamheid van iemand anders se siening kan nie verdra word nie. Dit geld beslis nie vir verdraagsaamheid nie. Verdraagsaamheid teenoor onBybelse geloofsoortuigings kan nie verdra word nie.

Dit moet lei tot ‘n radikale verandering in dit wat ons glo en hoe ons optree.

As ek na iets draai, beteken dit dat ek my rug op iets anders draai. Bekering beteken nie net berou nie, maar ‘n omdraai sodat jy in ‘n ander rigting draai. Baie mense glo dat ons lewenswyse nie so belangrik is nie – ons kan ‘n Christen en egbreker terselfdertyd wees.

Metzger gebruik 1 Johannes om ses toetse vir opregte geloof te toets/ontwikkel:

Bewustheid van ons sonde (1:8 en 10).

Gehoorsaamheid (2:3 – 5, 29)

Vry van gewoonte sondes (3:9; 5:18).

Liefde vir ander gelowiges (3:14; 4:7 – 8)

Geloof (5:1)

Oorkom die wêreld en die Satan (2:13 – 14)

Bekering is nie ‘n voorkeur nie – dit is ‘n lewensveranderende saak.




Is Christene onverdraagsaam en arrogant?

The conscious water saw its master and blushed – Alexander Pope beskryf die verandering van water in wyn

Is Christene onverdraagsaam en arrogant?

Een van die belangrikste waardes vir die postmodernis is ‘n unieke verstaan van die begrip verdraagsaamheid. Hoe verstaan hulle verdraagsaamheid? Enigeen wat daarop aanspraak maak dat hy die unieke waarheid besit, is arrogant en onverdraagsaam. Volgens die pluralis kan geen godsdiens aanspraak maak op absolute uniekheid nie. Om met ander mense oor geloof te praat met die oog daarop om hulle te bekeer, is verkeerd en oneties. Apologetiek moet met dialoog vervang word – maar dialoog met die oog op wedersydse bekering en nie eensydige bekering nie.

 

Die uitdaging vir die kerk is duidelik: verkondig die evangelie op ‘n toepaslike wyse aan ‘n geslag wat vyandig gesind is teenoor die uniekheid van Jesus Christus. Hoe evangeliseer ‘n mens in so ‘n omgewing?

  • Ons gesindheid

Kyk daar, ‘n vraat en ‘n wynsuiper, ‘n vriend van tollenaars en sondaars (Lukas 7:34). Om hierdie mense te bereik, moes Hy vriende van hulle gemaak het. Nie-Christene is nie ons vyande of mense vir wie ons bang moet wees nie – ons word geroep om hulle tot in God se koninkryk lief te hê. Ons praat oor verskeie onderwerpe met hulle. In hierdie gesprekke sluit ons ook aspekte van ons geloof  in. So doen Paulus dit ook met die Ateners. Ons probeer nie ‘n debat met hulle wen nie. As ons iets goed in hulle sien, bevestig ons dit.

  • Ons lewenstyl

Ons gesindheid teenoor nie-Christene is een van vriendskap; ons lewenstyl teenoor hulle is een van dienaarskap. Dienaarskap is een van die beste argumente teen onverdraagsaamheid en arrogansie. Hierdie is die model wat Jesus vir ons gegee het en ons moet dit altyd volg. Jesus het selfs sy dissipels se voete gewas – en ons moet sy voorbeeld navolg. Vandag is mense nie meer geïnteresseerd of ‘n godsdiens waar is nie, maar of dit werk. Die dienaar lewenstyl van Christene kan deure oopmaak om die evangelie te verkondig.

  • Ons verkondiging

Ons moenie so in diens vasgevang word dat ons nie ons boodskap verkondig nie. Hierdie unieke boodskap is Jesus Christus. Ons moet hierdie boodskap verkondig, want die mense se enigste hoop op verlossing is Jesus Christus. Oorreding word onverdraagsaamheid as ons mense probeer manipuleer.

Christene kan baie maklik die indruk skep dat hulle onverdraagsaam en arrogant is. As mense so voel oor Christene gaan hulle nie oortuig word dat Jesus Christus ons Verlosser is nie.