Ons wil iets doen

 

We want to make certain that we view culture through the eyes of faith, that we don’t view our faith through the eyes of culture.” – Stephen D. Livesay

 

Ons wil iets doen

In ons Westerse kultuur wil ons graag dinge so gou as moontlik doen. Soms lei dit tot groot dinge; soms lei dit tot chaos. Hoe gaan ons te werk:

  • Observeer – kry ‘n prentjie van wat aangaan.
  • Reageer emosioneel op ons verstaan van wat besig is om te gebeur.
  • Oordeel – maak gevolgtrekkings gebaseer op ons verstaan van die saak en hoe dit ons laat voel.
  • Tree in – neem besluite en doen iets gegrond op wat ons sien en voel.

 

Gewoonlik is die probleem dat ons nie genoeg tyd aan observasie spandeer nie – ons probeer nie om die uitdaging voor ons te verstaan nie; ons stel nie vas watter hulpbronne beskikbaar is nie. Ons wil net iets doen. Die nadenkers onder ons word totaal oorweldig deur die lawaai en chaos deur diegene wat iets wil doen.

 

Hoekom gebeur dit? Observasie is moeilik as daar dringende probleme is. Rasionele denke word deur emosies verplaas. Hoe kan jy hierdie stap – observasie – verbeter?

  • Kry al die feite oor die aard en omvang van die probleem. Raak ontslae van gevoelens totdat jy die nodige feite versamel het.
  • Stel vas watter hulpbronne en vaardighede  jy tot jou beskikking het – wie kan wat doen.
  • Bepaal wat jy oor die situasie en die mense betrokke aanvaar. Toets die geldigheid van dit wat jy aanvaar. Aanvaarding van sekere dinge verhoed dikwels dat jy die ware aard van die probleem kan vasstel.
  • Maak plek vir baie vrae en ‘n verskeidenheid van stemme. Luister na elkeen wat iets te sê het. Dit is dikwels die een wat van die meerderheid verskil wat met die oplossing na vore kom.

 

Spanwerk vereis voldoende tyd vir observasie en kritiese denke. Om sonder om te dink, op te tree, mag aanvanklik goed lyk, maar sal later regstelling vereis – iets waarvoor jy dalk nie die nodige tyd sal hê nie.




Augustinus en gebed

 

God did not fix me up so that I couldn’t sin. He fixed me up so that I couldn’t sin and enjoy it – Henry Clay Morrison

Augustinus en gebed

Anicia Faltonia Proba was ‘n Romeinse edelvrou en Christen. Sy  het vir Augustinus geken. Ons het nog twee briewe wat Augustinus aan haar gskryf het. Een daarvan handel oor gebed. Proba het aan Augustinus geskryf omdat sy bang was dat sy nie reg gebid het nie. Augustinus reageer met verskeie beginsels vir gebed. Van hierdie beginsels is nie wat ons sou verwag nie.

  • Voordat jy oor die vraag wat om te bid en hoe om te bid kan nadink, moet jy eers ‘n besondere soort persoon wees. Wat is dit? Jy moet eers besef hoe verlate en eensaam jy in hierdie wêreld is – maak nie saak hoe voorspoedig jy is nie. Maak nie saak wat jou aardse omstandighede is nie, dit kan nie vir jou vrede en vreugde bring nie. Vertroosting kry die mens net by God. As ons nie hierdie waarheid besef nie, sal al ons gebede van geen waarde is nie.
  • Jy kan begin bid. Waarvoor? Dit waarvoor al die ander mense bid: ‘n gelukkige lewe. Die probleem is egter wat vir jou ‘n gelukkige lewe sal bring. Daar is baie dinge wat dalk vir jou kortstondig gelukkig sal maak, maar nie permanent nie. Hy sê die psalmis het geweet wat vir die mens ‘n gelukkige lewe kan waarborg: Net een ding het ek van die Here gevra en dit sal ek najaag: dat ek my hele lewe lank in sy huis mag woon om sy goedheid te belewe en daaroor na te dink in sy tempel (Psalm 27:4). Dit is die basiese gebed vir ‘n gelukkige lewe. Dit beteken nou nie dat dit al is waarvoor ons moet bid nie. Die Ons Vader gebed wys vir ons dat ons baie dinge nodig het, maar God is ons grootste liefde. As Hy ons grootste liefde is en om Hom te ken en te gehoorsaam ons grootste vreugde is, sal ons verander word in hoe en waarvoor ons bid. Hy haal Spreuke 30:8 aan as voorbeeld: Moet my nie arm maak of ryk nie, gee my net die kos wat ek nodig het. Soek jy vir God in gebed op om voldoende finansiële hulpbronne te kry – of soek jy die aantal hulpbronne wat jy nodig het om God te ken en te dien.
  • Jy sal gelei word om reg te bid vir ‘n gelukkige lewe as jy die Ons Vader gebed bestudeer. Dink lank en hard na oor hierdie modelgebed en maak seker dat dit waarvoor jy bid daarby inpas. Doen jy dit sal jy soms skaam voel oor die dinge wat jy vra.
  • Selfs al volg ons die eerste drie reëls sal ons gevalle van swaarkry nie weet wat om te bid nie. Lyding kan ons goed doen en juis omdat hulle moeilik en swaar is, bid ons dat dit van ons weggeneem moet word. Augustinus verwys dan na Jesus se eie gebed in Getsemane. Hierdie gebed was volkome gebalanseerd tussen sy eerlike begeerte (Vader, as U wil, neem tog hierdie lydensbeker van My af weg) en onderwerping aan God (Laat nogtans nie ny wil nie maar u wil geskied).

 

Alicia Proba was ‘n weduwee vroeg in haar dertigs. Sy moes vlug toe Rome in 410 verwoes is. Sy en haar skoondogter vlug na Afrika waar sy vir Augustinus ontmoet het. Augustinus sluit sy brief af deur te sê dat die werk van gebed vir al van waarde is vir weduwees in haar toestand. Hy vra haar dan om haar lewe aan God in gebed as haar skild op te offer.




Jesus se wederkoms

Rather than arguing about the superiority of Christianity over world religions, I would rather put forth a light that is so lovely that all would be drawn into his presence – Madeline L’Engle

 

Jesus se wederkoms

Daar is 318 verwysings na Jesus se wederkoms in die Nuwe Testament. Dit is dus ‘n noodsaaklike deel van ons geloof. J. D. Greear noem vier veranderinge wat die naderende koms van Jesus Christus in ons moet bewerkstellig.

  • Geestelike waaksaamheid

Die Nuwe Testamentiese skrywers wag almal gretiglik op Christus se wederkoms. Hulle leef met geestelike waaksaamheid – asof Christus enige oomblik kan terugkeer. Sou jy anders geleef het as jy geweet het dat Christus vannag nog gaan terugkeer?

Sal dit jou nie dwing om die volgende vraag te antwoord nie: “Leef ek so dat ek gelukkig sal wees om Hom vannag te sien?” Dit mag vandag wees. Dit mag jou laaste geleentheid wees om te vergewe.

  • Die sending is dringend

As ons weet dat Christus binnekort gaan terugkom, sal ons nie ons prioriteite herrangskik nie. Met ons optrede vertel ons vir die wêreld dat Christus nie binnekort gaan terugkeer nie en dat ons sending nie so dringend is nie. Belê ons ons talente in sy koninkryk of sit ons op hulle. Ongelukkig sal van ons eendag die stem van Jesus hoor wat vir ons sê: Jy is ‘n slegte en lui slaaf … Vat die muntstuk van hom af weg (Matteus 25:26 – 28).

  • Die krag om te vergewe

As iemand iets verkeerd aan ons doen, soek ons geregtigheid. Maar dit is nie wat ons bedoel is om te doen nie – ons is te klein om op die regterstoel te sit. Hierdie gesindheid veroorsaak dat ons altyd die slegste van ander verwag en blind is vir ons eie sondes. Ons skep ‘n klomp negatiewe stereotipes. As ons weet dat Jesus Christus weer gaan kom en dat sy koms geregtigheid beteken, kan ek vergewe. Ek kan ongeregtigheid verdra, want ek weet dat Hy dit gaan regstel.

  • Hoop in lyding

Dan sal die mense  die Seun van die mens in die wolke sien kom met groot krag en majesteit (Markus 13:26). Dit is belangrik, want dit verwys na die heerlikheid van God in die Ou Testament. Daar, as God aan sy mense verskyn het, was dit dikwels in ‘n wolk – toe Hy hulle uit Egipte gelei het; toe Hy die wet vir hulle gegee het; toe die tempel ingewy is. Die wolk was ‘n teken dat God by sy mense kom woon het – om hulle pyn en vrees weg te nem. Wat Jesus in Markus 13:26 sê, beteken die permanente terugkeer van God se heerlikheid. Hy kom om al die pyn en hartseer in ons lewens vir altyd weg te neem. “The return of Christ is good news for people whose lives are filled with bad news.” (Cornelius Plantinga)

 

As ons swaarkry sê Jesus vir ons: “Kyk boontoe. Ek kom terug en dit mag dalk vandag wees.” Daar is rede om te hoop al verkeer jy in die donkerste vallei. Die goeie ou dae lê nog voor ons.

 




Karakter en vaardigheid

 

Above all, trust in the slow work of God, our loving vine-dresser – Pierre Teilhard de Chardin

Karakter en vaardigheid

Leierskap word op karakter en vaardigheid gebou. Charisma is opsioneel. Van die mees charismatiese mense van die vorige eeu was ook van die slegste: Hitler, Mao, Marx en Mussolini was almal charismaties.

Paulus skryf aan Timoteus: Net so moet diakens ook mense van goeie karakter wees … Vooraf moet ondersoek ingestel word na hulle geskiktheid, en as niemand beswaar teen hulle inbring nie, kan hulle as diakens dien (1 Timoteus 3:8 – 10). Die probleem is dat daar kerkleiers is met baie talent en charisma, maar  nie altyd die nodige karaktereienskappe het nie – hulle wortels is nie diep in die grond van God se woord geplant nie.

 

As jy karakter sonder vaardighede het, is jy ondoeltreffend. As jy vaardighede sonder karakter het, is jy ‘n bedreiging vir die kerk. Om jou vaardighede te verbeter moet jy lees. Die volwassenheid wat jy as kerkleier moet hê, het ook met karakter te doen. Volwassenheid van karakter het niks met ouderdom te doen nie. Ook nie met jou voorkoms en prestasies nie. Dit gaan onder meer oor gesindheid. Karakter is die manier waarop jy op die omstandighede van die lewe reageer; karakter is nie wat ander mense dink jy is nie, maar wat jy werklik is. Character is who you are in the dark (D. L. Moody). Karakter is wie jy is as niemand kyk nie – dit is die ware jy. God ken jou karakter.

Charisma beïndruk nie vir God nie. As dit jou beïndruk moet jy baie versigtig wees. Jou hart moet ‘n dieper karakter en meer vaardigheid verlang. Karakter en vaardigheid is die twee spore waarop leierskap hardloop.