Die Woord word mens

In Christ’s God-to-humanity relation, he is a prophet; in his humanity-to-God relation he is a priest; in his headship over all humanity he is a king – Herman Bavinck

Die Woord word mens

Kersfees is ‘n tyd waar ons die wêreld behoort uit te nooi en te praat. Maar wat doen ons? Ons mompel ‘n paar woorde.

Die Woord het mens geword en onder ons kom woon. Ons het sy heerlikheid gesien, die heerlikheid wat Hy as die enigste Seun van die Vader het, vol genade en waarheid (Johannes 1:14)

Hierdie Woord van wie Johannes hier praat het ‘n paar merkwaardige eienskappe:

  • Die Woord is ewig. In die begin was die woord daar … Hy was reeds in die begin by God. Jesus se bestaan begin nie by Betlehem nie – Hy was reeds van voor die skepping daar. Daar was nooit ‘n tyd waar die Woord nie was nie. Jesus se geboorte is toe die ewige Woord aarde toe gekom het en mens geword het.
  • Die Woord is die Skepper. Alles het deur Hom tot stand gekom: ja, nie ‘n enkele ding wat bestaan, het sonder Hom tot stand gekom nie. Die Skepper is nie onpersoonlik of blind nie – dit is Jesus Christus.
  • Die Woord was God. Die Woord was by God, en die Woord was self God. Dit is die kern van die Christelike geloof. Maar wat beteken dit? Johannes gee hier aan Jesus die grootste titel van God in die Ou Testament – God. Hiermee maak Hy alle ander gode oorbodig. Daarmee sê Johannes ook dat Jesus al die eienskappe van God besit: ewig, alwetend. Alsiende, almagtig, heilig … Ek en die Vader is een (Johannes 10:30).

Die kerk moet ‘n gemeenskap van lofprysing wees – van halleluja’s en hosanna’s, met geboë hoofde. Die aanbidding moet altyd op Jesus Christus gerig word. Hy was God en mens.




Wees duidelik en reguit

True and sound wisdom consists of two parts: the knowledge of God and of ourselves – Johannes Calvyn

Wees duidelik en reguit

In Matteus 21:23 – 27) is Jesus in die tempel besig om die mense te leer. Die priesterhoofde en die familiehoofde nader Hom met ‘n vraag: Met watter gesag doen U hierdie dinge? En wie het u hierdie gesag gegee?  Jesus sien onmiddellik dwarsdeur hulle denke. Hulle vraag is  nie ‘n eerlike vraag nie. Daarom antwoord Hy hulle vraag met ‘n vraag van sy eie: Die doop van Johannes, waar het dit vandaan gekom: van God, of van mense af? As hulle hierdie vraag antwoord, sal Hy hulle vraag oor sy gesag antwoord.

 

In plaas van eerlik te antwoord, word hulle denke nou glibberig. Hulle redeneer onder mekaar en besef dat wat hulle ook al antwoord hulle in die moeilikheid is. As hulle sê Johannes se doop kom van God af, sal Jesus onmiddellik wil weet waarom hulle hom dan nie geglo het nie. As hulle sê dat Johannes se doop van die mense kom, is hulle ook in die moeilikheid, want die mense het Johannes as ‘n profeet beskou. Daarom antwoord hulle: Ons weet nie.

Jesus praat nie met sulke mense nie. Daarom sê Hy vir hulle:Dan sê Ek ook nie vir julle met watter gesag Ek hierdie dinge doen nie. Is dit nie ook soms ons benadering nie? Ons kom nie openlik na vore nie, maar gebruik ons denke op allerhande slinkse maniere. Hoe moet ons dan optree? Paulus gee vir ons die antwoord: Ons vermy praktyke wat nie die lig kan verdra nie en waarvoor ons ons sou moes skaam. Ons gaan nie met bedrog te werk nie en ons vervals nie die woord van God nie. Inteendeel, ons maak die waarheid openlik bekend en beveel onsself so aan by elkeen wat voor God ‘n eerlike gewete het (2 Korintiërs 4:2).




Pluralisme in ons samelewing

Reformed churches tend to glory in their distinctiveness – their history, their ethnic origens, the theological battles of the past that have made them different from others – John Frame

Pluralisme in ons samelewing

[Pluralisme = ‘m wysgerige rigting wat die hele werklikheid as ‘n veelheid van individuele selfstandighede opvat – HAT]

Hoekom ondersteun ons pluralisme in ons samelewing?

  • Ons hou nie van argumente nie. Mense sê dat hulle nie oor godsdiens of politiek praat nie. Dit is mense wat uitdrukking gee aan hulle ongemak met verskille en argumente.
  • Ons is bereid om die betekenisvolle verskille in die doelwitte van verskillende godsdienste af te water. Christene glo dat persoonlike verlossing dié doelwit van elke godsdiens is. Dit is nie so nie. Daarom moet ons altyd vra wat die belangrikste doelwitte van ‘n spesifieke godsdiens is. Alle godsdienste is nie besig om dieselfde berg net van verskillende hoeke te klim nie.
  • Daar is ‘n neiging om die groot lewensvrae te vermy. Ons wil nie vrae soos: Wat is die sin van die lewe? Waarheen is ons op pad? Bestaan God? vra nie.
  • Die kultuur beklemtoon privaatheid en opregtheid. Mense word deur ‘n  sekuriteitsheining van privaatheid beskerm. Wat belangrik is, is verdraagsaamheid wat nie diskrimineer nie – beslis nie feite en oordeel nie.
  • Ons sien godsdiens in verbruikers- en pragmatiese terme. Die belangrikste vraag is: Wat werk vir my? Wat wil ek met my tyd en hulpbronne koop? Die verbruiker is altyd reg. In die kultuur word bespreking oor verskille doodgesmoor. Godsdienstige pragmatisme motiveer ons gedrag en besluite.
  • Daar is nie so iets soos universele of absolute waarhede nie. Onder geen omstandighede moet ons vra soos: Watter godsdiens is waar vra nie?  Absolutes word summier verwerp. Die waarheid word vanuit my persoonlike gesigspunt gesien. Elkeen van ons ken die waarheid vanuit ons eie perspektief. Mense wil nie meer die waarheid ontdek nie, want dit is harde werk.

Pluralisme is ‘n groot bedreiging vir ons Christelike godsdiens.




Die stryd vir jou verstand (2)

Even if religion makes no sense to you, you need to make sense of religions to make sense of the world – Stephen Prothero

Die stryd vir jou verstand (2)

Ons het laas na die stryd om ons verstand gekyk. Nou gaan ons na vier beginsels kyk hoe om hierdie stryd te wen.

1.Moenie alles glo wat jy dink nie

Die wêreld plaas allerhande suggesties in ons verstand. Baie van hulle is vals. Ons word met al hierdie vals idees gebombardeer. Satan prop ook gedurig allerhande idees in ons koppe. Wees tog vir my ‘n borg, o God! Wie anders kan vir my instaan? U het die verstand van my vriende vir rede gesluit, moenie dat hulle seëvier nie (Job17:3- 4). Ons verstand is stukkend as gevolg van die sonde. Ons het ook die vermoë om vir onsself te jok, want ons is kinders van die duiwel, en hy staan nie aan die kant van die waarheid nie (Johannes 8:44). As hy jou kan oortuig om jou brein te glo, kan hy jou oortuig om sonde te doen. Ons is nie eg voordat ons nie in die openbaar kan erken hoe vals ons werklik is nie.

 

2.Bewaar jou verstand van rommel (garbage)

Garbage in; garbage out. ‘n Verstandige mens is op soek na kennis; ‘n dwaas voed homself met dwaasheid (Spreuke 15:14). Sekere dinge wat jy in jou brein inlaat is soos voedsel – dit maak jou slimmer en meer volwasse. Sekere dinge is nie goed of sleg vir jou brein nie. “Alles is my geoorloof.” Ja, maar nie alles is heilsaam nie (1 Korintiërs 6:12). Hierdie dinge is nie verkeerd nie, maar ook nie noodsaaklik nie. God verwag van ons gehoorsaamheid, maar ook vrugte: Ek het julle uitgekies en julle aangestel om uit te gaan en vrugte te dra, vrugte wat sal hou (Johannes 15:16). Jy kan nie sommer alles in jou brein inlaat en dink dit gaan ‘n positiewe verskil maak nie. Maar hoe kan ons ons verstand beskerm? In Filippense 4:6 – 8 gee Paulus vir ons raad. Hy noem twee faktore van groot belang:

  • Gebed. Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. Jy moet as ‘t ware in ‘n lopende gesprek met God wees.
  • Gekonsentreerde fokus. Waarop? Alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is – watter deug of lofwaardige saak daar ook mag wees – daarop moet julle julle gedagtes rig. Oppas: ons kan nie net weerstand bied teen dit wat verkeerd is nie – ons moet dit verplaas met dit wat goed is.

Hoe weet ons dat die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou? As ek ophou om te probeer verstaan wat God doen wat Hy doen – as ek Hom vertrou.

3.Moet nooit ophou leer nie

Ons moet lewenslange studente bly. Om ‘n dissipel te wees, moet jy ‘n student wees – jy moet aan die voete van jou Rabbi sit. ‘n Oorwoë mening is diep waters; ‘n verstandige mens skep daaruit (Spreuke 20:5). Jy kan enigiets leer as jy net die regte vrae vra. Hoe brei jy jou kennis uit? Vrae. Vrae. Ander weet altyd iets wat jy nie weet nie. As jy werklik wil leer, het jy een eienskap nodig: nederigheid. Almal moet trouens teenoor mekaar nederig wees en mekaar help (1 Petrus 5:5); Wyse manne loop nie te koop met hulle kennis nie (Spreuke 10:14). Wees ywerig om te leer en wees gewillig om te luister. Kry vir jou ‘n biblioteek.

4.Laat God jou verbeelding rek

Alles wat in die lewe gebeur, begin met ‘n droom. God het aan ons die gawe gegee om iets te verbeel voor dit ‘n werklikheid is. Voor die kunstenaar sy kunswerk skilder, het hy dit wat hy wil skilder in sy verbeelding gesien. Daar begin niks betekenisvol voor iemand begin droom nie. Hierdie droom of visie kom van God af. Skryf dit neer, want as jy skryf is jy meer presies. Einstein het gesê dat verbeelding beter as kennis is, want verbeelding het geen grense nie. God kan nie jou drome vervul as jy geen drome het nie; God kan jou nie help om jou doelwitte te bereik as jy geen doelwitte het nie. Aan Hom wat deur sy krag wat in ons werk, magtig is om oneindig meer te doen as wat ons bid of dink (Efesiërs 3:20).

Verstand is belangrik – baie van ons hou van die wêreld van gedagtes en idees. Ons sit vas in ons studeerkamers. Ander mense is doeners. Denkers moet meer doen; doeners moet meer dink. Ons het nie ‘n keuse tussen die twee nie – albei moet gedoen word.