Dink reg; die regte insig

“How great an injustice it is to know about eternal suffering and do nothing.” Michael Oh

Die regte denke

Ons almal wat geestelik volwasse is, moet hierdie gesindheid hê. En as julle in enige opsig anders daaroor dink – God sal ook hierin aan julle die regte insig gee (Filippense 3:15)

Dit is interessant dat verskillende groepe verskillend voel oor die regte denke.

  • Jode: die regte denke lei tot die aanbidding van die een ware God.
  • Stoïsyne: die regte denke lei tot die beheer van ons passies.
  • Die Christene: die regte denke lei tot die regte optrede. Die lewe van ‘n Christen weerspieël die lewe van gehoorsaamheid en diens van Jesus Christus.

 Baie Christene glo egter dat die regte denke die einddoel van ons Christenskap is. Die gevolg is dat ons byvoorbeeld leerstellings gebruik om ander gelowiges wat van ons verskil, mee te slaan – dink maar aan al die gevegte oor die doop. Nou is die regte optrede slegs sekondêr. Christene kan nie denke en optrede van mekaar skei nie. Die doel van die regte denke is om ons optrede te verbeter.

 Daarom vra Paulus die Filippense om sy navolgers te wees. Op sy beurt was Paulus ‘n navolger van Jesus Christus. En julle het ons voorbeeld gevolg en volgelinge van die Here geword (1 Tessalonisense 1:6). Daarom is dit so belangrik dat wat ek doen met my woorde moet ooreenstem.

 Dit is altyd baie makliker om positiewe optrede na te volg as ‘n lys van dinge wat vermy moet word te gehoorsaam.

 




Die Tweede Konsilie van Nicea

“Nobody dies early.” Matt Chandler

 

Die Tweede Konsilie van Nicea

Hierdie is die laaste van sewe konsilies en het in 787 in Nicea plaasgevind. Tussen 258 en 335 biskoppe het die vergadering bygewoon. Na die dood van Konstantyn V word sy seun, Leo IV, die nuwe keiser. Hy behou sy vader se ikonoklasme (Ikonoklasme = die vernietiging, verbreking van beelde), Sy vrou, Irene, daarenteen was ‘n voorstander van die aanbidding van beelde. In 780 sterf Leo en word hy deur sy vrou opgevolg.

 

In 784 versoek die patriarg van Konstantinopel Konstantyn om ‘n vergadering byeen te roep om die kloof tussen die Westerse en Oosterse Kerke te probeer oorbrug. Hulle sou ook die gebruik van ikone bespreek. Van 24 September tot 23 Oktober 787 word agt sessies gehou. Die finale sessie is in die Magnaura paleis gehou. Irene en haar seun Konstantyn VI was ook teenwoordig.

Die gevolge van die vergadering kan soos volg opgesom word:

  • Polities was dit ‘n faktor in die verdere vervreemding van die Westerse en Oosterse kerke.
  • Ikonoklasme het vooruitgang gestrem en waardevolle antieke skatte verwoes. Dit moet gestaak word. Dit lei tot ‘n bloeitydperk van die Bisantynse kuns.
  • Kloosters vol ikone/beelde word nou plekke van meditasie. Die monnike word die fokus van dit wat heilig in die wêreld is.
  • Dit was eers in die 16de eeu wat die Hervormers die gevare van ikone besef het en die kerk opgeroep het om hulle weer te verwyder.




Ons word wat ons aanbid

Die Christelike lewe bestaan meer uit vroom word as vroom wees – Martin Luther

 

Ons word wat ons aanbid

Ons word die beeld van dit wat ons aanbid – of ons Skepper of iets anders. Ons sien dit baie mooi in Psalm 115. Ons lees hier van mense wat doelbewus afgode van silwer en goud, die werk van mensehande, maak om te aanbid. Die psalmis sê die afgode het ‘n mond, oë, ore, hande, voete en ‘n keel, maar hierdie organe funksioneer nie – hulle werk nie. Hulle praat, sien, hoor, voel, loop nie – hulle keel maak nie eers ‘n geluid nie. Hulle kan nie vir ons vertel wat die waarheid is nie, hulle kan nie ons gebede hoor nie, hulle sien nie ons omstandighede raak nie, hulle snel ons nie te hulp nie – hulle kan nie vir ons lewe gee nie. Dan sê die psalmis ‘n belangrike ding: Wie hulle maak en op hulle vertrou, sal net soos hulle word (vers 8).

 

 Dit beteken nie dat as ek op hulle vertrou ek nou nie meer kan sien, hoor, loop, ens nie. Dit is eintlik ‘n beskrywing van hierdie aanbidders se siel en gees – leweloos soos die afgode wat hulle aanbid. Hulle is geestelik doof, blind en magteloos.

 Ons antwoord baie gou: “Maar ek aanbid nie stukke silwer, goud, hout of steen nie.” Ons is nou nie tradisionele aanbidders van afgode nie, maar ons het wel nie-tradisionele afgode en hulle impak is presies dieselfde.

  • As ons supermodelle aanbid, word ons ook verwaand en selfgesentreerd.
  • As ons voetbalspelers aanbid, word ons ook aggressief en bombasties.
  • As ons die rand aanbid, word ons gierig en materialisties.

Ons kan hierdie lys eintlik onbeperk uitbrei.

 

MAAR: as ons Jesus Christus aanbid, sal ons net soos Hy word. Aanbidding is die belangrikste instrument wat God gebruik om ons beeld na dié van sy Seun te verander.

 

 




Die doel van die kerk

The church that eats together and prays together stays together –  Michael Bird

Die doel van die kerk

Wat moet die kerk doen tot Jesus Christus se wederkoms? Bybel lees, bid en psalms sing? Goeie dinge, maar daar word meer van die kerk verwag. Kom ons kyk na ‘n paar dinge wat die kerk moet doen.[Om ‘n volledige lys op te stel, sou ek ‘n boek moes skryf.]

  • Evangelisasie en sending

Alle gelowiges behoort opgewonde te wees om die verspreiding van die evangelie te bevorder – hulle verkondig die goeie nuus van die verlossing deur Jesus Christus. En die evangelie moet eers aan al die nasies verkondig word (Markus 13:10). In Lukas 10 lees ons van die sending van die twee en sewentig. Hulle word uitgestuur met die boodskap dat die koninkryk van God baie naby is. Toe hulle terugkom sê Jesus vir hulle: Ek het die Satan soos ‘n weerligstraal uit die hemel sien val (10:18).

Dan Jesus se laaste opdrag aan sy dissipels: Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels (Matteus 28:19); Julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld (Handelinge 1:8).

  • Maak dissipels

Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels … leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het (Matteus 28:19 – 20). Ons opdrag is nie om mense te oorreed om besluite te neem nie, maar om dissipels van hulle te maak en hulle te leer.

  • Bedien die sakramente

Ons moet die sakramente integreer in mense se dieet van aanbidding om hulle geestelik te voed. Die doop vertel ons van ons sterwe en opstanding in Jesus Christus. Die doop verbind ook die gemeente aanmekaar. Die Nagmaal is die geleentheid van introspeksie en geestelike aanspreeklikheid.

  • Koninkrykswerk

Die kerk is die bewaarder van die koninkryk. Hierdie werk vereis optrede met deernis, barmhartigheid, openbare betrokkenheid, sosiale geregtigheid, ens. In sy bediening het Jesus nie onderskeid gemaak tussen verkondiging en genesing van siekes nie. Blindes sien, lammes loop, melaatses word gereinig, dowes hoor, dooies word opgewek, en aan armes word die evangelie verkondig (Matteus 11:5). Koninkrykswerk beteken dat ons ons oor die kwesbares ontferm: Egte en suiwer godsdiens voor God die Vader is om weeskinders en weduwees in hulle moeilike omstandighede by te staan en om jou skoon te hou van die besmetting van die wêreld (Jakobus 1:27). Die heerskappy van God is ‘n dinamiese werklikheid wat sigbaar word in die liefdevolle optrede teenoor dié wat ly en geregtigheid teenoor dié wat uitgebuit word.

  • Aanbidding

Dit is meer as net elke Sondag die erediens bywoon. Aanbidding is om naby God te kom in diens, lofprysing en danksegging. Laat ons dan onophoudelik deur Jesus aan God ‘n offer van lof bring, die lof wat aan Hom gebring word deur die lippe wat sy Naam bely. Moenie nalaat om goed te doen en mededeelsaam te wees nie, want dit is die offers wat vir God aanneemlik is (Hebreërs 13:15 – 16).

Voldoen my gemeente aan die paar vereistes wat hier genoem word?