Terug na die Ou Testament: Die Christelike Doop (4)

Terug na die Ou Testament: Die Christelike Doop (4) – Adrio König

7.4 Doop en kruis

Aan die kruis het God deur Jesus die wêreld versoen. Dis goed om te kyk hoe radikaal Paulus dit formuleer.

“Die boodskap van die versoening bestaan daarin dat God deur Christus die wêreld met Homself versoen het en die mense hulle oortredinge nie toereken nie” (2 Kor 5:19).

Dit kan tog nie iets anders beteken nie as dat God vandag vir geen enkele mens op die hele aarde een sonde toereken nie, wat hy of sy ook al gedoen het. Beteken dit dan dat ons net vir alle mense moet laat weet dat hulle versoen is, en hulle nie verder daaroor hoef te bekommer nie? Almal is gered, want God het almal versoen?

Nee. Die volgende vers lui: “Ons smeek julle namens Christus: “Aanvaar die versoening met God wat Hy bewerk het!” (5:20)

Wat beteken dit? God het gegee, maar ons moet dit aanneem voor dit vir ons geld. Hy het ons met Homself versoen, maar ons moet hierdie versoening eers aanneem voor dit vir ons geld. Dis hoe ‘n verbond werk, van twee kante af.

Dis mos presies hoe die doop ook werk.

  • In watter boek in die Nuwe Testament lees ons hoe mense gedoop word? Handelinge.
  • In watter boeke lees ons wat die doop beteken? Die Briewe.

Maar die Briewe is ná Handelinge geskryf. Dit is geskryf aan gemeentes, mense wat klaar gedoop is. Dit beteken dat mense nie vooraf oor die betekenis van hulle doop ingelig is nie, maar eers gedoop is (Handelinge) en toe later onderrig is (die Briewe).

Indien dit in die doop gegaan het oor wat ek doen, was dit tog heeltemal verkeerd. Dan moes die apostels eers lang onderhoude gevoer het met mense wat gedoop wil word, en hulle breedvoerig oor die betekenis van die doop ingelig het sodat hulle alles kan verstaan wanneer hulle gedoop word.

Dit is alles normaal, soos dit hoort, want God gee in die doop, en ek moet agterna leer en aanneem wat Hy gegee het, en hoe om dit toe te eiën en daaruit te leef.

Maar dan pas die kinderdoop mos presies in die struktuur van die evangelie, sowel van die kruis as van die doop.

  • Aan die kruis het God ons versoen, en wanneer ons dit nou hoor, moet ons dit in die geloof aanvaar.
  • In die doop bevestig God wat Hy aan die kruis gedoen het, en ons moet dit in die geloof aanvaar.
  • Aan die kruis het God ook die baba versoen, en wanneer die baba dit hoor, moet hy/sy dit in die geloof aanvaar.
  • En in die doop bevestig God ook aan die baba wat Hy aan die kruis gedoen het, en die baba moet dit agterna in die geloof aanvaar.

Die kinderdoop pas dus nie net in die genadeverbond wat God met Abraham gesluit het en waarin God ons deur die doop opneem nie.

Dit pas ook in die manier waarop die doop in die vroeë kerk bedien is: Eers gedoop, daarna onderrig.

 

Skrywer: Prof Adrio König

 




Terug na die Ou Testament: Die Christelike Doop (3)

Terug na die Ou Testament: Die Christelike Doop (3) – Adrio König

Ons word deur die doop met Christus verenig (Gal 3:26) en omdat Hy dié Nakomeling van Abraham is (Gal 3:16), word ons dan ook, saam met Hom, nakomelinge van Abraham. Die doop is dus wesenlik deel van die verbond met Abraham.

Maar nou het ons ‘n belangrike beginsel aanvaar. Ons het dit nie besef nie omdat ons formulerings sleg was.

  • Dis nie die doop wat ons in die Abrahamverbond inlyf nie.
  • Dis God wat ons deur die doop in die Abrahamverbond inlyf.
  • In die lig hiervan is dit nie vreemd dat al die betekenisse van die doop verband hou met God se werk in ons, en nie met ons werk nie:

    • God verenig ons deur die doop met Christus sodat ons deel kry aan sy kruisiging, sterwe, begrafnis en opwekking (Rom 6). Ons kan dit nie self doen nie.
    • God gee ons deur die doop die Heilige Gees en die weergeboorte (Tit 3:5 – ongelukkig vreemd veetaal in die 1983-vertaling). Ons kan nie self nie.
    • God neem ons deur die doop op in die liggaam van Christus (1 Kor 12:13 – net so vreemd vertaal in 1983. Lees die 1953-vertaling en NLV). Ons kan nie self nie.

    Die doop kan dus nie ‘n geloofsdoop of ‘n belydenisdoop genoem word nie, omdat dit nie my geloof of my belydenis is wat die betekenis aan die doop gee nie, maar God self. Natuurlik moet mense wat van buite die geloofsgemeenskap kom, eers self glo en hulle geloof bely voor hulle gedoop word. Net so moes ook Abraham eers self glo voor hy besny is. Maar Isak wat in die verbond gebore is omdat Abraham in God geglo het, is eers besny en moes agterna self glo.

    My geloof en my belydenis is my onontbeerlike antwoord op die werk van God in my doop.

    Maar indien God al hierdie gawes in my doop vir my gee, hoe is dit dan dat die doop my nie red nie?

    Om presies dieselfde rede waarom die kruis my nie red nie.

     

    Prof Adrio König




    Terug na die Ou Testament: Die Christelike Doop (2)

    Terug na die Ou Testament: Die Christelike Doop (2) – Adrio König

    Uit stellings 1-7 is dit duidelik dat Abraham ‘n besondere plek in ons geloof inneem. In Romeine 4 soek Paulus ‘n voorbeeld van hoe ‘n mens gered word. Hy kies nie een van sy eie dissipels nie, hy kies vir Abraham: “Abraham het in God geglo, en God het hom vrygespreek” (4:3). Hoe word ons dan gered? Deur in God te glo, of soos ons dit in die Nuwe Testament kry: Deur op Jesus as ons Verlosser te vertrou.

    Maar Abraham is nie net ons voorbeeld van redding nie, hy is ook ons geestelike vader (Rom 4:16-17). Deur die geloof is ons sy kinders (Gal 3:7), en deur die doop het ons sy nakomelinge geword (Gal 3:27, 29).

    Hierdie seën van Abraham is aan die kruis oopgebreek vir die heidene, dis vir ons wat nie Jode is nie (Gal 3:14).

     

    Skrywer: Prof Adrio König

     




    Corrie ten Boom

    . —John Piper

    Corrie ten Boom

    Vergifnis is sekerlik een van die moeilikste dinge om te doen. Ons neig eerder na vergelding as vergifnis. Maar vergifnis is wat Christus van ons verwag: Vergeef ons ons oortredings soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree (Matteus 6:12). Dit is deel van die gebed wat Jesus vir sy dissipels geleer het. Kom ons kyk na ‘n ware verhaal.

    Corrie ten Boom (The Hiding Place) vertel van ‘n ontmoeting met ‘n wag van die Ravensbruck konsentrasiekamp na die oorlog

    . Haar suster is daar oorlede en daar is sy aan allerhande ontstellende dinge blootgestel. Dit was tydens ‘n kerkdiens in Munich. Na die diens kom hy na haar, steek sy hand uit en bedank haar vir haar boodskappe: “Om te dink, net soos u gesê het, Hy het my sonde afgewas.”  Sy probeer glimlag, sy sukkel om haar hand op te tel om sy hand te neem, sy voel niks nie – geen warmte of genade nie. Sy bid: “Jesus ek kan hom nie vergewe nie. Gee my U vergifnis.” Toe sy sy hand neem, gebeur daar ‘n ongelooflike ding met haar. Dit voel asof ‘n stroom van haar na hom toe gaan en in hart kom daar ‘n liefde vir hierdie man – ‘n liefde wat haar amper oorweldig.

    Vergifnis is nie ‘n opsie wat God aan ons gee nie – dit is ‘n opdrag. Ons moet vergewe al het mense teenoor ons oortree.