Wanneer dink jy?

“If the devil were wise enough and would stand by in silence and let the gospel be preached, he would suffer less harm. For when there is no battle for the gospel it rusts and it finds no cause and no occasion to show its vigor and power. Therefore, nothing better can befall the gospel than that the world should fight it with force and cunning.” – Martin Luther

 

Wanneer dink jy?

Samuel Taylor Coleridge is in gesprek met ‘n Kwaker vrou wat hy ontmoet het. Hy vertel vir haar hoe hy sy lewe ingerig het sodat hy geen tyd mors nie. Terwyl hy aantrek en ontbyt eet, memoriseer hy Grieks. Hy kom met ‘n hele lys aktiwiteite wat sy verstand stimuleer – maak notas, lees, skryf, formuleer gedagtes en idees. Dit hou aan tot hy gaan slaap.

 Die vrou luister onbeïndruk. Toe Coleridge nou klaar is, vra sy vir hom ‘n eenvoudige vraag: My friend, when dost thee think?

 

 God het steeds probleme om tot ons deur te dring, want ons leef ons lewens teen ‘n geweldige pas. Daar is geen tyd vir nadenke oor sy woord nie; daar is geen tyd om God te antwoord as Hy roep nie. Moenie so rondhardloop nie – gaan sit en word rustig.




Betrokkenheid by die kultuur

 

You may run from sorrow, as we have. Sorrow will find you.” — August Nicholson in The Village

Betrokkenheid by die kultuur

Greg Foster (Joy for the world) skryf oor Christene se betrokkenheid by die wêreld. Party glo dat dit iets is wat Christene moet vermy. In Handelinge 17 lees ons van Paulus se besoek aan Atene, die akademiese sentrum van die Romeinse Ryk van destyds. Hy is ontsteld oor die afgodery wat hy daar sien. Dit beteken nie dat hy sy rug op die stad keer nie. Nee, hy is daar op die markplein waar hy met die verbygangers praat. Destyds was die markplein die plek waar jy al die nuus gehoor het. Dit was ook die finansiële en kunssentrum van die stad. Atene saam met Rome was die kultuursentra van die Romeinse Ryk. Daar is idees gevorm en aanvaar – idees wat ‘n invloed op die res van die samelewing gehad het.

 

Paulus neem die evangelie letterlik na die openbare ruimte. Vir hom verander die evangelie nie net individuele harte nie. Hy glo die evangelie kan die denkende publiek, die kulturele elite betrokke kry en dat dit die dominante kultuur van destyds kan uitdaag. Maar hy sou nie die harte van die kultuurleiers kon aanraak tensy hy ook by die idees van die kultuur betrokke raak nie.

Paulus het nie begin deur op die markplein te preek nie. Nee, hy redeneer elke dag met die verbygangers. Eers later (Handelinge 17:22 – 23) praat hy met die filosowe. Hy haal nie die Skrif aan nie, maar hulle eie denkers. Hy wys vir hulle dat hulle eie sienings onvoldoende is. Christene moet in die openbare plekke ingaan, maar ons moenie net vir hulle preek nie. Ons moet ook nie ons geloof wegsteek nie. Ons moet luister en dan uitdaag – met respek.

Toe Paulus met die filosowe gepraat het, was sy ontvangs maar koel. Party het hom uitgelag. Net ‘n paar mense het gelowig geword. Interessant dat ‘n paar eeue later die “ongelooflike” dinge wat Paulus gesê het, deur die massas aangegryp is.

Het ons Paulus se moed, wysheid, vaardighede en liefde om vandag dieselfde ding te doen, al spot die kultuurleiers van vandag met ons. Die uitdagings is anders, maar ons moet steeds op die markplein kom om met die mense te praat.

 

 

 




Ek ken jou op jou naam?

Ek ken jou op jou naam? – Marius Nel

Francois vra:

Antwoord

Prof Marius Nel antwoord:

Die spesifieke gedeelte is in die eerste plek gerig aan die adres van mense wat in die Sinaiwoestyn was. Om enigsins te verstaan wat dit vir ons beteken, is dit nodig om te hoor wat die boodskap aan hulle was. U is korrek dat die gedeelte afspeel ná die goue-kalfepisode en daardeur bepaal word. Die spesifieke woorde is aan Moses gerig: Ek het jou by die brandende bos op jou naam geroep en gestuur, en daarom sal Ek steeds by jou wees. Wanneer ons as gestuurdes van die Here leef, geld dié belofte ook vir ons: Ek het jou na die sendingveld gestuur waarin jy leef en Ek is saam met jou wanneer jy daar werk.

 

Skrywer: Prof Marius Nel

 




Sefanja (4)

Our tongues were made to bless the Lord – Isaac Watts

Sefanja (4)

Mike Bullmore het onlangs ‘n artikel geskryf waarin hy ‘n kort oorsig van Sefanja gee – God se groot liefdeshart teenoor sy eie mense. Hierin beskryf hy hoe God mense verlos. Hy beskryf ‘n proses bestaande uit drie stappe.

Stap 3: Die flikkering van hoop, bars uit in blydskap.

Sing, Sion! Juig, Israel! Wees met alles wat jy is, vrolik en bly, Jerusalem! Die Here het ‘n einde gemaak aan jou straf, Hy het jou vyande laat padgee. Die Koning van Israel, die Here, is by jou; jy hoef geen ramp meer te vrees nie. Daardie dag sal vir Jerusalem gesê word: Moenie bang wees nie, Sion, moenie jou hande moedeloos laat hang nie! Die Here jou God is by jou, Hy, die krygsman wat red. Hy is vol vreugde oor jou, Hy is stil-tevrede in sy liefde. Hy jubel en juig oor jou (3:14 – 17)

 

 

Verlossing beteken nie net dat ek God se toorn ontsnap nie – dit is ook my toegang tot sy vreugde. Die mense wat hier te sprake is, is hulle wat hulle na God toe gedraai het. Dit geld nie net vir Israel nie. En as julle aan Christus behoort, is julle ook nakomelinge van Abraham en erfgename kragtens die belofte van God (Galasiërs 3:29).

Diegene wat God se verlossing ontvang het, word opgeroep om te sing, te juig en vrolik en bly te wees. Hoekom? As ons net dink aan wat God in Jesus Christus vir ons gedoen het, kan ons nie anders nie. Wat het God vir ons gedoen? Lees net 3:15:

  • Die Here het ‘n einde gemaak aan jou straf. Dit herinner baie sterk aan Romeine 8:1: Daar is dus nou geen veroordeling vir dié wat in Jesus Christus is nie.
  •  Die Koning van Israel, die Here is by jou. In 3:17 lees ons dieselfde: Die Here jou God is by jou.
  • Jy hoef geen ramp meer te vrees nie. Daar is geen rede om te vrees nie, want ons magtige Koning is in ons midde.

Sefanja sluit op ‘n hoogtepunt af: Wanneer die tyd daar is, laat Ek julle kom, maak ek julle bymekaar en gee Ek aan julle roem en eer onder al die volke op aarde; dit is die tyd wanneer Ek julle lot verander, julle sal dit met julle eie oë sien, sê die Here (3:20)

Watter wonderlike boodskap in ‘n boek wat ons nie eintlik lees nie. Dit is die geskiedenis van die mens: van absolute hulpeloosheid tot blydskap in God.