Ons word oud – En nou?

 

Let those be thy choicest companions who have made Christ their chief companion. —Thomas Brooks

Ons word oud – En nou?

J. I. Packer het onlangs ‘n kort boekie oor oud word geskryf: Finishing our Course with Joy. Ek gaan ‘n hele aantal blogs oor oud word skryf en van hierdie boek gebruik maak

Wat het bejaarde kerkgebonde Christene oor as hulpbronne om aan te bied; skatte om met ander te deel; wysheid om op terug te val? Bring bejaardes iets uniek na die geloofsgemeenskap, die strategie om dissipels te maak en die visie van die koninkryk?

  • Geleenthede. Vandag se gesondheidsdiens verleng mense se lewens. Dit is algemeen vir bejaardes om redelik te funksioneer al is hulle al 80 jaar en ouer. Meeste Christene wat vandag 70 jaar oud is, het nog ‘n dekade voor hulle waartydens hulle nog aktief vir Jesus Christus kan werk.
  • Volwassenheid. Dit ontwikkel deur ‘n proses wat nie sommer oornag gebeur nie – en nie aangejaag kan word nie. Dit geld ook vir geestelike volwassenheid. In hierdie geval is die voedingstowwe die waarhede van die Bybel en die evangelies. Die klimaatsfaktore wat volwassenheid bevorder, is die Christelike gemeenskap in die kerk, familie, ens. Christelike bejaardes behoort reeds verder op hierdie pad van volwassenheid te geloop het. Geestelike volwassenheid is ‘n diep, getoetste verhouding met die Drie-eenheid. Dit is ook ‘n verhouding met ander – gelowiges en nie-gelowiges – wat kommer, simpatie, warmte, wysheid, insig, onderskeiding en verstaan insluit. Volwassenheid is ‘n eienskap wat veral in verhoudings na vore kom. Verhoudings is dit wat bejaardes toerus vir gebruik in gemeentes wat fokus op versorging en uitreik.
  • Nederigheid. Trots is die hart van die sonde van die mens. Trots is selfverhoging en selfbevordering ten koste van God en ander mense. Nederigheid is die produk van voortdurende berou en belydenis soos ons probeer om weg te bly van trots. Hierdie stryd teen trots in die hart is ‘n lewenslange stryd. Nederigheid is ‘n gesindheid van leef tot beskikking van God en ander mense. Dit is iets wat bejaarde gelowiges toenemend moet vertoon. Ware geestelike groei is altyd groei na onder – na nederigheid.
  • Intensiteit. Dit is sterkte van fokus en konsentrasie om God tevrede te stel en om sy heerlikheid te bevorder – ywer. Die sekulêre gemeenskap verwag nie ywer van bejaardes nie – hulle moedig dit ook nie aan nie. As ‘n mens ware hoop het – ‘n gretige verwagting van die toekoms  en die moontlikhede wat dit inhou – moet ons dit najaag. Soos bejaardes se liggaamsvermoë, geheue en kreatiwiteit afneem, moet hulle fokus op hulle toekomshoop verskerp. As dit gebeur sal ‘n passie om voort te gaan om God en ons naaste te dien, toeneem.

Een aspek wat kommer wek, is die moderne definisie van ‘n kernfamilie – een of twee ouers en die kinders. Grootouers word net losweg aan hierdie gesin verbind. Van hulle word verwag om van ‘n afstand ‘n bydrae te maak. Dit is sleg vir families om die volwasse wysheid wat beskikbaar is, te ignoreer. Christelike bejaardes moet beskikbaar wees om soveel hulp as moontlik te gee as die families gewillig is om dit te ontvang.

Maar seniors moet ook in die kerk ‘n bydrae maak. Seniors moenie net op die kerk staatmaak om dienste vir hulle te lewer nie, maar moet die geleentheid om self diens te lewer verwelkom. Solank as wat jy ‘n bydrae kan maak, doen dit. Daar is baie geleenthede om steeds vir God te dien – benut dit. Bejaardes het steeds ‘n bydrae om te lewer – hulle kan nog steeds die gemeentes waarin hulle is verryk.

 




Ons word oud – Wat lê vir ons voor?

Christianity is the only religion whose God bears the scars of evil. —Os Guinness

Ons word oud – Wat lê vir ons voor?

J. I. Packer het onlangs ‘n kort boekie oor oud word geskryf: Finishing our Course with Joy. Ek gaan ‘n hele aantal blogs oor oud word skryf en van hierdie boek gebruik maak

2 Korintiërs 4:16 – 5:10 is die basis vir hierdie blog.

Paulus maak ‘n uitgebreide verskoning aan die Korintiërs vir die apostoliese bediening wat hy vervul en wat hulle verkleineer het. Hy het pas sy voorreg om die evangelie van Jesus Christus en daarmee saam God se gawe van die Heilige Gees, te bedien, gevier. Hy erken in 4:7 dat ons maar kleipotte is wat maklik breek. Daarna praat hy oor sy lewe van swaarkry waartoe God hom geroep het (4:8 – 12). Dan: Om hierdie rede word ons nie moedeloos nie. Al is ons uiterlik besig om te vergaan, innerlik word ons van dag tot dag vernuwe ( 4:16). Hierdie tema van krag gedreineer deur pyn kry ons weer in 6:3 – 10; 11:23 – 29; 12:7 – 10. Hier praat Paulus onder andere van die doring in sy vlees.

 

In Paulus se doel om sy verhouding met die Korintiërs te herstel, teken hy homself as ‘n apostel wat swaargekry het. Dit herinner aan bejaardes wie se liggame vir hulle toenemend probleme gee – pyne en beperkings. Ons word toenemend bewus van ons liggame – hulle is nie meer wat hulle was nie. Maar Paulus se gees was nie gebreek nie. Hy het steeds, ten spyte van swaarkry, vertroue.

Nou volg 5:1 – 10 waarin hy vertel wat die rede vir blydskap en vertroue is. Dit is vier dinge wat aan hom geopenbaar is.

  • Eerste waarheid wat geopenbaar is. Ons weet dat ‘n nuwe liggaam vir elke dienaar van Christus wag (5:1). Paulus gebruik die beeld van ‘n huis in die hemel wat reeds deur God gebou is vir gelowiges om in te woon. Hierdie huise wag net vir ons aankoms. Die liggaam waarin ons tans woon word met ‘n tent vergelyk – ‘n tydelike woning. Paulus, as tentmaker, weet dat hierdie nuwe huise verreweg ‘n beter opsie is.
  • Tweede waarheid wat geopenbaar is. Hierdie skuif na ons nuwe huisvesting sal ons enorm verryk. Ons nuwe opstandingsliggaam is ver beter as ons huidige liggaam. Paulus praat van hierdie veranderingsgebeutenis nie as ‘n gebeurtenis waartydens ons klaar is met ons huidige liggame nie, maar dat ons verder geklee gaan word (5:3 – 4). In hierdie nuwe liggaam sal ons heeltemal gemaklik wees in ons nuwe omgewing. In hierdie nuwe liggaam sal swakheid nooit krag saboteer nie. Wat ons wil doen, sal ons in staat wees om te kan doen. Alles wat tydelik is sal vervang word deur lewe (5:4). Paulus sien hierna vooruit soos ons huidige liggame swakker word. Ons moet ook hierna uitsien. God berei ons voor vir hierdie veranderde liggaam deur in ons die begeerte daarvoor wakker te maak (5:5).
  • Die derde waarheid wat geopenbaar is. In die hemel, beklee met ons nuwe liggame, sal ons Jesus Christus, ons Here, sien en by Hom wees – iets wat tans nie moontlik is nie. Ons doel sal wees om Hom tevrede te stel – net soos dit tans ook reeds geld vir Christene (5:6 – 9).
  • Die vierde waarheid wat geopenbaar is. Ons, saam met alle ander mense, sal te staan kom voor Jesus Christus se oordeel. Paulus dink hier blykbaar dat die gehalte van ons oneindige genieting van Jesus Christus se liefde en en goedheid op een of ander wyse ooreen gaan stem met die gehalte van ons liefde en toewyding aan Hom in ons huidige lewe (5:10) Sy verwysing na die ken van die vrees van die Here (5:11) verwys na die moontlikheid dat onverantwoordelikheid in God se diens mag beteken dat ons nie die volheid van die hemelse vreugde sal geniet nie. Daarom kan hy nie laat slaplê in sy bediening nie. Paulus gee nie direk opdragte aan bejaardes nie, maar ons kan seker wees dat om te ontspan en dinge rustig op te neem nie deel daarvan sou wees nie.



Ons word oud – Ons kyk vooruit

If you only hear from someone when they disagree with you, they are a “critic” not a “friend.” – Jonathan Merritt

Ons word oud – Ons kyk vooruit

J. I. Packer het onlangs ‘n kort boekie oor oud word geskryf: Finishing our Course with Joy. Ek gaan ‘n hele aantal blogs oor oud word skryf en van hierdie boek gebruik maak

Mense word deur hoop gemotiveer en gedryf; hoop gee ons energie. Dit is natuurlik vir die mens om vooruit te kyk en te verlang na die goeie dinge. God het ons so gemaak – om ons lewens in hierdie wêreld so te leef dat ons vooruit kyk en voorberei vir iets beter as wat ons tans beleef.

Een van die tragedies van ons hedendaagse sekulêre, post-Christendom samelewing is dat daar geen plek vir die hoop wat God deur die dood van Jesus Christus vir die mens verwerf het, meer is nie.

Daar is nog korttermyn, wêreldse hoop – hoop om te herstel van ‘n siekte of finansiële terugslag of hoop om ‘n ramp te voorkom, ens. Maar langtermyn hoop – hoop wat verby hierdie wêreld kyk – word gekoppel aan geloof in die Drie-enige God. Ons wêreld ken nie meer hierdie hoop nie.

Die moderne mens het weggedryf van die Christelike geloof en daardeur het hulle ook hulle Christelike hoop verloor. Dit is tragies, want die Nuwe Testament maak dit duidelik dat geloof in Jesus Christus in ons die hoop op ‘n heerlike toekoms herstel het. Ons is immers gered, en ons het nou hierdie hoop. Wat ‘n mens al sien, hoop jy tog nie meer nie (Romeine 8:24. Ook 1 Petrus 1:3 – 9).

Die Nuwe Testament is vol afwagting vir Jesus Christus se wederkoms waartydens Hy al die dooies sal opwek, die heelal sal hernuwe en alle mense sal oordeel. Dan gaan Hy diegene wat aan Hom getrou was na Hom toe neem – Hy gaan hulle skei van diegene wat nie waarlik in Hom geglo het nie.

Die impak van die vroeë Christene het verband gehou met hierdie vreugde en opwinding waarmee hulle hierdie hoop aangegryp het. Dit is tyd dat ons hierdie hoop weer ontdek en en weer ons eie maak. Hierdie is ‘n belangrike taak vir ouer mense.




Ons word oud – God se pad vir ouer gelowiges

Traditional religion still has ways to make life miserable for those who question the status quo – Gene Edwards

Ons word oud – God se pad vir ouer gelowiges

J. I. Packer het onlangs ‘n kort boekie oor oud word geskryf: Finishing our Course with Joy. Ek gaan ‘n hele aantal blogs oor oud word skryf en van hierdie boek gebruik maak

In die NT lees ons op ‘n paar plekke dat die Christelike lewe as ‘n resies beskryf word. Laat ons elke las van ons afgooi, ook die sonde wat ons so maklik verstrik, en laat ons die wedloop wat vir ons voorlê, met volharding hardloop, die oog gevestig op Jesus (Hebreërs 12:1 – 2). Paulus gebruik dieselfde beeld as hy met die ongedissiplineerde Korintiërs redeneer (1 Korintiërs 9:24 – 27).

As Paulus die beeld gebruik kombineer hy vier begrippe:

 

  • Duidelike oriëntering ten opsigte van ‘n doel – jy hardloop om te wen.
  • Doelgerigte beplanning –jy dink hoe jy moet hardloop, die pas wat jy moet volhou en die vinnige eindpoging.
  • Konsentrasie – alles is ondergeskik aan oefening en dan hardloop jy met die oog daarop om die resies te wen.
  • ‘n Groot poging – jy hardloop so vinnig as wat jy kan, jy gee alles.

Dit is hoe Paulus die lewe van ‘n getroue Christen sien.

Maar volharding is ook vir Paulus belangrik. Aangesien julle dan Christus Jesus, die Here, aangeneem het, wandel in Hom, gewortel en opgebou in Hom en bevestig in die geloof (Kolossense 2:6 – 7 – OAV). Niks moet jou aandag aftrek nie. 

Die beeld van hardloop staan sentraal in Paulus se verstaan van sy eie lewe. Dit moet  ook die sentrale fokus in die denke en hart van bejaarde Christene wees. Die feit dat ons fisiese liggame stadiger funksioneer, beteken nie dat ons geestelik ook stadiger moet funksioneer nie. Wat sal ons aan die gang hou? Ywer. Ywer is eintlik nie meer ‘n woord wat vandag nog algemeen gebruik word nie. Nehemia 3 – 6 vertel vir ons dat ten spyte van fel teenstand die mure van Jerusalem binne 52 dae herbou is. Dit is ywer in aksie. In die evangelie volgens Johannes lees ons van Jesus wat die tempel gereinig het. En sy dissipels het onthou dat daar geskrywe is: Die ywer vir u huis het my verteer (2:17 – OAV)

Ywer beteken prioriteit, passie en inspanning vir God se saak. Dit is ‘n brandende begeerte  om God tevrede te stel, om sy wil te doen en om Hom hier op aarde te verheerlik. Natuurlik mag ons geheue en ons vermoë om te konsentreer agteruitgaan; ons energievlakke sal daal, maar ons kan steeds ons dae met ywer leef. Ywer moet met hoop gevoed word.