Die oproep om te volhard

 

The mystery of the incarnation is unfanthomable – J. I. Packer

 

Die oproep om te volhard

Ons word deur die genade van God en deur geloof gered. God se genade stel ons in staat om te glo: Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is ‘n gawe van God (Efesiërs 2:8). God gebruik ons geloof as instrument in ons verlossing. En omdat julle glo, word ook julle deur die krag van God veilig bewaar vir die saligheid wat reeds gereed is om aan die einde van die tyd geopenbaar te word (1 Petrus 1:5). Ons is afhanklik van God se werk om ons in staat te stel om Christus te volg, maar ons moet in die geloof volhard. Die teken dat ons volledig met God versoen is, is dat ons in die geloof volhard.  Ons behou deel aan Christus as ons end-uit volhard in die vertroue waarmee ons begin het (Hebreërs 3:14). Hierdie vers sê dat iets werklik en blywend met ons gebeur het – ons word deel van Christus; ons is deel van Christus se huisgesin. Let wel:  ons behou deel aan Christus as ons end-uit volhard.

 

 

Ek herinner julle, broers, aan die evangelie wat ek aan julle verkondig het en waarin julle ook gevestig staan. Deur die evangelie word julle ook gered as julle vashou aan die boodskap soos ek dit aan julle verkondig het. As julle aan iets anders vashou, het julle tevergeefs tot geloof gekom (1 Korintiërs 15:1 – 2). As jy nie vashou aan die evangelie nie, is dit ‘n bewys dat jy nie verlos is nie. Daar is ‘n balans tussen God wat ons vashou en ons verantwoordelikheid om God se genade te aanvaar en om Christus te volg. God onderhou ons, maar Hy doen dit nie sonder ons voortdurende waaksaamheid, toewyding en gebed nie. Almal wat waarlik weergebore is, sal tot die einde volhard. God sê dat ons in die geloof moet volhard en daarom mag ons nie daardie dinge wat God vir ons gesê het belangrik is, verwaarloos nie. Hier dink ons aan sy woord, gebed, diens en die samekomste van die gemeente vir gemeenskaplike onderrig en aanbidding.

 

Hoekom sal ware gelowiges volhard?

  • God belowe in sy woord dat diegene wat waarlik syne is nooit volkome sal val nie.
  • God het ons uitgekies voor die wêreld gemaak is. So het Hy, nog voordat die wêreld geskep is, ons in Christus uitverkies om heilig en onberispelik voor Hom te wees (Efesiërs 1:4). Hiermee begin Hy ‘n proses wat Hy beslis gaan voltooi. Hierdie proses kry ons in Romeine 8:29 – 30: Dié wat Hy lank tevore gekies het, het Hy ook bestem om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun, sodat sy Seun baie broers kan hê van wie Hy die eerste is. Dié wat Hy daartoe bestem het, het Hy ook geroep. En dié wat hy geroep het, het Hy ook vrygespreek. En dié wat Hy vrygespreek het, het Hy ook verheerlik. God het  ons gekies en ons bestemming beplan. Dit is ondenkbaar dat reeds voor die skepping Hy iemand uitgekies het. Hulle toekoms staan vas in God se oë – Hy gaan tog nie later hulle verlossing terugtrek nie.

 

God sal ook seker maak dat sy kinders volhard. Nogtans, die hegte fondament wat God gelê het, staan vas met die woorde daarop gegraveer: “Die Here ken dié wat aan Hom behoort (2 Tessalonisense 2:19).




Vasgehou deur God

God is the decisive keeper of my soul – John Piper

 

Vasgehou deur God

Daar is niks meer belangrik as die toestand van ons siele voor God nie. Al weet ek ek het vryspraak deur geloof in Christus alleen en dat God besig is met ‘n lewenslange proses van heiligmaking in my, voel dit soms vir ons dat die proses pynlik stadig is. Dan kan ons aan ons verlossing begin twyfel. Veral omdat ons soms nog ongeduldig of kwaad word of allerhande begeertes ondervind. Beteken dit dat jy jou verlossing verloor het? Oppas nou vir uiterstes as ons na onsself kyk en ons sonde. Aan die een uiterste kan ons in angs en vrees leef waar ons gereeld oor ons verlossing twyfel. Nou kan ons maklik obsessief of perfeksionisties word. Ons begin twyfel of God werklik ons soos ‘n aardse vader hanteer – en ons reghelp. Die ander uiterste is om te dink dat jy jou geloof in Jesus Christus bely het en daarom het jy “versekering” – jou leefstyl is nie van belang nie. Hierdie is ‘n verwringing van God se genade en kan lei tot ‘n skokkende ontdekking by die finale oordeelsdag: Dan sal Ek openlik vir hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My af, julle wat die wet van God oortree (Matteus 7:23).

 

 

Die eerste les wat ons moet leer, is: Dit is God wat my bewaar – nie ekself nie. Die tweede is: As ek waarlik weergebore is, sal ek in die Christelike geloof volhard. Dit beteken nie dat ek nooit sal val nie – sondig of ongeloof – maar ek sal nie ewig wegval nie. As ek nie volhard in die geloof nie, is dit ‘n aanduiding dat daar nie werklik opregte geloof was nie. Ek sal volhard tot aan die einde van my lewe. Maar dit is God wat ons bewaar. Hierdie persone is waarlik weergebore.

 

‘n Bemoedigende ontdekking in die Bybel is dat God ons nie alleen laat as Hy ons verlos nie. Ons het die verantwoordelikheid om te volhard in ons geloof , maar die wonderlike nuus is dat dit God is wat ons gewillig en bekwaam maak om sy wil uit te voer (Filippense 2:13). God is aan die werk in ons, sodat ons graag sy wil uitvoer. Aan Hom wat magtig is om ons van struikeling te bewaar en julle onbevlek en met vreugde sy heerlikheid te aanskou, aan die enigste God. Aan Hom behoort die heerlikheid en die majesteit, die krag en die mag, van alle ewigheid af, ook nou en tot in alle ewigheid! Amen (Judas 24 – 25). Let op: Hy kan ons van struikeling bewaar; Hy kan ons onbevlek sy heerlikheid laat aanskou. Dit moet ons vertroos en hoop gee.

 

My skape luister na my stem; Ek ken hulle, en hulle volg My. Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal in alle ewigheid nooit verlore gaan nie. Niemand sal hulle uit my hand ruk nie. Dié wat my Vader vir My gegee het, is die belangrikste van almal, en niemand kan hulle uit die hand van die Vader ruk nie. Ek en die Vader is een (Johannes 10:27 – 30). Hier is dit duidelik: as God die ewige lewe aan sy kinders waarborg, is dit verseker. 

God is die bewaarder van ons siele. Hy werk in ons sodat sy wil wil doen en nie van Hom af wegdraai nie As God aan ons die ewige lewe gee, beskerm Hy ons sodat ons nie sal vergaan nie – niemand sal ons uit hand ruk nie.




Jesus was mens

There is no painter with his colors can so lively set out Christ unto you, as I have painted Him by my preaching ~ Martin Luther

 

Jesus was mens

I am  an historian, I am not a believer, but I must confess as a historian that this penniless preacher from Nazareth is irrevocably the very center of history. Jesus Christ is easily the most dominant figure in all history (H. G. Wells)

Die vroeë kerk het baie tyd en energie spandeer om die twee nature van Christus te definieer. Hulle het besef dat dit baie belangrik was. By Jesus se menswording word die Goddelike natuur van God verenig, maar nie gemeng, met sy menslike natuur, in een goddelike persoon – Jesus Christus. Hy was beide volkome mens en volkome God.

 

Jesus was volkome mens. Die woord het mens geword en onder ons kom woon. Ons het sy heerlikheid gesien, die heerlikheid wat Hy as die enigste Seun van die Vader het, vol genade en waarheid (Johannes 1:14). God die Seun was nog altyd God. Daar was nooit ‘n tyd wat Hy nie God was nie. Maar die Seun van God was nie altyd mens nie. Toe die Seun mens geword het, het Hy nie opgehou om God te wees nie – nee, Hy was volledig God en volledig mens. God self het sy Seun gestuur, nie om die wêreld te veroordeel nie, maar om die wêreld te verlos.

 

 

As God die Seun dan mens geword het, hoe het dit gebeur. Maria vra vir die engel: “Hoe is so iets moontlik, aangesien ek nog nooit omgang met ‘n man gehad het nie?” Die engel antwoord haar: “Die Heilige Gees sal oor jou kom, en die krag van die Allerhoogste sal die lewe in jou wek.” Lukas 1:34 – 35). God die Seun verskyn op aarde as ‘n hulpelose baba. Hy moet gevoed word; Hy moet versorg word; Hy moet leer om te praat – soos elke ander baba.

 

Jesus het die lewe van ‘n mens geleef. Hy moes soos ander kinders groot word: En Jesus het verstandelik en liggaamlik gegroei en in guns by God en die mense toegeneem (Lukas 2:52). Jesus het honger en dors geword; Hy het na ‘n lang reis moeg geword. In Getsemane het Hy doodsbenoud geword. Jesus het ‘n menslike liggaam gehad. As mens was Jesus onderhewig aan dieselfde beperkings as ons, behalwe dat Hy nooit sonde gedoen het nie. Hy was as mens beperk in tyd en ruimte – Hy kon nie op meer as een plek teenwoordig wees nie.

 

As ons na die lewe, bediening en wonderwerke van Christus kyk, wys hulle nie net na Hom as mens nie, maar ook na Hom as God. Hoe sê julle dan vir My wat deur die Vader afgesonder en na die wêreld toe gestuur is: ‘Jy praat godslasterlik’, omdat Ek gesê het: ‘Ek is die Seun van God?’ As Ek nie die werke van my Vader doen nie, moet julle nie in My glo nie (Johannes 10:36 – 37).

 

Jesus verlaat die heerlikheid van die hemel, wat Hy met sy Vader gedeel het, en word mens. Hy het Homself verneder deur die gestalte van ‘n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word (Filippense 2:7). Vir meer as 30 jaar – tot by sy opstanding en verheerliking – leef Hy as nederige dienaar van God. Hy stel Hom altyd ondergeskik aan die Vader se wil. Hy doen afstand van die heerlikheid wat Hy saam met die Vader ondervind het. Sy goddelike krag het Hy net gebruik as die Vader dit aanbeveel het. Uit my eie kan Ek niks doen nie: Ek oordeel soos Ek dit van die Vader hoor, en my oordeel is regverdig, omdat dit nie my wil is wat Ek nastrewe nie, maar die wil van Hom wat My gestuur het (Johannes 5:30).

Ja, Jesus was  waarlik mens en waarlik God.




Julle is sout vir die aarde

The doctrines of grace humble a man without degrading him and exalt a man without inflating him. —Charles Hodge

Julle is die sout vir die aarde

Ben Witherington het ‘n baie interessante artikel oor sout op sy blog geskryf. Ons leef in ‘n wêreld waar smaakmiddels oral beskikbaar is. Daarom sukkel ons om beeldspraak soos julle is die sout van die aarde te verstaan. Maar 2000 jaar gelede was sout een van die fondamente van die beskawing. Sonder sout kon kos nie bewaar of vervoer word nie. Romeinse soldate is soms met sout betaal. Ons kry vandag nog die gebruik van sout in sekere van ons idiome soos terug na die soutmyne. Ons besef nie werklik die waarde van sout in ‘n warm klimaat, soos Israel, sonder yskaste nie.

Party teoloë beweer dat sout nie kan verslaan nie. Die sout waarvan in Matteus 5:13 melding gemaak word, was van die Dooie See afkomstig en was vol onsuiwerhede. Hierdie sout het beslis verslaan.

Wat bedoel Jesus as Hy sê: Julle is die sout vir die aarde. Maar as sout verslaan, hoe kry ‘n mens dit weer sout? Dit is niks meer werd nie. Dit word buitekant weggegooi en die mense vertrap dit. Hierdie is ‘n wysheidsgesegde wat ons nie sonder meer kan ignoreer nie. Jesus se gesegde sê waarskynlik iets oor die rol van sy dissipels in die samelewing. Die taak van Christene is nie om in die kerkgebou te bly nie – nie om hulle aan die samelewing te onttrek nie; nie om op hulleself te fokus nie. Hulle moet die samelewing ten goede beïnvloed.

Ons kan nie in die samelewing gaan en iets daar uitdeel en dan weer onttrek en hulle net so in hulle vorige toestand los nie. Kom eerder langs hulle staan. Doen jy dit? Let op: Jesus sê nie dat party van sy volgelinge sout vir die aarde moet wees en ander iets anders nie. Nee, julle almal moet sout vir die aarde wees- almal. As jy dit nie doen nie, is jy nutteloos – Dit is niks meer werd nie.