Ek lees, maar onthou niks nie

Sanctification is not a mood condition, but the submission of our wills to the will of God. —Sinclair Ferguson

 

Ek lees, maar onthou niks nie

Om ‘n boek te lees, kan soms baie frustrerend wees – die inligting sweef deur jou brein en haak nêrens in jou geheue vas nie. Kan ons iets daaraan doen? Daar is programme beskikbaar om jou te help. Een daarvan is die 3-Stap program. Geheue bestaan uit drie komponente: Indrukke, Assosiasie en Herhaling. Soms is ‘n enkele komponent genoeg om iets te memoriseer, maar dit is beter om al drie saam weef. Kom ons kyk na hierdie komponente.

  • Indrukke

As ek baie met iets beïndruk is, is die moontlikheid dat ek dit sal onthou groter. As jy byvoorbeeld ‘n boek oor Martin Luther lees en jy is baie beïndruk met iets wat hy gedoen het, is die moontlikheid dat jy hierdie aspek gaan onthou groter. Jy kan die sterkte van hierdie indruk versterk terwyl jy lees. Hou op met lees en vorm vir jou ‘n beeld van die situasie in jou gedagtes. Jy kan selfs sekere eienskappe van die situasie oordryf om die indruk verder te versterk. Jy kan ook die indruk verder versterk deur dit hardop te lees. Sommige mense is meer sensitief vir indrukke veroorsaak deur klank as sig.

 

  • Assosiasie

As jy dit wat jy lees met iets wat jy reeds weet kan verbind, word die moontlikheid dat jy dit gaan onthou groter. Probeer die data wat jy lees, verbind met iets wat jy weet en nie sommer sal vergeet nie. Hoe meer jy van ‘n onderwerp weet, hoe makliker is dit om meer te leer van daardie onderwerp, want dit is makliker om nou assosiasies te maak.

 

  • Herhaling

Hoe meer jy herhaal, hoe meer onthou jy. As jy ‘n boek lees, is dit goed om belangrike dele te onderstreep – jy kan na hulle terugkom en hulle weer lees. Jy onthou hierdie gedeeltes beter. Wat interessant is, is dat hulle jou help om die res van die boek ook beter te onthou.

 

Jy kan jouself leer om beter te onthou deur hierdie drie stappe te gebruik.




Martin Luther se donker oomblikke

 

God had one son on earth without sin, but never one without suffering (Augustinus).

 

Martin Luther se donker oomblikke

Martin Luther het ook sy donker tye gehad. Dan het hy hom vir dae lank toegesluit. Sy familie het alle gevaarlike implemente verwyder, want hulle was bang dat hy homself sou seermaak. Te midde van een van hierdie tye het sy vrou, Katharina, haar rouklere aangetrek Toe sy Luther se kamer inkom, was Luther ontsteld. Hy wou weet wie gesterf het Sy antwoord dat niemand dood is nie, maar dat hy so optree dat sy gedink het God is dood.

 

 

Gelowiges is nie van terneergedruktheid of depressie vrygestel nie al strewe hulle na die dinge daarbo waar Christus is (Kolossense 3:1). In 1 Korintiërs 7:6 sê Paulus dat hy neerslagtig is. Die bekende prediker Spurgeon het sy gemeente geskok toe hy van die kansel sê: “I am the subject of depressions of spirit so fearful that I hope none of you ever get to such extremes of wretchedness as I go to.” John Donne noem dit “the damp of hell.” Depressie is al genoem “die verkoue van die siel,” want vroeër of later kry almal dit.

 

Gelowiges moet versigtig wees hoe hulle mense met depressie hanteer. Moenie vir hulle preek nie, moenie vir hulle sê dat hulle geloof te min is nie. Wees net daar as hulle jou nodig het.

 




As dinge baie ingewikkeld raak, onthou die basiese dinge

Satan will seldom come to a Christian with a gross temptation. A green log and a candle may safely be left together, but a few shavings, some small sticks, and then larger, and you may bring the green log to ashes (John Newton).

 

As dinge baie ingewikkeld raak, onthou die basiese dinge

Ons hardloop die wedloop, maar oor ‘n gedeelte van die baan voor ons, is daar ‘n digte mis. Ons was nog nie daar nie. Klink bekend? Tegnologiese vooruitgang en morele agteruitgang is besig om te versnel. Dit gaan so vinnig ons weet nie wat om te doen en waarheen om te gaan nie. Die probleem: dit gaan nie makliker word nie. Die ondenkbare is nou moontlik. Die druk van die kultuur gaan toeneem en ons moet aanvaar dat ons gaan verskil van die res van die wêreld – en dit gaan ons ongemaklik laat voel en ongewild maak.

 

Trevin Wax sê dat ons nie weet wat vir ons voorlê nie, maar wat hy wel weet, is dat as dinge baie ingewikkeld word ons na die basiese dinge moet terugkeer.

 

  • Die wêreld wat God gemaak het, is goed. Hy het ‘n plan daarvoor. Ons is op pad.
  • Die wêreld is gebroke. Ons het al almal teen ons liefdevolle Vader in opstand gekom. Ons is verlore.
  • God bewys sy liefde vir ons dat selfs in ons sondigheid en opstand Hy vir Christus gestuur het om vir ons te sterf.
  • Die wêreld sal verlos woord. Die gelukkige einde is verseker al mag daar tussenin donker tye kom. En wat daarna kom, sal nooit eindig nie.

Die lewe is ingewikkeld; ons keuses is nie maklik nie; as ons getrou aan Hom in hierdie nuwe wêreld wil woon, sal ons wysheid van Bo nodig hê.

 

Sekere dinge gaan nie verander nie.

  • God het steeds sy kinders lief; God het sy kerk lief; Jesus se dood beteken vergifnis.
  • Ons word opgeroep om ons naaste lief te hê. Soms is dit maklik, maar soms is dit moeilik.
  • Die wêreld het Jesus steeds nodig; die evangelie is steeds kragtig; die kerk is steeds op ‘n sending.
  • Daar is ‘n stad wie se fondamente nie geskud kan word nie. Maar daar is ook ‘n stad wat deur mense gebou word en wat reik na die hemel – soos Babel van ouds. In watter stad is jy gemaklik?

 

Jesus red. Ons moet God en ons naaste liefhê. Die basiese dinge verander nooit nie.

 




Daar is net een ware godsdiens

Don’t worry about what you do not understand. Worry about what you do understand in the Bible and do not live by (Corrie ten Boom).

 

Daar is net een ware godsdiens

Vandag soek jy moeilikheid as jy sê maar jou godsdiens is die enigste een wat waar is. Jy sal baie gou van onverdraagsaamheid beskuldig word. Gegewe ons kultuurkonteks, hoe moet Christene hierdie onvermydelike konfrontasie – die Christene se aanspraak dat Jesus die enigste weg na verlossing is –  hanteer?

 

Ons moet mense daaraan herinner dat hierdie ‘n aanspraak is wat Jesus self gemaak het: Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie (Johannes 14:6). Hierdie is nie ‘n taktiek om vrees in te boesem om hulle te bekeer nie – ons aanvaar slegs sy onderrig.

 

 

Mense sê ons kan nie so ‘n aanspraak maak nie, want geen godsdiens het die volle waarheid nie. Die vraag wat ons moet vra, is of die sentrale waarhede en aansprake van ‘n besondere godsdiens waar is. Christene maak nie aanspraak daarop dat hulle die volle waarheid het nie – net God kan dit sê. Ons glo egter dat God deur Jesus Christus die belangrikste waarhede aan ons geopenbaar het. Jesus het meer geloofwaardigheid as enigiemand anders wat beweer hulle is die weg na verlossing.

 

Sodra ‘n nie-Christen sê dat niemand die absolute waarheid het nie, maak hy ‘n waarheidaanspraak wat hy moet kan regverdig. Christene maak nie eksklusiewe aansprake op grond van hulle eie kennis nie, maar op grond van Christus se kennis. As Hy die Seun van God is, is dit tog redelik om te aanvaar dat wat Hy sê waar is.