JESUS SE VERHEERLIKING

 

“Revelation and faith now mean a personal encounter, personal communion.” – Emil Brunner

Jesus se verheerliking

Jesus se verheerliking vind naby die einde van sy bediening plaas. Sy gehoor bestaan uit drie mense: Petrus, Johannes en Jakobus. Hierdie gebeurtenis gee vir ons inligting oor Jesus, maar kommunikeer ook iets baie belangrik van sy bediening. Matteus beskryf hierdie gebeurtenis in 17:1 – 8.

Jesus is besig om sy bediening af te rond. Hy berei Hom voor om na Jerusalem te gaan. Hy weet daar wag lyding en dood op Hom. Hy en sy drie dissipels gaan na ‘n hoë berg waar hulle alleen sou wees. Daar het sy voorkoms voor hulle oë verander: sy gesig het begin straal soos die son, en sy klere het wit geword soos die lig. Jesus se uiterlike vorm het verander.

 

Sy gesig het begin straal soos die son

Sy gesig begin straal met die intensiteit van die son. Dit herinner aan Moses wat God se heerlikheid wou sien (Eksodus 33:18 – 23). God beweeg verby Moses terwyl hy in ‘n rotsskeur versteek is. Toe Moses van die berg afkom, het sy gesig geskyn tot so ‘n mate dat hy dit moes bedek. Hier was net heerlikheid wat weerkaats is – dit kom nie van Moses self nie. Tydens die verheerliking op die berg weerkaats Jesus nie die heerlikheid van God nie – dit kom van Homself. Uit Hom straal die heerlikheid van God en Hy is die ewebeeld van die wese van God (Hebreërs 1:3).

Paulus het die heerlikheid van Christus op die Damaskus-pad gesien. Hy was op pad om die Christene in Damaskus te vervolg. Skielik skyn daar ‘n lig uit die hemel; hy val neer op die grond; hy hoor ‘n stem wat vir hom sê: Saul, Saul, waarom vervolg jy My? Paulus wou weet wie dit is en Jesus antwoord: Ek is Jesus … Dit is My wat jy vervolg (Handelinge 9:3 – 5). Hierdie lig was so helder dat dit hom tydelik verblind het.

In Openbaring lees ons van die nuwe Jerusalem, die stad van God se mense – die nuwe aarde. Die stad het nie die son en maan nodig om hom te verlig nie, want die heerlikheid van God het hom verlig, en die Lam is sy lamp … daar sal nie meer nag wees nie (Openbaring 21:23, 25).

Petrus, Johannes en Jakobus het iets hiervan ondervind toe Jesus op die berg verheerlik is. Jesus openbaar aan hulle sy ware heerlikheid. Dit is iets wat hulle nooit sou vergeet nie. In die proloog tot sy evangelie skryf Johannes: Die Woord het mens geword en onder ons kom woon. Ons het sy heerlikheid gesien, die heerlikheid wat Hy as die enigste Seun van die Vader het, vol genade en waarheid (1:14).

Sy klere het wit geword soos die lig

Markus sê dat by sy verheerliking het Jesus se klere blink geword – spierwit soos niemand op aarde dit kan maak nie (9:3).

‘n Wolk en ‘n stem

Skielik het Moses en Elia aan hulle verskyn en met Jesus gepraat. Moses en Elia verteenwoordig die wet en die profete en hulle praat met Jesus oor sy bestemming – oor die taak wat vir Hom voorlê. Om die wet en die profete te vervul, moes Jesus ly en sterf. Dit kon Petrus nie hanteer nie; hy begin babbel: As U wil, sal ek hier drie hutte bou: een vir U, een vir Moses en een vir Elia. Maar terwyl hy nog gepraat het, het ‘n helderligte wolk skielik sy skaduwee oor hulle gegooi, en ‘n stem  uit die wolk het gesê: “Dit is my geliefde Seun oor wie Ek My verheug. Luister na Hom.” Die dissipels sien nie net nie, hulle hoor ook. Die Vader sê nie net wie Jesus is nie, maar voeg by dat Hy Hom in sy Seun verheug – net soos By Jesus se doop. Hy beveel ook die dissipels om te luister na wat Jesus sê.

Toe die dissipels dit hoor, word hulle baie bang en val op die grond neer. Jesus kom na hulle en raak hulle aan en sê vir hulle: Staan op en moenie bang wees nie. Toe hulle weer opkyk was Moses en Elia weg. Hulle sien Jesus soos hulle Hom nog altyd gesien het – die metamorfose is verby.

Alle gelowiges gaan op een of ander stadium die verheerlikte Jesus sien. In die nuwe aarde en hemel sal Hy nie meer vir ons verborge wees nie – die helder, blink lig van die heerlikheid en sy Lam sal ons elke oomblik kan sien.




Satan probeer God se woord ondermyn

“The revelation in Christ is not completed with the Life, Death and Resurrection of Jesus: it only attains its goal when it becomes actually manifest; that is, when a man or woman knows Jesus to be the Christ.” – Emil Brunner

Satan probeer God se woord ondermyn

Satan kom na Jesus nadat Hy veertig dae en veertig nagte niks geëet het nie. Jesus was honger. Dan kom Satan met die versoeking: As U die Seun van God is, sê hierdie klippe moet brood word (Matteus 4:3). Weereens, soos met Eva, kry ons hier ‘n subtiele suggestie: As … “As jy dan die Seun van God is, hoekom gaan jy dan van die honger dood in die woestyn? Jy het tog die krag om iets omtrent jou honger te doen.”  Onthou Jesus se versoeking vind net na sy doop plaas. By sy doop het God uit die hemel gesê: Dit is my geliefde Seun (Matteus 3:17). Hier bevestig die Vader in die openbaar dat Jesus sy Seun is, maar die Satan sê: As…  Satan daag dus vir God uit – wat God gesê het, is nie waar nie.

Hoe reageer Jesus op hierdie versoeking van Satan? Hy  haal God se woord aan, want vir Hom is gehoorsaamheid aan die woord van God belangriker as sy honger.

Toe neem Satan vir Jesus na Jerusalem – hulle staan op  die hoogste punt van die tempel.  As U die Seun van God is, spring af! Daar staan moes geskrywe: “ Hy sal sy engele oor jou opdrag gee” en “Op hulle hande sal hulle jou dra, sodat jy nie jou voet teen ‘n klip sal stamp nie.” (Matteus 4:6). Satan haal hier die Skrif aan. As Jesus glo, kan Hy maar van die tempel afspring, want niks sal gebeur nie. Jesus antwoord deur weer uit die Skrif aan te haal: Jy mag die Here jou God nie op die proef stel nie. Jesus weet dat die engele oor Hom die wag hou – Hy het nie fisiese bewys daarvan nodig nie.

Laastens neem die Satan vir Jesus na ‘n baie hoë berg en wys vir Hom al die koninkryke van die wêreld: Dit alles sal ek vir U gee as U neerval en my aanbid.  Satan maak asof die prys maar klein is – aanbid my net. Weereens antwoord Jesus die Satan met ‘n aanhaling uit die Skrif.

Drie keer val Satan aan; drie keer is sy aanval op die geloofwaardigheid van God se woord gerig. Hy gebruik selfs die woorde van die Skrif self. Satan probeer Jesus versoek om die geloofwaardigheid van God se woord te betwyfel. Daarna het die duiwel Hom met rus gelaat, en daar het engele gekom en Hom versorg.

Hierdie was egter nie die einde van Satan nie. Dwarsdeur sy lewe het die Satan vir Jesus aangeval. Hierdie versoeking het soms van sy beste vriende gekom. Toe Jesus die eerste keer sy dood aankondig sê Petrus: Dit sal beslis nie met U gebeur nie (Matteus 16:22). Jesus draai na Petrus en antwoord hom: Moenie in my pad staan nie, Satan! Jy is vir My ‘n struikelblok, want jy dink nie wat God wil hê nie, maar aan wat die mense wil hê.

Jesus bly gehoorsaam ten spyte van versoekings. Jesus het in die waarheid van God se woord vertrou. Al drie Jesus se reaksies op Satan se versoekings is aanhalings uit Deuteronomium 6 – 8. Hierdie hoofstukke waarsku Israel om nie God te vergeet soos die vorige geslag gedoen het nie. Ons kan ook bemoedig word, want Jesus het belowe dat ons nooit so versoek sal word dat ons dit nie kan hanteer nie.




Die Versoeking van Jesus in die woestyn

 

“The witness of the Spirit is not the whole work of the Spirit. The Holy Spirit is not only the One who witnesses and speaks, He is also the God who pours out vitality and creates new life.” – Emil Brunner

Die Versoeking van Jesus in die woestyn

By sy doop ontvang Jesus die Heilige Gees – Hy word vir sy bediening gesalf. Wat is die eerste ding waartoe die Heilige Gees vir Jesus roep? Nie om te preek of te genees of om dissipels te roep nie. Nee, die Heilige Gees lei vir Jesus in die woestyn in sodat die Satan Hom kan versoek.

In die Nuwe Testament word Jesus geroep om die nuwe Adam te wees – Hy moes regkry wat die eerste Adam nie kon regkry nie. Die grootste mislukking van die eerste Adam was dat hy aan versoeking toegegee het. Paulus vergelyk dan hierdie einste Adam wat nie die versoeking kon weerstaan nie met die nuwe Adam, Jesus Christus, wat die versoeking weerstaan het (Romeine 5:12 – 21).

 

Daar is verskille tussen die versoeking van Adam en dié van Jesus:

  • Adam is in die tuin van Eden versoek terwyl Jesus in die woestyn versoek is.
  • Adam is in die teenwoordigheid van sy vrou versoek terwyl Jesus in absolute eensaamheid in die woestyn versoek is.
  • Adam is versoek in ‘n tuin met allerhande vrugte, terwyl Jesus in die woestyn nadat Hy veertig dae en nagte gevas het, versoek is.

Daar is ook ooreenkomste tussen Adam en Jesus se versoekings:

  • Satan se versoeking is baie subtiel. Hy vra wat na ‘n baie eenvoudige vraag lyk: Het God werklik gesê julle mag van geen boom in die tuin eet nie (Genesis 3). Natuurlik is dit nie waar nie en Eva help hom reg – hulle mag van al die bome in die tuin eet, behalwe van die boom in die middel van die tuin. Wat die Satan doen, is dat hy vir Eva op die beperking laat fokus en nie op die vryheid nie. Hy gee voor Adam en Eva is nie outonoom nie – hulle is nie vry om te kies nie. Eers daarna kom Satan met ‘n direkte teenstelling van wat God gesê het: Julle sal beslis nie sterf nie. Nou is hy nie meer subtiel nie, maar direk.
  • Satan se aanvalspunt is altyd dieselfde: die woord van God is nie geloofwaardig nie.

 Na hierdie laaste punt kyk ons volgende keer.




Wat leer Spreuke ons van wysheid?

“To believe in Jesus Christ and to be of the elect is one and the same thing, just as not to believe in Jesus Christ and not to be of the elect is the same thing.” – Emil Brunner

Wat leer Spreuke ons van wysheid?

Ons lewe is vol probleme, besluite wat geneem moet word, omstandighede wat wysheid vereis. In Spreuke kry ons daardie wysheid van ons Vader. Jakobus sê dat ons vir wysheid moet bid (1:5) en dat ware wysheid van Bo kom (3:15).

Die boek Spreuke is een van die grootste versamelings van tydlose raad en ware wysheid. Ons kry een belangrike tema dwarsdeur die boek: Kennis begin met die dien van die Here (1:7). Wysheid kom van God af. Daar is drie dinge wat Spreuke ons leer oor wysheid.

  • Wysheid gaan oor verhoudings

  • Wysheid is prakties
  • Wysheid is die besit van kennis met die doel om dit toe te pas. Vertrou volkome op die Here en moenie op jou eie insigte staat maak nie. Ken Hom in alles wat jy doen en Hy sal jou die regte pad laat loop (3:5 – 6). Waaraan daar ‘n groot gebrek in ons samelewing is, is nie ‘n gebrek aan kennis nie, maar aan wysheid. Ons is so bekommerd oor dit wat ons nie weet nie in plaas daarvan om dit wat ons wel weet, toe te pas.

  • Wysheid is nederig
  • ‘n Wyse persoon is nie volmaak nie, maar hy is leerbaar en aanvaar regstelling as dit gegee word. Deur teregwysing en onderrig te aanvaar, wys die persoon dat hy nie trots is nie. As jy wil wys wees, moet jy bereid wees om te leer. Moenie ‘n ligsinnige mens probeer opvoed nie, hy sal jou daarvoor haat. Voed ‘n wyse op, en hy sal lief wees vir jou. Gee jou aandag aan ‘n wyse mens, en hy kry meer wysheid, leer ‘n regverdige en sy kennis vermeerder (9:8 – 9).

    Wysheid gaan oor voortdurende groei. Wees nederig en bid vir wysheid. Omdat wysheid nie sy oorsprong in ‘n individu het nie, is daar niks om oor te spog nie. In Spreuke is die dwases wys en die wyses nederig. Bid ons nog vir wysheid?