Geen jota of tittel

The law, in its majestic equality, forbids the rich as well as the poor to sleep under bridges, to beg in the streets, and to steal bread. -Anatole France, skrywer en Nobel pryswenner (1844-1924)

Geen jota of tittel

Kevin deYoung (Taking God at His word, 2014) het ‘n boek oor God se woord vir die mense van vandag geskryf. Ons gaan ‘n hele aantal blogs aan hierdie boek spandeer.

Jesus wys almal tereg wat God se opdragte ignoreer of afwater. Hy dink aan die volle woord van God: Want voorwaar Ek sê vir julle, totdat die hemel en die aarde verbygaan, sal nie een jota of een titteltjie van die wet ooit verbygaan totdat alles gebeur het nie (Matteus 5:18 – OAV). ‘n Jota is die kleinste letter in die Griekse alfabet;  ‘n tittel is ‘n klein merk wat soortgelyke Hebreeuse woorde van mekaar skei. Jesus dink dus hier aan die geskrewe woord van God. Jesus het nooit God se woord verwerp nie – Hy het dit wel vervul en verduidelik sodat mense dit beter kan verstaan. Jesus interpreteer die woord reg en pas dit toe.

 

Het Jesus nie soms die Skrif aangepas nie? Kom ons kyk na ‘n paar voorbeelde:

  • Die sabbatdag. Het Jesus nie die Skrif ten opsigte van die Sabbat afgewater  nie? Jesus sê dat die Fariseërs beperkings op die Sabbat plaas wat die standaarde van die Skrif oorskry. Hy verwys onder andere na Dawid en sy manskappe wat die offerbrood geëet het – slegs die priesters mag dié brood geëet het.
  • Wat van rein en onrein kos? Niks wat van buite af in ‘n mens ingaan hom onrein kan maak nie. Hier is ‘n voorbeeld van waar Jesus die wet vervul. Hy leer vir ons die diepere betekenis van die reinheidsvoorskrifte – ons moet na Jesus in gehoorsaamheid kom om by Hom die reiniging te kry wat ons nodig het.
  • Wat van egskeiding? In Matteus 19:3 – 9 antwoord Jesus ‘n vraag van een van die Fariseërs oor egskeiding. Die liberale Jode het Moses se toegewing ten opsigte van egskeiding as ‘n blanko tjek vir egskeiding gesien. Jesus bring hulle egter hier terug na die ware betekenis van die teks – Hy gaan terug tot by Genesis.
  • Wat van ‘n oog vir ‘n oog en ‘n tand vir ‘n tand? (Matteus 5:38) Jesus korrigeer hier die verkeerde toepassing deur die Jode. In die tora lees ons dikwels van die wet van vergelding. Die doel is dat vergelding die gemeenskap teen kwaaddoeners moet beskerm. ‘n Oog vir ‘n oog verbied buitensporige strawwe. Jesus se siening verwys na regverdige strawwe en skakel persoonlike wraak uit.

Julle gee tiendes van kruisement, anys en koljander, maar wat volgens die wet van God die swaarste weeg, laat julle na: geregtigheid, barmhartigheid en betroubaarheid (Matteus 23:23). Veral in Matteus 5 wil Jesus sy gehoor die ware betekenis van die Skrif laat verstaan. Hy korrigeer nie die wet nie, maar Hy wil nie hê dat God se wet deur menslike tradisie omseil moet word nie. Hy vereis gehoorsaamheid aan die letter, maar ook die gees van die wet.

Die Heilige Gees, God en die Skrif is nie drie verskillende sprekers nie. Almal verwys na dieselfde goddelike skrywer.




Wat het Jesus Christus self oor die Bybel gesê?

The depths of our misery can never fall below the depths of mercy. —Richard Sibbes

Wat het Jesus Christus self oor die Bybel gesê?

Kevin deYoung (Taking God at His word, 2014) het ‘n boek oor God se woord vir die mense van vandag geskryf. Ons gaan ‘n hele aantal blogs aan hierdie boek spandeer.

Christene leer by wat Jesus Christus sê. Ons moet sy voorbeeld volg en sy gebooie gehoorsaam. Daarom moet ons sy verstaan van die Skrif aanvaar. Ons moet van die Skrif glo wat Jesus Christus daarvan geglo het.

In Jesus se tyd het mense nie boeke gehad nie – ook nie die Bybel soos ons dit ken nie.  In hulle sinagoges was daar wel boekrolle van die Ou Testamentiese boeke. Dit was die kosbaarste besittings van die gemeenskap. Die Joodse aanbidding het op die lees van hierdie boekrolle en die verduideliking daarvan gefokus.  Die Jode was baie bekend met wat ons vandag as die Ou Testament ken.

 

As ons Johannes 10:31 – 38 lees, moet ons eers die konteks verstaan. Hulle wou Jesus stenig. Hoekom? Oor godslastering omdat Hy Hom, ‘n gewone mens, as God voordoen. In vers 34 verwys Hy na die wet wat dieselfde as die Skrif beteken. Die Jode is ontsteld dat Hy na Homself as die Seun van God verwys. Jesus wys daarop dat in julle wet word die woord gode gebruik om na slegte konings, regters en gesagsfigure te verwys. En wat daar geskrywe staan, kan nie verander word nie (10:35). Vir Jesus kan niks wat in die Skrif staan bevraagteken word nie. Geen belofte of dreigement is die Skrif sal nie vervul word nie. Jesus glo dat die Skrif die woord van God is. Ons kan tog nie dink dat die woord van God verkeerd is nie.




God se woord is noodsaaklik

 

As a well spent day brings happy sleep, so life well used brings happy death. -Leonardo da Vinci (1452-1519)

 

God se woord is noodsaaklik

Kevin deYoung (Taking God at His word, 2014) het ‘n boek oor God se woord vir die mense van vandag geskryf. Ons gaan ‘n hele aantal blogs aan hierdie boek spandeer.

 Almal van ons se korttermyn begeertes verskil. Party wil die wêreld sien; party wil lekker eet; party wil in die buitelug lewe, ens. Ons het verskillende smake, belangstellings en stokperdjies. Kom dit egter by ons langtermyn begeertes is daar meer ooreenstemming: ons wil ‘n doel in ons lewe hê; ons wil gelukkig wees; ons wil deel van iets groter as onsself wees. Mense soek ‘n resep om daar uit te kom. Die probleem is dat dié Een van wie ons moet hoor ons nie op ons eie kan ontdek nie. Hierdie Persoon het Hom egter deur sy woord aan ons geopenbaar. Calvyn sê dat die Skrif ons bril is – die lense waardeur ons God, die wêreld en onsself moet sien. Toe Jesus vir sy dissipels vra of hulle Hom nie wil verlaat nie, antwoord Petrus:  Here, na wie toe sal ons gaan? U het die woorde wat ewige lewe gee (Johannes 6:68)

 

Hoekom sê ons dat God se woord noodsaaklik is?

  • Dit openbaar aan ons ‘n ander soort wysheid
  • Dit kom van ‘n ander Bron
  • Dit vertel vir ons van ‘n ander liefde

Die fantastiese vier

Die woord van God is voldoende, duidelik, gesagvol en noodsaaklik. As dit waar is, hoekom lees, bestudeer, memoriseer mense nie die woord nie? Hoekom leer hulle nie ander die woord nie? Hoekom bou ons ons gemeentes op ‘n swak fondament van pragmatiese filosofie? Hoekom gebruik ons die woord so min in ons eredienste? Hoekom sing ons liedere sonder enige Bybelse substans?

God se woord is finaal, verstaanbaar, noodsaaklik en voldoende. Maar hierdie eienskappe van God se woord word voortdurend aangeval. Christene moet daarteen waak en veg.

Miskien is dit belangrik om te kyk na wat Jesus Christus van die woord gedink het.




Vraag oor die gesag van die woord van God

 

How much larger your life would be if your self could become smaller in it  – G. K. Chestertom

Vraag oor die gesag van die woord van God

Kevin deYoung (Taking God at His word, 2014) het ‘n boek oor God se woord vir die mense van vandag geskryf. Ons gaan ‘n hele aantal blogs aan hierdie boek spandeer.

Hoekom kom verskillende groepe Christene tot uiteenlopende teologiese gevolgtrekkings as hulle die Bybel lees? ‘n Belangrike deel van die antwoord het te doen met gesag – wie is die eindgesag van ons gevolgtrekkings? Nie almal antwoord dit op dieselfde wyse nie. Vir party (soos die Rooms-Katolieke Kerk) is tradisie net so belangrik soos die Skrif. Vir ander (baie van die liberale teoloë) is die menslike rede en ondervindings net so belangrik soos die Skrif – die Skrif moet in lyn wees met ons rede en ondervindings. Vir ander (soos gereformeerdes)  staan die Skrif bo tradisie, rede en ondervindings – dit is die finale gesag.

 

In alle godsdienste is gesag belangrik – ons gee altyd aan iets of iemand die laaste woord. Dit mag ons ouers, die kultuur, die regering, meningspeilings … wees. Ons het almal ‘n finale arbiter in ons oordeel oor wat waar is en wat nie waar is nie. Vir Christene is dit God se woord – Ou en Nuwe Testament. Natuurlik kan ons God se woord verkeerd verstaan of verkeerd interpreteer of verkeerd toepas. Korrek geïnterpreteer is die Skrif nooit verkeerd in wat die bevestig nie.

God openbaar Hom in die heelal en die natuur (sy algemene openbaring) en in die Skrif (sy spesiale openbaring). Beide is belangrik, ons kry beide in die Skrif, beide kom van God af, beide verkondig dieselfde waarheid. Daar is geen teenstrydigheid tussen wat God in die Skrif en in die natuur openbaar nie. As ons al die kennis gehad het, sou die wetenskap en die Bybel mekaar nooit weerspreek het nie. Daarom moet ons nie die Skrif verwerp as die wetenskap met oënskynlike teenstrydige resultate na vore kom nie. Die hemel getuig van die mag van God, die uitspansel maak die werk van sy hande bekend … Die woord van die Here is volmaak: dit gee lewe. Die onderwysing van die Here is betroubaar: dit gee wysheid aan dié wat nog onervare is (Psalm 19:2, 8). Christene moet bereid wees om te verander as dit blyk dat hulle interpretasie van die Skrif verkeerd was.

Daar is dinge in die Bybel wat nie maklike antwoorde het nie – hier dink ons aan sekere datums en getalle wat moeilik versoenbaar is. Daar is ook oënskynlike teenstrydighede. Ons moenie sleg voel as ons sukkel om iets te verstaan nie. So skryf Petrus van Paulus: Daar is dinge in sy briewe wat moeilik is om te verstaan. Oningeligte en onstandvastige mense gee daaraan ‘n verkeerde uitleg, soos hulle trouens ook doen met die res van die Skrif, en dit tot hulle eie ondergang (2 Petrus 3:16).

Ons moenie toelaat dat hierdie probleme en oënskynlike teenstrydighede ons intimideer nie. Baie van hulle kan maklik verduidelik word;  vir baie is daar ‘n redelike oplossing; ander is taai vrae. Vir hulle is daar moontlike antwoorde, maar ons is onseker of ons al werklik die antwoord ontdek het. Die Bybel is ‘n getuienis van God self – dit is sy boek. Om die Skrif te vertrou, moet ons die karakter en beloftes van God vertrou – meer as ons vermoë om te redeneer en te verduidelik.

J. I. Packer sê dat die Skrif nie al die vrae wat ons graag wil vra direk antwoord nie. Dit vertel ons net genoeg – dit wat ons nodig het vir ons geloof, sal ons daar kry. Daar is sekere vrae wat God nie antwoord nie. Hoe moet ons hierop reageer? In nederige vertroue op God se geloofwaardigheid. Ons moenie vra of dit redelik is om dit of dat te glo nie, maar is dit redelik om God se versekering dat dit so is, te aanvaar? Is dit redelik om God se woord te aanvaar al verstaan ek dit nie ten volle nie? Ons moenie geloof oorboord gooi net omdat ons nie al die probleme kan oplos nie. Ons intelligensie is nie die maatstaf van die waarhede van God nie. It is not for us to stop believing because we lack understanding, but to believe in order that we may understand (J. I. Packer).

Die mense van Berea het die Skrif met eerbied benader Ons moet ons ook toewy aan die gesag van die Skrif, want dit getuig van God sodat ons Hom kan ken en sodat ons weet wat om te doen.