Wêreldsiening: Is daar ‘n God?

Head knowledge will never bring us to heaven (J. C. Ryle)

 

Wêreldsiening: Is daar ‘n God?

James N. Anderson het ‘n baie interessante, interaktiewe boek geskryf: What’s your Worldview? Ek gaan onder andere hiervan gebruik maak in ‘n aantal blogs.

Hierdie is seker die belangrikste vraag om te vra, want dit is ‘n belangrike vurk in die pad as ons van wêreldsienings praat. Hoe jy hierdie vraag antwoord, het geweldige implikasies vir hoe jy jouself verstaan, jou verhouding met ander mense en jou plek in die heelal. Baie mense leef asof hierdie vraag nie werklik saak maak nie. Dit is ‘n baie groot fout.

Wat bedoel ons as ons sê God. Mense het verskillende sienings oor God. Kom ons begin voor: is daar ‘n Opperwese wat ons aanbidding verdien en sin, doel en rigting aan die mens en die heelal gee?

 

Baie mense glo dat daar ten minste een goddelike wese is. Daar is verskillende wêreldsienings binne die kategorie van teïsme. [Teïsme = Geloof aan die bestaan van een God, wat Skepper en Bestuurder van die heelal is.] Die verskillende sienings is belangrik. Teïstiese sienings glo daar is ‘n objektiewe verskil tussen goed en kwaad. Goedheid is in wese goddelikheid – om soos God te wees. Die grootste probleem vir teïstiese sienings is die probleem van die bose. As daar waarlik ‘n God is, hoekom is daar soveel boosheid in die wêreld? Hoe jy dink God is en hoe jy God se verhouding met die wêreld sien, bepaal hoe jy die teenwoordigheid van die bose in die wêreld kan verklaar.

Om hierdie God nader te omskryf gaan ons verdere vrae vra.

Is God ‘n persoonlike wese?

Teïstiese godsdienste aanvaar daar is ‘n God. Dit is maklik om te sê dat daar ‘n God is, maar nie so maklik om te sê hoe Hy is nie. Mense het verskillende sienings oor God. My begrip van God het betekenisvolle implikasie vir my verstaan van die heelal, die mens en ons eie natuur en plek in die heelal. Daar is mense wat glo daar is ‘n God, maar Hy is nie ‘n persoonlike wese nie. God is dan iets soos die “krag” wat ons in Star Wars kry. God is dan ‘n ordeningsbeginsel vir die heelal. God het die heelal gemaak en hou dit in stand. Maar ons heelal is ontwerp om intelligente lewensvorms soos ons te ondersteun. Die heelal vertoon die tekens van ‘n Ontwerper. Maar as God dan nie ‘n persoonlike wese is nie, sukkel ons om die ontwerp van die heelal te verklaar.

Is die heelal God?

Party mense sê dat die verhouding tussen God en die heelal eenvoudig is: hulle is identies. God en die natuur is verskillende name vir dieselfde ding. Die heelal as geheel kan nie ‘n persoonlike wese wees nie. Panteïsme is die siening dat daar ‘n God is en Hy is alles. God is nie groter as die heelal nie – Hy is die heelal. Dit beteken dat ons God – of ‘n deeltjie van Hom – is. Hierdie is ‘n siening wat ons meer in die Oosterse godsdienste kry – sekere vorms van Hindoeïsme, Boeddhisme en Taoïsme. In die Weste kry ons dit in die New Age beweging. As alles dan God is, moet alles tog goed wees.

Is die heelal in God?

As God en die heelal nie een is nie, is daar ‘n paar opsies. Een opsie is dat die heelal ‘n deel van God is. Die ander opsie is dat God van die heelal onderskei kan word. Daar  is ‘n nie-persoonlike Opperwese wat die heelal transendeer – daar is geen oorvleueling tussen God en die heelal nie. Die heelal is onderskeibaar van God en ondergeskik aan God. Panenteïsme is dat God alles wat bestaan insluit. Dit sluit die heelal in, maar daar is meer aan God as net die heelal. Hulle glo die verhouding tussen God en die heelal is soos die verhouding tussen jou en jou liggaam. Jou liggaam is jy, maar daar is meer aan jou as net jou liggaam. Maar daar is een groot probleem: die werklikheid van die bose in die wêreld.

 

Is God ‘n volmaakte wese?

God het geen beperkings nie; God is nie afhanklik van iemand of iets nie; Hy is volmaak. ‘n Volmaakte God moet alwys, almagtig en volledig goed wees. Party teïste glo dat God nie in alle opsigte volmaak is nie. Hy mag byvoorbeeld beperkte wysheid of mag hê. Maar as God dan beperk is, is Hy in beheer van die heelal?

Maar het God met mense gekommunikeer? Daarna kyk ons volgende keer.




Wêreldsiening: Is daar meer as een geldige godsdiens?

 

There are scores of people occupying our pews and benches every Sunday, who know nothing whatever abour religion (J. C. Ryle)

 

Wêreldsiening: Is daar meer as een geldige godsdiens?

James N. Anderson het ‘n baie interessante, interaktiewe boek geskryf: What’s your Worldview? Ek gaan onder andere hiervan gebruik maak in ‘n aantal blogs.

Daar is ‘n groot verskeidenheid godsdienste in die wêreld – en hulle word elke dag meer. Mense het ‘n natuurlike godsdienstige impuls. Daar is meer as 20 godsdienste met meer as ‘n miljoen aanhangers. Ateïste glo al hierdie godsdienste is verkeerd. Ander sê dat net een godsdiens reg kan wees – Christene glo dat die Christelike godsdiens die enigste ware godsdiens is. Moslems sê dieselfde van Islam. ‘n Idee wat vandag veld wen, is dat meer as een godsdiens reg kan wees.

Die verskillende godsdienste verteenwoordig diverse, maar geldige perspektiewe op die mens se uiteindelike werklikheid. Elke mens interpreteer die geheel volgens sy eie individuele – beperkte – perspektief.

Die ou beeld van die blinde mense wat die olifant betas, geld. Elkeen weet net ‘n deeltjie van die geheel en daarom is almal reg.  Is daar meer as een geldige godsdiens?

Pluralisme is die siening dat daar meer as een geldige godsdiens is. Geen enkele godsdiens het ‘n monopolie op die waarheid nie. Elke godsdiens verteenwoordig ‘n verskillende, maar wettige, perspektief. Elke godsdiens het ‘n onderskeidende siening van God, die waarheid, verlossing, ens. Almal is geldig. Geen godsdiens het ‘n monopolie op verlossing nie. Daar is baie paaie die berg op en almal kom bo uit.

Pluralisme se gewildheid neem toe, want mense word moeg van godsdienstige geweld en onverdraagsaamheid. Pluralisme bevorder ‘n gesindheid van leef en laat leef. Hulle verkondig verdraagsaamheid teenoor alle godsdienste. Die belangrikste godsdienste maak aansprake wat onversoenbaar met mekaar is Hierdie aansprake lê dikwels sentraal in hierdie godsdienste.

Pluralisme sê dat hierdie konflikte opgelos kan word deur al hierdie aansprake as figuurlik en nie letterlik te beskou nie. As Christene sê dat die Bybel die woord van God is, beteken dit dat Christene die lees van die Bybel leersaam vind. Dit is nie wat die aanhangers van die verskillende godsdienste daarmee bedoel nie. Pluralisme is net so eksklusief en onverdraagsaam soos ander godsdienste – dit kan geen godsdiens wat hulle perspektief op godsdiens verwerp, aanvaar nie.

Om hierdie siening – pluralisme – te hanteer, moet ons ‘n baie belangrike vraag antwoord: Is daar ‘n God?

 

 




Wêreldsiening: Is enigiets objektief goed of sleg?

 

To exhibit God’s righteous anger, you must be angry at sin wherever you find it—especially in yourself. —Winston Smith

Wêreldsiening: Is enigiets objektief goed of sleg?

James N. Anderson het ‘n baie interessante, interaktiewe boek geskryf: What’s your Worldview? Ek gaan onder andere hiervan gebruik maak in ‘n aantal blogs.

Baie stellings sluit waardeoordele in: Aborsie is verkeerd. Hier word ‘n evaluering van die feite gemaak. Ons oordeel dat sekere dinge goed is en ander dinge sleg is, sekere dinge is reg en ander is verkeerd … almal van ons maak gereeld waardeoordele – dit is ‘n noodsaaklike eienskap van die menslike lewe.

Is enigiets objektief goed in die sin dat dit goed is onafgesien wat ander daaroor dink, hoop of voel? Sekere mense voel dat alle waardeoordele relatief en subjektief is – hulle is uitdrukkings van mense  of die kultuur se voorkeure.

Volgens hierdie siening is niks intrinsiek goed of sleg nie. Ons maak dinge goed deur ons begeertes, smaak en doelwitte. Ander mense glo weer dat sekere dinge – liefde in die huwelik – objektief goed is. Ander dinge – verkragting en kindermishandeling – is objektief sleg. Dit gaan nie oor individuele en kulturele voorkeure nie.

Nihilisme is die siening dat daar geen objektiewe waardes is nie – niks is regtig goed of sleg in die objektiewe sin nie. Daar is geen objektiewe morele waardes nie. Nog erger: daar is geen objektiewe doel of betekenis in die mens se lewe of in die heelal nie. Daar is geen regte of verkeerde manier om te leef nie. Alles is ewe waardeloos. Geen menslike voorkeur is meer waardevol as ‘n ander nie. Alles is maar soos dit is. Ons persoonlike voorkeure is arbitrêr. Ons morele vrae het geen antwoorde nie.

Nihilisme verskil van ons sterkste morele intuïsie. Meeste mense erken dat sekere dinge verkeerd is. Die nihilis mag sê dat ons morele waardes onbetroubaar is en daarom verontagsaam moet word. Ons moet ‘n baie goeie rede hê om sulke sterk en wyd aanvaarde intuïsies te verwerp.

Maar wat dan van godsdiens? Is daar meer as een geldige godsdiens? Daarna kyk ons volgende keer.

 

 




Wêreldsiening: Is dit moontlik om die waarheid te ken?

 

Those who give much without sacrifice are reckoned as having given little. —Erwin Lutzer

Wêreldsiening: Is dit moontlik om die waarheid te ken?

James N. Anderson het ‘n baie interessante, interaktiewe boek geskryf: What’s your Worldview? Ek gaan onder andere hiervan gebruik maak in ‘n aantal blogs.

As alles dan relatief is, is dit moontlik om die waarheid te ken? Die objektiewe waarheid is van min waarde as jy nie daartoe toegang kan kry nie – as ek nie met ‘n mate van vertroue kan weet wat die waarheid is nie. As die waarheid altyd buite ons bereik is, kan daar net so wel geen waarheid wees nie. Ons mors ons tyd om dit na te streef. Meeste mense sal erken ons het intellektuele vermoëns – soos rede en persepsie – wat ons toelaat om sake van belang te ondersoek en om die waarheid oor hierdie sake te ontdek. Deur hierdie vermoëns verantwoordelik te gebruik, kan ons baie oor onsself en die wêreld om ons leer.

 

Ander mense glo dat al is daar ‘n objektiewe waarheid oor ‘n saak kan niemand weet wat dit is nie. Elkeen het sy eie mening en van daardie menings kan reg wees, maar niemand se mening is meer redelik as dié van ‘n ander nie. Niemand het die reg om te sê dat hy die waarheid ken nie.

Skeptisisme is die siening dat selfs as daar ‘n objektiewe waarheid is, kan niemand weet wat dit is nie. Hulle glo ons kan nie met enige mate van sekerheid bepaal wat die waarheid is nie. Alles is onderhewig aan twyfel. Hierdie siening kom reeds uit die antieke Griekse filosofie. Omdat ons nie die objektiewe waarheid kan bepaal nie, mag ons nie ander oordeel nie. My mening is nie nader aan die waarheid as ‘n ander persoon s’n nie.

Die aanspraak dat ons geen waarheid kan ken nie, kan tog nie waar wees nie. Almal van ons ken tog sekere waarhede.

Skeptisisme is selfvernietigend. As hulle aanspraak waar is, kan niemand mos weet dit is waar nie. Jy moet net soveel oor skeptisisme twyfel as oor enigiets anders.

Natuurlik weet ons nie alles nie, maar dit maak geen sin om te sê dat ons niks weet nie. Dit is moeilik om in die praktyk uit te leef.

As ons nie die waarheid kan ken nie, moet ons onsself afvra: Is enigiets dan nou objektief goed of sleg? Daarna kyk ons volgende keer.