Die plaaslike gemeente en dissipelskap

 

When institutions fail to distinguish between current practices and the enduring principles of their success and mistakenly fossilize around their practices, they set themselves up for decline – Jim Collins.

Die plaaslike gemeente en dissipelskap

Ek gaan heelwat blogs oor dissipelskap skryf. Ek gaan onder andere van Francis Chan se boek Multiply gebruik maak.

 

God se opdrag is dat ons dissipels van al die nasies moet maak. Dit kan ons nie op ons eie doen nie – ons word ook nie verwag om dit op ons eie te doen nie. Ons is deel van die geloofsgemeenskap. Die kerk moet nie net na binne fokus nie. Ons woon in ‘n omgewing wat ons bedreig, maar die kerk is ‘n vuurtoring en nie ‘n bomskuiling nie. Ons kruip nie weg vir probleme nie – ons lei ander daardeur.

Liefde is egter die basis van wat dit beteken om Jesus Christus te volg. En die hoop beskaam nie, want God het sy liefde in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees wat Hy aan ons gegee het (Romeine 5:5). Ons het lief omdat God ons eerste liefgehad het (1 Johannes 4:19). Interaksie tussen gelowiges behoort deur liefde gekenmerk te word. Dit is hoe die wêreld ons sal herken: Soos Ek julle liefhet, moet julle mekaar ook liefhê. As julle mekaar liefhet, sal almal weet dat julle dissipels van My is (Johannes14:34 – 35).

Die laaste aand voor sy kruisiging bid Jesus vir sy dissipels. Let net op hoeveel klem Hy op eenheid plaas (Johannes 17:20 – 23). Die eenheid van die kerk sal die wêreld oortuig dat ons waarlik volgelinge van Jesus Christus is.




Lewe in die Kerk

Norman Schwarzkopf

Lewe in die Kerk

Ek gaan heelwat blogs oor dissipelskap skryf. Ek gaan onder andere van Francis Chan se boek Multiply gebruik maak.

 

Die Westerse kultuur lê klem op die individu. Ons helde is sterk manne wat selfversorgend is – hulle loop alleen. Dieselfde gebeur ook in die kerk. Elke individu moet Jesus Christus se opdrag om Hom te volg, gehoorsaam, maar ons kan Hom nie as individue volg nie. Ons kan nie dissipels los van Jesus Christus se kerk maak nie. Kyk net na al die mekaar stellings in die Nuwe Testament. Ons kan nie sê dat ons Jesus Christus volg as ons sy kerk verwaarloos nie. Hy het sy roeping aan sy kerk toevertrou.

 

Ons kan nie God se kerk verkleineer nie. Die kerk is nie ‘n sosiale klub of ‘n gebou of ‘n opsie nie. Die kerk is God se strategie om die wêreld te bereik – geen Plan B nie. Ons is so geneig om aan geboue en programme te dink as ons van die kerk praat. Wat vir God belangrik is, is ons interaksie met mense wat Hy op ons pad geplaas het.

In die Bybel word 114 keer na die kerk verwys – in meer as 90 gevalle verwys dit na die plaaslike gemeente en nie na die globale kerk nie. Hoekom leef ons dan so graag los van die kerk?

  • Ons vertrou op onsself; ons is selfversorgend. Ons hou nie van wedersydse interafhanklikheid nie; nog minder van aanspreeklikheid teenoor mekaar.
  • Ons is op soek na die volmaakte kerk. Ons loop van die een na die ander kerk en is elke keer teleurgesteld. Daar is nie ‘n volmaakte kerk bestaande uit volmaakte lidmate nie.
  • Ons het in die kerk seergekry.
  • Ons sien geen rede om aan die plaaslike gemeente verbonde te wees nie.

Die Bybel sê dat die plaaslike gemeente belangrik is. Daar kry ons leiers wat ons in sy woord onderrig – God  het ons opdrag gegee om in plaaslike byeenkomste te vergader waar God se woord verkondig word, die nagmaal gebruik word, nuwe gelowiges gedoop word, waar ons mekaar bemoedig en vir mekaar bid. Daarna versprei ons en deel die evangelie met ongelowiges. ‘n Dissipel wat dissipels maak, wy sy lewe saam met ander medegelowiges aan ‘n gemeente. Dit is waar ons saam met ander gelowiges kan groei en mekaar liefhê – waar ons ons liefde vir God en ons naaste kan uitleef.




Interpretasie en toepassing van die Bybel

“What is the point of being alive if you don’t at least try to do something remarkable?” – John Green

Interpretasie en toepassing van die Bybel

Ons spandeer baie tyd daaraan om die Bybel reg te verstaan. Dit is baie belangrik dat ons dit doen, maar ons moet altyd besef dat dit nie die finale stap is nie – dit is nie waar alles ophou nie. Hoekom lees ons die Bybel? Om God te leer ken, want Hy openbaar Homself aan ons in die Bybel. Maar ons lees ook die Bybel om te hoor wat Hy van ons verwag en dit dan in gehoorsaamheid te doen. Luister na Jakobus: Julle moet doen wat die woord sê en dit nie net aanhoor nie, anders bedrieg julle julleself … Maar iemand wat hom verdiep in die volmaakte wet wat ‘n mens vry maak, en hom daaraan hou en nie vergeet wat hy hoor nie, maar dit doen, hy sal gelukkig wees in wat hy doen (1:22, 25).

 

God het aan ons die Bybel gegee sodat ons deur die waarhede wat ons daar kry verander sal word; dat ons meer en meer soos Hy sal word; dat ons in ons liefde vir Hom sal groei.




Moses ontmoet God in ‘n doringbos in die woestyn

Success is not final, failure is not fatal: it is the courage to continue that counts.” – Winston Churchill

Moses ontmoet God in ‘n doringbos

Moses was besig om sy skoonpa se vee op te pas toe hy ‘n snaakse verskynsel sien (Eksodus 3). Hy sien ‘n doringbos wat aanhou brand, maar nie uitbrand nie. Hy stap nader om die verskynsel te ondersoek. Maar toe hy naderkom, roep God na hom uit die doringbos. God sê vir hom dat hy sy skoene moet uittrek, want die plek waarop jy staan, is gewyde grond. God openbaar toe sy plan  om sy volk uit Egipte te verlos.

Moses vra toe twee baie belangrike vrae:

  • Wie is ek? Hoekom stuur U nou juis vir my.
  • Wie is U? Wat moet ek vir die mense sê as hulle my vra wie my gestuur het.

Hierdie is twee basiese vrae wat elkeen van ons vir onsself moet afvra. My hele lewe – hier, nou en tot in ewigheid – word bepaal deur die regte antwoord  op hierdie twee vrae.

Vraag 1: Wie is ek dat ek dit by die farao sou waag en dat ek die Israeliete uit Egipte sou bevry? God antwoord nie die vraag direk nie, maar sê vir Moses: Ek sal by jou wees. Van die begin af was God se mense bekend as mense by wie Hy is en wat aan Hom behoort. Ons kan nie onsself los van God definieer nie. Dit is sy teenwoordigheid by ons wat ons in staat stel om te doen wat Hy van ons verwag. Glo ons nog steeds hierdie woorde van God:Ek sal by jou wees?

Vraag 2: Wie is U? Wat is sy Naam? Wat moet ek dan vir hulle sê? Dan die verbasende antwoord: Ek is wat Ek is … ‘Ek is’ het my na julle toe gestuur. God kan Hom nie definieer deur na iets of iemand anders te verwys nie. God het nog altyd bestaan; Hy is wie Hy is van ewigheid af en sal dit altyd wees. Hierdie is ‘n stelling van ‘n absolute wese, absolute mag en van absolute belang. God is wie Hy is en sal nooit verander nie. Hy is nie sommer ‘n generiese god soos die Griekse en Romeinse gode nie. Hy is ‘n spesifieke persoon met ‘n unieke karakter en ‘n spesifieke, spesiale verhouding met sy mense.

Moses het geen idee gehad waarin hy hom begewe het toe hy sy skape gelos het en nader geloop het om te sien hoekom die bos nie uitbrand nie. Hy loop egter in die teenwoordigheid van die lewende God. Daarom wat God hom beveel om sy skoene uit te trek. Toe Moses sien wat werklik aan die gang is, bedek hy sy gesig – God se heiligheid oorweldig hom. Al wat hy kon doen, was om te luister en te gehoorsaam.