Kan die Kerk agente vir verandering wees?

 “Our death died at the cross. It did not faint. It died.” Conrad Mbewe

 Kan die Kerk agente vir verandering wees?

Gemeentes kan hulle nie net bekommer oor hoe om met hulle eie gemeenskap te verbind nie. Hulle moet buite hulle mure beweeg. Die vraag is: Hoe? Dit is nie maklik nie, want baie gemeentes word vasgevang in die manier waarop hulle dinge doen. Dan gaan dit oor behoud van die gemeente en nie oor transformasie van die omliggende gemeenskap nie.

 Ons model kry ons in die Bybel. Paulus besoek Atene (Handelinge 17). Dit is duidelik dat Paulus hulle kultuur verstaan. Hy haal Epikureërs en Stoïsynse filosowe aan. Daarna bou hy doelbewus ‘n brug na die evangelie. Ons sal nou nie meer hierdie filosowe sommer aanhaal nie, maar dit wat Oprah en ander sê, is dieselfde. Dit is deel van die wêreldsiening wat sê dat die waarheid relatief is en dat die doel van spiritualiteit persoonlike vrede is.

 

 

 

Gemeentes mag van mekaar verskil, maar hulle moet steeds getrou aan die Bybel wees. Waar ons is, mag die manier waarop ons oor Jesus praat, beïnvloed, maar die gesprek gaan steeds oor Jesus. Hoekom moet ons ‘n brug bou? Om by die mense aan die oorkant uit te kom. Jy kan nie die brug bou net sodat mense aan die oorkant die gemeente kan kry nie. Die doel is meer dissipels vir Jesus en nie ‘n groter skare nie.

 

 

Ons kan nie die gebroke wêreld omverwerp deur subtiele ondermyning nie, maar wel deur diegene wat seerkry, te dien en dié wat in nood is van Jesus te vertel. Nou is ons agente van transformasie in ‘n wêreld wat dit desperaat nodig het. Jesus vergelyk ons immers met suurdeeg en klein saadjies wat ingaan, meng, groei en alles verander. Paulus was nie skaam om vir die Ateners te sê: Nou ja, wat julle aanbid sonder om daarvan kennis te hê, verkondig ek aan julle (Handelinge 17:23).

 




Terug na die Ou Testament: Allerlei (2)

Terug na die Ou Testament: Allerlei (2) – Adrio König

6.2 Die ramshoring

Dit is byvoorbeeld geblaas:

  • Om die Here te loof (Ps 47:6).
  • Tydens sekere offers in die tempel (2 Kron 29:26).
  • Toe die ark na Jerusalem gebring is (2 Sam 6:15).
  • En by baie ander geleenthede.

Maar dit kom nie voor in die lewe van die Christene nie. Dit was deel van die lewe van Israel, en soos die verwydering tussen Israel en die kerk al groter geword het, het dit eenvoudig saam met baie ander dinge verdwyn, gebruike soos die Sabbat, feeste, en die hele tempelkultus.

Maar die ramshoring is vandag in baie gevalle deel van Christene se terugkeer na die Ou Testament. Sommige heg besonder baie waarde daaraan, en het selfs besondere ervarings daarmee. Op sigself kan daar natuurlik nie iets mee verkeerd wees nie.

Maar daar kan twee probleme ontstaan. Mense kan dit vir ander verpligtend wil maak. Dit sou egter net so vreemd wees as die herinstelling van die Sabbat en die feeste. Dit het eenvoudig verdwyn uit die lewe van die vroeë Christene.

Die tweede probleem is om dit in die openbaar te blaas. Dit is heeltemal ‘n onbekende geluid, en dit is nie ‘n strelende geluid nie. Iemand in ‘n woonstelkompleks kan besluit om dit elke oggend en elke aand op gesette tye te blaas – en wel om diep godsdienstige redes. Maar die res van die inwoners sal dit steurend vind en geen sin daaruit kan maak nie. Hulle sal nie eens weet wat so ‘n geraas maak nie. Dit kan dus beswaarlik beskou word as ‘n getuienis vir die evangelie.

Die situasie in die Bybel was totaal anders omdat dit ‘n bekende gebruik was om dit te blaas.

 

Prof Adrio König

 

 




Oningelig teenoor onkundig

 “Our death died at the cross. It did not faint. It died.” Conrad Mbewe

 

Oningelig teenoor onkundig

Oningelig is ‘n tydelike toestand wat baie maklik reggestel kan word – veral vandag met byvoorbeeld die Internet. Onkundig, daarenteen is ‘n baie gevaarlike toestand as iemand ‘n besluit neem en hy het nie die nodige kennis nie. Die Internet stel ons in staat om ingelig te word as ons net die nodige tyd en energie daaraan spandeer.

 

 

Seth Godin sê dat die Internet ook ‘n omgewing skep waarin dit moontlik is om te dink daar is niks mee verkeerd om onkundig te wees nie. Ons kan maklik in ‘n silo leef omring deur ander wat ook dink dit is reg om nie te weet nie. Onkunde was in die verlede ‘n vae etiket wat dikwels misbruik is om iemand wat van my verskil te beskryf. Vandag is onkunde ‘n keuse – ek kies om onkundig te wees.

 

Hoeveel van ons kies nie om onkundig te bly nie. Dit is ‘n keuse wat negatiewe gevolge vir ons mag hê.

 




Geseënd is jy

 “Strategy never saved anyone. Only the gospel saves anyone.” – Thabiti Anyabwile

 

Geseënd is jy

Geseënd is ‘n woord wat ons dikwels hoor.  Soms beteken dit ryk: “Hy is nou werklik geseënd,” en dan beteken dit hy het baie geld Soms word dit as sinoniem vir goeie omstandighede gebruik: “Ek was geseënd om ‘n parkeerplek te kry.”

  J. D. Geear skryf hieroor en gebruik Maria as voorbeeld. Toe Gabriël by Maria kom en aankondig dat sy swanger is, beskryf hy haar as begenadigde. Toe Elisabet vir Maria ontmoet roep sy hard uit: Geseënd is jy onder die vroue (Lukas 1:42). Maria is ‘n goeie voorbeeld van wat dit beteken om geseënd te wees, al lyk dit nie vir ons so nie.

 

 Wat is die aard van Maria se seën? Dit bestaan uit twee dele:

  • Teenwoordigheid. Lees net die loflied van Maria in Lukas 1:46 – 55. Kyk hoe praat sy van God in die eerste persoon: my Verlosser, omdat Hy na my in my geringheid omgesien het. Maar niks van Maria se omstandighede het verander nie, Sy verheug haar nie in wat God vir haar gegee het nie, maar wat Hy vir haar in Christus geword het. Watter groot dinge het God aan haar gedoen? Uitwendig niks nie. Maria besef dat die magtigste daad van God die geheim van verlossing was. Net een ding word in die Bybel die  krag van God genoem – die evangelie.  Psalm 8 sê dat die skepping van die heelal die werk van u vingers was – nie eers sy hand nie. God is teenwoordig – dit is Maria se seën.
  • ‘n Belofte. In Lukas 1:54 – 55 dink Maria aan God se beloftes. Die koms van Jesus was die vervulling van God se beloftes aan Abraham – deur sy nageslag sal al die nasies geseën word. Baie mense het gedink dat God al lankal van sy beloftes vergeet het. God het nie vergeet nie; Hy vervul sy beloftes. Jesus kom – ‘n groter seën as waarvan die mense gedroom het.

Om ‘n geseënde lewe te leef, beteken nie ‘n lewe sonder pyn en lyding nie. God het nie die wêreld deur Jesus se verheerliking verlos nie, maar deur sy vernedering en kruisiging.

Maria het die teenwoordigheid en beloftes van God as haar ware seën gesien. Maar nie omdat sy so merkwaardig was nie. Haar lied gaan oor God – sy karakter, beloftes, verlossing. Sy sien haarself as skuldig en swak – sy het hulp en sterkte nodig … sy het ‘n Verlosser nodig. Sy besing die grootheid van die Here – nie haar eie heiligheid nie. Christus het ons geneem toe ons nog swak en sondig was en versoen ons met God. Maak nie saak wat dit omstandighede is nie, dit is ware seën.

Leef ons soos mense wat ryklik geseën is? In die moeilikste omstandighede kan jy jou saam met Maria verheug, want jou seën kom van die teenwoordigheid en beloftes van God. Jy kan alles verloor, want in Christus het jy alles wat jy nodig het.