‘n Bedienaar van die nuwe verbond
Waiting for an answer to prayer is often part of the answer. —John Blanchard
‘n Bedienaar van die nuwe verbond
In 2 Korintiërs 4:1 – 6 verdedig Paulus homself as bedienaar van die nuwe verbond. Hy gee ook vir ons ‘n uiteensetting van hoe hierdie bediening gedoen moet word:
- Paulus bedien met sy hart – hy word nie moedeloos nie. God het hom in sy genade op die pad na Damaskus ontmoet en hom geroep om die evangelie aan die heidene te verkondig. Die bediening van die nuwe verbond se heerlikheid oortref dié van die ou verbond in vryheid en transformasie. Dit gee aan hom energie en verhoed dat hy moedeloos word.
- Paulus maak die waarheid openlik bekend. Hy wil niks te doen hê met bedrog en vervalsing nie. Hy verander nie God se woord nie; hy water nie sy boodskap af nie. Hy praat reguit; hy maak ‘n beroep op mense se eerlike gewete.
- Paulus bedien met persepsie. Hy is bewus van die blindheid van ongelowiges. Sy eie ondervinding maak dit vir hom duidelik dat die mens moet glo.
- Paulus bedien deur Christus voor op te plaas. Hy verkondig Jesus Christus as die Here. As ‘n mens Christus verheerlik is daar geen plek om jouself te verheerlik nie. In plaas van jouself bevorder, word jy ‘n dienaar.
- Paulus bedien met goddelike vertroue: 6God wat gesê het: “Laat daar lig skyn uit die duisternis,” het ook in ons harte ’n lig laat skyn om ons te verlig met die kennis van die heerlikheid van God, wat van Jesus Christus uitstraal. Niks minder as God se skeppingsmag word op blinde siele toegepas nie.
As ons so ‘n bediening het, sal ons nooit moedeloos word nie.
Reckless and incompetent expounders of Holy Scripture bring untold trouble and sorrow on their wiser brethren’ – Augustinus Hoe vermag jy so baie? Iemand vra vir Franciskus hoe dit moontlik was dat hy so baie vermag het. Hy antwoord: “Dit mag wees hoekom: die Here het vanuit die hemel afgekyk en gesê: ‘Waar kan ek die swakste, kleinste man op aarde kry?’ Toe sien Hy vir my en sê: ‘Ek het hom gevind en hy sal nie trots wees daarop nie. As gevolg van sy nietigheid sal hy sien dat ek hom net gebruik.’ Ons wat hierdie skat in ons het, is maar kleipotte wat maklik breek; die krag wat alles oortref, kom dus van God, nie van ons nie (2 Korintiërs 4:7). Het ons al hierdie swakheid as ‘n lewenswyse aanvaar – en as ’n uitnodiging om sy krag te ondervind.Hoe vermag jy so baie?
Gelowiges in ‘n kultuur wat toenemend vyandig gesind is
The place where God has supremely destroyed all human arrogance and pretension is the cross. —D.A. Carson
Gelowiges in ‘n kultuur wat toenemend vyandig gesind is
‘n Slaaf is nie belangriker as sy eienaar nie. As hulle My vervolg het, sal hulle julle ook vervolg (Johannes 15:20).
Volgelinge van Jesus moet ongeregtigheid verwag. Daar is organisasies wat werk vir die beskerming van die regte van Christene. Maar ons moenie onsself as ‘n spesiale belangegroep sien wat kla as mense nie van ons hou nie. God se mense het ‘n lang geskiedenis van mense wat nie van hulle hou nie.
Dit beteken nou nie ons moet daarna soek om gehaat te word nie. Dit is belangrik dat ons die evangelie reg verteenwoordig.
Vriendelikheid, die hart van ‘n dienaar en liefde is noodsaaklik as ons die waarheid praat. As dit moontlik is, sover dit van julle afhang, leef in vrede met alle mense (Romeine 12:18).
Die evangelie is goeie nuus, maar dit beledig ook sommige mense. Mense hou nie daarvan om sondaars genoem te word nie; mense hou nie daarvan om te hoor dat hulle behoort in die hel te eindig nie. Geliefdes, moenie verbaas wees oor die vuurproef waaraan julle onderwerp word nie. Dit is nie iets vreemds wat met julle gebeur nie (1 Petrus 4:12).
As ons ons oë op iemand anders as Jesus vestig sal ons nie die stamina hê om kritiek en selfs openlike vyandigheid te verduur nie. As ons nog steeds die guns van mense soek, sou ek geen dienaar van Christus wees nie (Galasiërs 1:10).
Jesus is ons gehoor van Een; ons sal voor sy regterstoel staan – voor niemand anders s’n nie. Ons moet daarna uitsien om Hom te hoor sê: “Mooi so goeie en getroue slaaf.” Wat ander mense dink, is nie van belang nie.
Terug na die Ou Testament: Die Christelike Doop (5)
Terug na die Ou Testament: Die Christelike Doop (5) – Adrio König
7.5 Los opmerkings
Daar is ‘n paar stellings aan die begin van die hoofstuk waaraan ons nog nie genoeg aandag gegee het nie.
Daar is twee groepe kerke.
- Die een groep doop net mense wat self glo, en verwerp die kinderdoop.
- Die ander groep doop ook mense wat self glo, maar dan ook hulle kinders.
Daar is geen kerk wat die doop van gelowiges verwerp nie. Dit sou onsinnig wees.
Dit werk net dieselfde met onderdompeling en besprenkeling.
- Die een groep kerke doop net deur onderdompeling, en verwerp besprinkeling.
- Die ander groep doop deur besprinkeling of onderdompeling.
‘n Kerk behoort mense ‘n keuse te gee tussen die twee metodes omdat dit nie in die Bybel gaan oor die manier van doop nie, maar oor die betekenis van die doop.
Die Christelike doop behoort net een keer aan ‘n persoon bedien te word. Die “een keer” het direk verband met die betekenis van die doop. Deur die doop gee God ons deel in die heil. Ons moet daarop reageer en dit aanvaar. God gee ons nie oor en oor deel aan die heil nie, net soos Christus nie oor en oor aan die kruis sterf nie.
Die nagmaal is die sakrament wat ons oor en oor gebruik en ook moet gebruik, omdat dit verband hou met die voortdurende voeding en versterking van ons nuwe lewe. Daarom moet dit herhaal word.
Dit is ‘n oorvereenvoudiging om te sê die doop het in die plek van die besnydenis gekom. Die betekenis van die doop is veel ryker as dié van die besnydenis. En vir ‘n tyd lank het doop en besnydenis gelyktydig voorgekom, minstens in die gemeente in Jerusalem (Hand 21:21).
Maar die doop het ‘n veel ryker betekenis as die besnydenis. Die doop het nie net verband met die besnydenis nie, maar ook met die groot versoendag, die dag wat die offer gebring is vir die sonde van die volk. Deur die doop gee God ons vergifnis en reiniging van sonde.
Wat maak die Christelike doop uniek in onderskeid van ander dope soos Johannes die doper se doop of die Jode se proseliete-doop? Al drie is “doop” genoem, al drie is met water gedoen. Wat uniek is in die Christelike doop is die doopformule: “Doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees”. ‘n Doop waarby hierdie formule nie gebruik is nie, kan nie beskou word as ‘n Christelike doop nie. En dis duidelik dat Johannes die doper ook nie hierdie formule gebruik het nie.
Die verskil tussen Johannes se doop en die Christelike doop is dus die verskil tussen dit wat die mens doen en dit wat God doen.
Skrywer: Prof Adrio König