Wat beteken Here?

If people do not stand for something they fall for anything? – G. K Chesterton

 

Wat beteken Here?

In die Nuwe Testament is Here die vertaling vir die Griekse woord kurios. In die antieke wêreld is hierdie woord op verskeie maniere gebruik:

  • Die algemene gebruik was dié van ‘n hoflike woord – soos meneer.
  • Dit mag na mense uit die aristokratiese klas verwys – mense wat slawe besit het. Hierdie titel word ook figuurlik vir Jesus gebruik. Hy word Meester deur sy dissipels genoem. Hier word die gelowige gesien as ‘n besitting van Jesus – Jesus besit sy mense soos ‘n eienaar sy slawe besit het. Hy was egter nie ‘n despoot of tiran soos ‘n mens van ‘n wêreldse slawe-eienaar sou verwag nie.
  • Die belangrikste gebruik was sy keiserlike/koninklike gebruik. Hier verwys dit  na iemand met absolute oppermag oor ‘n groep mense. Hierdie is die “politieke” betekenis.

 

In die Griekse vertaling van die Ou Testament is die woord Here gebruik om die Griekse woord – Adonai – te vertaal. Hierdie was ‘n titel wat vir God self gebruik is. Jesus kry nou die titel Adonai/Here wat voorheen uitsluitlik vir God die Vader gebruik is.

 

Om na Jesus as Here te verwys was radikaal:

  • Dit was radikaal vanuit die standpunt van die Romeine, want vir hulle was daar net een here – die keiser.
  • Dit was radikaal vanuit die Joodse standpunt, want hier word die titel wat in die Ou Testament vir God die Vader gereserveer was, vir Jesus gebruik.

 




Wat beteken Christus?

Man is at his greatest and highest when upon his knees he comes face to face with God. ― Martyn Lloyd-Jones

 

Wat beteken Christus?

As mense na Jesus verwys as Jesus Christus dink baie mense dat Christus sy laaste naam (van) is. Die woord Christus is ‘n titel. Dit is afgelei van die Griekse woord Christos wat Messias beteken. Die woord Messias kom van die Hebreeuse  mashiach wat  die gesalfde beteken. Jesus Christus beteken dus Jesus die Messias of Jesus die gesalfde.

 

In die Ou Testament  lees ons dat toe God vir Dawid as koning gekies het, stuur hy vir Samuel om  vir Dawid te gaan salf – Dawid word dus God se gesalfde koning. Dawid is die prototipe van die koning wat eendag sou kom en sy koninkryk sou herstel. Jesus is dus die Seun van Dawid – ‘n nakomeling van Dawid.

 

 

Hierdie belofte het die hoop van die Jode aan die brand gehou. Daar sou ‘n politieke heerser kom wat hulle van die bande van die Romeinse Ryk sou bevry. Die Messias sou ook ‘n hemelse wese wees wat op ‘n unieke manier aan die Vader God verbind is. Hy sou ook beide profeet en priester wees.

 

Messias is dus ‘n ingewikkelde konsep. Ons kan maar net verbaas staan oor hoe al hierdie ingewikkelde drade in die persoon en werke van Jesus Christus ingeweef is.

 

 




Jesus is God (1)

Every man has his secret sorrows, which the world knows not; and oftentimes we call a man cold when he is only sad. – Henry Wadsworth Longfellow (1807-1882)

Jesus is God (1)

‘n Basiese vraag wat ons by baie Christene kry, is: Hoe kan Jesus beide God en mens wees? Het die Seun van God opgehou om God te wees toe Hy mens geword het? Nee, Jesus is volledig God en volledig mens. So sê Jesus onder andere: Wie My sien, sien die Vader (Johannes 14:9).Dit klink ‘n bietjie vergesog, maar Jesus se lewe, karakter, onderrig en wondertekens bevestig sy aanspraak.

 

Wie is Jesus? Hy sê dat Hy die Seun van God is – gelyk met God. Dit is ‘n radikale aanspraak en daarom probeer mense dit afwater

 Maar Jesus het Hom teen hulle verweer: “My Vader werk tot nou toe, en Ek werk ook.” Hieroor het die Jode nog des te meer probeer om Jesus dood te maak. Hy het nie net die sabbatdag ontheilig nie, maar God ook sy eie Vader genoem en Hom so met God gelyk gestel (Johannes 5:17 – 18).

 

Harte verhard deur sonde kry altyd allerhande verskonings om  te ontken dat Hy God is. Jesus se wondertekens en stellings het mense uitgenooi om Hom te volg en die waarheid oor wie Hy was, uit te vind.

 

Soms verwys Jesus na Homself as die Seun van die mens. Dit verwys na die waarheid dat Hy waarlik mens was, maar hierdie verwys ook na Daniël 7:13 – 14. Daar beskryf Daniël ‘n visioen van ‘n spesiale hemelse persoon wat op die wolke verskyn, en dan: Aan die menslike wese is die heerskappy en eer en koningskap gegee sodat al die volke, nasies en taalgroepe hom sou dien. Sy heerskappy is ‘n ewige heerskappy, dit sal nie tot niet gaan nie; sy koningskap sal nie ophou nie. Deur te sê dat Hy die Seun van die mens is, maak Jesus hierdie profesie op Homself van toepassing. Jesus gebruik dus ‘n goddelike messiaanse titel en druk daarmee ook uit wat die Messias sou wees en doen.

 

Jesus het duidelik geleer dat Hy uit die hemel kom en Hy maak verbasende aansprake soos: Ek en die Vader is een. In wese sê Jesus hiermee dat Hy God is. Ons lees ook dat God Hom aan Moses as Ek is, geïdentifiseer het. Jesus identifiseer Hom met dieselfde “Ek is.” Voordat Abraham gebore is, was Ek al wat Ek is (Johannes 8:58). Die Jode weet presies wat Hy hiermee bedoel het. Daarom wou hulle Hom stenig. In hulle oë was Hy besig met godslastering.

 

Op ‘n strategiese punt in sy bediening vra Jesus vir sy dissipels uit oor wie Hulle dink dat Hy is. Dan lees ons Petrus se belydenis: U is die Christus, die Seun van die lewende God (Matteus 16:16). Petrus sê dat Jesus die beloofde Messias wat die OT profete voorspel het, is.

 

Na sy opstanding verskyn Jesus aan sy dissipels. Onder hulle was die skeptiese Tomas. Toe hy hoor dat Jesus uit die dood opgestaan het, wou hy dit nie glo nie. Toe Jesus aan hom verskyn het en vir hom sy littekens gewys het, roep hy uit: My Here en my God (Johannes 20:28).

 

Volgende keer kyk ons verder na Jesus as God




Dit is iets seldsaam

“The only way to learn strong faith is to endure great trials.” – George Muller

 

Dit is iets seldsaam

Baie jare gelede nooi ‘n aantal staatsamptenare in Den Haag vir Van Courtonne om by hulle te kom preek. Van Courtonne was ‘n baie bekende prediker aan die hof  in Parys. Hy was van Nederlandse afkoms`. Van Courtonne glo dat hulle belangstelling meer sosiaal as godsdienstig was en daarom neem hy nie die uitnodiging aan nie. Hy dink die amptenare was nuuskierig – hulle was nie ywerig om die waarheid te hoor nie. Na ‘n hele aantal verdere uitnodigings aanvaar hy die uitnodiging om in die kapel van die Staatskerk te preek.

 Hy daag op en hy preek oor die Etiopiër, ‘n amptenaar wat ‘n hoë pos aan die hof van die koningin beklee het (Handelinge 8). Sy preek het uit vier punte bestaan:

 

  • ‘n Regeringsamptenaar wat die Bybel lees – iets seldsaam.
  • ‘n Regeringsamptenaar wat sy onkunde erken – nog meer seldsaam.
  • ‘n Regeringsamptenaar wat ‘n mindere vra om iets vir hom uit te lê – baie seldsaam.
  • ‘n Regeringsamptenaar wat bekeer word – die seldsaamste ding van alles.

Hy het nooit ‘n tweede uitnodiging gekry om daar te preek nie.

 

Dit is nou reguit praat. Maar hy het ‘n voorbeeld gehad – Paulus. In 2 Korintiërs 11 het Paulus nou genoeg gehad van sy teenstanders. Hy veroordeel hulle in geen onsekere terme nie. Het ons nie ook soms streng teregwysing nodig nie?