Ontmoetings met Jesus: Inleiding

. —C.H. Spurgeon

Ontmoetings met Jesus: Inleiding

In die Evangelie volgens Johannes lees ons van ontmoetings wat individue met Jesus gehad het. In van hierdie ontmoetings hanteer Jesus van die belangrikste lewensvrae: Hoekom is die wêreld hier? Wat is verkeerd met die wêreld? Ens. Ons gaan na ‘n paar van hierdie ontmoetings kyk.

Die ou Griekse filosowe het in die morele en rasionele orde van die heelal geglo Hierdie orde van die natuur noem hulle die logos.  Vir die Griek was die doel van die lewe om oor hierdie logos na te dink en dit in die lewe raak te sien.

 

Johannes leen doelbewus hierdie Griekse filosofiese woord. In die proloog tot die Johannes-evangelie lees ons van die Woord. Woord is die vertaling van die Griekse logos. In die begin was die Woord daar, en die Woord was by God, en die Woord was self God. Hy was reeds in die begin by God. Alles het deur Hom tot stand gekom: ja, nie ‘n enkele ding wat bestaan, het sonder Hom tot stand gekom nie. In Hom was daar lewe, en dié lewe was die lig vir die mense … Die Woord het mens geword, en onder ons kom woon. Ons het sy heerlikheid gesien, die heerlikheid wat Hy as die enigste Seun van die Vader het, vol genade en waarheid (Johannes 1:1 – 4 en 14).

Johannes bevestig dat daar ‘n doel in die lewe is – iets waarvoor ons gemaak is. Hy gaan egter voort en sê dat die betekenis van die lewe nie een of ander beginsel is nie, maar ‘n Persoon. Die goeie lewe kry ons nie primêr in filosofiese nadenke of in ‘n intellektuele oefening nie, maar in Jesus Christus. Hierdie Jesus Christus kan ons vind en ‘n verhouding met Hom aanknoop.  Hy is beskikbaar vir alle mense, maak nie saak wat hulle agtergrond is nie, te alle tye en op enige plek.

Alles goed en wel, maar dit is darem ‘n bietjie te filosofies. Hoe werk dit in die praktyk? In die evangelie werk Johannes dit verder uit. Hy doen dit deur sekere ontmoetings wat Jesus met individue gehad het te gebruik as praktiese voorbeelde. In die volgende blogs gaan ons na hierdie ontmoetings van Jesus kyk as ook na die lewensvraag wat elkeen van hulle beantwoord:

  • Waar moet ons na antwoorde op die groot lewensvrae soek? Natanael
  • Wat is verkeerd met die wêreld soos hy vandag is? Nikodemus en die Samaritaanse vrou.
  • Wie of wat kan die wêreld weer herstel? Die twee hartseer susters – Marta en Maria
  • Hoe kan dinge in die wêreld weer reggestel word?  Die bruilofsfees by Kana
  • Hoe moet ons reageer op dit wat Jesus gedoen het om die wêreld weer reg te stel? Maria Magdalena.

Die eerste ontmoeting waarna ons gaan kyk, is Jesus se ontmoeting met Natanael.

[Ek maak baie gebruik van Tim Keller se: Encounters with Jesus: Unexpected answers to life’s biggest questions]




Julle kry nie omdat julle nie bid nie

 

A man’s reputation is the opinion people have of him; his character is what he really is. Jack Miner

Julle kry nie omdat julle nie bid nie

Hierdie woorde kom uit Jakobus 4:2. Die werklikheid is nie dat God alleen werk nie; ons is nie poppe in ‘n poppekas nie en Hy trek al die toutjies nie – ons het dan geen aandeel aan sy verlossingsplan nie. Dit is ‘n verdraaiing. God gebruik mense om sy soewereine doel te bereik.

Ons kan tog nie net sit en wag vir God om alles te doen nie – om sommer die oes uit die hemel te lewer nie. Nee, ons moet die grond voorberei, saai, die land bewerk en die oes insamel. Dit geld ook vir ons gebede. God roep ons om te werk – te ploeg, te plant, te studeer, voor te berei, ens. Ons moet al daardie dinge doen, maar God gee die groei: Ek het geplant, Apollos het natgegooi, maar dit is God wat laat groei het (1 Korintiërs 3:6). Gebed is ‘n plesier, maar dit vereis sekerlik tyd en energie. God weet wat ons nodig het nog voor ons vra, maar Hy vereis die werk.

 

As ons nie die voordele van God ontvang nie, moet ons twee vrae vra:

  • Het ons daarvoor gevra?
  • Het ons die nodige werk gedoen?

Gebed is nie ‘n wonderstaf nie – as ek bid is God verplig om te antwoord. Ons glo dat ons die mag het om God te manipuleer om te doen wat ons verlang. My môre is in God se hande. Ons rig ons versoeke aan Hom en vertrou ons môre aan sy soewereiniteit toe.

[In hierdie reeks maak ek onder andere van R.C. Sproul se boek The Payer of the Lord gebruik.]




As God dan soewerein is, waarom moet ons bid?

 

As God dan soewerein is, waarom moet ons bid?

Ons lees in die Skrif dat God soewerein is en dat Hy oor alles heers. Ons lees ook dat God ons uitnooi om na Hom in gebed te kom en ons petisies aan Hom voor te lê. Hier het ons nou ‘n probleem. As God dan soewerein is en Hy het elke besonderheidjie van ons lewe bepaal – nou en ook die toekoms – hoekom moet ons dan bid? Die Bybel sê: Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is (Romeine 8:28). Beteken dit nie dat ons moet tevrede wees met alles wat Hy bepaal het nie? Is dit nie oortollig om nog te bid ook nie? Dit klink so asof God slaap en ons Hom met ons gebede moet wakker maak?

 

Calvyn sê: It is not so much for God’s good, as it was for our good. Calvyn sê dat gebede meer voordelig is vir ons as vir God. Kyk na elemente in ons gebede soos aanbidding en belydenis. God is tog nie van ons lof afhanklik nie. Hy kan daarsonder klaarkom, maar ons kan nie. Aanbidding is noodsaaklik vir ons geestelike groei. As ons ‘n intieme verhouding met ons hemelse Vader wil ontwikkel, is dit noodsaaklik dat ons na Hom kom met woorde wat liefde, aanbidding en aanbidding uitdruk.

Dit is ook noodsaaklik dat ons ons sondes voor sy troon bely. Hy weet van hulle – selfs meer volledig as wat ons van hulle bewus is. Wat belangrik is, is dat ons vir die beswil van ons geestelike groei moet berou hê oor wat ons gedoen het en dit bely.

Wat van intree vir iemand anders? As ek sien iemand kry swaar en ek tree vir Hom by God in – ek pleit by God om in sy genade daardie persoon te help – betwyfel ek nie God se soewereiniteit nie? God weet tog reeds van daardie persoon se probleme. Het gebed dan enige waarde?

Ons kan nie gebed los net omdat ons dink dit het geen pragmatiese waarde nie. God self beveel ons om te bid. In die Nuwe Testament word groot klem op gebed geplaas. Jesus Christus is ons model en Hy het gebed beklemtoon. Maar werk gebed?

  • Petrus sê dat hy Jesus nooit sou verloën nie: Al moet ek saam met U sterwe, ek sal U beslis nie verloën nie (Matteus26:35). In Lukas lees ons hierdie interessante woorde van Jesus aan Petrus: Die Satan het daarop aangedring om julle soos koring te sif. Maar Ek het vir jou gebid dat jou geloof jou nie begewe nie. As jy weer tot inkeer gekom het, moet jy jou broers versterk (22:31 – 32). Jesus waarsku vir Petrus dat daar ‘n tyd van sif kom en dat Satan hom gaan aanval. Jesus was egter seker dat Petrus weer tot inkeer sou kom. Hoe kan Hy so seker wees? Hy het vir Petrus gebid.
  • Jakobus moedig die mense aan om te bid. Hy eindig sy gedeelte oor gebed (5:13 – 18) af net hierdie woorde: Die gebed van ‘n gelowige het ‘n kragtige uitwerking. Net hierna praat hy van Elia. Hy beklemtoon dat Elia ‘n mens net soos ons was. Sy gebede was egter kragtig: Hy het ernstig gebid dat dit nie moes reën nie, en in die land het dit drie jaar en ses maande nie gereën nie. Toe het hy weer gebid, en die hemel het reën gegee en die aarde het sy oes gelewer.

Gebed bereik dinge; God in sy soewereiniteit reageer op ons gebede.

[In hierdie reeks maak ek onder andere van R.C. Sproul se boek The Payer of the Lord gebruik.]




Laat ons nie in versoeking kom nie

Dogmatics as such does not ask what the apostles and prophets said, but what we must say on the basis of the apostles and prophets – Karl Barth

Laat ons nie in versoeking kom nie

Jesus het sy dissipels geleer om hulle sondes van die verlede te hanteer. Nou wend Hy Hom na die toekoms. Hy hanteer nou hulle kwesbaarheid teenoor sonde. Ons moet ons Vader vra om ons teen versoekings en geestelike aanvalle te beskerm wat tot nuwe sondes mag lei. Jakobus maak dit baie duidelik:  God kan nie verlei word nie, en self verlei Hy niemand nie. Maar ‘n mens word verlei deur sy eie begeertes wat hom aanlok en saamsleep (1:14 – 15).

 

Soms voel God dat dit goed is dat sy kinders getoets word. ‘n Goeie voorbeeld is Abraham was sy eie seun moes offer. Abraham klou egter vas aan God se belofte dat hy ‘n seun sou hê en God gee aan hom ‘n plaasvervanger om te offer.

Jesus voeg nog iets by by hierdie petisie: Maar verlos ons van die Bose. Hierdie gedeelte maak die eerste gedeelte van hierdie petisie duideliker. Die Bose is maar net ‘n ander naam vir die Satan. Jesus sê ons moenie net bid om van versoekings verlos te word nie, maar ook van die listige streke van die Satan. Ons moet bid dat ons teen die aanslae van die Satan beskerm sal word. Satan speel ‘n baie prominente rol in die verleiding van Adam en Eva, maar ook van Job. Natuurlik het die Satan ook vir Jesus self versoek. Jesus praat dus hier uit ondervinding.

[In hierdie reeks maak ek onder andere van R.C. Sproul se boek The Payer of the Lord gebruik.]