Paulus word nie moedeloos nie

I will not believe that you have tasted of the honey of the gospel if you can eat it all by yourself. —C.H. Spurgeon

Paulus word nie moedeloos nie

Veroudering en agteruitgang kan ons ontmoedig – veral diegene sonder hoop op opstanding en transformasie. Die Grieks-Romeinse kultuur van destyds het geglo daar is ’n dood eens en vir altyd, maar geen opstanding nie. As ons dink aan Paulus se ouderdom en al sy ontberings sou ons verwag dat hy wanhopig wag om te sterwe. Allermins. Nee, doelbewus verklaar hy: Om hierdie rede word ons nie moedeloos nie (2 Korintiërs 4:16). Hoe kan hy so iets sê? Hy gee nou vir ons die redes.

  • Hy is verseker van ’n innerlike beloning

Al is ons uiterlike besig om te vergaan, innerlik word ons van dag tot dag vernuwe. Ons liggame gaan agteruit. Paulus beskryf hier nie soseer fisiese agteruitgang as sodanig nie. Hier is nie ’n teenstelling tussen uiterlike (liggaam) en innerlike (siel) nie. Innerlik en uiterlik verwys na die hele mens. Uiterlike verwys na ons status in Adam as deel van die teenswoordige tyd; innerlike verwys na ons status in Christus. Paulus sê die ou sondige mens is besig om te vergaan terwyl ons nuwe self in Christus dag tot dag vernuwe word. Paulus sê ons leef nou die lewe van ’n nuwe mens, wat al hoe meer vernuwe word na die beeld van sy Skepper en tot die volle kennis van God (Kolossense 3:10). Die finale “nuwe mens” gebeur by Christus se wederkoms wanneer die hele mens verander sal word na die beeld van sy Skepper. Paulus skep moed, want tussen al die swaarkry en lyding van sy bediening word die ou mens progressief afgetakel en word hy heropgebou na die beeld van Christus. Paulus se ondervinding is ’n templaat vir ons lewe in Christus. Die aftakeling is tipies nie mooi nie, maar die transformasie is pragtig.

  • Heerlikheid

Ons swaarkry in hierdie lewe is maar gering en gaan verby, maar dit loop vir ons uit op ’n heerlikheid wat alles verreweg oortref en wat ewig bly. In 2 Korintiërs 1:8 het Paulus gesê dat die swaarkry wat hy in Asië ondervind het, het vêr bo ons kragte gegaan. Hier is daar nou ’n nuwe siening: heerlikheid. Hierdie heerlikheid oortref alles en bly vir ewig. Die swaarkry wat soos ’n swaar gewig om sy nek gehang het, se gewig is nou niks in vergelyking met die ewige heerlikheid nie.

Toe Paulus beproef is, het hy nie sy gedagtes gefokus oor hoe swaar die swaarkry was nie, maar op hoë swaar die heerlikheid sou wees as gevolg van die swaarkry. Ons tydelike swaarkry berei ons voor vir die ewige heerlikheid. Moenie moedeloos word nie.

  • Toekomstige perspektief

Paulus volhard, want hy kyk verby die huidige, tydelike dinge na die toekoms. 18Ons oog is nie op die sigbare dinge gerig nie, maar op die onsigbare; want die sigbare dinge is tydelik, maar die onsigbare ewig. Alles wat ons met ons oë sien is tydelik – ons besittings tot die wêreld. Die onsigbare is ewig – die Drie-eenheid, die beloftes van God wat nog vervul moet word, die hemel.

Die tragedie is dat ons ons oë vir die onsigbare verloor het en glo en hoop en werk in die sigbare. Paulus fokus op die onsigbare dinge wat nog moet kom – die toekomstige opstanding. Vir hom was die graf leeg; die sekerheid van die opstanding was onvermydelik. Dit het die manier waarop hy geleef het bepaal. Sy toekoms vorm sy lewe en bestemming.

Saam met sy toekomshoop was sy hoop op toekomstige transformasie. Hy word nie moedeloos omdat hy as ou man besig is om uiterlik te vergaan nie. Hy besef dat innerlik word ons van dag tot dag vernuwe. Hy kyk met afwagting vooruit na sy finale transformasie by Christus se wederkoms.

Ons toekomshoop bepaal hoe ons vandag lewe. Waarvoor leef ons? Dit is nooit te laat om dit reg te stel nie. Moenie jou lewe mors nie.




Ek is besig – wat kan ek doen?

To forsake Christ for the world, is to leave a treasure for a trifle, eternity for a moment, reality for a shadow. —William Jenkyn

Ek is besig – wat kan ek doen?

Almal is besig; dit is deel van ons moderne samelewing. Ons hou nie daarvan nie, maar min van ons ontsnap daaruit. Maar om besig te wees, is nie net ongemaklik nie – dit is ook gevaarlik.

Daar is min dinge so skadelik as gedurig besig wees. Busyness sends more people to hell than unbelief (Blaise Pascal). Die probleem is dat om besig te wees vir ons ‘n gevoel van belangrikheid gee. Dit voel asof ek in aanvraag is – so asof die wêreld in duie gaan stort as ek nie daar is nie. As Christene aanvaar ons dat besigwees dieselfde is as getrouheid – ons is besig om onsself vir Jesus uit te brand. Intussen is Jesus nie baie beïndruk met ons besigwees nie.

 

Jesus kom met ‘n beter voorstel: “Rus in My.” Sit by Jesus se voete; wees tevrede in Hom; vul jou skedule met dit wat Hy van jou verwag. Maar hoe kan ons dit doen?

  • Slaap

Tevergeefs dat julle vroeg opstaan en laat gaan slaap om met moeite ‘n bestaan te maak. Vir dié wat Hy liefhet, gee die Here dit in hulle slaap (Psalm 127:2). Jy leef naby aan God as jy te midde van die rustelose kultuur kan rus. Ons moet leer dat terwyl ons slaap God alles bymekaar hou – ons hoef dit nie te doen nie. ‘n Gebrek aan slaap lei nie net tot fisiese probleme nie, maar maak ons dikwels sinies – iets wat ons geestelike lewe negatief beïnvloed.

  • Weier om oor môre bekommerd te wees

Moet julle dus nie oor môre bekommer nie, want môre bring sy eie bekommernis. Elke dag bring genoeg moeilikheid van sy eie (Matteus 6:34). Wat Jesus hier sê, is dat Hy môre by ons sal wees net soos Hy vandag by ons is. Die Israeliete in die woestyn het net manna vir een dag gekry. So het hulle geleer dat God môre sal voorsien soos Hy vandag voorsien het.

 

  • Prioritiseer die groot rotse in jou lewe en laat plek vir die sand

Ons ken almal die beeld. Maak ‘n fles vol groot rotse en vul die leemtes met sand. As jy by die sand begin, sal jy nie die groot rotse in kry nie. Stres en besigwees in ons lewens gebeur omdat ons te veel dinge wil doen. Verseker dat jy tyd het vir die groot rotse in jou lewe – hou die perifere dinge op die periferie. Neem beheer oor jou dagboek, want as jy dit nie doen nie, gaan iemand anders dit vir jou doen.

  • Onderhou die sabbatte

Let wel: meervoud. Daar is ‘n aantal sabbatte wat God vir ons gegee het. God het die Sabbat vir die Israeliete gegee om hulle werk te staak en te rus. Sabbatte is dus rusdae: Sondag, vakansie, slaap, ens. Hierdie dae herinner ons dat ons nie God is nie. Hierdie sabbatte is geskenke en voorregte – nie pligte nie. Besef ons dit, sal ons in Christus rus.

 

Moenie net daar staan nie, doen iets. Hoe dikwels het ons dit nie as kinders gehoor nie. Miskien moet ons meer staan en niks doen nie.




Daarom praat ons

“When you approach the church purely as a consumer, eventually you will decide to stop buying”. – Jordan Ballor

 

Daarom praat ons

Ek het geglo, daarom het ek gepraat. Ons het dieselfde Gees wat die geloof wek, en ons glo, daarom praat ons ook (2 Korintiërs 4:13)

Die rede wat Paulus gee om te praat te midde van al die swaarkry en lyding wat dit tot gevolg het, is sy absolute vertroue in ‘n toekomstige opstanding. Hy, en ons, weet dat dieselfde God, wat die Here Jesus uit die dood opgewek het, ons ook saam met Jesus sal opwek en ons saam met julle voor sy troon sal stel. In Paulus se verkondiging van die evangelie staan die opstanding sentraal.

Die belangrikste wat ek aan julle oorgelewer het en wat ek ook ontvang het, is dit: Christus het vir ons sondes gesterf, volgens die Skrifte; Hy is begrawe en op die derde dag opgewek, volgens die Skrifte (1 Korintiërs 15:3 – 4). Dit was die refrein van Paulus se verkondiging: Onthou altyd dat Jesus Christus, ‘n nakomeling van Dawid, uit die dood opgewek is. Dit is die evangelie wat ek verkondig (1 Timoteus 2:8).

In hierdie gedeelte beskryf Paulus die opstanding as ‘n vreugdevolle, gedeelde gebeurtenis wat Jesus, ons (Paulus en sy geselskap) en julle (die Korintiërs) insluit. Die opstanding van die gelowiges in Korinte is net so seker soos Jesus se opstanding. Dit is hierdie hoop op die toekomstige opstanding wat Paulus die krag gegee het om te volhard.

Ons sien dus dat dit wat Paulus oor die toekoms glo, bepaal het hoe hy nou lewe. Baie Christene glo nie werklik in ‘n toekomstige opstanding nie. As hulle wel glo, sien hulle dit as ‘n vae gebeurtenis ver in die toekoms wat nie relevant vir ons lewe vandag is nie. Hoe ons die toekoms sien is ‘n beslissende vraag Ons gee baie meer aandag aan aftrede en hoe om ons gesondheid en rykdom vir die laaste 20 jaar van ons lewe te beskerm as ons ewige bestaan. As ons lewe soos ons behoort te lewe, moet ons fokus op ons toekomstige opstanding en verheerliking.

 




Terug na die Ou Testament: Hebreeuse name van God en Jesus (1)

Terug na die Ou Testament: Hebreeuse name van God en Jesus (1) – Adrio König

5 Net die Hebreeuse Name van God en Jesus?

5.1 Die oorspronklike Bybeltale

Daar word verskillende redes aangegee waarom God en Jesus se name net in hierdie oorspronklike vorm gebruik mag word. Dis uit eerbied, of omdat dit die “geïnspireerde” Name is. Dit is immers die name wat ons in die Hebreeus van die Ou Testament kry.

Moet ‘n mens dit regtig só aanvaar?

Die Bybel is in twee verskillende tale geskryf, die Ou Testament in Hebreeus (en ‘n paar dele in Aramees), en die Nuwe Testament in Grieks. Dit beteken dat beide God en Jesus se Name in twee tale voorkom.

  • Waarom sou ons nou juis die Hebreeuse vorms moet gebruik? Die Griekse vorms staan mos ook in die Bybel, net in ‘n ander deel van die Bybel.

    Sommige is egter oortuig dat die Nuwe Testament in werklikheid oorspronklik ook in Hebreeus geskryf is, en later eers na Grieks vertaal is. En hierdie vertalers sou dan die fout gemaak het om die Name in Grieks te vertaal. Albei Name moes presies in hulle Hebreeuse vorm behoue gebly het omdat dit die oorspronklike Hebreeuse vorms is. En ons mag net hierdie geïnspireerde vorms gebruik.

    Maar die Nuwe Testament is nie oorspronklik in Hebreeus geskryf nie. Waarom sou Paulus vir ‘n gemeente in Griekeland (byvoorbeeld die gemeente in Korinte of in Tessalonika) in Hebreeus geskryf het as die gemeentelede Grieks gepraat het en sekerlik nie eens Hebreeus kon lees nie? Waarom sou Lukas, wat vir die Griek Teofilus skryf, in Hebreeus vir hom skryf?

    Grieks was die spreektaal rondom die Middellandse See, en dit is waarheen die evangelie versprei het. Daarom is dit eintlik vanselfsprekend dat die Nuwe Testament in Grieks geskryf is. Selfs die Brief aan die Hebreërs wat aan Joodse Christene geskryf is, is in Grieks geskryf.

    Trouens wanneer die skrywers van die Nuwe Testament uit die Ou Testament aanhaal, haal hulle by voorkeur uit die Griekse vertaling van die Ou Testament aan omdat hulle juis hierdie vertaling in hulle sendingwerk moes gebruik. Ons moet immers onthou dat baie van die Jode teen hierdie tyd al so lank ingeburger was in vreemde lande rondom die Middellandse See, dat Grieks hulle omgangstaal was en baie van hulle glad nie eens meer Hebreeus geken het nie. Hulle het dus glad nie meer in hulle Bybel die Hebreeuse name van God en Jesus gekry nie.

     

    Prof Adrio König