Nederigheid en vernedering

“The gospel overturns everything sin does.” D.A. Carson

Nederigheid en vernedering

Moet niks uit selfsug of eersug doen nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself (Filippense 2:3)

Paulus sê dat nederigheid ‘n deug is. Dit was ‘n radikale stelling in die Romeinse kultuur van destyds. Die Romeine het feitlik geen verskil tussen nederigheid en vernedering gemaak nie – albei dui op ‘n verlaging van die status van ‘n persoon. Paulus se oproep op nederigheid in die kultuur van destyds was onbekend – geen Romein met enige selfrespek sou nederigheid as ‘n deug gesien het nie. Dade moet gedoen word daar waar mense dit kan sien en jou kan prys. Jou selfwaarde word bepaal deur wat die mense van jou dink en sê. In die Joodse gemeenskap speel nederigheid ‘n meer positiewe rol, maar nie naasteby soos in die Christelike geloof nie. Kyk maar na die verbasing toe Jesus ‘n kindjie as model gebruik (Matteus 18:1 – 5).

 

Vandag word nederigheid meestal positief beoordeel. Die vraag is egter wat presies ons met nederigheid bedoel Paulus beskryf dit soos volg:Julle moenie net elkeen aan sy eie belange dink nie, maar ook aan dié van ander (2:4). Nederigheid beteken dus gehoorsaamheid aan die wil van God. ‘n Trotse gesindheid beteken dat ek nie voor God se wil kan buig nie. Net in nederigheid kan ek God se wil sien en my behoefte aan God se krag besef. Paulus glo dat om God se wil te doen ek krag by die inwonende Heilige Gees moet kry.




Wees eensgesind gemeente

“Tragically, we buy the lie that the gospel is only for the unconverted.” D.A. Carson

Wees eensgesind gemeente

Maak dan nou my blydskap volkome deur eensgesind te wees (Filippense 2:2).

Dit is baie interessant die klem wat Paulus op eensgesindheid in die gemeente plaas. Die gemeentes van vandag is veral bekommerd oor uitreik in die gemeenskap of belangrike nasionale sake (soos aborsie) of selfs sending in die buiteland. Hierdie is almal belangrike sake wat beslis ons aandag verdien. Die probleem is egter dat in baie gemeentes nie veel klem op die geloofsgemeenskap geplaas word nie. Ja, ons wil vriende hê, maar dan sonder die harde werk van verhoudings bou. Sommige voel selfs dat die gemeente se beklemtoning van die gemeenskap van gelowiges my reg op individuele vryheid van keuse ondermyn.

 

Ons is bereid om betrokke te wees in die gemeenskap of by die bestryding van een of ander maatskaplike euwel. Ons glo ook dat dit die gemeenskap tussen gelowiges sal bevorder. Waarvan Paulus hier praat is eensgesindheid in die liggaam van Christus – die gemeente. Al hierdie dinge wat ons buite doen is belangrik, maar Paulus praat hier van iets meer: ek moet my begeertes en eer ondergeskik aan dié van ander stel. Dit beteken die sosio-ekonomiese en rasverskille in die gemeente word openlik hanteer. Dit gaan oor die alledaagse interaksie tussen gelowiges. Dit beteken die fokus is nie net op myself nie.

Die gemeente se openbare getuienis word verseker deur sy interne lewenskragtigheid en sterkte.




Loop jou geloof

“The very love of God is fleshed out in our local churches.” D.A. Carson

Loop jou geloof

Julle moet net ‘n lewe waardig aan die evangelie van Christus lei (Filippense 1:27 – Direkte Vertaling in Interliniêre Bybel)

Hoe leef ons ‘n lewe wat waardig aan die evangelie is? Jy moet so loop dat die boodskap van die evangelie in jou beliggaam word. Die nie-Joodse gelowiges in Filippi het geweet dat as jy ‘n nuwe filosofie navolg dit ‘n veranderde lewe vereis. Daarom glo hulle dat ‘n gelowige se optrede uit sy nuwe lewe in Jesus Christus moet voortvloei.

 

Ongelukkig glo baie Christene vandag dat as ek die evangelie verkondig dit nie nodig is om binne sekere morele grense te loop nie – grense wat deur Jesus Christus daargestel is nie. Ons glo nie dat God sonde in ‘n ernstige lig sien nie. Dit is nie waar nie. Sonde is vir God so ernstig dat Hy sy enigste Seun na die aarde gestuur het om hier vir ons sondes te sterf. U het die reg lief en u haat die onreg (Psalm 45:8). Haat is ‘n baie sterk woord.

Die gelowige se fokus moet wees op hoe hy sout en lig vir die wêreld kan wees. Dit vereis ‘n lewe wat radikaal van dié van die nie-Christen verskil. Sout en lig werk vir verandering in die omgewing. Net so moet die Christen werk vir verandering is sy omgewing. Verlossing is soos ‘n huwelik: dit is nie een spesifieke dag wat belangrik is nie, maar ‘n hele lewe wat verander.

Om waardig aan die evangelie te lewe, beteken nie ‘n sondelose lewe nie. Dit beteken wel dat ek vorentoe moet gaan: Broers, ek verbeel my nie dat ek dit alles as het nie. Maar een ding doen ek: ek maak my los van wat agter is en strek my uit na wat voor is (Filippense 3:13).

Daar is egter ‘n voorwaarde: hulle moet in volkome eensgesindheid standvastig saamstry vir die geloof in die evangelie (1:27). Dit beteken nie dat almal dieselfde moet dink nie. Dit beteken wel dat almal een doelwit het en dat hulle hierdie doelwit met passie nastreef. Hierdie doelwit is die verkondiging van die evangelie en daarvoor is ‘n lewe wat die evangelie waardig is, nodig.




Lewe waardig aan die evangelie

Sin is what you do when your heart is not satisfied with God. —John Piper

Lewe waardig aan die evangelie

Julle moet net ‘n lewe waardig aan die evangelie van Christus lei (Filippense 1:27 – Direkte Vertaling in Interliniêre Bybel)

Paulus fokus in hierdie gedeelte onder andere op die verantwoordelikhede van diegene wat die evangelie verkondig. As ons vandag die woord waardig gebruik, is dit dikwels in ‘n vergelykende sin – jy is waardig vir ‘n bevordering. Dit beteken die persoon verdien dit. Nêrens sê Paulus dat ‘n persoon waardig is om deur God verlos te word nie. Hy is baie duidelik dat verlossing ‘n onverdiende gawe van God is.

 

Gelowiges wat aanspraak maak op die genade van God in Christus verteenwoordig Christus in die breë publiek. Hulle wêreldsiening, gedrag en gesindheid word gevorm deur die kruis en opstanding van Jesus Christus. Ons leef waardig aan die evangelie as ons saam met die vier lewende wesens en die vier en twintig ouderlinge sing: U is waardig om die boek te neem en die seëls daarvan oop te maak omdat U geslag is en met u bloed mense vir God losgekoop het uit elke stam en taal en volk en nasie. U het hulle ‘n koninkryk en priesters vir ons God gemaak en hulle sal oor die aarde regeer (Openbaring 5:9 – 10).

‘n Waardige lewe is dus ‘n koninkrykslewe. Hoe doen ons dit? Ons moet ons geloof loop. Daarna gaan ons volgende kyk.