Terug na die Ou Testament: Allerlei (6)

Terug na die Ou Testament: Allerlei (6) – Adrio König

6.6 Huisskoonmaak en Christelike skole

Daar is soveel kleiner dingetjies wat voortvloei uit die hierdie ingesteldheid van terug na die Ou Testament. Dis uit met feetjies, kaboutertjies en dwergies, met hekse en selfs “liewe heksie”, met Boeddha-beeldjies en nog baie ander goed.

Teen die meeste van hierdie dinge is daar goeie argumente. Maar gooi ‘n mens nie later die baba saam met die badwater uit nie? Ek weet feetjies, kaboutertjies en dwergies toor, en ‘n mens mag nie (probeer) toor nie. Maar is hierdie “toor” regtig toor, die soort wat verkeerd is? Hoe ver verskil dit van dagdrome?

‘n Kind van omtrent tien jaar lê en droom. Hy kry ‘n miljoen rand onder ‘n klip. En wat kan hy nie alles koop nie. En wat kan hy nie alles doen nie. En waarheen kan hy nie oral reis nie. Na kammaland. En daar hang die lekkers soos perskes aan die bome!

Hoe ver is dit van die feetjies se “toor” af? Moet “kammaland” se bootjie dan ook uit?

Daar is erger verhale in die Bybel as enigiets wat by huisskoonmaak betrokke is. Maar ons leer ons kinders om sinvol, met onderskeiding, na die Bybelverhale te kyk. En selfs dit is nie altyd so maklik nie.

Sê nou Rooikappie leer my kind om versigtig te wees en seker te maak?

Maar die beginsel? En raak dieselfde beginsel nie ook die Christelike skole nie?

Wat doen ons? Haal ons nie ons kinders uit die hoofstroomsamelewing uit, en maak hulle groot in ‘n groepie wat nie weerspieël wat in die wêreld aangaan waarin hulle eendag moet leef nie? Is dit nie deel van oorbeskerming, en dan ten koste van die kind se blootstelling aan die werklike wêreld nie? Gaan hulle in staat wees om die stampe en stote van die samelewing te hanteer as hulle nie daarmee groot geword het nie?

En is daar nie selfs veel meer op die spel nie?

  • Onderskat ons nie kinders as ‘n evangelisasiemag nie?
  • Onderskat ons nie die vermoë van ons jong kinders wat die Here Jesus ken om standpunt in te neem en ander te beïnvloed nie?
  • Onderskat ons nie die vermoë van kleintjies wat Jesus ken en liefhet om dit met maatjies te deel en hulle lus te maak om Hom te ken nie?
  • Ontneem ons nie die kinders wat in openbare skole sonder Hom grootword die geleentheid om spontaan van Hom te hoor nie?
  • Ontneem ons nie ons eie kinders die heerlike voorreg om ander na Jesus te lei nie?
  • Stroop ons nie ons openbare skole van ‘n eg Christelike element nie?
  • Is ons nie bang Christene in plaas van dapper Christene nie?
  • Glo ons meer aan die krag van die duiwel om ons kinders te verlei, as aan die krag van die Gees om hulle nie net weerbaar te maak nie, maar aanvalsoldate vir Jesus?

 

Skrywer: Prof Adrio König

 




Preek tydig en ontydig

There are two sources of unhappiness in life. One is not getting what you want; the other is getting it.” – George Bernard Shaw

Preek tydig en ontydig

Verkondig die woord, hou daarmee vol, tydig en ontydig; weerlê, bestraf, bemoedig deur met alle geduld onderrig te gee (2 Timoteus 4:2).

In die moderne kultuur dink ons soos verbruikers. Ons soek spesiale aanbiedings. Ons soek goeie produkte so goedkoop as moontlik. Ons verwag om as konings behandel te word – die kliënt is immers koning! Ongelukkig kry ons hierdie gesindheid ook soms in die kerk. Ons wil gemaklik voel. Die musiek moet aan ons voorkeure voldoen; die bediening moet aan ons behoeftes voldoen. Die kerk moet aan ons die beste waarde vir ons insette gee.

 

Hierdie is niks nie. Sommige mense in die gemeente in Efese het dieselfde gesindheid gehad. Daar sal ‘n tyd kom wanneer die mense die gesonde leer nie meer sal verdra nie. Hulle sal hulle eie begeertes volg en vir hulle leermeesters bymekaarmaak wat net sal sê wat hulle graag wil hoor (4:3 – 4). Maar Paulus waarsku Timoteus in 4:2. Timoteus moet vashou aan die regte leer en moet die woord te alle tye en onder alle omstandighede  verkondig.

Paulus is ernstig as hy met Timoteus praat. Hy roep God en Christus Jesus in as getuies (4:1). Hy plaas sy woorde in die konteks van God se koninkryk en Jesus Christus se terugkeer. Timoteus se hooftaak  is om die woord te verkondig. Dit word onderverdeel in ander take: weerlê, bestraf, bemoedig, deur met alle geduld onderrig te gee.

Dit alles moet baie versigtig gedoen word. Om ander in die Skrif te onderrig, is ‘n ernstige verantwoordelikheid. Dit vereis geduld en dus verhoudings wat vas staan. Dit moet ook aanhoudend gedoen word – tydig en ontydig en nie net wanneer dit ons pas nie. Dit sal nie maklik wees nie: Maar bly in alle omstandighede nugter, verdra lyding, doen jou werk as verkondiger van die evangelie, voer al die pligte van jou bediening uit (4:5). Wees gehoorsaam en voer jou roeping uit.




Gee aan ons vandag ons daaglikse brood

“People will not look forward to posterity who never look backward to their ancestors.” – Edmund Burke

Gee ons vandag ons daaglikse brood

R. C. Sproul vertel die verhaal. Na die Koreaanse oorlog was daar ‘n groot aantal wesies. Ons sien dit na meeste konflikte. In Korea het bystandsorganisasies ingekom om die probleme van hierdie groot getalle weeskinders te hanteer. Baie van hierdie kinders beland in kinderhuise.

 Baie gou sien die bystandswerkers dat daar ‘n probleem met die kinders is. Hulle kry drie maaltye per dag, maar as hulle saans gaan slaap, is hulle bang en slaap moeilik. Hoekom? Na lang gesprekke met die kinders blyk dit dat die kinders bang was dat daar die volgende dag geen kos sou wees nie. Hoe nou gemaak? By een van hierdie kinderhuise besluit die werkers om elke aand in elke kind se hand ‘n sny brood te plaas. Hulle was nie veronderstel om die brood te eet nie – die kinders het dit styf in hulle handjies vasgehou – vir hulle was dit ‘n soort “veiligheidskombers.”

Dit herinner hulle daaraan dat daar voorsiening vir elke maaltyd gemaak is. Dit was gou duidelik dat die kinders se vrees verdwyn het en dat hulle beter begin slaap het.

 Ook ons word vertroos as ons weet dat aan ons fisiese behoeftes voldoen word – dat ons brood het. Gee ons vandag ons daaglikse brood leer ons om na God in nederige afhanklikheid te kom en Hom te vra om dit wat ons nodig het vir daardie dag te voorsien. Ons kan ons behoeftes aan God stel en ons kan vertrou dat Hy sal voorsien.

 




Die beloftes van God is soos ‘n tjek

God’s promises are like the stars; the darker the night the brighter they shine. —David Nicholas

 

Die beloftes van God is soos ‘n tjek

Charles Spurgeon sê dat ons God se beloftes met ‘n tjek betaalbaar aan order  kan vergelyk. (Vir ons ouer mense wat nog weet wat ‘n tjek is!!) Dit word aan God se kinders gegee – iets goed word aan hom toegeken. Maar soos ‘n tjek kan jy dit nie net oor en oor lees en dink alles is afgehandel nie. Ons moet God se beloftes hanteer soos ons ‘n tjek sou hanteer. Jy moet die belofte neem, dit met jou eie handtekening bevestig deur dit persoonlik as waar te ontvang.

 

In geloof moet ons dit as ons eie aanvaar. Deur my seël bevestig ek dat God die waarheid is – sy beloftes is waar. Ek gaan nog verder: ek glo dat ek God se seën het en daarom plaas ek my naam daarop as bewys dat ek die seëning aanvaar.