Verstaan vryspraak (3)

I consider the principal enemies of the Gospel to be, not the pontiff of Rome, nor heretics…nor tyrants, but bad Christians ~ John Calvin

 

Verstaan vryspraak (3)

As ons verstaan wat vryspraak is, het ons nie die einde van die pad bereik nie. Uit vryspraak vloei daar sekere dinge:

  • Roeping. Ons was geestelik verlore en dan kom God en Hy roep ons: Kom. Roeping word dikwels in algemene en spesiale roeping verdeel. Algemene roeping kom van God na alle mense: Kom na My toe dat julle gered kan word, almal op die aarde, want Ek is God, daar is geen ander nie (Jesaja 45:22). Sommige mense ignoreer of weier hierdie roeping. Maar ons word nie aan onsself oorgelaat nie – God in sy genade trek ons na Jesus Christus toe: Niemand kan na My toe kom as die Vader wat My gestuur het, hom nie na my toe trek nie (Johannes 6:44). Hierdie is God se spesiale roeping. Hierdie roeping begin ‘n ketting van gebeure in ons: Dié wat Hy daartoe bestem het, het Hy ook geroep. En dié wat Hy geroep het, het Hy ook vrygespreek. En dié wat Hy vrygespreek het, het Hy ook verheerlik (Romeine 8:20).
  • ‘n Nuwe geboorte (weergebore). God gee ‘n nuwe geestelike lewe aan ons – ‘n nuwe begin. Dit beteken ons was geestelik dood, maar is nou in Jesus Christus weer lewend gemaak. Die nuwe geboorte is meer as om net ‘n nuwe bladsy om te slaan. Ons weet tog dat die sondige mens wat ons was, saam met Christus gekruisig is, sodat ons sondige bestaan beëindig kon word. Ons is dus nie langer slawe van die sonde nie (Romeine 6:6); Iemand  wat aan Christus behoort, is ‘n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom (2 Korintiërs 5:17). As die Heilige Gees ons nuut maak, verander ons identiteit. Ons is nie meer ‘n sondaar nie, maar ‘n gelowige.
  • Bekering. Dit verseker Ek julle: As julle nie verander en soos kindertjies word nie, sal julle beslis nie in die koninkryk van die hemel kom nie (Matteus 18:3). Bekering beteken om 180 grade te draai – weg van die sonde en ongeloof na Jesus Christus. Dit sluit in berou (ek is opreg jammer oor my sonde) en geloof. Bekering gaan altyd gepaard met dade wat by die bekering pas (Handelinge 26:20). As ek waarlik bekeer is, moet die manier waarop ek lewe dit wys.
  • Verlos deur genade. Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is ‘n gawe van God (Efesiërs 2:8). God in sy genade verlos ons onder andere van die oorheersing deur sonde en ‘n lewe van vrees en selfsug. Veral red Hy ons van sy oordeel en toekomstige toorn. Daar is dus nou geen veroordeling vir dié wat in Christus Jesus is nie (Romeine 8:1). God verlos ons nie net van sekere dinge nie, maar ook vir sekere dinge: om saam met God in liefde te leef.
  • Aanneming. Julle het die Gees ontvang wat julle tot kinders van God maak en wat ons tot God laat roep: “Abba!” Dit beteken Vader. Hierdie Gees getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is. En omdat ons kinders is, is ons ook erfgename. Ons is erfgename van God, erfgename saam met Christus (Romeine 8:15 – 17). ‘n Christen is dus iemand wat God as sy Vader het: Maar aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word (Johannes 1:12). As kinders van God het ons al die regte en voorregte wat kom omdat ons sy kinders is. Ons is lede van sy gesin met al die voorregte, vryhede en beloftes om God as Vader te hê.

 

Volgende keer gaan ons na versoeking kyk.




Verstaan vryspraak (2)

God uses chronic pain and weakness, along with other afflictions, as his chisel for sculpting our lives. —J.I. Packer

Verstaan vryspraak (2)

Elke mens het ‘n ingebore sin van wat reg en wat verkeerd is. Daarom kom die vraag na vore: Hoe kan God mense vryspreek wat skuldig is en steeds ‘n regverdige regter wees? Omdat God ‘n regverdige regter is, moet Hy tog op een of ander manier sy sin vir geregtigheid bevredig as Hy ons vryspreek.

 

Maar daar is vir ons vryspraak betaal. Om dit te verstaan, is daar drie konsepte van belang:

 

  • Delging/verlossing. Dit is verlossing met ‘n prys. God het ons verlos, maar Hy het ‘n groot prys betaal daarvoor – die offer van sy eie Seun. Ons was slawe van die sonde, maar God betaal die losprys. Julle weet tog dat julle nie met verganklike middele soos silwer of goud losgekoop is uit julle oorgeërfde  sinnelose bestaan nie. Inteendeel, julle is losgekoop met die kosbare bloed van Christus, die Lam wat vlekkeloos en sonder liggaamsgebrek is (1 Petrus 1:18 – 19).
  • Versoening. Jesus Christus se dood was die offer wat God se toorn verwyder het deur ‘n plaasvervangende offer. Maar hulle word, sonder dat hulle dit verdien het, op grond van sy genade vrygespreek vanweë die verlossing deur Jesus Christus. Hom het God gegee as offer wat deur sy bloed versoening bewerk het vir dié wat glo (Romeine 3:24 – 25). God gee self die offer – sy Seun; God gee self die losprys – Jesus Christus se bloed. God does not love us because Jesus Christ died for us; Christ died for us because God loves us (John Stott)
  • Toerekening.  Ons sonde word aan Jesus Christus toegereken; Jesus Christus se geregtigheid word aan ons toegereken. Christus was sonder sonde, maar God het Hom in ons plek as sondaar behandel sodat ons, deur ons eenheid met Christus, deur God vrygespreek kan wees (2 Korintiërs 5:21).

 

Nou kan ons verstaan hoekom God, as ons voor sy regbank staan, kan sê: Onskuldig. Vryspraak is nie ek en jy wat  goed genoeg is dat God ons kan vryspreek nie … dit is God wat vir ons intree en vir ons doen wat ons nooit self vir ons kan doen nie.

Volgende keer kyk ons vir oulaas na vryspraak.




Verstaan vryspraak (1)

The gospel is neither a discussion nor a debate. It is an announcement – Paul S. Rees

 Verstaan vryspraak (1)

Hoe kom ek in die hemel? Dit is ‘n algemene vraag waarop ons ‘n verskeidenheid antwoorde kry: wees ‘n goeie mens; moenie selfsugtig wees nie; moenie ander seermaak nie; doen wat reg is; onderhou die wette van God; ens. Lees ons egter die Nuwe Testament sien ons dat al hierdie dinge  werke genoem word. In alle gevalle werk ons om God se goedkeuring te kry – ons probeer vir ons verlossing werk.

 Maar dan kom Paulus en hy sê: Daarom sal geen mens op grond van wetsonderhouding deur God vrygespreek word nie; inteendeel deur die wet leer ‘n mens wat sonde is (Romeine 3:20). Hier sien ons dat die wet vir my sê wat sonde is. Deur die wet te onderhou, kan ek nie vrygespreek word nie – in ieder geval kan ek nie die wet volkome onderhou nie. Die wet maak my bewus van my sonde – ek besef ek is ‘n sondaar.

 

 

As God my moes oordeel op die onderhouding van die tien gebooie, hoe sou ek vaar? Om goed te wees volgens God se definisie moet ek moreel volmaak wees. Omdat ons besef dat dit nie moontlik is nie, water ons die definisie af. Ongelukkig is dit net God se definisie wat tel. Wat is sy bevinding? Daar is nie een wat regverdig is nie, selfs nie een nie (Romeine 3:10).

 

Mense hou nie daarvan om te hoor dat hulle nie goed genoeg is om hemel toe te gaan nie. Dit is baie moeilik om te erken dat ons desperaat is. Ons is te trots om dit te erken. Maar net God is volmaak. Wat nou? Ek moet vrygespreek word. Wat beteken dit om vrygespreek te word? En tog weet ons dat ‘n mens nie van sonde vrygespreek word deur die wet van Moses te onderhou nie, maar alleen deur in Jesus Christus te glo. Ook ons het tot die geloof in Jesus Christus gekom, en dit is hoe ons vrygespreek is: deur in Jesus Christus te glo en nie deur die wet te onderhou nie, want geen mens word vrygespreek  op grond daarvan dat hy die wet onderhou nie (Galasiërs 2:16).

 

Vryspraak is ‘n woord wat in ‘n hof gebruik word. In ‘n hof word ons vrygespreek of veroordeel en gevonnis. God is die regverdige Regter oor die heelal. God verklaar dat ons vrygespreek is – geen veroordeling en geen vonnis nie. Dit beteken ons sonde is verwyder en dat ons vry van God se toorn is. Maar hierdie vryspraak is voorwaardelik: ons moet in Jesus Christus glo. As ek in Jesus Christus glo – dat Hy in my plek gesterf het en vir my die straf gedra het – word ek vrygespreek. Nou is ek vry van veroordeling.

 In die wêreld is ek onskuldig tot ek skuldig bevind word. Maar voor God is ek reeds skuldig bewys. Ek is skuldig totdat God my vryspreek.

 

Ons gaan volgende keer verder na vryspraak kyk.




Basiese geloofsvrae

. —C.H. Spurgeon

Basiese geloofsvrae

Almal het ‘n afrigter nodig – selfs wêreldklas atlete. In ‘n sekere sin is ons geestelike atlete. Terwyl ons dan so ‘n groot skare geloofsgetuies rondom ons het, laat ons elke las van ons afgooi, ook die sonde wat ons so maklik verstrik, en laat ons die wedloop wat vir ons voorlê, met volharding hardloop, die oog gevestig op Jesus, die Begin en Voleinder van die geloof.  Ter wille van die vreugde wat vir Hom in die vooruitsig was, het Hy die kruis verduur sonder om vir die skande daarvan terug te deins, en Hy sit nou aan die regterkant van die troon van God (Hebreërs 12:1 – 2). Om goed te kan hardloop het ons aanmoediging en wysheid nodig. Dit kry ons in God se woord. Hierdie proses van afrigting en oefening noem ons dissipelskap.

 

 

As ons ons aanmoediging en wysheid in God se woord kry, hoe benader ons sy woord?

1.Luister. Luister na wat die woord vir ons sê. Ons kry daar waardevolle inligting waarop ons ons geloof kan bou.

2.Absorbeer. Dink na; prosesseer wat jy gehoor het – veral nuwe konsepte. Sit rustig; laat jou gedagtes fokus op die noodsaaklikste elemente wat jy gedurende die eerste stap gehoor het.

3.Interaksie. Sit saam met ander en bespreek wat gehoor is. Dit versterk verder die waarhede wat jy gehoor het. In hierdie stap kom ons agter hoe goed ons die waarhede verstaan het.

 

Ek gaan ‘n hele aantal blogs spandeer om na sekere basiese geloofsvrae te kyk. Volgende keer gaan ons na vryspraak kyk