Tel die koste van dissipelskap

No man who is full of himself can ever truly preach the Christ who emptied himself. —J. Sidlow Baxter

Tel die koste van dissipelskap

Ek gaan heelwat blogs oor dissipelskap skryf. Ek gaan onder andere van Francis Chan se boek Multiply gebruik maak.

Wat beteken dit om ‘n volgeling van Jesus te wees? Dit het duidelike implikasies vir ons lewens. Wat jy in die Bybel oor dissipelskap lees, moet op jou eie lewe toegepas word.

In Lukas 14:25 – 33 praat Jesus oor die eise van dissipelskap. Hy sê onder andere as iemand sy dissipel wil wees, moet hy afstand doen van sy eie vader en moeder en vrou en kinders en susters, ja, selfs van sy eie lewe. Iemand wat nie sy eie kruis dra en agter My aankom nie, kan nie my dissipel wees nie … So kan niemand van julle my dissipel wees as hy nie bereid is om van al sy besittings afstand te doen nie.

 

Dissipelskap kom teen ‘n koste. Daarom moet ons eers ons harte ondersoek en vasstel of ons bereid is om die prys te betaal.




Hoe word ek ‘n dissipel?

Death is Chapter One of the Great Story … which goes on forever in which every chapter is better than the one before – C. S. Lewis

Hoe word ek ‘n dissipel?

Ek gaan heelwat blogs oor dissipelskap skryf. Ek gaan onder andere van Francis Chan se boek Multiply gebruik maak.

Kom hier! Kom saam met My, en Ek sal julle vissers van mense maak (Matteus 4:19).

Dit was Jesus se woorde aan die eerste vier dissipels wat Hy geroep het om Hom te volg. Net voor dit sê Hy: Bekeer julle, want die koninkryk van die hemel het naby gekom (4:17). As iemand vir jou sê dat die koning op pad is, wat doen jy? Jy maak seker dat jy gereed is om hom te ontvang.

 

Bekering beteken omdraai; van rigting verander; loop in die teenoorgestelde rigting. Dit vereis optrede. Jesus Christus sê vir die mense dat hulle hulle moet voorberei, want die Koning is op pad. Hoe berei ons voor vir hierdie Goddelike koninkryk?

  • Besef dat jy op die verkeerde pad is: Almal het gesondig, en het nie deel aan die heerlikheid van God nie (Romeine 3:23).
  • Bly ons op daardie verkeerde pad, is die dood ons bestemming: Die loon wat die sonde gee, is die dood; die genadegawe wat  God gee, is die ewige lewe in Christus Jesus ons Here (Romeine 6:23).
  • Maar God in Jesus Christus het alles verander: Maar God bewys sy liefde vir ons juis hierin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was (Romeine 5:8). Ons doodstraf is deur iemand anders betaal.

Alles gaan oor Jesus Christus: wie Hy was en is en wat Hy gedoen het. ‘n Belangrike aspek van bekering is dat ons ophou glo dat daar iets is wat ons kan doen om onsself te red. Iemand anders het reeds vir ons sonde betaal. Dit is vir ons iets vreemd, want dit is nie hoe ons moderne mense oor die lewe dink nie – elkeen vir homself is ons benadering. Dat ons op Iemand anders se offer vir ons moet vertrou, is nog vreemder vir ons. Maar hierdie optrede van God is reeds in die Ou Testament duidelik. Dink maar net hoe Hy sy volk uit Egipte gelei het.

Hoe word ek ‘n dissipel? Deur Jesus Christus te volg.




Alles is liefde.

There may be times when we are powerless to prevent injustice, but there must never be a time when we fail to protest. -Elie Wiesel

 

Alles is liefde.

Om Jesus te volg, kom neer op die uitleef van twee gebooie ; Liefde vir God en liefde vir die naaste (Matteus 22:37 – 40). Hom het julle lief al het julle Hom nie gesien nie (1 Petrus 1:8). Dit gaan nie oor die nakom van ‘n stel reëls nie. Nee, ons moet God liefhê en Hom geniet. Maar, en dit is ‘n groot maar: As iemand sê: “Ek het God lief,” en hy haat sy broer, is hy ‘n leuenaar, want wie sy broer, wat hy kan sien, nie liefhet nie, kan onmoontlik vir God liefhê, wat hy nie kan sien nie (1 Johannes 4:20). Ware liefde gaan altyd met opoffering gepaard: Hieraan weet ons wat liefde is: Jesus het sy lewe vir ons afgelê. Ons behoort ook ons lewens vir ons broers af te lê (1 Johannes 3:16).

 

Ons kan nie ons liefde vir God van ons gehoorsaamheid aan Jesus Christus skei nie. God se liefde verander my van binne en daarom herdefinieer dit alle aspekte van my lewe. Daarom die vraag: Is God se liefde sigbaar in my optrede?




Wat is ‘n dissipel?

Over-value not the manner of your own worship, and over-vilify not other men’s of a different mode. —Richard Baxter

Wat is ‘n dissipel?

Ek gaan heelwat blogs oor dissipelskap skryf. Ek gaan onder andere van Francis Chan se boek Multiply gebruik maak.

 Jesus se dissipels was gewone mense – net soos ons. Hulle het werke, families en sosiale lewens gehad. Jesus stap na hulle en sê vir hulle: Volg My. Nie een van hulle het verwag dat oor die volgende drie jaar hulle lewens so drasties sou verander nie. Hulle het nie geweet waarvoor hulle hulle inlaat toe hulle op Jesus se oproep geantwoord het nie. Dit sou elke aspek van hulle lewens vorm. Wat begin het as ‘n eenvoudige gehoorsaamheid aan die oproep van Jesus eindig met lewens wat totaal verander is – en uiteindelik is die wêreld ook verander.

 

Die woord dissipel word vertaal met leerling, vakleerling of volgeling. In die tyd van Jesus Christus het die dissipels hulle rabbi (= leermeester) gevolg. Waar hy gegaan het, het hulle gevolg. Hulle leer van sy onderrig, maar ook deur te sien wat hy doen – hulle doen wat hy doen. Jesus Christus het sy dissipels geroep om Hom te volg. Hulle het nie geweet waarheen Jesus hulle gaan neem nie. Hulle weet wel wat dit beteken om te volg – hulle gaan oral waar Hy gaan en sien wat Hy alles doen. ‘n Leerling is nie hoër as sy leermeester nie, maar iemand wat volleerd is, sal aan sy leermeester gelyk wees (Lukas 6:40).

As Jesus Christus ons roep om sy dissipels te wees, moet ons Hom volg. Ons boots Hom na en volg sy bediening. In die proses word ons meer en meer soos Hy. Maar ons glo vandag dat ons ‘n Christen kan wees sonder om Jesus Christus te volg of soos Hy te wees. ‘n Volgeling wat nie volg nie, is tog ‘n onsinnige idee. Dit is glad nie wat dit beteken om ‘n Christen te wees nie.

Die konsep van ‘n dissipel wees, is maklik om te verstaan, maar nie so maklik om uit te leef nie. Hoekom nie? Want as ek sê dat ek ‘n dissipel van Jesus Christus is, beïnvloed dit my hele lewe.

Nou dat ons weet wat ‘n dissipel is, is die volgende vraag: Hoe word ek ‘n dissipel?